PH Nortjé (1920-2012)

Gerrit Schoonhoven (1958-2020)
December 7, 2020
Madeleine van Biljon (1928-2010)
December 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

PH Nortjé was ’n bekende Afrikaanse skrywer wat veral bekendheid verwerf het vir sy humoristiese outobiografiese vertellings oor die Bolandse dorp Wellington en sy mense.

Peter Henry Nortjé is op 20 Oktober 1920 op die plaas Klipfontein naby Willowmore in die Baviaanskloof gebore. Hy was die jongste van vier kinders, twee seuns en twee dogters. Nadat hy op Willowmore gematrikuleer het, het hy aan die opleidingskolleges van Oudtshoorn en Paarl gestudeer en in 1951 sy MEd-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met lof verwerf. Hy het ook op die studenteraad gedien en sy vrou, Mikie van Zyl, met wie hy aan die einde van 1952 getroud is, ontmoet. Drie seuns, Charl, Francois en Pierre-Henri, wat gereeld in sy vertellings voorgekom het, is uit die huwelik gebore.

Hy het reeds in 1941 op Douglas in die Noord-Kaap begin skoolhou, en later poste in King William’s Town en Riversdal beklee. In 1954 verhuis hy en sy gesin na Wellington, en word die eerste hoof van die Hugenote Laerskool. Nadat hy agt jaar lank die hoof was, is hy as dosent en later viserektor van die Wellington Opvoedkundige Kollege aangestel. In 1982 het hy as rektor van dié kollege waargeneem, maar aan die einde van die jaar afgetree, waarna hy en sy vrou hulle in die Strand vestig.

Hy het reeds op negentienjarige ouderdom begin om stories vir Die Jongspan te skryf, maar regtig eers in die 1950’s ernstig aan jeugverhale begin skryf. Hy was by uitstek ’n skrywer wat sy jeugherinneringe en die grootwordjare van sy kinders in humoristiese sketse kon verwerk. Hy het natuurlik veral gereeld verslag gedoen oor die doen en late van Wellington en sy mense. Sy vertellings het aanvanklik in Huisgenoot verskyn, maar later het ’n aantal bundels die lig gesien.

Die eerste hiervan was Nuut onder die son, wat in 1967 verskyn het. Hierin het hy die humor in alledaagse situasies, onder dié wat ’n mens frustreer, raakgesien. Daar is een storie wat in sy bundel Aan die sonkant, in 1971, verskyn het, wat kop en skouers bo die res uitgestaan het en sy mees geliefde en gelese storie geword het. Nortjé was ’n lidmaat van die Nederduits Gereformeerde Moedergemeente op Wellington en die voormalige Springbok-rugbykaptein en latere parlementslid, dr. Dawie de Villiers, was hul predikant. Die kerkorrel het op daardie stadium beter dae geken en die gemeente moes ’n plan maak om geld in te samel om dit te herstel. Daar is toe ’n rugbywedstryd tussen die ouderlinge en die diakens gereël. Daarna volg Op die sonpad in dieselfde jaar; in hierdie tien sketse kon ’n mens agterkom dat Nortjé en sy gesin gedurig met mekaar gekorswel het maar ook deur dik en dun saamgestaan het. Nie net het hulle oorlog teen die molle in die tuin verklaar nie, hulle het ook ’n motorskuiling saam gebou, maar alles het nie noodwendig altyd volgens plan verloop nie. Matewis se mense gaan boer het twee jaar later verskyn; hierin het hy vertel hoedat hy, sy gesin en die troeteldiere, naamlik die papegaai Matewis, die spanjoeltefie Trienkie en die Siamese kat Sebastiaan hulle in die Baviaanskloof bevind het en die familieplaas Klipdrif opgepas het. Hulle moes sekere noodsaaklike take, wat vreemd vir die dorpenaars was, verrig. Bly of gly, wat in 1975 verskyn het, het die verhaal van die gesin se Europese toer vertel terwyl Klein Hollywood onder meer die verhaal vertel van ’n erediens wat vir televisie opgeneem en uitgesaai is. In 1993 is ’n keur van sy vertellings oor Wellington en sy mense onder die titel Wellington se suiker vrygestel.

Nadat Nortjé en sy vrou na die Strand verhuis het, het hy steeds aanhou skryf. Spook van die wielsleutel was ’n reisjoernaal waarin hy vertel het van sy besoek aan Namibië saam met sy seun Francois. Die titel was na aanleiding van ’n wielsleutel wat hulle op Ai-Ais by ’n barmhartige Samaritaan in die hande gekry het, maar iets was nie pluis nie en dit het die hele tyd by hulle gespook. Daarby het dit die spesiale verhouding tussen pa en seun uitgebeeld. Hy het Ken op die kierie geskryf nadat hy reeds afgetree het; hierin het hy vertel van afgetredenes wat die gebeure van vyftig of sestig jaar tevore kon onthou, maar nie kon onthou wie daardie oggend saam met hulle inkopies gedoen het nie. Sy laaste bundel, Volstruis , met wie gaan jy trou?, het in 2000 verskyn. Die subtitel daarvan was “’n Herinneringstog”, aangesien dit gehandel het oor die reis wat hy saam met sy seuns van Somerset-Wes tot by die familieplaas in die Baviaanskloof onderneem het. Sy seuns het daarop aangedring om nog een keer na die plek waar hul pa grootgeword het, en waar hulle gereeld vakansie gehou het, te gaan. Die leser kon die vier nagte meemaak, asook die besoeke aan bekende ou plekke en ou wonings, asook ’n herontmoeting met familie en vriende.

Die munisipaliteit van Wellington het in 1979 ’n huldigingsaand ter ere van Nortjé gehou om hom te vereer vir sy bydrae tot jeugliteratuur, en die manier waarop hy die dorp met sy vertellings op die landkaart geplaas het, terwyl die FAK in 1998 ’n prestige-prys aan hom oorhandig het. In 2008 is ’n versameling van sy werk, Op ’n hoë noot, wat sommige van sy jeugverhale asook ’n aantal van sy vertellings oor Wellington en sy mense ingesluit het, by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom vrygestel. Nortjé, wie se vrou in 2007 oorlede is, kon die geleentheid nie self bywoon nie, maar sy redakteur, Danie Botha, het meer van hierdie versameling tydens dié geleentheid vertel.

Nortjé is op 6 Julie 2012 in die ouderdom van 91 jaar aan hartversaking oorlede, en is oorleef deur sy drie seuns en agt kleinkinders.