De Posthuys was ’n militêre seinpos uit die vroeë Kompanjiestyd en is tans in gerestoureerde vorm in Muizenberg, Kaapstad, te besigtig.

Hoewel daar onder historici, argeoloë en argitekte meningsverskil bestaan oor die presiese datum van oprigting, is almal dit eens dat ditDe Posthuys die oudste bewoonde gebou in die land is. Sover vasgestel kan word, is dit in 1673 – dus nog vroeër as die Kasteel – opgerig.

Die moontlikheid het altyd bestaan dat die verversingspos aan  Tafelbaai in oorlogstyd van die rugkant, dit wil sê oor land vanuit Valsbaai, aangeval en verower kan word. ’n Bemande sinjaalpos aan die Valsbaaise kus kon dus as ’n wyse voorsorgmaatreël dien. Vandaar sou die Kaap betyds gewaarsku kon word.

Toe daar in 1672 oorlog tussen Brittanje en Frankryk uitbreek, is op 30 Augustus ’n noodvergadering aan die Kaap gehou, ten einde die verdediging van die nedersetting te bespreek en maatreëls in dier voege te tref. Isbrand Goske wat reeds die naam “Fortbouer” verwerf het en onder wie se leiding die bou van die Kasteel so mooi gevorder het, was juis as nuwe goewerneur op pad Kaap toe.

Nog voordat Goske voet aan wal kon sit, het kommissarisse van die Kompanjie na Hout- en Valsbaai vertrek om die geskikte plek vir die oprigting van ’n seinpos te vind. Van daar af sou die owerhede aan die Kaap by wyse van vuur- of vlagseine aangaande die beweging van vreemde skepe ingelig kon word.

Die kommissarisse het hul werk deeglik gedoen, want ’n strategiese plek digby die see en reg onder ’n hoë punt teen die Steenberg, aan die suidwestelike kus van Valsbaai is gekies vir die bou van die seinpos.

Op 27 Januarie 1673 het die boot Goutvinck uit Tafelbaai vertrek en ’n werkspan van nagenoeg twaalf man, bygestaan deur ’n aantal vryburgers uit die omgewing, het aan die begin van Februarie aan die werk gespring. Die Goutvinck het tot 24 April in Valsbaai voor anker gelê – ’n aanduiding dat die werk teen dié tyd (na twaalf weke dus) voltooi was.

De Posthuys (Nederlandse benaming vir wag- of skildwagpos) het bestaan uit ’n klein sentraal-geplaaste vertrek met ’n langwerpige verlengstuk, 6 m breed, aan weerskante. Die mure, 80 cm dink, is van binne en buite gepleister en afgewit. Aan die seekant is ’n breë stoep aangebring – ’n verskynsel wat, hoewel vreemd aan die Hollandse woonhuis, kenmerkend was vir sewentiende-eeuse Hollandse waghuise. Hierdie stoep is die vroegste voorbeeld van ons unieke Kaapse voorstoep. Die vensterrame was van ingevoerde eike-, denne- en kiaathout en die ruite van glas uit die periode 1700-1820. Nog vroeër sou die sogenaamde ruite waarskynlik van olieseildoek vervaardig gewees het. De Posthuys moes in die somer die tierende aanslae van Valsbaai se suidoostewind met sy kastydende sand verduur. ’n Ondersoek na die tipe hout wat as balke gebruik is, dui op die moontlikheid dat die bouers van die eikebome wat Jan van Riebeeck 18-19 jaar tevore by Rondebosch geplant het, gebruik gemaak het.

Met argeologiese opgrawings wat by De Posthuys gedoen is, is daar onder meer twee stuiwermuntstukke (wat in 1680 in Overijsel geslaan is), ’n koperduit uit die jaar 1736, ’n seldsame onderdeel van ’n ou geweer met ’n VOC-merk en porseleinstukke uitgehaal. Opgrawings het veral gebruiksartikels wat uit die middel van die agtiende eeu dateer, opgelewer.

In vredestyd is die gebou onbewoon gelaat, hoewel rondtrekkende veewagters, vissers en vryburgers ongetwyfeld periodiek daar vertoef het. Goewerneur WA van der Stel sou dit as verblyf vir sy persoonlike vissers gebruik het. Die hoeveelheid oorblyfsels van visaardige herkoms dui daarop dat die gebou intensief deur vissers benut is.

In die agtiende eeu is die gebou meermale deur die militêre owerhede gebruik, veral met die oorgang van die Hollandse na die Engelse bewind (1795-1815). In die Slag by Muizenberg (1795) het De Posthuys onder ’n raak kanonskoot deurgeloop.

In die negentiende eeu het De Posthuys sy militêr-strategiese betekenis verloor en die opeenvolgende huurders en eienaars het die aanskyn daarvan sodanig verander dat die gebou sy identiteit en boustyl ingeboet het. Dit het diens gedoen as vissershut, kantien, losieshuis, tolhuis en somervakansiehuis. Tot 1915 het dit militêre eiendom gebly, dog in die vorige honderd jaar is dit uitgehuur. Die vernaamste huurder, JA Stegmann, het dit van ongeveer 1880 tot 1912 tot sy beskikking gehad. Hy het in Claremont gewoon en in dié tydperk het sy gesin De Posthuys as vakansiehuis gebruik. Hy het die naam “Stegmann’s Rus” aan die huis gegee. In 1915 is die eiendom aan sir JB Robinson verkoop. Hy het tot 1917 daarin gewoon en toe hy in dié jaar na Wynberg verhuis, het hy De Posthuys as vakansiehuis behou.

In 1929 is die eiendom aan die heer W Leon verkoop. Hy het ingrypende veranderinge aangebring en onder meer die rietdak deur sink vervang.

In 1969 is Stegmann’s Rus deur ’n filiaal van Anglo American Korporasie van Suid-Afrika vir ontwikkelingsdoeleindes aangekoop. Danksy intensiewe historiese, argeologiese en argitektoniese navorsing, is die kultuurhistoriese waarde van die gebou bo alle twyfel vasgestel en is besluit om dit te restoureer. Die werk, onder leiding van die Kaapstadse argitek Dirk Visser, bygestaan deur die historikus Marian Robertson en die Stellenbosse historiese argeoloog HN Vos, het in 1979 ’n aanvang geneem.

Die gerestoureerde De Posthuys het op 15 September 1982 amptelik deur die toenmalige aangewese ondervoorsitter van Anglo American Korporasie, die heer Nicholas Oppenheimer, geopen en vir veilige bewaring namens die SA nasie aan die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede oorhandig.

Bron: Booysen, B. 1989. De Posthuys. In Afrikanerbakens, FAK: Aucklandpark, pp. 24–25.