Just Friedrich Rudolph Kaufmann Höhne
March 16, 2017
Merkwaardige Mabel maak vreesloos haar merk
March 16, 2017

Een van die Oranje-Vrystaat se kundigste staatsamptenare

Pieter Jeremias Blignaut was ’n Suid-Afrikaanse politikus, staatsamptenaar, Staatsekretaris van die Oranje-Vrystaat (1879-1902) en het twee keer waargeneem as Staatspresident, eers na die dood van Staatspresident Brand (1888-1889) en weer na die bedanking van Staatspresident Reitz (1895-1896). Na die einde van die Tweede Vryheidsoorlog het Blignaut gedien as lid van beide die Wetgewende Raad en die Wetgewende Vergadering van die Oranjerivierkolonie.

Blignaut het in die Paarl ’n staatskool bygewoon en hy is uiteindelik na die Paarl Gimnasium. Na die voltooiing van sy eksamen het Blignaut na Kaapstad vertrek, waar hy by die koloniale administrasie aangesluit het. In 1861 het hy die eksamen vir die Staatsdienssertifikaat van die Kaapkolonie geslaag en in 1862 het hy na die Oranje-Vrystaat verhuis. Hier is hy aangestel in die posisie van klerk vir die landdros en die regter van die Vrede van Philippolis (17 September 1862). In daardie tyd was die administrasie van die staat, gereg en weermag grotendeels in dieselfde hande. Blignaut is op 25 Oktober 1866 tot landdros bevorder.

Toe Staatsekretaris Höhne in April 1879 oorlede is, is Blignaut gevra om die posisie te beklee en hy is op 20 Mei deur die Staatspresident aangestel. Blignaut was vir een-en-twintig jaar die Staatsekretaris van die Oranje-Vrystaat, eers gedurende ’n tydperk van groeiende ekonomiese vooruitgang vir die republiek en daarna gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Gedurende albei tydperke het Blignaut hom bewys as ’n effektiewe en toegewyde staatsamptenaar met ’n besondere oog vir binne- en buitelandse sake. Hy is reeds in 1880 belas met die moeilike taak om as bemiddelaar tussen die Britte en Transvaal op te tree.

Blignaut was gewild onder die burgers van die Oranje-Vrystaat, asook die staatsamptenare weens sy vriendelike en oop persoonlikheid. Dit het geblyk uit die feesvieringe met Blignaut se 30ste jaar in die staatsdiens in 1892. Blignaut het ook die volle vertroue van die Volksraad en die drie Staatspresidente waarmee hy saamgewerk het, geniet. Omdat hy so lank in sy beroep was, was hy een van die kundigste mense in die Oranje-Vrystaat wanneer dit kom by sake waar die regering betrokke is. In die lig van al hierdie eienskappe het Blignaut na die natuurlike kandidaat gelyk om die posisie van waarnemende Staatspresident in te neem toe Staatspresident Brand skielik in 1888 oorlede is, asook na die onverwagte bedanking van Staatspresident Reitz in 1895. 

Toe die oorlog in Oktober 1899 uitgebreek het en die Britse troepe gereedgestaan het om Bloemfontein te beset in Maart 1900, het Blignaut die verwydering van die regering, saam met die staatsargiewe, na Kroonstad georganiseer. Daarna het hy saam met die regering in die veld gebly terwyl hulle van plek na plek beweeg het. In Januarie 1901, toe Blignaut dodelik siek was, is ’n reisdokument aan hom uitgereik sodat hy na sy plaas, Secretarispan, naby Bloemfontein kan gaan waar hy vir die res van die oorlog gebly het, in wese met verlof van sy amp as Staatsekretaris.

Ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het Blignaut vinnig aangepas by die nuwe politieke situasie. Waar sy eweknie in die Zuid-Afrikaansche Republiek, Staatsekretaris Reitz die verdrag onderteken het, maar volgens beginsel nie wou deelneem aan die eed van getrouheid aan die Britse regering nie, het Blignaut sonder skroom op 6 Junie 1902 die eed onderteken. Dit is moontlik dat sy siekte en die gevolglike kontak met die Britse owerheid gedurende die laaste fase van die oorlog Blignaut se mening oor die toekoms van die Oranje-Vrystaat en sy posisie daarbinne, beïnvloed het.

Die Britse regering het Blignaut byna onmiddellik aangestel as lid van die Sentrale Repatriasiekomitee vir die Oranjerivierkolonie. In 1903 het die Britse regering hom in die Wetgewende Raad van die kolonie aangestel en in 1907, ná die terugkeer van regering, het Blignaut lid van die Wetgewende Vergadering geword.

In 1909 het Blignaut bloedvergiftiging opgedoen. Hy is ten spyte van ’n suksesvolle operasie ’n paar dae later in sy huis oorlede. Hy is in Bloemfontein met ’n Vrymesselaarsbegrafnis begrawe, gelei deur lede van die Rising Star-losie waarvan Blignaut ook lid was.