In aanloop tot die inwyding van die Voortrekkermonument te Monumentkoppie in Pretoria op 16 Desember 1949, het die gedagte ontstaan om Rapporte (Groeteboodskappe) vanoor die hele land na Pretoria toe te stuur. Aan die begin van 1949 is die Uniale Rapportryer-reëlingskomitee gestig om die vervoer van die rapporte te koördineer. Hierdie rapporte is toe deur perderuiters oor vyftien roetes op ’n aflosbasis deur die onderskeie kommando’s van Rapportryers vervoer. Soos die ruiters by dorpe aangedoen het, is nuwe rapporte in die kommando-bladsakke geplaas. Benewens die boodskappe wat kultuurstrewes, godsdienstige oortuiginge, opvoedkundige ideale, volksdeugde, verhewe opvattings en nasionale beskouinge bevat het, het elke kommando ook ’n Bybel in die bladsak geplaas, omdat dit steeds die rigtinggewende boodskap vir die Afrikaner ingehou het. Hierdie Rapportryer-aantog was ’n treffende voorspel tot die inwydingsfees by die Voortrekkermonument, ’n feestelike aantog te perd oor roetes van sowat 22 400 kilometer, en uiteindelik by die Voortrekkermonument afgelewer. Die eerste rapporte is op 29 September vanuit Ovamboland met die SWA-kommando afgestuur, maar die amptelike vertrekpunt was Hartenbos waar die Rapportryers op Krugerdag, 10 Oktober 1949, amptelik afgesien is. Die kommando’s het gesamentlik op 14 Desember 1949 by die Voortrekkermonument aangekom waar die bladsakke met rapporte aan die voete van doktor Egbert Jansen, voorsitter van die Inwydingskomitee, geplaas is.

Die inwyding van die Voortrekkermonument was op sigselwers ’n monumentale geleentheid in die Volksgeskiedenis van die Afrikaner-kultuurgemeenskap; hier waar ’n dankbare nageslag na sowat elf dekades hul volkstrots sigbaar ten toon gestel het in die administratiewe hoofstad van hul vaderland. Die gees van Rapportryer wees, het by die onderskeie kommando’s en lede gebly. Op 3 Maart 1950 is daar in die Bloukamer (destyds ’n luukse restaurant by die Johannesburgse stasie) ’n reünie van Rapportryers gereël deur ene meneer Hennie Roux wat die Rapportryergedagte na die emosievolle togte van 1949 wou laat voortleef. Tydens die vorige jaar se togte is hegte vriendskapsbande gesmee en daar is spontaan besluit om ’n Rapportryerklub te stig wat maandeliks sosiaal sou byeenkom. Die gedagte was dat ’n kort kultuurboodskap elke maand oorgedra sou word en dat die geleentheid gebruik moes word om nuwe intrekkers na Johannesburg te verwelkom en tuis te laat voel.

Kort voor lank het klubs op ander sentra gevolg. Sommige het aanvanklik glad nie die naam “Rapportryer” in hul benaming gebruik nie. Daar was onder meer die Opsaalklub in Pretoria en die Grenswag in Messina. Dit was onafhanklike klubs met geen formele band wat hulle gebind het nie. Elkeen was ’n beweging in eie reg wat op eie inisiatief ontstaan en geopereer het.

In 1960 het die behoefte gekristalliseer om al hierdie bewegings landswyd te konsolideer. Hiermee het die klub te Klerksdorp die voortou geneem en aan al die klubs, organisasies en bewegings waarvan kennis gedra is deur geheel Suid-Afrika, uitnodigings te stuur waarna gesamentlike vergaderings te Klerksdorp, Ermelo, Vereeniging en Pietersburg gehou is. Hierdie gedagte het soos ’n tolbos wat waai, aangegroei en op 12 Augustus 1961 het 35 klubs ’n kongres te Pretoria gehou en ’n oorkoepelende liggaam, die Federasie van Rapportryerkorpse, gestig. Die gedagte was dat lede dan gereeld ’n kultuurboodskap sou kry om uit te dra na die werk- en organisasiesfeer waarin elkeen beweeg. Na die kongres is vasgestel dat daar reeds vir ’n geruime tyd ’n korps in Kaapstad bestaan waarvan niemand betrokke met die reëlings kennis gedra het nie. So het die Federasie van Rapportryerkorpse (FRK) tot stand gekom en met rasse skrede gegroei tot ’n kragtige organisasie wat in 1979 bestaan het uit 15 535 lede in 535 korpse regoor Suid-Afrika.

Geleidelik, soos die Beweging gegroei het, is ’n behoefte bepaal dat diegene jonger as 35 ander voorkeure en werkwyses het as die ouer manne. Dit was die teelaarde vir die totstandkoming van die Junior Rapportryerbeweging (JRB) wat  gedurende 1967 tot stand gekom het. Samewerking tussen die FRK en die JRB was deur die jare besonder goed en gesamentlike vergaderings is gereeld gehou. Gesamentlike projekte was ook algemeen. Die algemene praktyk was dat ’n lid van die JRB, sodra hy die ouderdom van 35 jaar bereik, toegelaat is as lid van die FRK.

