Visie: SAVF is die draer van hoop vir mense met maatskaplike behoeftes.

Missie: Om as nasionale welsynsorganisasie maatskaplike dienste aan individue en gesinne binne die gemeenskap te lewer ten einde hul te bemagtig om ’n verskil in lewenskwaliteit teweeg te bring.

Stigting

Ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog het die gedagte aan die stigting van ’n vroue-organisasie wat aan die slagoffers van die oorlog hulp moes verleen, by mevrou Georgiana Solomon, ’n Skotse dame en eggenote van Saul Solomon, bekende Kaapse sakeman en politikus, ontstaan. Onder haar leiding is “De Zuid-Afrikaansche Vrouwen Federatie van Transvaal (ZAVF)” op 19 Oktober 1904 in die woning van mevrou Annie Botha, eggenote van generaal Louis Botha, in Sunnyside, Pretoria, gestig met mevrou Botha as presidente. Die organisasie se doelstelling was om hom te beywer vir die behoud en vooruitgang van die Suid-Afrikaanse volk op geestelike, sedelike, verstandelike en kulturele gebied deur hulpverlening, bystand en ondersteuning, aksies tot selfversorging, opvoeding en onderwys. Reeds met die stigting van die organisasie is sy Christelike grondslag onherroeplik vasgelê en in die grondwet vervat. Die huidige konstitusie van die SAVF lui: “SAVF is gegrond op die Christelike norme en waardes soos neergelê in die Bybel.”

Soos die naam aandui, was die oorspronklike bedoeling dat die ZAVF diens sou lewer aan die hele land. Aangesien die gedagte aan ’n soortgelyke vereniging net vir Kaapland toe ook reeds in wording was, waaruit die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) tot stand gekom het, het mevrou Solomon besluit om haar beoogde vereniging tot Transvaal te beperk. Mettertyd het ook die Oranje Vrouevereniging (tans Vrystaat Versorging in Aksie) in die Oranje Vrystaat en die Natalse Christelike Vrouevereniging (NCVV) as onafhanklike verenigings met soortgelyke doelstellings as die ZAVF ontstaan, en het hierdie vier provinsiale vroueverenigings ten nouste saamgewerk.

Vanaf 1920 tot 2003 was hierdie verenigings saamgesnoer deur die Federale Vroueraad, vanaf 1996 bekend tot met ontbinding in 2003, as Die Gesinstigting van Suid-Afrika.

Struktuur en werksarea

Vanaf die stigting was dit duidelik dat die organisasie binne ’n geordende struktuur moet funksioneer met ’n Hoofbestuur en takke, en Kongres as hoogste gesag. Die eerste kongres is reeds in 1905 gehou, en tans vind Kongres driejaarliks plaas.

Hoewel mans eers vanaf 1996 by wyse van ’n SAVF-kongresbesluit toegelaat is om lede van die organisasie te word, het hul deur die jare heen ’n uiters belangrike ondersteuningsrol vervul.

Tot 2003 het die SAVF dienste gelewer binne die vier Noordelike provinsies, wat binne die grense van die voormalige Transvaal ressorteer. In 2003 skakel die Natalse Christelike Vrouevereniging egter by die SAVF in, en word dienste dus nou deur die SAVF ook in KwaZulu-Natal gelewer.

Werksaamhede

Die ZAVF het die omvattende taak van opheffing en heropbou van ’n verslane volk onverwyld aangepak. Eerstens is die nood aan voedsel, klere, behuising en die geestelike welstand van weduwees, wese en terugkerendes uit die konsentrasie- en krygsgevangenekampe, en vanaf die oorlogsvelde, aangespreek. Die werk moes na die platteland uitgebrei word, en daarom is daar spoedig daadwerklik oorgegaan tot stigting van takke, sodat daar geleidelik ’n netwerk van takke oor die hele Transvaal ontstaan het. Aandag kon dus gegee word aan behoeftiges op plaaslike vlak.

