Outydse Kaapse huisklok (Geen toegang)

Grosvenor-huis, Drosdystraat
Desember 14, 2017
Mostertsdrift, Jonkershoekweg (Geen toegang)
Desember 14, 2017

Die historiese monumente van Stellenbosch is hoogs uiteenlopend van aard. Daaronder tel selfs ’n outydse huisklok. Dit is die eiendom van die voormalige Rektor van die Universiteit, prof. H.B. Thom.

Johan Stander • Die Outydse Kaapse huisklok

Hierdie klok is waarskynlik die enigste wat in die 18de eeu aan die Kaap gemaak is en wat bewaar gebly het. Dit is deur Johann Michael Junck vervaardig. Hy was afkomstig uit Fürfeld in Duitsland en het in 1765 met die skip Bleijswijk na die Kaap gekom. Hy was eers werksaam as “Huijs Slootemaker” in diens van die Kompanjie, en het as sodanig ’n salaris van 14 guldens per maand ontvang. In 1769 het hy by goewerneur Rijk Tulbagh aansoek gedoen om vryburger te word en om “met het Metier van Horlogie maken” ’n eerbare bestaan te vind. Dit is hom toegestaan, maar sy vryburgerskap was van korte duur, want reeds op 26 Mei 1771 is hy oorlede. Dit kan dus aangeneem word dat hy die huisklok tussen die jare 1768 en 1771 gemaak het.

Gedurende die loop van byna twee eeue moes die ou huisklok dikwels van eienaar verwissel het, totdat dit in besit van dr. H. van Broekhuizen, en eindelik prof. Thom, gekom het.

Die kas van die klok wat van stinkhout, geelhout en ebbehout gemaak is, is besonder deftig. Veral opvallend is die swaar voetstuk, wat op gesnede en geboetsierde voete rus. Bokant die voetstuk verrys die elegante, slanke kas. Die deur is keurig gevorm en in die middel daarvan is ’n klein opening omsoom met ’n sierlike gemodelleerde silwerplaat. Die sye is gepaneel. Die hoeke, afgeplat, loop na bo in ’n akantblaar van ebbehout uit. Die boonste gedeelte van die wyserplaat is omraam met ebbehoutlyswerk bestaande uit ’n fries en kroonlys. Op die kroonlys is drie figure: in die middel die beeld van Atlas met die aardbol op sy skouers, en aan weerskante ’n engelfiguur met ’n beuel in die een hand en ’n blom in die ander.

Die wyserplaat is van soliede silwer, met fyn graveerwerk. Onder die wysers is ’n krullys met die inskripsie: Johann Michael Junck. Cabo de Goede Hoop. Links onder die wyserplaat is twee figure in silwer: die rustende figuur van ’n vrou en regs dié van ’n herder wat op ’n fluit speel. Onmiddellik benede die wyserplaat is ’n seetoneel, met kalksteenrotse en klein skippies in die agtergrond en op die voorgrond ’n skip in volle seil, wat saam met die meganisme van die klok beweeg.

In sy geheel genome is hierdie ou huisklok ’n prag-voorbeeld van die fyn handwerk wat in die 18de eeu aan die Kaap gedoen is.

(Geproklameer 1963)

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 79-80.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui