In  1979-feesuitgawe skryf MJ Swart: “Vir ’n kultuurorganisasie beteken om vyftigjaar oud te word dat slegs ’n skof afgelê is en dat die kronkelgang van die lewe nog altyd voortduur. Op die Afrikanerpad vorentoe moet die FAK steeds begeleidend, verkennend, aanmoedigend en wegbereidend teenwoordig wees. Laat die FAK daarom voortgaan om volgens sy leuse Handhaaf en Bou die Afrikaner se mooi kultuurerfenis te bewaar maar ook baanbrekend aan die toekoms bou.”

Die “kronkelgang” sou gedurende die tagtigerjare ook aan die kultuurlewe besondere eise stel. Sedert die laat sewentigerjare het Afrikaners langsamerhand begin om weg te beweeg van die Christelik-nasionale denkraamwerk as grondslag vir aktiwiteite. Die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing was vir meer as ’n eeu die grondslag van Afrikaners se politieke, kulturele en godsdienstige denke en aktiwiteite. Die Bybel, saam met Afrikaners se nasionale belang en aspirasies, was die vertrekpunt vir hul doen en late. Na die Anglo-Boereoorlog was Christelik-nasionalisme die ideële dryfveer om Afrikaanse skole, koerante, universiteite en organisasies te stig. Waar die Christelik-nasionale denkraamwerk aanvanklik ’n stukrag was om Afrikanerbelange te vestig en Afrikaners tot ’n eenheid saam te snoer, het dit ongelukkig oor tyd gelei tot die verbroedering tussen die NP, die Afrikaanse kerke en Afrikanerkultuur. Die verhouding tussen party, kerk, koerant, skool en kultuur was benoud en ideologies verweef.

Protesmusiek, soos die Voëlvry-beweging met bekende sangers soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel, het die Afrikaner-establishment uitgedaag, terwyl letterkundiges soos Breyten Breytenbach, hulle teen die NP-regering, georganiseerde kultuur en die Afrikaanse kerke verset het. Vele Afrikaanse joernaliste, politici, akademici, kerk- en kultuurleiers het die Christelik-nasionale lewensbeskouing bevraagteken, maar kon geen alternatiewe denkraamwerk bied nie.

Teen die begin van die tagtigerjare was daar ’n vloeibaarheid in Afrikanerdenke, ongeduld dat oplossings vir stedelike swart mense gevind moes word, met bekommernisse oor die gevolge van buitelandse druk, sanksies, die noodtoestand, die landswye geweld, grensoorlog en stedelike terreur. Die politiek van die dag het al meer opportunisties geword en kenmerke van krisisbestuur begin toon. In plaas van nuwe toekomsidees het beide die groot Afrikanerpartye, naamlik die NP en die KP, teruggeval op ou lojaliteite en betekenislose clichés, terwyl bitter ideologiese gevegte gewoed het. Parlementêre liberale partye soos die Progressiewe Federale Party (PFP) het geen geloofwaardigheid onder die meerderheid Afrikaners gehad nie en ook onder leierskapkrisisse gebuk gegaan. ’n Lewensbeskoulike ideevakuum het ontstaan wat teen die einde van die tagtigerjare akuut geword het. FAK Hoofbestuurslid, Carel Boshoff, beskryf die vraagstukke waarmee Afrikaners gekonfronteer was as “ʼn voortbestaan of oorlewingsvraag … in die diepste sin van die woord as ’n allesomvattende kultuurkrisis.” Anton Rupert het tydens FAK-byeenkoms oor “Moedertaal en vaderland” gewaarsku: “Dit is nou tyd dat elkeen wat homself Afrikaner noem en daarmee bely dat hy van Afrika is die roeping aanvaar om saam met ander landgenote die vaderland te dien. U en my toekoms lê nie in vreesbevange verdeeldheid nie, maar in vreeslose medebestaan.”

Die gevolg van die ideevakuum was ’n reeks skeurings op politieke, kerklike en kulturele gebied. Behalwe die skeuring van die NP in 1982, skeur die NG Kerk in 1987 met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Toe die Afrikanervolkswag, onder leiding van Carel Boshoff, besluit het om nie saam met die FAK die Groot Trek se 150ste herdenking te vier nie, is die skeuring in die Afrikanerkultuurwêreld ook voltrek.

