Penguin Random House se boekkeuses vir Kersfees

Frank Opperman sit en leer woorde vir ‘n lewe
December 21, 2018
Protea Boekhuis stel die boeke vir die feestyd voor
December 22, 2018

Katelknaap deur Leon van Nierop

Tristan Hansen is terug
in Katelknaap, Leon van Nierop se
stomendste roman nóg. Dié gigolo waarvoor Johannesburg se rykste vroue duisende
rande betaal, het in Die plesierengel,
sowat twintig jaar gelede, sy eerste verskyning gemaak, maar daar is veel meer
oor sy lewe te vertel. Die karakter is losweg op ’n ware persoon gebaseer en
die roman begin op die vooraand van Tristan se sewe-en-twintigste verjaarsdag.

Die lang man sonder skaduwee deur Antoinette
Pienaar

In Antoinette Pienaar se
nuwe boek, Die lang man sonder skaduwee,
sit sy haar reis met Karookruie en hul genesende krag voort soos sy reeds vir
baie jare in haar weeklikse program oor RSG doen. Antoinette werk al reeds vir
jare in die Karoo saam met oom Johannes Willemse, die legendariese
Griekwa-medisyneman. Saam gebruik hulle die helende kragte van kruie om mense
se lywe en siele te dokter.

Gifbeker deur Irna van Zyl

Gifbeker volg op die sukses van
haar eerste roman, Moordvis. Die
roman skop af met ’n dramatiese toneel waartydens ’n omstrede kosblogger in een
van die spoggerigste restaurante op Hermanus dood neerslaan – moontlik weens
vergiftiging. Die boek deel juis sy naam met die wêreld se giftigste sampioen.

Patagonië deur Maya Fowler

Die skrywer en vertaler
Maya Fowler se nuwe roman, Patagonië,
neem die leser op reis na die hinterland van Patagonië, waar Afrikaans tot
vandag toe nog gepraat word. Tertius de Klerk is ’n afgeleefde professor wat
geskiedenis aan verveelde studente doseer. Wanneer sy dronk eskapade met ’n
student op sosiale media verkondig word, konfronteer hy haar in haar woonstel. ’n
Gruwelike ongeluk dwing hom om te vlug.

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel

In Die hond wat ophou blaf het, ’n opwindende nuwe debuutroman, word
jou ergste nagmerries oor bloeddorstige tandartse waar. Hoofkarakter Izak Hugo
is gefrustreerd. Hy haat sy praktyk in Port Elizabeth en smag na ’n meer
vervullende lewe. Sy frustrasies bou so op dat hy sporadiese oomblikke van
geheueverlies ervaar. Die dokters reken daar is ’n verband tussen sy
geheueverlies en migraines, maar dit verklaar nie die donker, gewelddadige
beelde wat hom snags teister nie..

Wrok deur Beyers de Vos

In dié aweregse
misdaadroman, breek die opwindende nuwe stem van Beyers de Vos alle reëls. Die
roman speel in Pretoria af en volg vyf karakters in hul soeke na wraak en
vergelding.

Aankoms en vertrek deur Pat
Stamatélos

In Aankoms en vertrek blaas bobaasstorieverteller Pat Stamatélos met
haar gebruiklike humor en ligte aanslag asem in ’n handvol karakters wie se
lewens deur omstandighede op die spits gedryf word. Die roman is ook as ’n
e-boek beskikbaar.

Ingrid Jonker – ’n Biografie deur Petrovna
Metelerkamp

Metelerkamp bring nuwe inligting
aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, o.m.
uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker
geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker
as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het
in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste
kunstenaars.

The post Penguin Random House se boekkeuses vir Kersfees appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico