Piet Koornhof (1925-2007)

Nog op ons boekrak: Julie 2021
July 29, 2021
Hendrik Schoeman (1927-1995)
July 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Piet Koornhof was ’n kabinetsminister tydens die bewind van die Nasionale Party (NP), wat verskeie portefeuljes in die tyd van adv. John Vorster en mnr. PW Botha beklee het.

Hy is op 2 Augustus 1925 op Leeudoringstad in Noordwes gebore en het aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer. Hy was hoofseun en sy latere vrou, Lulu, was hoofmeisie in dieselfde jaar. Hy het teologie aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en sy studie aan die Universiteit van Oxford in Engeland voltooi. Die onderwerp van sy doktorale proefskrif was die onvermydelike verstedeliking van swart mense in Suid-Afrika.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in 1956 by die NP aangesluit. Hy het ’n navorser vir dr. Hendrik Verwoerd geword en is later as direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangestel. In 1962 het hy die sekretaris van die Afrikaner Broederbond geword en in 1964 is hy tot parlementslid vir die kiesafdeling Primrose verkies.

In 1968 het hy die adjunkminister vir die destydse Bantoe-administrasie en ontwikkeling geword; in 1972 het hy minister van energie geword en hierdie portefeulje in 1973 met sport gekombineer. As minister van sport het hy aangekondig dat verskillende sportspanne vir verskillende rasse geskep sou word. In sy tydperk as minister van energie van 1972 tot 1976, maar veral as minister van samewerking en ontwikkeling, was hy betrokke by die gedwonge verskuiwing van derduisende swart mense uit gebiede wat net vir blanke mense bedoel was. Nogtans het hy verskillende konstitusionele modelle vir Suid-Afrika bestudeer, en hy was ’n groot voorstander van die Switserse kantonstelsel, waarin ’n heterogene bevolking regeer word onder ’n stelsel waarin een bevolkingsgroep nie deur ’n ander oorheers word nie. Toe hy aan mnr. PW Botha gesê het dat daar geen manier sou wees wat daar vrede in die land sou wees tensy Nelson Mandela vrygelaat sou word nie, is hy in die minder belangrike pos as Suid-Afrikaanse ambassadeur in die Verenigde State van Amerika (VSA) aangestel. Hy het hierdie pos van 1986 tot 1991 beklee en was die laaste Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA wat ’n lid van die NP was. Sy opvolger, Harry Schwartz, was eers lid van die Progressiewe Federale Party (PFP) en later die Demokratiese Party (DP). Dwarsdeur sy politieke loopbaan is dr. Koornhof as een van die meer verligte ministers beskou, en ’n mens met baie teenstrydighede.

Nadat hy uit die politiek getree het, het hy die nuushooftrekke om ’n ander rede gehaal. In 1993, in die ouderdom van 68 jaar, het hy betrokke geraak in ’n buite-egtelike verhouding met ’n nie-blanke vrou wat baie jonger as hy was, en vyf kinders by haar gehad. Hy is egter later met sy vrou versoen. Na afloop van die demokratiese verkiesings van 1994 het hy ingestem om voor die Waarheids-en-versoeningskommissie te verskyn. Hy was een van net ’n paar ministers wat eerlik gepraat het oor die gruweldade wat onder apartheid gepleeg is. In 1998 het dr. Koornhof en sy seun Gerhard hulle by die United Democratic Movement van genl. Bantu Holomisa aangesluit en in 2001 het hy hom by die African National Congress (ANC) aangesluit.

Op 12 November 2007 is hy in die ouderdom van 82 jaar oorlede nadat hy ’n beroerte gehad het, en almal van oor die hele politieke spektrum het hulde aan hom gebring.