Moorddrift-monument
April 10, 2017
President Kruger se besoek aan Rustenburg, Boekenhoutfontein en Waterkloof in 1892
April 10, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1963)

Voor die Groot Trek was die Afrikaners in die Kolonie feitlik sonder leiers; maar dit is merkwaardig hoe gou daar, toe die drang van omstandighede dit vereis het, dadelik manne na vore getree het wat hulle bekwaam getoon het om die leiding van sake op hulle te neem. En onder hierdie manne was Piet Retief seker die vernaamste. Die posisie wat hy in die geskiedenis beklee, is des te merkwaardiger, omdat sy openbare loopbaan vanaf die begin daarvan nog geen twintig jaar dek nie, terwyl sy lewe afgesny is op ’n tydstip toe dit, na die mens gesproke, gelyk het asof die belangrikste gedeelte van sy taak as volksleier feitlik net ’n aanvang sou neem.

Retief is in 1780 op die plaas Welvanpas (naby die huidige Wellington) gebore. Van sy jongelingsjare is egter niks bekend nie. Blykbaar was hy vir die boerdery bestem, maar volgens regter Cloete was hy te rusteloos van geaardheid om “die gemaklike en lonende bestaan” voort te sit. Sy skoolonderrig was klaarblyklik vry goed vir sy tyd, want uit sy uitgebreide briefwisseling blyk dat hy ’n man van opvoeding en beskawing was. Almal wat met hom in aanraking gekom het, selfs die korselige luitenant-goewerneur Stockenström, wat hom eenmaal in ’n oomblik van gekrenkte eiewaan “manhaftig” en “kommandantagtig” genoem het, praat van sy bekwaamheid en sy regskapenheid.

Sy ondernemende geaardheid het hom na die oosgrens van die Kolonie gelok, waar die avontuurlike toestande en die geleentheid om feitlik ’n nuwe landstreek tot die beskawing toe te voeg, hom die kans gegee het om sy energie te botvier. Ongeveer in 1806 het hy hier ’n reeks handelstogte onderneem, maat hy het hom voorlopig nog nie permanent hier gevestig nie. In 1814 is hy getroud met Magdalena A Greyling, weduwee van veldkornet Abraham Greyling van Albanië. Na sy huwelik het Retief hom permanent aan die oosgrens gevestig, en volgens Theal is hy in 1820 “beskou as die rykste man in die distrik Albanië”, en dan voeg hy daaraan toe, “en een van die mees regskape”.

Vanaf sy permanente vestiging in die oostelike distrikte dateer sy aktiewe deelname aan die openbare lewe. In 1822 is hy tot veldkommandant van die distrik Albanië benoem, en van nou af het hy gereeld deelgeneem aan die bestryding van die Kafferstrooptogte en hier persoonlik kennis gemaak met die nood en ontberings wat die koloniste voortdurend moes deurstaan.

Die oprigting van die drosdy-geboue en kasernes op Grahamstad, waarvoor ’n inskrywing van Retief teen ’n buitengewone lae prys aangeneem is, het op ’n reeks onaangename geskille en hofsake met die outoriteite uitgeloop wat Retief sy hele vermoë gekos het. Ondanks dit het hy egter die vertroue van die owerheid sowel as van sy medeburgers behou, want kort daarna is hy in sy amp as veldkommandant bevestig. Daarna het hy in die Winterberg gaan boer, weer ’n aansienlike vermoë verwerf en algemene bekendheid verkry as leier van die grensboere in hul stryd teen die oproerige Kafferstamme aan die oosgrens. Cory noem hom die “dappere en onvermoeidbare Piet Retief” en vermeld die kranige optrede van Retief se Winterbergse kommando tydens die Sesde Kafferoorlog as teenstelling teenoor die onbeholpenheid van die militêre onder kol. Somerset.

Retief was egter oneindig meer as die kommandant van die wyk Winterberg; hy was die nie-amptelike leier en die algemene voorspraak van die hele boeregemeenskap by die Regering. Vandaar dat sy briewe ons die beste uiteensetting gee van die oorsake van die  Groot Trek soos vanuit boerestandpunt gesien. Na die Kafferoorlog van 1834-‘35 het hy as pleitbesorger opgetree van die verarmde grensbewoners teenoor luitenant-goewerneur Stockenström.

En soos Preller in sy biografie van Retief tereg opmerk, kan ’n mens nie anders as om in die korrespondensie tussen hierdie twee manne getref te word deur die groot sedelike oorwig van die latere Voortrekkerleier nie.

