Pieter Fourie (1940-2021)

Fiksie sonder grense
September 13, 2021
Nog op ons boekrak: Julie 2021
September 14, 2021

Pieter Fourie was ’n Afrikaanse digter en dramaturg.

Pieter Johannes Fourie is op 3 April 1940 op Philippolis in die Vrystaat gebore en sy pa was ’n vervoerkontrakteur. Op sewejarige ouderdom het die gesin na Luckhoff in die Vrystaat verhuis, waar hy grootgeword en skoolgegaan het. Op die Vrystaatse platteland het hy kennis gemaak met toneel deur die rondreisende geselskap van André Huegenet en op sestienjarige ouderdom het hy die skool met net standerd 8 agter sy naam verlaat waarna hy as briewebesteller en klerk in die poskantoor gewerk het. Onder aanmoediging van die skrywer Etienne Leroux het hy egter sy skoolloopbaan op negentienjarige ouderdom voortgesit en aan die Hoërskool M.T. Steyn op Philippolis gematrikuleer. Hierna het hy in drama aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, maar na ’n onderonsie met prof. Fred Engelen het hy sy kursus na letterkunde verander. Hy het sy BA-graad in 1964 verwerf, gevolg deur die BA- (Honneurs-) graad in Afrikaans en Nederlands. Hier was hy een van die eerste studente in DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium. Hy het die wenkbroue laat lig toe hy, as student en stigter en eerste voorsitter van die Stellenbosse Aktuele Aangeleentheidskring (SAAK), voorgestel het dat die Nobel-pryswenner Albert Luthuli die openingsvergadering toespreek. Hy was vir vier agtereenvolgende jare die wenner van die Senior Redenaarsbeker, terwyl hy in sy studentejare ook professionele produksies vir Die Burger se kunsteblad onder redaksie van die digter WEG Louw geresenseer het.

In 1964 het hy die Pieter Fourie Genootskap, ’n reisende toneelgeselskap, gestig. Dit was die heel laaste Afrikaanse toneelgeselskap, waarvan die aktrises Christine Basson en Marie Pentz ook deel was. Hy was die skrywer en regisseur van sekere stukke wat deel van hul repertorium uitgemaak het. In hierdie jare het hy in verskeie dramas gespeel, asook rolprente soos Dr. Kalie, Vlug van die seemeeu en My broer se bril. In 1966 het hy by die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) as bestuurder van die Afrikaanse toneelgeselskap aangesluit; in 1967 het hy hoof van die Afrikaanse toneelafdeling geword en die volgende jaar artistieke direkteur. Hy het hierdie pos tot 1993 beklee. As regisseur met ’n vindingryke en onortodokse aanslag was hy verantwoordelik vir meer as sestig opvoerings soos Othello van William Shakespeare asook Roulette, Arme moordenaar en so ’n liefde, almal oorspronklik deur Pavel Kohout. In 1978 is hy aangestel as redakteur van Afrikaanse en Engelse toneelafdelings.

Twee dogters is uit sy eerste huwelik, met die aktrise Liz Dick, gebore, en nadat hy in Desember 1983 met Marlize Herselmann getroud is, het hy hom op die kleinhoewe La Terra La Luc naby Franschhoek gevestig. Hy het in hierdie tyd as resensent-dramaturg by KRUIK gewerk, maar hom op 1 Januarie 1987 by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit. Twee dogters is ook uit hierdie huwelik gebore. Na sy tweede egskeiding in 1993 het hy hom weer gaan vestig op Luckhoff waar hy grootgeword het. By al sy wonings was hy ten nouste betrokke by die restourasie van die geboue. Op 1 Junie 1994 het hy die eerste hoofdirekteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn geword waarna hy vier jaar later die artistieke direkteur van woordkuns van die KKNK geword het. In 1999 het hy egter die fees verlaat om voltyds te skryf, en in 2000 het hy verhuis na ’n huis in die Swartberg naby Oudtshoorn en in dieselfde jaar was hy die stigter van die produksiemaatskappy Rooderandt Produksies wat verskeie van sy werke sou opvoer. Hy is in 1995 weer getroud, hierdie keer met Maletta, ’n skilder en weduwee wat ’n dogter uit haar vorige huwelik gehad het.

Hy het begin om gedigte te skryf wat in tydskrifte soos Standpunte, Sestiger en Tydskrif vir Letterkunde verskyn het terwyl DJ Opperman sommige van sy gedigte in 1965 in Stiebeuel 2 ingesluit het. Hy het hom vroeg al op drama begin toespits en eers in 2017 sy eerste digbundel, Knapsekêrels, vrygestel. Sy eerste gepubliseerde drama was Hansie die hanslam, wat landwyd opgevoer is. Sy suksesvolste drama was egter Faan se trein, wat hy met Faan se stasie opgevolg het. Faan se trein was sonder twyfel die grootste lokkettreffer onder Afrikaanse dramas tot dusver. Dit het die verhaal vertel van ’n verstandelik vertraagde man wat die bedrog, gierigheid en valsheid van die samelewing deur sy kinderlike onskuld ontbloot. In Januarie 2014 is die rolprentweergawe van Faan se trein, met Willie Esterhuizen, Deon Lotz en Nicola Hamekom in die hoofrolle, vrygestel nadat dit die vorige jaar by die kykNET Silwerskermfees met nege toekennings bekroon is. Dit het die toekennings vir die beste rolprent, beste draaiboek en beste regisseur ingesluit.

Die joiner het in die Tweede Vryheidsoorlog afgespeel en die tematiek het op gevaarlike grond beweeg aangesien dit die verhaal vertel het van ’n vyftienjarige seun wat sy ma en sy meisie wou red deur die Engelse magte na die Boere se skuiling te lei. Hierna is hy as ’n verraaier beskou en deur die samelewing verstoot en omdat sy eie mense hom nie wou hê nie, is hy met ’n swart vrou getroud.

Nog een van sy bekendste werke was Ek Anna van Wyk, waarin die ontleding van die Afrikaner voortgesit is deur die verligte en die verkrampte Afrikaner teen mekaar af te speel. Hierdie stuk het die eerste naaktoneel in Afrikaanse drama bevat en die resensent Barrie Hough het dit as ’n massamoord op Afrikaanse heilige koeie beskryf.

Nogtans het hy in die groot vraag na ligter Afrikaanse stukke voorsien, veral met Die proponentjie. Hierin het ds. Gaffie Geringer hom in die laat 1950’s in sy eerste gemeente in Duskantdroogtefontein in die Klein Karoo bevind, waar hubare mans so skaars soos hoendertande was. Dit het gemaak dat ’n swetterjoel jong dames en hul ma’s hom gehelp het om die pastorie in orde te kry en hom terselfdertyd oorreed het sodat daar ook ’n pastoriemoeder kon wees. Toe daag ’n ou universiteitsvriendin daar op.

Soos die meeste destydse dramaturge het Fourie hom die gramskap van die destydse establishment op die hals gehaal. Sy drama Die plaasvervanger is in 1979 deur die destydse administrateur van die Kaapprovinsie, Lapa Munnik, verbied omdat dit “te omstrede” sou wees. Hy het by KRUIK ’n groot rol gespeel om die Nico Malan-teater toeganklik vir alle rasse te maak en die opvoering van teaters waar “klein apartheid” toegepas is, verbied.

Fourie is op 12 September 2021 in die ouderdom van 81 jaar oorlede.