Onmiddellik na die stigting van die ZAVF, is ’n Besoekkomitee deur die Pretoria-tak daargestel wat klere en lewensmiddele aan behoeftiges uitgedeel het. Die werksaamhede van hierdie komitee lei daartoe dat ander maatskaplike behoeftes onder die ZAVF se aandag kom, en hieruit voortspruitend kom ’n naaldwerkklas tot stand in Januarie 1905 en word ook die eerste tehuis vir ongehude moeders, aanvanklik genoem “Reddingshuis”, in Oktober 1905 geopen. Hierdie tehuis se naam is in 1926 verander na “Armstrong Berning Tehuis”. By hierdie fasiliteit word veilige huisvesting, en vakkundige dienste deur ’n maatskaplike werker, aan swanger en/of getraumatiseerde dogters voorsien. Vanuit hierdie tehuis het ook ’n aannemingsdiens vir babas en kinders tot stand gekom.

In die aanvangsjare is spin- en weefskole, waar meisies kleremakery geleer het en sodoende ’n eie inkomste kon verdien, tot stand gebring in Pretoria en Johannesburg, asook in Belfast, Middelburg en Pietersburg. Die bekende mejuffrou Emily Hobhouse het in hierdie verband ’n belangrike rol gespeel. Ander werkskeppings-aksies wat onderneem is om mense te help om ekonomies onafhanklik te funksioneer, was onder andere ’n mandjiemakery en ander huisnywerhede. Die beginsel dat mense gehelp moet word ten einde hulself te help, is dus vanuit die staanspoor deur die ZAVF gehandhaaf.

Benewens die Besoekkomitee is daar ook op 6 Januarie 1906 ’n Opvoedingskomitee aangewys met die doel om ondersteuning te verleen aan die CNO- (Christelike Nasionale Onderwys) skole wat toe in wording was. Finansiële steun is verleen aan CNO-skole te Klipdrift (distrik Waterberg), Krokodilrivier, en die twee skole in Pretoria, te wete Eendracht en Meintjieskop. In November 1905 het die ZAVF volle verantwoordelikheid vir Meintjieskopskool aanvaar, waar ZAVF lede gehelp het met onderrig en naaldwerk en die kinders ook daagliks van kos en ander skoolbenodigdhede voorsien het. Terselfdertyd is voortgegaan met hulpverlening deur die Opvoedingskomitee en/of ZAVF-takke aan CNO skole in Germiston, Heuningkrans, Standerton, Middelburg, Krugersdorp, Bethal, Klerksdorp, asook aan die Volkskool in Heidelberg.

In Julie 1910 het die ZAVF die eerste Huishoudskool vir meisies in Pretoria tot stand gebring. Dit was die eerste skool van sy soort in Transvaal en het ten doel gehad om laaggeskoolde meisies verdere skolastiese onderrig en opleiding in algemene huishoudkunde, insluitend naaldwerk, te gee.

Die ZAVF het in sy vroeë bestaansjare reeds bewus geraak van die nood van verarmde bejaardes wat dikwels geen huisvesting of heenkome gehad het nie. Dit lei tot die oprigting van die eerste ouetehuis in Transvaal deur die SAVF, te wete Môreglans Ouetehuis, in Krugersdorp, in 1910. Dit was die begin van SAVF-bejaardesorgdienste wat tans steeds een van die SAVF se prioriteit-diensvelde is. Hierdie diens word gelewer deur middel van tehuise- en behuisingsfasiliteite vir bejaardes, asook dienssentrums en groepe/klubs/“luncheon clubs”, benewens individuele maatskaplikewerkdienste aan bejaardes in die gemeenskap.

