drostdycannon

Bron van foto: https://www.drostdy.com/

Een van die bekende historiese geboue in Suid-Afrika, die Drosdy te Swellendam, is in 1747 voltooi. Dit is die enigste van die agtiende-eeuse drosdye wat nog bestaan.

Die Drosdy is aanvanklik T-vormig gebou met ’n noordwestelike front. Dit het ook ’n baie groot tuin gehad. Vandag staan vyf blokke huise daarop. Die eerste afbeelding van die Drosdy is in 1776 deur ene Schumacher gemaak. ’n Latere skets wat deur William Burchell, die bekende plantkundige, in 1815 gemaak is, toon dat die oorspronklike T-vormige huis toe reeds grootliks herbou is. Daar is naamlik ’n L-vormige deel aan die T-vorm vasgebou, sodat daar vandag min of meer ’n simmetriese U-vormige gebou staan waarvan die middelgedeelte ’n dubbelry vertrekke vorm. Die aanduiding is dat hierdie aanbouing teen ongeveer 1830 aangebring is. Vandag sien die Drosdy wesenlik uit soos dit in 1815 gelyk het. Die vernaamste verskil is dat die drie frontgewels verwyder en in wolwe-ente verander is, waarskynlik in die jare 1870–1880.

Geskiedenis is in die Drosdy gemaak toe die inwoners van hierdie landdrosdistrik op 17 Junie 1795 ’n nuwe, sogenaamd vrye republiek met middelpunt Swellendam uitgeroep het.

Die Swellendammers se nuutgevonde vryheid was egter van korte duur, aangesien die Britse bewind ongeveer drie maande later in die Kaap van krag geword het.

Baie belangrike besoekers het die Drosdy van tyd tot tyd besoek en ook daar tuisgegaan. ’n Baie interessante besoeker was doktor Hendrik Swellengrebel, seun van die goewerneur na wie Swellendam vernoem is. Hy is in die Kaap gebore, maar het sy opleiding in Holland ontvang, waar hy uiteindelik ook gebly het. In 1776 het hy egter besoek aan die Kaap gebring. Tydens sy besoek aan Swellendam het hy ’n tekening daarvan deur Schumacher laat maak. Hierdie skets is nog steeds in besit van die Swellengrebel-familie. Ander vername besoekers aan die Drosdy was Andrew en lady Anne Barnard; doktor Lichtenstein, wat ’n volledige joernaal oor sy besoek aan Swellendam geskryf het; die bekende William Burchell wat, soos reeds genoem, in 1815 ’n baie volledige skets van die Drosdy en omgewing gemaak het, en nog vele ander. Kommissaris De Mist, ook ’n besoeker aan die Drosdy, het tydens sy besoek aan die Kaap ook gereël dat ’n spesiale seël vir die Drosdy gemaak word.

Landdros H Rivers was die laaste landdros wat in die Drosdy gewoon het. Hy is in 1825 as landdros aangestel, maar in 1828 is die stelsel van Landdros en Heemrade afgeskaf. Die Drosdy het in 1845 in private besit gekom tot dit deur Daniel de Bruin gekoop is. Tien jaar later is die eiendom deur PG Steyn gekoop en dit het in die besit van die Steynfamilie gebly tot in 1939 toe dit deur die Staat oorgeneem is. President MT Steyn, wat ’n kleinseun van PG Steyn was, het die Drosdy kort na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog besoek.

Na die oorname deur die Staat in 1939 is die vernaamste verandering wat aan die huis aangebring is, die vervanging van ’n veranda voor die huis deur ’n prieel. Die Drosdy-museum is in 1943 geopen. Die museum bestaan uit die  Drosdy plus enkele ander geboue wat as een van die treffendste argitektoniese komplekse in die land beskou kan word. Die gerestoureerde wynkelder vertoon van die beste pleisterwerk wat in Swellendam te sien is. Hierdie geboutjies is waarskynlik kort na 1830 opgerig.

Behalwe dat die gebou ’n goeie voorbeeld van die Kaapse boukuns is, huisves die Drosdy ’n uitstekende versameling Kaapse, plattelandse meubels. Hierdie meubels het ’n oorwegend konserwatiewe styl en word gekenmerk deur die reguit, neo-klassieke lyne. ’n Besondere eienskap van die huis is die beskilderde sitkamervloer wat uit ’n tyd voor 1798 dateer. Die kombuis het ’n grondvloer wat gereeld met beesmis gesmeer word, terwyl een van die ander vertrekke weer ’n perskepitvloer het. Die ou brandkas kom uit die dae toe die Drosdy deur die landdros en heemrade gebruik is.

Die Drosdy kan met reg beskou word as ’n belangrike koppeling met die vroeë Kaapse geskiedenis.

Bron: Cronjé, B. 1989. Die Drosdy. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, p. 60.