La Motte-begraafplaas, Franschhoek
January 18, 2018
Die Strooidakkerk, Paarl
January 18, 2018

Baie, baie lank gelede, 550 miljoen jaar gelede, het die reuse grou-grys granietrotse, waarna Paarlberg genoem is, hulle ontstaan gehad. Diep onder die aardkors het hulle as ’n gesmelte massa afgekoel. Miljoene eeue het verby gerol en die oorliggende gesteentes is deur erosie weggevreet totdat daar hierdie bekende en indrukwekkende granietplutoon van ongeveer 14 km lank, ses km breed en ’n maksimum hoogte van 729 m bo seevlak bly staan het. Bo-op die berg is daar afgesien van verskeie ander rotsmassas drie groot koepels, nI. Paarlrots as die oostelike een, d.w.s. reg bokant die dorp, en die twee meer westelike koepels Gordonrots en sy meer suiderliggende broer Bretagnerots.

Voor die koms van die witman na Suid-Afrika was hierdie berg met sy kenmerkende rotse reeds ’n bekende landmerk vir die rondtrekkende Hottentotte. Die Gora-chouquas of Tabakdiewe het gedurende die somermaande hulle krale hier aan die voet van die berg opgeslaan. By hulle was die berg na aanleiding van die groot koepelvormige rots, as Skilpadberg bekend.

Kort na die aankoms van Jan van Riebeeck sou hierdie berg aan die blankes bekend word en die naam kry waaronder dit vandag nog bekend staan. ’n Tergende tekort aan vleis vir die Kaapse nedersetting en die verbyvarende Kompanjieskepe het Jan van Riebeeck verplig om togte na die binneland te stuur om skape en beeste van die Hottentotte te ruil. Met die doel het die fiskaal, Abraham Gabbema, in Oktober 1657 met ’n goed georganiseerde ekspedisie koers gevat na Klapmutsberg wat vanaf die Kaap sigbaar was. Op hierdie mooi tog in die Bolandse lente het hy, volgens sy reisjoernaal, op 22 Oktober deur die kloof “tusschen den Diamandt- en de Peerlberg en de aen d’ander sijde de Clapmutsbergh” tot aan die “groote bergreviere” getrek “alwaer ons terneder sloegen en den nacht verbleven”. Die nat, glinsterende rotse op ’n sonnige dag na langdurige reëns het Gabbema aan ’n diamant en ’n pêrel laat dink. Uit latere geskrifte blyk baie duidelik dat hy met “Diamandt” die huidige Gordonrots en met “Peerl” die huidige Bretagnerots in die oog gehad het.

Gabbema se naam “Peerlberg” het blywend geword en op die roete na die binneland het dit vir die koloniste en reisigers ’n bekende baken geword. In talle reisbeskrywings word dit dan ook vermeld. So skryf die bekende Francois Valentyn in 1726: “… en wat verder, legt de Paarlberg, zoo, niet na paarlen, die hier zouden vallen, maar na zekeren steen, op des zelfs top, de gedaante van een paarl hebbende, genaamt”. Die bekende John Barrow gee in sy Travels in Africa (1806) ’n uitvoerige, maar onbetroubare, beskrywing van die berg. Volgens hom: “The Paarlberg … has taken its name from a chain of large round stones that pass over the summit, like the pearls of a necklace. Of these the two that are placed near the central and highest point of the range are called, par excellence, the pearl and the diamond …” Uit sy beskrywing van die Paarlrots lyk dit of hy nooit daar was nie: “The Pearl is accessible on the northern side, but is nearly perpendicular on all the others. This sloping side is more than a thousand feet (300 m) in length and the perpendicular altitude about four hundred feet (120 m) above its base on the summit of the mountain where its circumference is a full mile (1,6 km) … The Diamond is the higher block, but less bulky, and, being cone-shaped, is difficult and dangerous of ascent”.

Wanneer hierdie rotse vernoem is tot Bretagne- en Gordonrots, kan nie met sekerheid nagespoor word nie. Selfs oor die afleiding van hierdie name kan maar slegs gegis word. Bretagne is ’n Franse provinsie vanwaar slegs een Franse Hugenoot, Guillaume Loret, afkomstig was. Gordonrots is heel waarskynlik na kol. Robert Jacob Gordon genoem wat van 1780 tot 1795 bevelhebber van die Kaapse garnisoen was en groot reise na die binneland onderneem het.

Die geologie van die Paarlberg en die plante- en dierelewe aldaar het baie vroeg reeds die belangstelling van reisigers en wetenskaplikes gewek.

Die eerste persoon wat die aandag op die Paarlrotse as ’n interessante geologiese verskynsel gevestig het, was Francis Masson. Masson was tuinier in die koninklike tuine van Kew en is in 1772 deur George III na die Kaap gestuur om saad en plante te versamel. Na sy terugkeer in Engeland het hy in die Philosophical Transactions of the Royal Society (1776), ’n beskrywing van sy reise gegee en hierin verwys hy as volg na ’n besoek aan die Paarl: “I saw nothing here so worthy of observation as two large solid rocks of a roundish figure . . . and they are found to be a species of saxum or granite …” Op aandrang van Masson het dr. William Anderson en sir William Hamilton agtereenvolgens die rotse besoek. Verskil van mening oor hul oorsprong het ontstaan. Hamilton het geglo dat hul deur vulkaniese werking van ’n afstand hier op die berg gewerp is, terwyl ander die standpunt gehuldig het dat die rotse hier gevorm is en die ganse berg uit graniet bestaan. John Barrow het tereg daarop gewys dat die Paarlrots saamgestel is uit kwarts, veldspaat en mika, terwyl dr. Henry Lichtenstein die verklaring vir die ontstaan van die rotse gegee het soos dit tans algemeen aanvaar word, nl. dat hul die produk is van die ultrametamorfose van die sedimente van die Formasie Malmesbury waarin hulle intrusief is.

Volgens ou reisigers was Paarlberg ’n ware paradys vir die plantkundige en dierkundige. Daar was die allergrootste verskeidenheid van inheemse bome en struike. Die Kaapse wilde-olyf en talle protea-soorte, waaronder veral die suikerbos, het hier welig gegroei. Varings en slingerplante was oral te sien en mos het die rotse bedek. Voëls van allerhande soorte het in die struike en bome gefladder. Charles Darwin, die alombekende natuurkundige, het in 1836 op sy reis om die wêreld ’n spesiale besoek aan Paarlberg gebring om die fauna en flora te besigtig.

Na gelang die dorp Paarl uitgebrei het, is al hoe meer op die hange van Paarlberg ingedring. Graniet het kommersiële waarde gekry en granietgroewe het ontstaan. Vir die Paarliete en vir natuurliefhebbers het die berg ’n al groter aantreklikheid gekry. In 1928 het die stadsraad met die finansiële steun van Jan Phillips, ’n lid van die bekende wamakersfamilie van die Paarl, die Jan Phillipsbergpad teen die oosterhelling van die berg tot by die bekende rotse gebou. Op hierdie pad van 14 km is twee interessante stilhouplekke aangebring: die veldblommetuin, waarvoor die stadsraad op aandrang van die Paarl Versieringsvereniging die Bergreservaat afgestaan het, en die Meulwater, vanwaar die water vir die Paarl se watermeul, Blake se koringmeul, oorspronklik afgevoer is. Om die watervoorraad van die dorp aan te vul, is ’n dam bo-op die berg gebou. Teen die suidelike helling van die berg verrys tans die Taalmonument.

(Geproklameer 1963)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 85-86.