Die ZAVF het egter bo en behalwe sy aanvanklike welsyns- en opvoedingstake ook ’n bydrae gelewer op Kultuurgebied. So vroeg as 1907 is ’n fonds gestig waarvan die opbrengs geskenk is as bydrae vir die oprigting van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, wat in 1913 ingewy is. Hierbenewens was die ZAVF betrokke by die oprigting van nog ander volksmonumente, soos die Krugerstandbeeld in Pretoria, en verskeie oorlogsgedenktekens.

In baie gevalle het die dames van die ZAVF die voortou geneem met die versorging van die konsentrasiekampkerkhowe, byvoorbeeld die Irene Konsentrasiekampkerkhof in Pretoria. Die SAVF neem steeds deel aan die jaarlikse herdenkingsgeleenthede by hierdie en ander konsentrasiekampkerkhowe. Daar is verder leiding geneem, of aktief meegedoen, aan kransleggingsgeleenthede soos byvoorbeeld met Krugerdagvieringe. Die opspoor en versorging van Burgergrafte uit die Anlgo-Boereoorlog is ook as deel van ZAVF-werksaamhede gesien.

Die ZAVF het ’n leidende rol gespeel in die Vroue-optog van 1915 na die Uniegebou in Pretoria toe 6000 vroue vertoë gerig het vir die vrylating van Boeregeneraals, en het ook meegedoen aan die optog van 9800 vroue in 1940 om protes aan te teken teen die land se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog buite Suid-Afrikaanse landsgrense.

Feesgeleenthede, soos die Van Riebeeckfees 1952, en die Republiekfees van 1966 is ondersteun, en ook benut vir insameling van fondse deur middel van spyseniering.

Die organisasie se heel eerste fondsinsameling was met die verkoop van kranse vir die begrafnis van president Kruger, 16 Desember 1904. Vanaf 1954 tot in die negentigerjare van die vorige eeu was die SAVF verantwoordelik vir die weeklikse plasing van ’n ruiker vars blomme in die Krugersterfhuis in Clarens, Switserland.

By wyse van affiliasie is samewerking verleen aan kultuurliggame soos, onder andere die FAK en die Erfenisstigting wat hom beywer vir die behoud van Afrikaner-kultuurgoedere.

Gesondheidsdienste
Aangesien daar ’n dringende behoefte bestaan het aan opgeleide Afrikaanse vroedvroue, kom die Bond van Afrikaanse Moeders (later bekend as Moedersbond) in 1918 in Pretoria tot stand. Dit was ’n gesamentlike onderneming van die ZAVF, die Vroue Nasionale Party, die Vroue SA Party en die Helpmekaarvereniging. Nadat die ander instansies egter onttrek het, is volle verantwoordelikheid vir die inrigting vanaf 1927 deur die ZAVF aanvaar. Hierdie onderneming is aanvanklik gehuisves in President Kruger se ou woning in Kerkstraat, Pretoria, maar latere jare het die SAVF sy eie geboue vir hierdie doel daargestel. In 1966 is ’n moderne uiters doeltreffende gebou in Arcadia deur die SAVF opgerig waarin die SAVF Moedersbond kraaminrigting en Moederkunde Opleidingsentrum gehuisves is en van waaruit dienste gelewer is tot 1992 toe die SAVF die diens gestaak en die gebou verkoop het.

Die behoefte aan doeltreffende gesondheidsdienste op die platteland noodsaak die SAVF om reeds in 1912 in samewerking met die Transvaalse Vrouesendingvereniging ’n verpleegster by die Arbeidskolonie te Delagersdrift aan te stel. Dit was die begin van ’n uitgebreide distriksverplegings- en kliniekdiens wat die SAVF op die platteland sou lewer tot en met 1993.

Die SAVF het egter ook vanaf 1935 tot 1964 kraaminrigtings oral op die platteland tot stand gebring, sodat daar oor die loop van jare vanuit 18 SAVF- plattelandse kraaminrigtings ’n onontbeerlike diens aan elk van die betrokke gemeenskappe gelewer is. Soos in die geval van die distriksverplegings- en kliniekdienste het hierdie diens ook mettertyd die verantwoordelikheid van die Provinsiale Departement van Gesondheid geword. Die laaste SAVF-kraaminrigting, te Alldays, is in 1994 gesluit.

