Piet en Dirkie Uys: twee Voortrekkerhelde
April 9, 2017
’n Kort oorsig van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (Deel 1)
April 9, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1965)

Piet Retief en die Voortrekkers wou graag in Natal bly. Hy het na Dingaan gegaan om grond te kry waar hulle kon woon. Dingaan was die koning van die Zoeloes. Hy het Retief en sy manne vriendelik ontvang en belowe om aan hulle grond te gee.

Dingaan was nie eerlik nie. Hy het Retief en sy manne laat dood maak. Toe het hy sy soldate gestuur om die ander Trekkers ook om die lewe te bring.

Solank as wat Retief by Dingaan was, het die ander Voortrekkers langs ’n groot rivier gebly. Hulle was nie almal bymekaar nie, maar het in groepies in tente gewoon. Die name van die riviere was die Tugela, die Bloukrans en die Boesmansriviere.

Een van die groepies wat daar langs die rivier gewoon het, was die gesin van Wynand Bezuidenhout. Hy en sy twee getroude seuns en die ander kinders het langs Moordspruit met hulle beeste en skape gebly. Petrus Bezuidenhout was toe veertien jaar oud. Hulle het van geen gevaar geweet nie en alles was daar rustig.

Een nag het Petrus skielik wakker geword. Hy het die honde gehoor blaf en daar was ’n groot geraas. Die beeste het gebulk en die skape het geblêr. Petrus het gou opgestaan om die beeste en skape te keer. Hy het gedink die vee wou wegloop. Toe hy buite sy tent kom, het hy geskrik. Hy het skildvelle en assegaaie gehoor. Daar was ook baie stemme van mense en hy het die Zoeloes in die donker gesien.

Petrus het geweet dat daar groot gevaar was en dat hy moes vlug. Hy het vinnig na die digte bome en bosse toe gehardloop. Een assegaai van die vyand het hom skrams op die rug getref. Die trop beeste het daar naby verskrik gestaan. Hy het tussen hulle in gehardloop. Toe het die vyand hom nie weer gesien of gehoor nie. Daar naby het hy in ’n diep sloot gespring en verder gehardloop. Hy het tot by ’n rantjie gevlug. Daar het hy stil gesit en wag dat die son moes opkom. Hy het pyn gehad en die wond aan sy rug het baie gebloei.

Later het dit lig geword en toe die son skyn, het Petrus na die kamp gestaan en kyk. Dit was daar alles stil. Hy het geweet wat dit beteken.

Daar naby die kamp het Petrus ’n klompie perde gesien. Hy het baie versigtig daarheen gestap en een perd probeer vang. Die perde was seker nog verstrik van die nag se lawaai en het begin hardloop.

Die Zoeloes wat nog naby die kamp was, het hom toe gesien. Hulle het nader gekom om hom te vang. Petrus was in groot gevaar, want hy kon nie vinnig  hardloop nie. Sy lyf en wond was seer. Hy het al sy kragte ingespan en gehardloop. Gelukkig het hy een perd se stert in die hande gekry. Hy het gefluit en dit gepaai. Die perd het toe gaan staan. Petrus het sy kruisbande as ’n toom gebruik en die perd daarmee gestuur. Hy het op sy rug gespring en na die kamp toe gejaag. Daar het hy baie lelike dinge gesien. Hy het sy geweer probeer in die hande kry, maar moes vinnig wegjaag. Die Zoeloes het nader gekom om hom te vang. Hy het meer as een keer probeer om ’n geweer in die hande te kry. Later moes hy maar sonder ’n geweer wegjaag.

Petrus het na die ander Trekkers toe gejaag en hulle gewaarsku. Sy een ouer broer was ook daar. Net hulle twee het van hulle hele familie in die lewe gebly.

Die Zoeloes wou al die kampe aanval. Die Trekkers was nou gewaarsku en hulle het bymekaar gekom. Hulle het die waens in ’n groot kring getrek en die wiele aan mekaar vas gebind. Daar was ’n groot geveg toe die Zoeloes opgedaag het, maat hulle kon die Trekkers nie in die hande kry nie.

Die Trekkers het bewaar gebly, omdat Petrus en sy broer hulle teen die groot gevaar gewaarsku het.