Pieter Lafras Uys (1797-1838)

Andrew Smith (1797-1872)
March 5, 2019
Gerhardus Marthinus Maritz (1798-1839)
March 5, 2019

VADER EN SEUN SNEUWEL SAAM

“Pieter Uys was of the best stamp of man to be found in South Africa.” Hier het ons ’n getroue siening en rake samevatting van die persoonlikheid van ’n belangrike leierfiguur uit die Voortrek, deur die gesaghebbende historikus, George McCall Theal.

Uys was lieftallig van geaardheid en ’n man wat deur sy opregtheid en besliste, godsdienstige oortuigings respek afgedwing het, nie alleen by sy Hollandssprekende bure nie, maar ook by die Engelssprekendes.

Pieter Uys was die derde kind van Jacobus Uys en Susanna Moolman, wat op die plaas Olifantshoek, in die latere distrik Uitenhage, gewoon het. Hier is in 1797 die kleine Pieter gebore. Van jongs af het hy getoon dat hy ’n gebore leier was, en in die latere jare sou hy toon dat hy moeilik ’n ander leier naas hom kon verdra.

Ons besit geen portret van hierdie stoere Voortrekker nie, maar volgens beskrywings was hy kort en geset van postuur, lig van haar, met ’n ruie baard. Hoewel sy skoolopleiding maar swak was, was hy gevat en skerpsinnig, en het die vermoë besit om enige inligting met vrug aan te wend. Verder kon hy ’n brief of dokument in suiwer Hollands opstel, en hy was op hoogte van sake met oorsese aangeleenthede.

Reeds vroeg al het hy onder die indruk gekom van die juk van dwingelandy waaronder hy en sy landgenote gebuk moes gaan, en in 1837 besluit hy om te trek. Die Uys-trek het bestaan uit een groot familie – ou vader Jacobus Uys met sy kinders en kleinkinders. Die werklike leier was sy seun, Pieter Uys. Die trek het bestaan uit nagenoeg 150 mense met 72 waens en 6 000 stuks vee.

Gedurende die Kafferoorlog van 1835 het Piet Uys in noue kontak met die Britse Setlaars by Albanie gekom, en nie alleen hulle bewondering afgedwing nie, maar ook by die goewerneur in aansien gestaan. Met die deurtog van die trekgeselskap het die inwoners van Grahamstad nou aan die sewentigjarige vader Uys ’n pragtige familiebybel present gegee.

Die Uys-trek wou van die begin af ’n beleid van onafhanklikheid handhaaf. Op 14 Augustus het die trek by die Caledonrivier besluit om Port Natal as hul hawe te gebruik en onder hul eie hoofde verder te trek. Op die plek van hul bestemming aangekom, sou hulle deelneem aan ’n groot volksvergadering om ’n regering na die model van die Verenigde State in te stel.

Foto: Pieter Lafras Uys (Denkbeeldige tekening)

Uys het tog vriende gemaak met Potgieter en hom in Oktobermaand op ’n strafekspedisie teen die Matabeles vergesel. Die verdrywing van Silkaats tot oor die Limpopo was ’n skitterende wapenfeit, ’n militêre prestasie wat die hoogste lof verdien.

Op 6 Februarie 1838 word Piet Retief verraderlik vermoor deur die despoot van Umgungundlovu, en kort hierna, naamlik op 17 Februarie, volg die verskriklike slagting by die Bloukransrivier. Wanhoop en verwarring heers nou onder die Trekkers, maar Potgieter en Uys snel hul makkers tegemoet en daar word tot ’n strafekspedisie besluit.

Eers is daar onenigheid oor die leierskap van die kommando, maar uiteindelik trek Potgieter en Uys, elk aan die hoof van ’n afdeling manskappe, in die rigting van die Zoeloehoofstat. Gert Maritz bly agter as weesheer en hoof van die laer.

Die gevolge van hierdie ekspedisie was noodlottig. Op 11 April word Piet Uys en enkele van sy manskappe deur Dingaan se Swart- en Witskilde in ’n hinderlaag gelok en terwyl hy en ’n vyftiental manskappe twee van hul afgedwaalde makkers gaan terughaal, word Uys dodelik gewond. Tot die laaste toe het hy die ander manskappe aangemoedig om hulself te red en saam met sy dapper seun Dirkie, sterf daar in die Slag van Italeni hierdie stoere figuur, een van die mees vooraanstaande leiers van die Voortrek.

’n Voortrekkerleier wat allerweë respek afgedwing het

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.