Veranderende staatkundige situasies het traumaties op die Afrikaner se kulturele leefwyse impak gehad, en derhalwe is daar gedurende 2000 ’n gesamentlike Beraad van die Federasie van Rapportryerkorpse en die Junior Rapportryerbeweging gehou. Die JRB het hul naam gewysig na die Rapportryerbeweging (RRB) waarna die FRK ontbind en almal deel van die RRB geword het. Soos aanvanklik in die sestigerjare is daar nou net een sambreelorganisasie vir die Rapportryers, hierdie Draers van die boodskap, bekend as die Rapportryerbeweging.

Die Beweging as sulks rus op ’n Christelik-Afrikaanse grondslag.

Die Rapportryerbeweging streef daarna om:

Die Afrikaanse taal, sedes en gewoontes soos geopenbaar in sy Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt.
Patriotisme en ’n lojale samehorigheidsgevoel in eie geledere en onder almal wat die Rapportryerbeweging se grondslag en doelstellings aanvaar, te bevorder.

Die leuse van die Rapportryerbeweging ondersteun die wese van die Beweging en is dus as volg bewoord: Draers van die boodskap

Die doel en strewe is om as Beweging in eie reg, maar ook in samewerking met ander organisasies van die Afrikaner-kultuurhuishouding deur middel van strategiese vennootskappe die onderstaande na te streef:

Die uitleef en handhawing van ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing.

Die handhawing van die Afrikanerkultuur op alle lewensterreine deur dit dinamies en lewendig te hou.

Opregte vaderlandsliefde en optrede in die beste belang van Suid-Afrika.

Onderlinge samehorigheid.

’n Gesonde selfbeeld en trots op die eie Afrikaneridentiteit.

Samewerking met ander bevolkingsgroepe en kulture in harmonie en verdraagsaamheid.

Maksimale kultuurleefruimte vir die Afrikaner te skep en te handhaaf.

Om Afrikaans as moedertaal op alle lewensterreine te koester, te bewaar en te bevorder.

Die Afrikaner se ideale, sedes, gewoontes, tradisies en gedenkwaardighede soos uit ons geskiedenis aan ons oorgedra, te omskryf, te onderskryf, bekend te maak en te handhaaf.

Diensbaar te wees op elke lewensterrein in die plaaslike gemeenskap.

Samehorigheid onder Afrikaners te bevorder deur die handhawing en bewaring van gesonde gesinsbande en familiewaardestelsels asook sosiale verkeer met mede-Afrikaners en die sluit van hegte vriendskapsbande.

Om spesifieke aandag te gee aan die bevordering van bogenoemde doelstellings onder die Afrikanerjeug.

Die Rapportryerbeweging bedryf verskeie nasionale projekte:

Bybelvasvra
Dit is ’n jaarlikse kompetisie vir laerskoolleerders.

Vier kinders neem deel as ’n span wat jaarliks aan uitdunne en die finaal onveranderd bly.
’n Skool of gemeente kan soveel spanne inskryf as wat hy wil.
Sekere gedeeltes in die Bybel word vooraf bekend gemaak wat die leerders moet bestudeer.
Die kompetisie is baie straf en leerders wend ure se leeswerk aan om vertroud te raak met die Skrifgedeeltes.
Spanne word van kodes voorsien en alle vraestelle word sentraal gemerk.

Bybelkennis
Deur die projek is bepaal dat kinders se kennis van die Bybel dramaties afneem.

’n Algemene Bybelvraestel word opgestel wat onvoorbereid geskryf word. Dit bevat slegs 20 vrae wat dan deur die skool of die Korps gemerk word. Die uitslae word saam met ander rolspelers  verwerk om moontlike oplossings te vind.

Ouboet-projek
Talle seuns word vasgevang in haglike huishoudelike omstandighede en die gebrek aan ’n waardige rolmodel in die vorm van ’n vaderlike figuur. Dit het dikwels die gevolg dat hierdie seun nie sy volle potensiaal bereik nie, en vasval in mishandeling, drank- en dwelmmisbruik, asook pornografie. Die RRB wil graag meewerk om ’n verskil in hul lewensuitkyk te bewerkstellig.

Skoolhoofde word genader om seuns van enkelouers of probleemgevalle te identifiseer. Hierdie seuns word dan gratis op ’n avontuurnaweek getrakteer waar Korpslede saam met hulle leer en speel.

Hulle word vertel van manwees, Christenskap en morele waardes. Voorbeelde van suksesverhale en rolmodelle word aan hulle oorgedra om na te streef.

Erfenisbewaring
Die RRB is besig om landswyd Afrikanererfenisse op te spoor, te noteer en waar nodig en moontlik, te restoureer.

Huise, geboue, standbeelde, monumente, historiese terreine, en alles wat in terme van die Erfeniswet van 1999 bewarenswaardig is, veral dit wat vanuit ons kultuurgemeenskap kom, word aangeteken en in samewerking met die Erfenisstigting genoteer. Waar sodanige erfenisse beskadig word, of gevaar loop om vernietig te word, word die nodige stappe tot beveiliging en/of restourasie geneem. Waar nodig word regterlike vervolging selfs aangevra.

Plaaslike Korpse noteer gedenkwaardighede binne hul gebied en stel dit bekend, sodat plaaslike toerisme daardeur bevorder word en die Afrikaner se aandeel in die ontwikkeling van die bepaalde area sodoende erkenning kry.

Die Rapportryerbeweging se Kuberblad beskik oor onder meer inligting rakende die Sekretariaat, die Bestuur en Raadslede asook kontakbesonderhede van Korpse.

Die adres is https://www.rapportryers.co.za/