In 1988 is ’n verpleegopleidingskool gestig vir die opleiding van gesondheidswerkers. Die opleidingskool in Pretoria het uitgebrei tot ’n geregistreerde geakkrediteerde opleidingskool waar kursusse aangebied word vanaf verpleeghulpe tot stafverpleegsters.

Gesinsorgdienste
Aanvanklik is alle dienste slegs deur die lede van die organisasie gelewer en het hul na die beste van hul vermoë probeer om in die maatskaplike behoeftes, waarvan hul bewus geword het, te voorsien. Die takke het Gesinsorgkomitees gestig, wat aktief na die behoeftes van mindergegoedes omgesien het. In 1954 het daar reeds 74 Gesinsorgkomitees funksioneer. Die toestroming van armes na die delwerye te Lichtenburg bring mee dat SAVF in 1926 ’n opgeleide sendingdame, mejuffrou Lenie Cillie, daarheen stuur om maatskaplike versorging van hierdie verarmdes, in samewerking met SAVF-lede, te behartig. SAVF was toe reeds in noue voeling met doktor Marie Te Water wat in 1928 ’n Skool vir Maatskaplike werk aan die TUK (tans Universiteit van Pretoria) gestig het en het in sy dienslewering op die delwerye gebruik gemaak van haar leerlinge wat vir hul praktiese werk daarheen gestuur is. Die SAVF het ook ’n integrale rol gespeel in die vestiging van beginsels in die opleiding van maatskaplikewerkstudente by die Universiteit van Pretoria.

Vanuit hul gesinsorgdienslewering is oral SAVF vrouewerkklasse (later bekend as Vroueklubs) tot stand gebring, waar vroue onderrig in naaldwerk en huishouding ontvang het en opvoedkundige praatjies gelewer is ten einde hul beter toe te rus vir hul taak as moeders en tuisteskeppers. Teen 1953 het daar 65 vrouewerkklasse onder beheer van SAVF-takke funksioneer. Hierdie diens is egter afgeskaal namate maatskaplike omstandighede verander en ander behoeftes aangespreek moes word.

Ten einde ’n geskikte lokaal te kon voorsien vir vrouewerkklasbyeenkomste, takvergaderings, en in latere jare ook vir ander groepwerk-aktiwiteite, het verskeie takke Gemeenskapsentrums opgerig waarin dikwels ook die maatskaplike werker se kantoor of die tak se kleuterskool gehuisves is. In 1978 was daar 21 SAVF-gemeenskapsentrums in die stede en op die platteland in werking, waarvan sommige staatsubsidie ontvang het tot 1992. Met die eeuwending het daar ’n toenemende klemverskuiwing in SAVF-dienslewering na vore getree namate steeds meer dienste aan voorheen benadeelde gemeenskappe gelewer moes word, en het daar dus ook ’n verandering in die rol van gemeenskapsentrums ingetree. In sommige gevalle is die geboue verkoop, vir ander SAVF-diensleweringaksies aangewend, of andersins slegs vir interne SAVF-takwerksaamhede benut.

