(Soos verskyn in Historia Junior, September 1957)
Wie het nog nie gehoor van die heldedaad van kommandant Piet Uys en sy veertienjarige seun Dirkie nie? Die dood van vader en seun sal tot in die verste nageslagte onthou word. En tog is daar nog geen gedenkteken vir hierdie twee helde opgerig nie! Wat presies gebeur het, weet ons nie, want daar is geen skriftelike verslag van die verloop van die strafekspedisie teen Dingaan na die slag van Italeni opgestel nie. Die enigste beskrywings van die slag is jare later uit herinnerings van mense wat daaraan deelgeneem het, opgeteken. Sulke beskrywings verskil ook nog t.o.v. sekere feite. Ook is dit ’n beskamende feit dat niemand presies weet waar Dirkie Uys gesterf het nie.
Maar wat weet ons van die slag van Italeni en van die heldedood van Dirkie Uys en sy vader? Laat ons uit die gegewens wat ons het, probeer vasstel wat gebeur het. In Februarie 1838 het die moord op Piet Retief en sy manskappe by Dingaanstat plaasgevind en kort daarna die afgryslike moorde op die Trekkergroepe wat niksvermoedend en verspreid langs Bloukransrivier, groot en klein Boesmansivier gestaan het. Die Trekkers wat oorgebly het, was in ’n ontredderde toestand. Hulle het in aller yl laer getrek en vir die res van daardie jaar in die laers bly woon.
Daar word egter besluit om wraak te neem en ’n strafekspedisie teen die Zoeloekoning, Dingaan te stuur. Hulp is ontvang van Hendrik Potgieter, die beroemde Trekkerleier wat kort tevore die Matabeles verslaan het en met ’n kommando oor die Drakensberge gekom het. Daar was ook Piet Uys wat nou in Natal met sy trek aangekom het. Met hierdie twee het Gert Maritz, die erkende leier van die Natalse Trekkers na Retief se dood, in allerhaas raad gehou. Daar is besluit dat Maritz tuis sou bly om die laers te beskerm. Potgieter en Uys sou elkeen sy eie mense aanvoer.
Hierdie kommando, wat later die vlugkommando genoem sou word, verlaat die laer wat by Doornkop noord van die teenswoordige Estcourt gestaan het, op 6 April. Omdat dit ’n perdekommando was, het die 347 manskappe betreklik vinnig getrek. Daar was geen noodsaak om pad te maak nie. Daar word eers in ’n noordoostelike rigting getrek tot oor Tugela- en Buffelsrivier waarna ’n suidoostelike rigting direk na die stat van Dingaan ingeslaan is.
Omtrent twaalf myl van Dingaanstat af gewaar hulle die eerste keer Zoeloe-impi’s by die berg Itala of Italeni. Hier het op 10 April 1838 die geveg plaasgevind. Maar wat het presies gebeur? Waarskynlik sal ons dit nooit weet nie. Die verslae van die paar ooggetuie wat ons het – die van Marthinus Ooshuysen, Willem Nel, JH Hatting, en dis omtrent al – verskil van mekaar aangesien elkeen met ’n ander deel van die kommando saam was en oor ’n ander terrein van die slagveld beweeg het. Miskien het hulle ook nie meer so goed onthou nie. Elkeen het die geveg jare later beskrywe, toe hulle al bejaarde manne was.
Die Itala-berg is nie baie steil nie. ’n Man te perd kan daar maklik opkom. Bo-op is dit ook taamlik plat en wyd. Aan die noorde en noordweste kant vorm dit egter steil klowe wat afskiet na die dal van die Insusi-rivier wat daar aan sy voet kronkel.
Toe hulle die berg nader, was daar twee impi’s in sig, een op die berg en een links daarvan op die vlakte. Besluit word dat Potgieter die een op die vlakte en Uys die een op die berg sou aanval. Potgieter was blykbaar baie versigtig. Hy het sy manne nie toegelaat om van hulle perde af te klim nie. Een man wat wel afgeklim het om beter te kan skiet, het sy lewe daar verloor. Miskien het Potgieter ook op ’n besonder sterk afdeling van die Zoeloes gestuit, of hy het besef dat hy in die gebroke veld aan die voet van die berg nie ’n kans teen die Zoeloes gehad het nie. Hoe ook al, sy manskappe was spoedig op die vlug. Al vlugtende moes hulle egter veg, die hele dag lank, voor hulle uitgekom het.
Uys was meer voortvarend. Volgens die meeste gegewens het hy die berg opgetrek en die impi aangeval. Die Zoeloes het spoedig gevlug en met die agtervolging het die manne in een of meer van die klowe in ’n hinderlaag beland. Hier het die kommando blykbaar in klompies opgesplits, waar elkeen so goed as wat hy kon, vir hom ’n pad moes oopskiet.