Te midde van die werklikhede moes die FAK voortgaan om in die woorde van MJ Swart “begeleidend, verkennend, aanmoedigend en wegbereidend teenwoordig” te wees in voorbereiding op ’n nuwe bedeling.

1981: FAK bring hulde aan Eitemal

Met Eitemal se 80ste verjaardag word hy tydens ’n vergadering van die Musiekkomitee op Stellenbosch gehuldig.

1982: Afrikaner Onderwyskongres

Na aanleiding van ’n besondere suksesvolle Afrikaner-Onderwyskongres wat in 1982 in Bloemfontein gehou is, het die Hoofbestuur van die FAK in dieselfde jaar tot die stigting van ’n onderwyskomitee oorgegaan.

1982: Ooreenkoms tussen FAK en RAU

By ’n Hoofbestuursvergadering van die FAK op 19 November 1982 by die RAU is die ooreenkoms tussen die FAK en die RAU oor die gesamentlike pos van Direkteur: Taalbevordering en senior lektor vir die RAU se Eenheid vir die onderrig van Afrikaans amptelik bevestig.

1983: Afrikaanse Kultuurraad van Suidwes-Afrika (AKSWA)

In die lig van Suidwes se proses om onafhanklikheidswording het die FAK in 1983 AKSWA geherorganiseer. Sedertdien het die kultuurraad onafhanklik van die FAK funksioneer. Dit was die voorloper van die latere Netwerk vir Afrikanerbelange.

1983: FAK Sangbundels

Die gewilde FAK Lekkersingliedjies is in 1980 en in 1982 herdruk.

Na die verkope van ’n oplaag van 15 000 word die FAK Sangbundel in 1983 herdruk.

Sing, Suiderland, sing, was ’n Sangbundel met 50 van die gewildste FAK-liedjies vir anderstaliges. Meer as 4000 eksemplare is in skole in die destydse buurstate versprei.

Die FAK Mannekoorbundel het in 1983 verskyn en bestaan uit geskikte liedere vir mannekore.

Die FAK Kunsliedbundel het in 1984 verskyn. Die Sangbundel bestaan uit ’n bloemlesing van 26 Suid-Afrikaanse kunsliedere. Dit is opgevolg met die Pierre Malan-koorbundel en die Volksmusiek vir jong pianiste.

1984: Verskansing van taalregte

Met die aanvang van ’n nuwe grondwetlike bedeling in 1984 het die FAK ’n vertoë gerig dat die verskansing van Afrikaans gewaarborg sou word. Die FAK het ook ’n vertoë na die pesidentsraad gerig dat ’n deurtastende ondersoek na die taleverskeidenheid in Suid-Afrika gedoen moes word. Dit is in 1986 opgevolg met ’n dinkskrum oor taalberegting in Suid-Afrika. ’n Taalberegtingsmodel is in 1988 voltooi.

1984: “FAK in beeld”

Tydens die algemene vergadering van die FAK in 1984 – die 55ste bestaansjaar – het die Afdeling Museumkunde van die destydse Departement Afrikaans en Nederlandse Kultuurgeskiedenis van UP, ’n keurige uitstalling opgestel oor die ontstaan en werksaamhede van die FAK.

1985: Afrikanervolkswag

In 1985 het die Afrikanervolkswag as landswye kultuurorganisasie om affiliasie by die FAK aansoek gedoen. Die Hoofbestuur het die aansoek afgekeur. Die gevolg was dat etlike meewerkende organisasies asook 1735 lede bedank het.  Dit was die begin van die kulturele skeuring wat teen 1988 se Groot Trek-viering voltrek sou word.

1985: Taalbevordering

Die FAK leiding geneem om Afrikaans te bevorder deur verskillende projekte gedurende 1985 en 1986. ’n Promosiefonds vir Afrikaans is gestig, 42 skole en drie onderwyskolleges onder beheer van die Departement Onderwys en Opleiding het elk 100 gekeurde Afrikaanse leesboeke ontvang as ook 20 eksemplare van Sing, Suiderland, sing. In samewerking met READ is kursusse aangebied vir biblioteekpersoneel, finansiële steun is gegee vir taalonderwysers in swart skole, ’n taalkursus vir verpleegpersoneel is ontwikkel, 300 woordeboeke is aan swart en bruin skole geskenk, ’n vakdidatiekprys vir Afrikaans is ingestel, boekpryse is verskaf vir redenaarskompetisies aan swart universiteite en klagtes oor miskenning van Afrikaans deur die SAL en SAUK is met groot sukses opgevolg.

