Pierre de Wet (1909-1990)

Margot Luyt
April 4, 2021
Hennie Aucamp (1934-2014)
April 5, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Pierre de Wet word beskou as die vader van die Afrikaanse rolprent.

Pierre Stephanus de Wet is op 22 Augustus 1909 in Pretoria gebore en reeds op skool het hy op die verhoog by die plaaslike Grand Theatre opgetree. Hoewel hy bekendheid in teater en film verwerf het, was hy oorspronklik ’n danser; hy het in April 1930 ’n dansoptrede tydens ’n mannekynvertoning in die stadsaal van Pretoria gelewer. In 1931 het hy sy debuut as akteur in Moedertjie, die eerste klankrolprent in Afrikaans, gemaak.

Hy het in Februarie 1932 na Engeland vertrek en in teaterstukke soos The cat and the fiddle en Wild violets gespeel. In eersgenoemde stuk het hy in die skadu van die akteur wat die jeugdige hoofrol vertolk het, gespeel en dié rol mettertyd oorgeneem, waarna hy binne ’n tydperk van tien maande in al die vernaamste Engelse stede in Wild Violets opgetree het. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer kort voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.

Hy het sy professionele loopbaan as verhoogakteur begin toe hy ’n rol in André Huegenet se verhoogstuk, As mure kon praat, vertolk het. Daarna het rolle in Is jy ’n bokryer?, Helshoogte en Absolom my seun gevolg. Nadat hy ’n meningsverskil met André Huegenet gehad het, het hy sy eie maatskappy, die Pierre de Wet-toneelgeselskap in 1942 gestig. Pierre het die draaiboek vir die verhoogstuk Pinkie, waarin hy self die titelrol vertolk het, geskryf. Dit was ’n uitvloeisel uit sy karakter in Absolom my seun. Hy het sy geselskap versterk deur akteurs soos Gert van den Berg, Anna Neethling-Pohl en Jan Cronjé te werf. Hulle het op reis gegaan met die toneelstuk Die goeie oue tyd, wat deur Sita geskryf is.

Pierre sou vyftien jaar wag voordat hy tot die rolprentmedium sou terugkeer. Sy eerste vier rolprente was op verhoogstukke gebaseer, maar daarna was hy die regisseur van die eerste Afrikaanse musiekrolprent, Kom saam vanaand, met Al Debbo in die hoofrol, wat in 1949 vrygestel is. Dit was nie net Pierre se suksesvolste rolprent tot nog toe nie, maar ook die begin van die legendariese komedie-paar Al Debbo en Frederik Burgers. Hendrik Susan en sy orkes was verantwoordelik vir die musiek, en Al Debbo het sy sangtalent vir die eerste keer in ’n rolprent ten toon gestel. In 1950 het nog ’n trefferrolprent, Hier’s ons weer, gevolg, waarin Al en Frederik die rol van twee speurders vertolk het. Weer eens het Hendrik Susan en sy orkes vir die musiek gesorg, saam met onder meer die sanger Jurie Ferreira en die klavierspeler Taffie Kililus, wat self in ’n aantal rolprente as akteur te sien was. Alles sal regkom het in 1951 gevolg; hierin het Al en Frederik die rol van burgemeester en onderburgemeester vertolk. Altyd in my drome, wat in 1952 gevolg het, was nog ’n musiekblyspel wat ’n reusesukses was.

In 1955 het Frederik Burgers die hoofrol in Matieland vertolk. In dié rolprent het hy die rol gespeel van ’n pa wie se seun aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer het en, tot sy ma se ontnugtering, rugby gespeel het. Taffie Kikilus was in dié rolprent as akteur en klavierspeler te sien, en dr. Danie Craven het homself gespeel. Daarna was Pierre die regisseur van nóg twee rolprente waarin Al Debbo en Frederik Burgers die hoofrolle vertolk het, naamlik Dis lekker om te lewe en Fratse in die vloot, wat onderskeidelik in die Suid-Afrikaanse Leër en die Suid-Afrikaanse Vloot afgespeel het. Twee treffer-rolprente waarvan Pierre die regisseur was, het in 1959 gevolg. Miemsie Retief se eerste hoofrol was in Nooi van my hart, die eerste Afrikaanse rolprent wat in kleur verfilm is, en waarvoor Jan Pohl die musiek geskryf het. Die ander een was Piet se tante, met Frederik Burgers in die hoofrol; ’n verwerking van die verhoogstuk Charly’s aunt. In 1960 het Oupa en die plaasnooientjie, met Frederik Burgers en Miemsie Retief in die hoofrolle, gevolg en Pierre se laaste rolprent as regisseur was En die vonke spat, waarin Frederik Burgers die rol vertolk het van ’n boer wat daarteen geskop het om elektrisiteit op sy plaas te gebruik. Toe die rolprent Kimberley Jim, met Jim Reeves in die hoofrol, verfilm is, was daar sprake dat Pierre die regisseur sou wees, maar Emil Nofal het die regie behartig. In 1985 was hy die laaste keer te sien as akteur in ’n aantal episodes van die suksesvolle reeks Agter elke man, waarin hy die rol van Albert Jooste vertolk het.

Pierre, wat met die aktrise Eugenie Heyns getroud was, is op 24 Junie 1990 in die ouderdom van tagtig jaar aan ’n hartaanval oorlede.