Mettertyd het die behoefte aan die dienste van vakkundig opgeleide maatskaplike werkers al hoe meer na vore gekom. Mevrou MG Horn is as eerste opgeleide maatskaplike werker in 1938 in diens geneem en so is daar dus begin met dienslewering in maatskaplike werk. SAVF-lede het egter steeds, as vrywilligers, ’n bestuurs- en ondersteuningsrol vervul, soos tans nog die geval is, en neem sodoende saam met SAVF-personeel verantwoordelikheid vir gehalte dienslewering. Met behulp van finansiële steun van die Departement van Volkswelsyn by wyse van 75% subsidiëring van maatskaplikewerksalarisse, het SAVF-takke voortgegaan om maatskaplike werkers aan te stel. Dit het dikwels groot eise aan ’n SAVF-tak gestel rakende kantoor- en vervoervoorsiening asook ten opsigte van die oorblywende 25% van die werker se salaris waarvoor die tak verantwoordelikheid moes neem. Desondanks het die organisasie teen 1968 reeds 40 maatskaplike werkers in diens gehad, wat gevallewerk, groepwerk en gemeenskapswerk in die uitvoering van hul taak beoefen het. Tans word hierdie metodes steeds benut in SAVF se hoofsaaklik Maatskaplike Ontwikkelingsgerigte vakkundige dienslewering vanuit 38 maatskaplikewerkkantore met 71 maatskaplikewerkposte in 2014.

Namate daar toenemend op maatskaplike ontwikkeling gefokus is, is talle uitreikaksies tot in die mees afgeleë gebiede van die vyf provinsies binne die SAVF se werksgebied deur maatskaplike werkers en vrywilligers onderneem met ontwikkeling, werkskepping en kapasiteitsbou as oogmerk ter verligting en bekamping van armoede. In 2010 is hierdie belangrike diens verstewig met die implementering van ’n Armoedebekampingsprogram wat deur die SAVF ontwikkel is.

’n MIV-program is in 2011 geloods met intensiewe bewusmakingsveldtogte waardeur meer as 6000 persone bereik is.

Vanaf 1947 is die senior pos in die SAVF Hoofkantoor, toe bekend as Sekretaresse van die Hoofbestuur en tot op daardie tydstip deur ’n vrywilliger hanteer, deur ’n opgeleide maatskaplike werker beklee. Tans beskik die Hoofbestuur oor twee Direkteursposte, te wete die Direkteur Maatskaplike Dienste en Direkteur Bestuursdienste, bygestaan deur ’n doelmatige personeel op middelbestuursvlak en ’n sterk administratiewe onderbou.

In die verlede is dikwels gekonstateer dat die SAVF as Gesinsorgorganisasie dienste aan die medemens lewer “van die wieg tot die graf”– dus ’n omvattende diens wat kinders, jeugdiges, volwassenes en bejaardes insluit.

Beskutte arbeid
In 1951 word die SAVF bewus van die gebrek aan werksgeleenthede vir liggaamlik gestremdes, en dit lei tot die daarstelling van die SAVF Naaldwerksentrum in Pretoria waar werk verskaf is aan vroue wat 40% liggaamlik ongeskik vir werk verklaar is. Met hierdie diens is voortgegaan tot 1984. Die SAVF was ook aktief betrokke by die volgende Beskutte Arbeidsprojekte: Diensprodukte Rand (Johannesburg), Werksentrum vir gestremdes (Silverton), “Huis Nuwe Hoop” in Krugersdorp, en Diensprodukte in Potchefstroom, waar SAVF tans steeds huisvesting vir die werknemers voorsien. Lede van die SAVF het op die bestuursliggame van gemelde fasiliteite gedien en het die werknemers van voedsel, klere en ander benodigdhede voorsien.

Onderwys, opvoeding en kindersorg
Soos reeds gemeld, is onderwys en opvoeding van die Afrikanerkind gesien as ’n prioriteitsbehoefte wat onmiddellik aangespreek moes word. Van takke is verwag om elk ’n Opvoedingskomitee daar te stel, wat ’n wakende oog moes hou oor plaaslike onderwysaangeleenthede en die toepassing van die Staat se onderwysbeleid. Die komitee moes ook behoeftige leerlinge van klere, boeke en ander skoolbenodigdhede voorsien, en dikwels ook van losiesgelde.

