Pieter Johannes Potgieter (Oorlede 1854)

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (1798-1853)
March 5, 2019
Johannes Hendrik de Lange (1799-1861)
March 5, 2019

AANVAL OP MAKAPAN SE GROT

Soos helaas met so baie van die Voortrekkers en ander leiers uit die vroegste geskiedenis van Transvaal die geval is, weet ons heel weinig van Piet Potgieter af. Selfs sy geboortedatum kan nie met sekerheid vasgestel word nie. (Daar bestaan ook geen portret van hom nie; die voorstelling wat hier verskyn is ’n denkbeeldige tekening deur ’n kunstenaar.)

Sy voorname was Pieter Johannes en na dit voorkom was hy die vyfde kind en tweede seun uit Andries Hendrik Potgieter se eerste huwelik. Sy moeder was Helena Elizabeth Botha. Na hom kom daar nog vier kinders; die jongste is op 6 Mei 1841 gebore.

Na die dood van Andries Hendrik Potgieter in Desember 1852 was dit nodig dat iemand anders in sy plek as Kommandant-generaal aangestel word. Volgens gebruike van dié dae, het die publiek die geleentheid gehad om by wyse van memories hulle gevoele aan die Volksraad kenbaar te maak.

In hulle sitting van 14 Maart 1853 het die Volksraad tien memories behandel, in die geheel deur 352 persone onderteken “verzoekende de heer Stephanus Schoeman of P. Potgieter als Commandant Generaal.” Met meerderheid van stemme het die Volksraad daarop vir Piet Potgieter as die opvolger van sy vader aangestel.

Juis omdat sy amptelike loopbaan so kort was, bestaan daar heel weinig informasie oor Piet Potgieter. So ver vasgestel kan word, bestaan daar vandag net een verslag wat hy as Kommandant-

generaal opgestel het. Afgesien daarvan beskik ons oor slegs ’n paar briewe van hom wat min of meer almal in verband staan met die gebeurtenis wat sy dood veroorsaak het.

Op 29 September 1854 skryf hy ’n brief aan M.W. Pretorius waarin hy hom meedeel van die moord op Hermanus Potgieter en sy gevolg van 23 persone. Hy maak hierin ook melding van die oproerigheid onder die volk van Mapela en Makapan en versoek sy steun en medewerking.

Op die 8 Oktober van dieselfde jaar skryf hy weer aan M.W. Pretorius oor die saak, deel hom mee dat die voorbereidings vir ’n strafekspedisie teen Makapan reeds getref is, en versoek hom om so haastig moontlik te volg. Hy deel Pretorius ook mee dat die aantal vermoordes reeds 28 persone bedra – mans, vrouens en kinders.

Verdere berigte oor hierdie saak ontbreek van Potgieter self, en daarom is ons genoodsaak om van ’n rapport van M.W. Pretorius gebruik te maak. Op 25 Oktober het die verenigde Kommando opgetrek teen die verskanste onderaardse grotte waarin Makapan sy toevlug geneem het.

Omdat ’n direkte aanval op die grotte onmoontlik was, is besluit om die rotse voor die bek op te blaas, maar omdat verskillende groot nate deur die rotswande geloop het, is die ontploffingskrag van die buskruit gebreek, sodat die plan ook nie geslaag het nie. Daarna is toe besluit om die grotte te beleër.

Foto: Piet Potgieter (Denkbeeldige tekening)

Volgens Pretorius se rapport het hy en Potgieter op 6 November saam na die grot en die boereverskansings daar rond gaan kyk. Potgieter het te ver voor die mond van die grot verskyn, met die gevolg dat hy dodelik getref is deur ’n vyandelike koeël, wat op sy regterskouer ingegaan het en tussen sy nek en linker skouer uit is. Potgieter het bo van die krans voor die bek van die grot, ’n hoogte van seker 25 voet, geval.

Pretorius het die krans daarop laat bestorm, en op dié manier die lyk gered wat dadelik gestuur is na die oorledene se laer, waar dit begrawe is. Die inligting in verband met die bestorming van die krans verskil aanmerklik van die gebruiklike opvatting dat Paul Kruger onder dekking van ’n kruisvuur, sonder verdere hulp die lyk van Potgieter voor die grot verwyder het.

Nog dieselfde dag is sy broer Hermanus voorlopig in sy plek aangestel as Kommandant-generaal. Op 23 Desember het die krygsraad besluit om ’n publieke byeenkoms in die wyk van wyle Piet Potgieter te hou ten einde die mense se gevoelens te verneem of hulle ’n ander Kommandant-generaal wou kies.

Op 19 Februarie 1855 het die byeenkoms plaasgevind te Soutpansberg, waar Stephanus Schoeman “door het gantsch Publiek” gekies is as die opvolger van Potgieter.

Kommandant-generaal van Transvaal se strydmagte

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.