Die Bronberger
March 16, 2017
Enkele grappige insidente waarin die penkoppe betrokke was tydens die driejarige oorlog
March 23, 2017

(Geskryf deur Elsabe Rust st. 10 Hoërskool A.J.C. Jooste, Petrusburg, soos verskyn in Junior Historia.)

Op 31 Mei 1975 is daar ’n monument onthul deur oud-president CR Swart op die plaas Wolwekraal naby Perdeberg waar die laer van genl. Cronje gestaan het. Die monument is opgerig ter ere van die burgers wat gedurende die Slag van Paardeberg gesneuwel het.

Na die Slag van Magersfontein het genl. Cronje, i.p.v. om die Engelse te verjaag en sodoende ’n beslissende oorwinning te behaal, ’n negatiewe houding ingeneem. Ledigheid en verveling was aan die orde van die dag. Sommige Boere het selfs teruggekeer huis toe. Die aanwesigheid van vroue en die hele atmosfeer het ’n demoraliserende invloed op die moraal van die burgers gehad. Daar was geen militêre dissipline nie, buiteposte, wagte of patrollies is nie georganiseer nie. Intussen is Engelse versterkings gebring en Roberts was besig om die Boere te omvleuel.

Genl. de Wet en De la Rey wou ’n poging aanwend om die Engelse spoorwegverbinding by De Aar af te sny. Cronje het geweier. Op 3 Februarie 1900 het verkenners aan Cronje gerapporteer dat die Engelse langs die Rietrivier aftrek in die rigting van Koedoesberg.

Op 13 Februarie is genl. Froneman met 800 man gestuur om genl. French te stuit waar hy na Rondawelsdrif optrek, maar hy het misluk. Op 15 Februarie het Cronje ’n berig ontvang dat genl. French Kimberley ontset het. Cronje het dadelik bevel gegee om na Bloemfontein op te trek. ’n Gevoel van angs en paniek het in die laers geheers.

Cronje het die weg, met die minste hoop op sukses gekies. Hy het daarin geslaag om deur genl. French se mag by Klipdrif te breek. Dit het hom van die kommando’s by Kimberley afgesny. Nadat die Boere ’n paar uur tot rus gekom het, het hulle na Wolwekraal vertrek met die agterlating van 78 waens. Op daardie oomblik het French Wolwekraaldrif alreeds beset. Op die 17e Februarie het Cronje op die noord-oewer van die Modderrivier laer getrek. Kmdt.-genl. Ferreira het by Cronje aangedring om in ’n noordwestelike rigting te trek om sodoende ’n aansluiting met die ander Boere-magte te bewerkstellig. Daardie nag is ook herhaaldelik by hom aangedring om te vlug, maar nog steeds was Cronje vasbeslote om sy eie weg te volg. Baie burgers het hom verlaat. Die volgende oggend, nadat hulle totaal deur die Engelse omsingel was, het Cronje sy fout besef.

Op 18 Februarie sou die Slag van Paardeberg begin. Die geveg het reeds vroeg begin en omstreeks nege-uur het die 18e battery die laer begin bombardeer. Kommandant Steyn van Bethlehem het op hom geskiet. Dit was die versterkings waarvoor Cronje gevra het voordat hy Magersfontein verlaat het. Vir byna twee uur het hy daarin geslaag om die Engelse besig te hou op die oostekant, juis op ’n tydstip toe die Engelse van plan was om die laer aan te val. Die Yorkshires, Oxfordshire, Light Infantry en West Riding het vorentoe beweeg ten spyte van moordende geweervuur. Die Boere op die linkerflank het hulle stellings verlaat. ’n Oomblik van oorweldiging vir die Engelse het aangebreek, maar Knox is gewond en Kelly-Kenny het bevel gegee om terug te val. De Wet en Philip Botha het die middag omstreeks vier-uur tussen Paardeberg en Koedoesdrif aangekom en het besef dat Cronje omsingel was. Genl. Froneman en ’n aantal burgers het ontvlug en by genl. De Wet aangesluit. De Wet se aanwesigheid het Kitchener genoodsaak om sy aandag te verdeel.

Teen die middag was beide vegtende partye se moed en deursettingsvermoë gebreek. Die Engelse se verlies was omtrent 1 300 en dié van die Boere omtrent 300.

Deur ’n misverstand het Roberts op die 19e verstaan dat Cronje wou oorgee, terwyl hy net ’n wapenstilstand wou hê. Roberts se troepe wat gestuur is om krygsgevangenes te gaan haal, het ’n warm ontvangs gekry. Alhoewel De Wet die suidelike heuwels beset en die pad vir die vasgekeerde generaal oopgemaak het, het slegs Froneman en Potgieter deurgebreek. Roberts het besluit om die Boere te beleër totdat hulle oorgee om sodoende menseverlies te voorkom. Ellende het in die laer geheers, veroorsaak deur die reuk van ontbinde karkasse, besoedelde water en hongersnood. Tien dae sou die 5 000 Boere daardie toestande trotseer. Boonop was hulle omring deur Engelse en blootgestel aan bombardemente.

Op 20 Februarie is die laaste kanon van maj. Albrecht buite werking gestel. Spoedig is moed geskep toe ’n heliograaf berig ontvang het dat Froneman met ’n groot mag besig was om ’n pad deur die Engelse oop te veg. Die Engelse was gedwing om hulle aandag aan die Boereversterkings te gee. Kitchener’s Koppie, nog altyd deur De Wet beset, is van die Boere afgeneem en Froneman is verslaan.

Uitkoms het in die vorm van reën gekom. Karkasse is weggespoel en varswater was weer beskikbaar. Cronje het ’n aantal gewonde krygsgevangenes losgelaat met dien verstande dat Roberts ’n gelyke aantal Boere na Jacobsdal se hospitaal sou laat gaan.

In die nag van 24/25 Februarie het kapt. Danie Theron sy lewe gewaag en deur die Engelse linies gesluip na die vasgekeerde laer met die boodskap van De Wet dat Cronje sy pad moes oopveg. De Wet sou hom dan tegemoet kom en die Engelse leër teëhou terwyl Cronje deurbreek. Cronje was van plan om ’n kettingbrug oor die rivier te bou, maar dit is stukkend geskiet deur die Engelse.

Op ’n krygsvergadering die 25e is besluit om voort te gaan tot die 28e. Na ’n hewige bombardement op die 26e wou die meeste burgers oorgee. Cronje wou deur middel van ’n heliograafberig ’n boodskap na De Wet oorsein. Die Engelse het die opgevang en teruggesein dat die Boere deur 70 000 troepe en 120 kanonne omsingel was. Cronje het gepleit dat die Boere tot op die 27e, Majubadag, moet voortgaan. Offisiere het selfs gedreig om die wit vlag te hys.

Macdonald “who had vivid memories of Majuba”, het by Roberts aangedring om die Boere op die 27e tot oorgawe te dwing. Colville het ’n groot aanval geloods. ’n Boodskap dat Cronje hom onvoorwaardelik oorgee, is na Roberts geneem.

Cronje se enigste versoek was dat sy eggenote, kleinseun en sekretaris met hom in sy gevangeskap saamgestuur word.

So het genl. Piet Cronje na ’n hardnekkige weerstand van tien dae op Majubadag 1900 aan die Engelse oormag by Wolwekraaldrif gekapituleer. Die krygsgevangenes is vanaf Kaapstad na St. Helena oorgeskeep en het daar gebly tot Mei 1902.

In 1929 is die gevalle burgers opgegrawe en in ’n gesamentlike graf herbegrawe. By hierdie graf is die huidige monument onthul.