Deur die jare heen is talle studente met studiebeurse deur die takke gehelp en sodoende is menige predikant, onderwyser, verpleegster en maatskaplike werker in staat gestel om hul studies te voltooi. Die SAVF het ook 1922/23 finansieel bygedra tot die instandhouding van die Transvaalse Universiteitskollege (TUK), Pretoria, toe dit geblyk het dat die kollege ’n moeilike stryd voer om te bestaan.

Die organisasie het verteenwoordiging geniet in die beheerrade van die Industriële skole te Standerton en Heidelberg, waar hul as vroue ’n bydrae gelewer het in belang van die leerlinge van hierdie skole.

In die 1930’s kom die behoefte aan kleuterskole na vore toe doktor Marie te Water ’n gesamentlike kongres van die SAVF en die drie ander provinsiale vroue-organisasies in Bloemfontein toegespreek en gepleit het vir die daarstelling van kleuterskole. Reeds in 1928 het Te Water ’n Kinderleidingkliniek by die Universiteit van Pretoria tot stand gebring, waaraan die SAVF finansiële steun verleen het. Om verskeie redes is die Kinderleidingkliniek in 1934 gesluit, maar op vertoë, onder andere deur die SAVF, is die kliniek weer in 1940 heropen. Noue samewerking is deur die SAVF aan die kliniek verleen, asook aan die Instituut vir Kinder- en Volwasseneleiding by die Ranse Afrikaanse Universiteit (RAU) waar die SAVF vanaf 1976 tot 1992 verantwoordelik was vir ’n pos in maatskaplike werk. Vanuit die verbintenis met die Kinderleidingkliniek in Pretoria ontstaan in 1964 die SAVF Kinderleidingaksie, later genoem SAVF Ouerleidingaksie, en tans bekend as SAVF FAMNET. Waardevolle diens is reeds deur die jare heen deur hierdie aksie aan ouers in hul opvoedingstaak gelewer. Die SAVF FAMNET het ook sy dienste uitgebrei na programme vir die bevordering van betrokkenheid van vaders by gesinne aangesien die fisiese afwesigheid van vaders by hulle kinders ’n wesenlike problem in die huidige samelewewing geword het. Die SAVF Botswadi-ouerskapsprogram word gebruik om ouers toe te rus in ouerskapsvaardighede.

Die SAVF se eerste kleuterskool, Kleinspan Kleuterskool, in Pretoria, is op 1 April 1940 geopen as eerste geregistreerde Afrikaanse kleuterskool in Transvaal. Mettertyd het ander instansies ook Afrikaanse kleuterskole opgerig, wat tesame met die SAVF Kleuterskole saamgesnoer is onder ’n sambreelliggaam, te wete die Transvaalse Vereniging vir Kleuteropvoeding, gestig onder leiding van ’n SAVF-hoofbestuurslid wat ’n kundige was op hierdie terrein.

Algaande raak die SAVF bewus van die behoefte aan toesig en versorging van skoolgaande kinders in die middae ná skool wanneer hul ouers nog werk, en so ontstaan die eerste SAVF Naskoolsentrum in 1958 by die Eendracht Laerskool in Pretoria. In latere jare het die SAVF dit ook nodig gevind om Bewaarsentrums, waar babas van werkende moeders versorg word, daar te stel. In 1991 het die SAVF oor 44 pre-primêre skole (kleuterskole), 19 naskoolsentrums en 13 bewaarsentrums, in die stede en op die platteland, beskik.         Bewaarsentrums is mettertyd as die baba-versorgingsafdeling by meeste van die kleuterskole ingeskakel. Tans funksioneer daar 34 SAVF Dagsorgsentrums.

Die behoefte aan versorgingsfasiliteite vir wetsbestede kinders lei tot die totstandkoming van SAVF Kinderhuise, waarvan die eerste, naamlik die Kinderhawe Klerksdorp, in Augustus 1953 in gebruik geneem is om die hele Wes-Transvaal te bedien. Hierna volg nog SAVF Kinderhuise en tans beskik die SAVF oor SAVF Rethabile Klerksdorp Kinderhuis (150 kinders), SAVF Belfast Kinderhuis in Mpumalanga (214 kinders) en SAVF Louis Hildebrandt Kinderhuis, Volksrust (100 kinders).

