Paul Sauer (1898-1976)

Jimmy Kruger (1917-1987)
July 29, 2021
Jan de Klerk (1903-1979)
July 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Paul Sauer was ’n Suid-Afrikaanse kabinetsminister wat sy lewe lank lid van die Nasionale Party was.

Paul Olivier Sauer is op 1 Januarie 1898 in Kaapstad gebore, en sy tweede doopnaam het van sy tannie, die bekende skrywer Olive Schreiner gekom. Toe hy ses jaar oud was, het hy saam met sy gesin na die plaas Uitkyk naby Stellenbosch verhuis. Toe hy elf jaar oud was, het hy begin skoolgaan by SACS in Kaapstad waar hy mettertyd hoofseun van Rosedale House en kaptein van die eerste rugbyspan was. Hy het in 1916 by die South African College ingeskryf vir sy BA-graad en was deel van die debatvereniging wat republiekwording vir Suid-Afrika voorgestaan het. As gevolg hiervan, en die feit dat daar soveel Afrikaanse studente was, is hy tot die studenteraad verkies. Hy het nie sy graad voltooi nie, maar was die eerste ingeskrewe student aan die nuutgestigte landboufakulteit by die Victoria-kollege op Stellenbosch, waar hy sy landboudiploma met lof geslaag het. In 1921 het hy vir sy ma op Uitkyk gaan boer. In 1929 het sy ma die plaas verkoop en Kanonkop, wat deel daarvan was, behou. Dit was sy erfdeel en hy het aangehou om op dié plaas te boer.

In 1923 het Sauer aan sy eerste verkiesing deelgeneem; hy was ’n kandidaat vir die provinsiale raad, maar hy het met net ongeveer twintig stemme verloor. Die volgende jaar was hy ’n kandidaat vir Stellenbosch, hierdie keer vir die Volksraad, maar hoewel hy meer stemme op hom verenig het, het hy nie die verkiesing gewen nie aangesien die Nasionale Party na ’n oproer in 1923 besluit het om Kleurling-kiesers te registreer. Later is hulle van die gemeenskaplike kieserslys verwyder.

In 1929 was hy ’n kandidaat vir Victoria-Wes, en sy teenstander was AM Conroy van die Suid-Afrikaanse Party, wat later ’n senator geword het. Sauer het Conroy met 88 stemme verslaan. Vier jaar later het die Nasionale Party hom gevra om homself in die kiesafdeling van Humansdorp verkiesbaar te stel in die plek van minister Charlie Malan wat kort tevore oorlede is. Hy het dit gedoen en dié kiesafdeling tot 1966 in die Volksraad verteenwoordig. Die kiesafdeling het van die Van Stadensrivier tot Plettenbergbaai gestrek, en daarby ook die Kougarivier en die Langkloof ingesluit. Daarna was hy tot 1970 ’n senator, wat beteken het dat sy politieke loopbaan oor 41 jaar gestrek het en net so lank soos dié van sy pa was.

In 1947 het dr. DF Malan, wat toe leier van die Herenigde Nasionale Party was, die Sauer-kommissie gestig met Sauer as voorsitter. Die doel hiervan was om apartheidsbeleid wat deur die Nasionale Party-regering aangeneem sou kon word, te formuleer. Die bevindinge van die kommissie het na ’n omvattende oplossing vir die naturellekwessie gelyk, en is beskou as ’n bloudruk vir apartheid. Die lede van die kommissie was Sauer, GBA Gerderner, dr. EG Jansen, JJ Serfontein en MDC de Wet Nel.

Nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, is Sauer as minister van spoorweë aangestel, maar in 1954 het hy minister van waterwese en bosbou geword. Dit was deur sy werk wat die Paul Sauer-dam (vandag bekend as die Kouga-dam) vir die boere van die Kouga-omgewing gebou is. Hy was ook minister van openbare werke in advokaat JG Strijdom se kabinet. Na die onluste in Sharpeville op 21 Maart 1960, het Sauer saam met dr. Eben Dönges en mnr. Ben Schoeman voorgestel dat sekere apartheidsmaatreëls verslap moes word, maar die eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, het volstrek geweier.

Hy het later die Kanonkop-wynlandgoed, wat tans in besit van sy kleinkinders is, by sy pa geërf en ’n leiersfiguur in die wynbedryf geword. Kanonkop het een van sy wyne na Sauer vernoem.

Sauer se bemiddeling het gemaak dat die N2-nasionale roete na Kaapstad gebou is, en die Paul Sauer-brug oor die Stormsrivier op die N2 is ’n bekende landmerk in die Tsitsikamma-omgewing. Hy het baie gedoen om die werks- en lewensomstandighede van bosbouers in daardie omgewing te verbeter. Die inwoners van Kareedouw het ook besluit om die plaaslike hoërskool in 1963 na die Hoërskool Paul Sauer te herdoop.

Sauer het in 1963 uit die politiek getree en is op 11 Januarie 1976, tien dae na sy 78ste verjaardag, aan ’n longsiekte oorlede.