Die Koetsiershuis

In die noordwestelike hoek van Die Braak staan die bekoorlike rietdak-koetsiershuis wat as een van die oudste huisies op Stellenbosch beskou word. Oor die huisie se oprigtingsgeskiedenis bestaan geen volkome duidelikheid nie. Sedert 1770 het Christiaan Krijnauw die stuk grond waarop onder meer die huisie staan, as sy eiendom beskou. In 1786 is die betrokke stuk grond, anderhalwe hektaar groot, aan HL Bletterman, landdros van die dorp, toegeken. Die daaropvolgende jaar het hy die grond aan ene Martin Beyleveld verkoop, wat die hele stuk grond in erwe laat verdeel het. Een van die erwe is in 1792 aan Johann Georg Lankshoff, ’n kleremaker, verkoop. Kort daarna het Lankshoff die nou bekende koetsiershuisie daar opgerig.

Daar word beweer dat die sjarmante huisie se naam ontleen is aan die feit dat dit aan die ou wapad na Kaapstad geleë was en ’n tyd lank as koets-terminus gebruik is. Die bewering is waarskynlik ’n mite, aangesien geen grondige bewyse daarvoor bestaan nie. Ander weer beweer dat die gewelfde poort wat langs die huisie was, as koetsingang gedien het; vandaar die naam. Ook dié bewering is foutief. Die aanneemlikste verklaring vir die naam is dat ’n koetsier in die negentiende eeu ’n tyd lank daar gewoon het. Wat wel waar is, is dat die huisie een van die oudste geboue op Stellenbosch is, en, foutiewe benaming al dan nie, dit doen geen afbreuk aan sy bekoorlikheid nie. Inteendeel, dit verleen aan die geboutjie ’n sekere romantiese geheimsinnigheid.

Die historiese betekenis van die gebou is argitektonies van aard: dit is ’n kombinasie van fatsoenlikheid, prag en eweredigheid. Die huisie is volgens die ongewone, geslote, saamgedrukte H-plan gebou. Die twee rye kamers weerskante is met ’n sentrale kamer van volle lengte onder een dak met ’n effens breër oorspanning aan mekaar verbind. Dit is voorsien van ’n reuse kaggel om die rustige atmosfeer te bewaar. Die binnedeure was ook uitsonderlik van aard, met die breë panele en twee tot drie ligte gegote dwarslyste en riemskarniere. Aan die buitekant is sierlike holbolsygewels, dakvensters en ’n dakgeweltjie, ook wolwegeweltjie genoem, bokant die voordeur, wat een van die weiniges van sy soort in  Wes-Kaapland is wat bewaar gebly het.

Met die verloop van tyd het die geboutjie vervalle geraak. In 1959 het professor Erika Theron, toe burgemeesteres van Stellenbosch, die geboutjie, wat in ’n gevorderde staat van verval was, van sloping gered. Die munisipaliteit het die geboutjie aangekoop en fondse vir die restourasie ingesamel, onder meer deur ’n omvattende uitstalling van foto’s van Stellenbosch, wat toe vir die eerste keer byeengebring en gekodifiseer is. Aanvanklik het die munisipaliteit beoog om die gerestoureerde geboutjie as jeugherberg in te rig. Daarvan het niks tereg gekom nie.

Met die herstelwerk is daarin geslaag om die oorspronklike boustyl te behou. ’n Geelhoutvloer is gelê – maar om die gebou as kerksaal te kan gebruik, is die binnemure wat die vertrekkies verdeel het, verwyder.

Op 18 Maart 1966 is die huisie op grond van sy argitektoniese meriete en sy geografiese ligging aan Die Braak, wat toe reeds amptelik ’n historiese baken was, tot historiese monument verklaar.  Op die bronsplaat wat die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede buite die geboutjie aangebring het, staan die inskripsie:

KOETSIERSHUIS
Die grond waarop hierdie gebou staan, was sedert 1770 agtereenvolgens die eiendom van Christiaan Krijnauw, landdros Bletterman en Martin Beyleveld. In 1792 is die betrokke gedeelte gekoop deur Johann Georg Lankshoff, wat blykbaar hierdie huis opgerig het. Die naam “koetsiershuis” het waarskynlik ontstaan omdat dit in die negentiende eeu ’n tyd lank deur die koetsier van ’n poskoets bewoon is.

Bron: De Jongh, P.S. 1989. Die Koetsiershuis. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 36–37.