Retief het nie oorhaastig besluit om te trek nie. Solank daar nog hoop was op ’n verbetering van die toestande aan die oosgrens het hy sy bes gedoen om die gemoedere te kalmeer en die mense beweeg om voorlopig in die Kolonie te bly; maar toe uit die omverwerping van die grensreëling van sir Benjamin D’Urban blyk dat daar geen hoop was op verbetering van toestande in die Kolonie nie, het Retief sy lot met die Trekkers ingewerp.

Op 22 Januarie 1837, kort voor sy vertrek uit die Kolonie, het hy sy beroemde manifes uitgevaardig, waarvan prof. Walker sê dat die geskiedenis van Suid-Afrika sedertdien net ’n kommentaar daarop is. Drie maande later vind ons Retief en sy geselskap by die ander tussen Thaba ’Nchu en Vetrivier. Maritz en Potgieter was toe pas terug van die strafekspedisie teen Silkaats; dog ondanks die gewig wat hierdie prestasie in die skaal gewerp het en die feit dat Retief se geselskap nie die grootste was nie, is hy tot Goewerneur van die emigrante gekies. Dit toon op sigself hoe ver hy bokant die ander leiers moes uitgestaan het.

Sy eerste taak was om vrede te maak tussen Potgieter en Maritz, wat intussen nie meer so goed met mekaar oor die weg kon kom nie. Daarna het hy verdrae van vrede en vriendskap gesluit met die naburige inboorlingkapteins soos Moshesh, Maroko, Towane en Sikonyella. ’n Tydperk van besluitloosheid het nou gevolg, daar dit nie ’n maklike taak was om die toekomstige tuiste van die emigrante te kies nie. Uiteindelik het Retief, ook omdat die toekomstige staat aldaar verbinding met die see sou hê, teen die end van 1837 op Natal besluit. Hy sou daarheen gaan en van die Zoeloekoning Dingaan ’n stuk grond vir sy mense ruil. Intussen het hy briewe aan luitenant-goewerneur Stockenström gerig om die planne van die Trekkers uiteen te sit en hul onafhanklikheid te beklemtoon. Hy skryf onder andere: “Ek het my geboorteland nie verlaat om in duisternis te leef met die Britse Regering of met diegene van my medeburgers wat agtergebly het nie; dit is my sterk begeerte om ’n vrye verkeer met hulle te handhaaf.” Ondanks alles wat hy en sy landgenote in die Kolonie moes verduur, is hy te grootmoedig om enige gevoel van vyandigheid te koester.

In Port Natal is Retief baie hartlik deur die Engelse nedersetters aldaar ontvang, wat hom ook ’n adres aangebied het. Dit is bekend hoe hy van Dingaan die belofte verkry het van ’n groot stuk grond, op voorwaarde dat hy ’n aantal beeste sou terugbring wat deur Sikonyella gesteel is. Al moes dit vir Retief ’n baie vernederende opdrag gewees het, het hy nietemin toegestem, omdat hy besef het dat daar groter belange as eie eergevoel op die spel was. ’n Ekspedisie het na Sikonyella gegaan, hy is met ’n lis gevang en die gesteelde vee is daarop teruggeneem. By die laers teruggekeer, op weg om die vee aan Dingaan terug te besorg, is Retief van verskeie kante, onder andere deur Maritz versoek om nie weer na Umgungundlovu te gaan nie. In sy blanke opregtheid, en ook miskien omdat hy nie voldoende kennis gedra het van die mentaliteit van die Zoeloes nie, het Retief nooit aan verraad gedink nie.

Buitendien wou hy dit nie waag om Dingaan ook maar die minste aanstoot te gee of agterdog by hom te wek nie, want dan kon hy dalk weier om die koopkontrak te teken. Hy het dus verkies om liewer sy eie lewe in gevaar te stel. Die gevolg was dat die noodlottige tog, wat op die vreeslike moord uitgeloop het, met sewentig uitgesoekte manne onderneem is.

Volgens Preller het daar ’n portret van Retief bestaan, maar dit het later verlore gegaan. Ons weet dus net uit die oorlewering hoe hy gelyk het: ’n man van middelmatige grootte, effens donker van kleur, met swart hare en baard en ernstige maar vriendelike gelaatstrekke. Wat sy persoonlikheid betref, verkeer ons egter op sekerder terrein, omdat ons sy briewe het en daar ook die kommentaar is van sy tydgenote. Uit alles kry ons die indruk dat hy ’n gebore leier was, ’n man met ’n sterk persoonlikheid en groot deursettingsvermoë, maar daarby was hy sagmoedig en vriendelik van aard en ’n man van innige godsvrug. Die verslaentheid en gevoel van hulpeloosheid wat sy heengaan onder die Trekkers veroorsaak het, was meteens die maatstaf van sy grootheid.