Benewens hierdie kinderhuise beskik die SAVF ook oor die Atamelang Kinder- en Jeugsorgsentrum, voorheen Skuiling vir straatkinders, in Klerksdorp (20 kinders), en lewer dienste by Siyabonga Huis in Hendrina, waar gestremde weeskinders gehuisves word, asook by Janellehuis, ’n plek van veiligheid in Secunda.

Die kinderhuise is tans oorkoepelend bekend as SAVF Kinder- en Jeugsorgsentrums en ontvang staat-subsidie.

Jeugsorg en jeugtuistes
Binne die eerste paar dekades van die vorige eeu het groot getalle jongmense na die stede gekom om te werk, dikwels egter sonder geskikte huisvesting. Die behoefte aan jeugtuistes kom dus na vore. Dit lei daartoe dat die SAVF in samewerking met die NG Kerk op 1 Januarie 1929 die eerste koshuis vir werkende jong meisies, die Christelike Meisiestehuis, gehuisves in ’n ou pastorie in Markstraat, Pretoria, in gebruik neem. Hierna het die SAVF nog etlike koshuise vir werkende jongmense in Pretoria, Johannesburg, en op die Rand opgerig. Een van die bekendste van hierdie tehuise was die Margaretha Ackerman Seunstehuis in Pretoria-Wes wat in 1946 in gebruik geneem is. Hierdie gebou dien egter sedert 1988 as tehuis vir bejaardes en gestremdes. In Johannesburg het die drie SAVF-koshuise vir werkende jong dames, Harmonie, Sonskyn, en Brixton veilige huisvesting aan die inwoners voorsien. In totaal het die SAVF tot 1971 elf tuistes vir werkende jongmense daargestel. Mettertyd, namate jongmense toenemend verkies het om van andersoortige huisvesting gebruik te maak, het die behoefte aan hierdie SAVF-tuistes sodanig afgeneem dat die geboue vir ander doeleindes, hoofsaaklik vir bejaardesorg, aangewend is.

Bejaarde- en gestremde sorg: tehuise, behuising en dienssentrums
Met behulp van finansiële steun deur die regering, was dit vir die SAVF moontlik om hierdie behoefte aan te spreek. Verskeie tehuise vir die versorging van verswakte bejaardes kom tot stand en tans is daar 34 sulke tehuise.

Tans word meer as 3000 liggaamlik verswakte en gestremde persone in die SAVF se 34 tehuise vir bejaardes versorg. Die koste verbonde aan hierdie diens word gedeeltelik deur staatsubsidie gedek.

Dit was spoedig duidelik dat benewens die behoefte aan inrigtingversorging, daar ook gebrek is aan behuising vir liggaamlik gesonde bejaardes wat nog onafhanklik kan funksioneer. Dit bring mee dat die SAVF tot op datum oor 54 behuisingsprojekte, met ’n inwonertal van meer as 2000, in die stede en op die platteland beskik. In beide die tehuise en behuisingfasiliteite word tans, in ooreenstemming met regeringsbeleid, ook gestremdes gehuisves.

SAVF-dienslewering aan bejaardes en gestremdes word ook gerugsteun deur dienste gelewer vanuit 18 SAVF Diens- en Gemeenskapsentrums, dikwels gevestig by die tehuis of die behuisingsprojek, maar in sommige gevalle ook as selfstandige projek binne die gemeenskap. Vanuit die dienssentrums word gewoonlik die volgende dienste voorsien: Etes, biblioteekdienste, gesondheidsorg (bloeddruk en voetsorg), ’n haarkappersalon, ontspanning en gesellige verkeer, en waar moontlik, ook die dienste van ’n maatskaplike werker. Jaarliks word aan gemiddeld 2000 persone diens gelewer vanuit hierdie dienssentrums.

