Ou en nuwe digters presteer

Gewildheid van die radio
January 25, 2015
“Die wonder van Afrikaans”
January 25, 2015

Die letterkundige toneel is in die vyftigerjare oorheers deur NP van Wyk Louw en DJ Opperman. Byna elke jaar het daar ’n groot werk van een van hulle of van albei verskyn. In 1954 was dit Van Wyk Louw se Nuwe Verse en Opperman se drama Periandros van Korinte. Die volkspoësie van “Klipwerk” in Nuwe Verse was teken van ’n nuwe toon en vormgewing. “Klipwerk” het opnuut belangstelling in die volkspoësie gebring. Die duidelikste blyk dit by die digter Boerneef wat aan Louw gesê het dat hy van “Klipwerk” niks hou nie, maar ná enkele jare poësie geskryf het wat verwant was aan Louw se werk.

’n Hele paar nuwe digters soos PJ Philander en Barend Toerien het begin publiseer. GA Watermeyer het baie lesers bekoor met verse soos: “Ek kelk die sonlig in my keel/ en rym die rondebessie ryp”.  In 1954 het Ina Rousseau met die verlate tuin gedebuteer. Teen die einde van die eeu was sy egter nog een van die mees onderskatte digters. ’n Kultusfiguur (maar skrywer van ’n aantal pragtige verse soos “Bitterbessie dagbreek/ bitterbessie son”) was Ingrid Jonker, dogter van die skrywer en politikus Abraham Jonker. Sy het in Julie 1965 selfmoord gepleeg deur die see by Drieankerbaai binne te stap. Soms was daar kwaai verskille. Peter Blum het in sy sterk debuutbundel Steenbok tot poolsee party lesers geskok met “Oor monnemente gepraat” weens sy siening van die Voortrekkermonument.  Oor Opperman se “Kersliedjie”, waarin Christus “God se klong” is, is heelwat geskryf.

Volgens die uitgewer JJ Human was die belangrikste rede vir die goeie verkope van digbundels die gebrek aan goeie “middelklas-literatuur”. Die Afrikaanse digbundel is die enigste boek wat die behandeling kry wat elke belangrike uitgawe behoort te kry. “Dit word nuus, dit word prominent bespreek; mense praat daaroor en baie koop dit óf omdat dit mode is óf omdat hulle darem ’n paar Afrikaanse boeke op die rak wil hê en voorkeur gee aan dié waaraan heelwat status verbonde is.” Politici, digters, skrywers, joernaliste, en dergelike vorm in die groot stede saam ’n intellektuele kring waarin die meeste taamlik dikwels kontak met mekaar het. Poësie word gereeld bespreek en die poësiekritiek is betroubaar.

Ook belangwekkende prosawerk het verskyn soos Die uur van verlange deur WA de Klerk. Van die wêreldbekende dierkundige Con de Villiers was daar bundels bekoorlike sketse oor die Overberg. Hy het talle boeke uit die Skandinawiese tale in Afrikaans vertaal en die musieklewe op Stellenbosch gestimuleer. Onder die nuwe skryfsters was Anna M Louw, Elise Muller, Alba Bouwer en veral Audrey Blignault. Haar boeke, soos In klein maat (1956), Die vrolike lied (1957), Met ligte tred (1962), is in duisendtalle verkoop. Audrey Blignault het sedert 1947 gereeld boekprogramme oor die radio aangebied en haar gewilde praatjies het bygedra tot Afrikaanse vroue se belangstelling in die letterkunde.

Die voorkoms van Afrikaanse boeke het baie verbeter weens die koms na Suid-Afrika van die Nederlander AA Balkema. Hy het tipografies pragtig versorgde boeke uitgegee – en die Nasionale Boekhandel gedwing om die gehalte van sy boekversorging en drukwerk te verbeter.