Ou Jongenskool, Swellendam (Geen toegang)

“Het Ziekenhuis”, Riviersonderend
January 31, 2018
Die Oefeninghuis, Swellendam (Geen toegang)
January 31, 2018

Edrich • Die Ou Jongenskool

In Voortrekkerstraat, die hoofstraat, teen die skuinste in die suidwestelike deel van die dorp staan een van Swellendam se ou historiese huise, tans bekend as die Ou Jongenskool.

Die grond waarop hierdie H-vormige herehuis geleë is, is in 1818 aan Jacobus Wessel van Dijk toegeken. Hy was een van die bekende wamakers van Swellendam en het die huis om en by die jaar 1825 gebou. Geleë teen die skuinste het dit oor die ganse vallei uitgekyk en die pragtige vooraansig moes destyds indrukwekkend gewees het soos dit trouens vandag nog is. ’n Dubbele trap lei na die groot voordeur met sy waaieragtige bolig waarbo in vervloë dae ’n halfmaan soldervenster was. Die halwe venster en die twee vol vensters met hul skuiframe en klein ruitjies aan weerskante van die voordeur, verleen nie slegs simmetrie nie, maar groot bekoring aan die fasade. Van die skuinste het Van Dijk gebruik gemaak om onder die voorste gedeelte van die huis ’n kelder in te ruim wat sy wamakerswerkswinkel gehuisves het.

In die loop van jare het een van die agterste bene van die H, waarin die kombuis was, met gewel en al verdwyn. Die oorblywende endgewels is uniek en bestaan uit ’n reeks konveks kurwes wat uitloop op klein afrondingspunte of krulversierings bo-op die pilasters aan weerskante van die gewelmure.

In 1839 het Van Dijk die eiendom van die hand gesit en daarna het dit aan opeenvolgende wamakers behoort. Van 1870 word dit as ’n jongenskool gebruik en dit is bekend dat die latere Eerste Minister van Suid-Afrika, dr. D.F. Malan, ook daarin onderwys gegee het. Vroeg in die 20ste eeu word dit weer eens ’n woonhuis, maar die hoë onderhoudskoste bring dit in verval. In 1966 word dit uiteindelik deur Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk aangekoop, herstel en aan die Olyfkrans-Kollege verhuur wat dit tans gebruik as skool en hostel vir seuns wat spesiale onderrig en sorg verg.

(Geproklameer 1970)

 

Edrich • Die Ou Jongenskool

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 109.