Deurgangshuise en behuisingsvoorsiening
Die toename in materiële en behuisingsnood het in die negentigerjare van die vorige eeu al hoe meer onder die aandag van die SAVF gekom. Dit lei tot die daarstelling van deurgangshuise om in hierdie behoefte te voorsien deur tydelike huisvesting aan hawelose individue, gesinne en bejaardes te verskaf. In 1991 word die eerste deurgangshuis, SAVF Huis Weesgerus, in Ellisras geopen. In 1993 word die SAVF Gesinskrisissentrum te Standerton in gebruik geneem, gevolg deur SAVF Vanderbijlpark Shelter in 1994, SAVF Carltonville Deurgangshuis in 1996. Jaarliks vind gemiddeld 200-300 persone ’n heenkome by SAVF-deurgangshuise. Hier word ook maatskaplikewerkdienste aan hulle gelewer.

Huidige SAVF-dienslewering

Dienslewering strek wyer as die formele dienste vanuit fasiliteite. Statistieke toon ’n groter wordende toename in gemeenskapsprogramme en -projekte, veral in belang van kinders. Dienste ten opsigte van armoedeverligting, kinderbeskerming, gesinsverryking en bemagtiging van persone tree sterker na vore.

Vanweë sy dienslewering-ingesteldheid teenoor die totale gemeenskap word daar deur die SAVF voorsiening gemaak vir affiliasie van organisasies uit opkomende gemeenskappe en is daar tans 6 sodanige geaffilieerde organisasies wat bygestaan word met leiding, kundigheid en advies.

Die SAVF se bedryfsomset ten einde effektiewe dienste te kan lewer, beloop tans jaarliks ongeveer R343 miljoen. Hierdie fondse word gevind by wyse van fondsinsamelings en donasies, staatsubsidies (23%), fooie vir dienste gelewer, asook bydraes vanuit die Nasionale Loteryfonds.

Die totale aantal vrywilligers is tans 1961 en die aantal personeellede is 2631.

Slotopmerking

Die vroue van die ZAVF/SAVF het vanaf die stigting van die organisasie ’n oorweldigende bydrae rakende die verskillende diensleweringsterreine gelewer op kultuur-, opvoedings- en welsynsgebied, binne die raamwerk van die organisasie se Grondwet. Die SAVF streef voortdurend daarna om in sy dienslewering relevant te wees. Om hierdie rede is sommige dienste beëindig of uitgefaseer sodra daar voldoende vanuit ander oorde in die betrokke behoefte voorsien is. Nuwe uitdagings en behoeftes word dan deur die organisasie aangespreek. Deurgaans is in die verlede, soos tans ook nog, goeie samewerking en skakeling met kerklike instansies, ander welsynsorganisasies en staatsdepartemente nagestreef. Dit blyk onder meer uit die verteenwoordiging wat die organisasie in talle Nasionale en ander Beheerrade, by ander vroue-organisasies, opvoedkundige en onderwysfasiliteite, ouer- en onderwysverenigings, welsynsorganisasies, asook vele ander instansies, geniet het.

Onder bekwame leiding van sterk vroueleiers kon die SAVF dus in die verlede, soos tans nog steeds, veel vermag in diens van medemens en gemeenskap. Die organisasie probeer ten alle tye relevant bly te midde van veranderende omstandighede in die samelewing en besin gereeld oor koersaanpassings om menslike nood ten beste aan te spreek.

Die organisasie poog ook om die diversiteit van Suid-Afrika te eerbiedig en aan die nood van die totale gemeenskap van Suid-Afrika dienste te lewer. Tans is die verhouding van dienslewering 46% aan wit mense en 54% aan ander rassegroepe.

Die SAVF poog deurentyd om dienste te lewer aan die armstes van die armes wat hulp nodig het.