Ou Skool, Huntleystraat

Die Shaw-saal
September 10, 2019
Die Hill-orrel
September 10, 2019

Aan Huntleystraat staan daar ’n ou skoolgebou wat geskiedkundig sowel as argitektonies van die allergrootste belang is.

Dit word algemeen aanvaar dat dit die oudste Anglikaanse skoolgebou in die Republiek is. Die hoeksteen is gelê op 18 Junie 1844 deur mev. Hare, eggenote van kol. J. Hare, luitenant-goewerneur van die Oostelike Distrikte. Weens die Xhosa-oorlog wat in 1846 uitgebreek het, en weens die gebrek aan die nodige fondse is daar met die bouwerk baie stadig gevorder en dit is eers op 4 Oktober 1849 geopen. Die oorspronklike doel met die oprigting van hierdie gebou was dat dit as ’n Sondagskool vir die St. George-kerk, later die Katedraal van Grahamstad, moes dien, maar reeds in 1849 is besluit om dit vir die doeleindes van ’n dagskool te gebruik. In 1857 het dit die “St. George’s Cathedral Grammar School” geword wat dit dan ook tot 1901 gebly het.

In 1852, toe biskop Armstrong die “St. Andrew’s College” gestig het, is die eerste klasse van hierdie kollege in die gebou gehou. In 1860 het die eerste Sinode van die Bisdom daarin vergader. Om meer ruimte en beter geriewe te bied vir die menigvuldige funksies waaraan die gebou moes voldoen, is in 1869 ’n sogenaamde “Guild Hall and Assembly Room” aangebou.

Nadat dit as skool in onbruik geraak het, is dit deur die toedoen van dr. S Schönland tot 1915 as ’n navorsingslaboratorium aan die Staat verhuur. Daarna is dit weer eens vir opvoedkundige doeleindes gebruik en wel deur die “Community of Resurrection” van die Anglikaanse Kerk aan wie dit dan ook in 1918 oorgedra is.

Die skool is met plaaslike Witteberg-kwartsietklip gebou wat in die loop van jare ’n ryk bruin kleur aangeneem het. Volgens dr. Ronald Lewcock is die klipwerk buitengewoon goed, terwyl die boustyl ’n uitnemende voorbeeld is van die herlewing in die Engelse Gotiese boustyl.

(Geproklameer 1966)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 142-143.