Die klompie waar Piet Uys en sy seun Dirkie by was, het dit baie ongelukkig getref. Hulle het eers probeer om twee Malans wat te voortvarend vorentoe gestorm het en in lewensgevaar verkeer het, te hulp te snel en die vyand wat in ’n bosbegroeide kloof was, terug te skiet. Die oormag het te groot geword, die twee Malans is bereik maar kon nie gered word nie, want in die vlug het hulle agter geraak en is doodgesteek. Tydens hierdie vlug het Piet Uys stilgehou om die vuursteen op sy geweer reg te stel. ’n Zoeloe wat daar in die gras geskuil het, het skielik opgespring en ’n asgaai gegooi wat hom in die heup of die niere getref het. Hy het die asgaai eiehandig uitgetrek en daarna nog ’n burger, wie se perd doodgesteek was, agter op sy eie perd gelaai. Die wond was egter dodelik. Hoe verder hy gegaan het, hoe swakker het hy geword van bloedverlies en pyn. Twee manne moes hom naderhand op die perd vashou. Hy het selfs ’n paar keer flou geword en hulle moes hom met brandewyn lawe. Die klompie burgers het hulle hande vol gehad om die vyand terug te skiet. By ’n spruit of ’n sloot wat hulle moes oorgaan, is hulle byna almal deur die Zoeloes oorweldig. Een persoon wat sy perd verloor het, het juis daar die lewe gelaat.
Dit was blykbaar by die oorgaan van die sloot dat Piet Uys besef het dat sy dae getel was. Volgens sommige het hy sy manskappe beveel om hom daar agter te laat en hulle eie Iewens te red. Volgens ander het hy daar van sy perd afgeval en toe hulle hom weer wou lawe, het hulle gemerk dat hy reeds dood was. Hoe ook al, hulle het hom daar agter gelaat terwyl die vyand kort op hulle hakke was. Die jong Dirkie het vir ’n oomblik omgekyk en toe hy sien dat die bloeddorstige Zoeloes op sy hulpelose vader afstorm, het hy sy perd omgeruk en teruggejaag. Daar aan sy sterwende vader se sy het hy die vyand teruggeskiet totdat hy deur die oormag oorweldig is. Elkeen moes vlug om sy eie lewe te red. Vanaf nege-uur die oggend tot byna sononder die aand het dit geduur. Toe eers het hulle anderkant die Buffelsrivier weer tot stilstand gekom. Al die tyd was daar geen kans om te eet of die perde af te saal nie. Inderdaad ’n vlugkommando. Behalwe die twee Uysse het nog sewe ander daar in die klowe gesneuwel. Geen wonder dat die Natalse Voortrekkers in sak en as gesit het toe hulle die nuus van hierdie neerlaag verneem het. Maar wat altyd as ligpunte in die geskiedenis sal skitter, is die heldedade wat die dag verrig is, die selfopoffering om ’n vriend in nood te red. En die blinkste van almal die heldedaad van die jong seun Dirkie Uys.
Bostaande is ’n verhaar van die gebeure soos ons dit uit die getuienis van sommige aanwesiges kan saamstel. Maar dit wil nie sê dat alles presies so gebeur het nie. Ander getuies vertel die storie weer ietwat anders. Veral is dit moeilik om vas te stel wat presies gebeur het omdat die terrein waarop die drama afgespeel het, ook nie presies vasgestel kan word nie.
Op ’n onlangse besoek aan die terrein is daar aan ’n groepie historici ’n plek aangewys wat ’n ou kaffer, wat nog aan die slag deelgeneem het, self sou getoon het. Daar langs ’n groot klip het hulle die wit baas agter gelaat; en van daar, ’n endjie verder, het ’n jong baas omgedraai om te help. Daar by die klip is albei gedood. Dit lyk alles baie geloofwaardig: die steil hang van die berg is daar, die sloot, tans deur grondverspoeling tot ’n geweldige diepte uitgekalwe, en die kloof. Maar ander getuies wys weer ’n ander plek aan. Daar is immers so baie klowe, so baie slote. Miskien getuig al die Zoeloegetuies nie van dieselfde geval nie. Daar het die dag immers meer mense gesneuwel as net die twee.
Daar het vroeër waarskynlik dikwels mense die plek besoek, vroeër toe mense uit die eerste en tweede hand nog presies kon aantoon waar dit en dat gebeur het. Hoe jammer dat nie een die moeite gedoen het om aantekeninge of om ’n sketskaart te maak nie. Dan was dit vir die geskiedenis gered. Miskien kan deur noukeuriger navorsing egter nog vasgestel word waar Dirkie Uys gesneuwel het en waar ’n gedenkteken opgerig behoort te word om van sy heldedaad te vertel.