1986: Kongres vir Skoolmusiek en Skoolsang

In 1985 het die Musiekkomitee ’n simposium gehou waarheen belangstellende musici genooi is. By dié geleentheid was die tema “Musiek in die Suid-Afrikaanse opset”. ’n Uitvloeisel van die simposium was die Kongres vir Skoolmusiek en Skoolsang. Mdet behulp van die Musiekkomitee is ’n plate-album Kaleidoskoop van SA Musiek saamgestel.

1988: Diasfees

In 1988 help reël die FAK aan die Diasfees, ’n fees wat vyfhonderd jaar van blanke kennismaking met Suidelike Afrika herdenk het.

1988: Groot Trek Herdenkingsfees

In 1985 word die fAK versoek om ’n reëlingskomitee saam te stel met die oog op die landswye herdenking van die Groot Trek 150 in 1988. Ongelukkig het die politieke en kerklike skeurings in Afrikanergeledere ook gelei tot ’n kulturele skeuring. Die gevolg hiervan was dat twee groepe ossewaens or die land trek – dié van die FAK en dié van die Afrikanervolkswag. Beide trekke is met veel minder entoesiasme en invloed as in 1938 ontvang. Die skeurings het diep kulturele wonde veroorsaak wat jare later nog in Afrikanergeledere sigbaar sou wees.

Die FAK feesverrigtinge is op 16 Desember 1988 afgesluit by die Voortrekkermonument. President PW Botha was die hoofspreker tydens die geleentheid voor ’n skare van 60 000. Dit was die laaste geleentheid waar president Botha ’n volksfees van die aard sou toespraak. Januarie 1989 het hy ’n beroete-aanval gehad en kort daarna uit die politiek getree.

1988: Hugenotefees

In 1988 vier die FAK landswyd die Hugenotefees.

1988: Boeremusiekkompetisie

In samewerking met die tradisionele Boeremusiekklub het die FAK in 1988 die inisiatief geneem vir ’n tradisionele boeremusiekkompetisie deur die SAUK.

1988: Nasionale simbole

Die FAK was vir baie jare lank betrokke by die bekendstelling van die landsvlag en een van die grootste verspreiders daarvan. As gevolg van ’n versoek van die FAK het die meeste skole op 27 Mei 1988 ’n vlagviering as deel van hulle Republiekfeesviering aangebied.

1989: Eerste Afrikaanse musiekfees

Die FAK se sestigste verjaarsdag is luisterryk gevier deur die eerste Afrikaanse musiekfees op 31 Mei 1989 in die Amfiteater van die Voortrekkermonument. Veertien Afrikaanse kunstenaars het voor 25 000 mense opgetree. Op 31 Mei 1990 is die tweede Afrikaanse musiekfees by die Voortrekkermonument onder borgskap van SASOL aangebied.

Die FAK Sasol Musiekfees het in 1992 na Centurionpark in die destydse Verwoerdburg geskuif.  ’n Geslaagde skolekoorkompetisie is saam met die Musiekfees van 1992 aangebied.

1989: Aand van Goue Oomblikke

Op hierdie aand het die FAK hulde gebring aan 33 van die bekendste veteraankunstenaars uit die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld. Dit was deel van die FAK se herdenking van sy 60ste verjaardag.

1989: Afrikanerbakens

In hierdie jaar publiseer die FAK Afrikanerbakens. Die  boek bestaan uit 294 bladsye met 155 volkleurfoto’s en kort artikels wat die geskiedenis van die Afrikaner vertel. Sanlam het die drukkoste van die boek gedeeltelik geborg.

1990: Pleidooi vir ’n Afrikaanse Taalraad

Die FAK het hom sedert 1990 vir die totstandkoming van ’n Afrikaanse Taalraad beywer waarin die Afrikaanse Taalraad as een van 11 Suid-Afrikaanse taalrade tot sy reg sou kom. In 1992 het die FAK sy standpunt oor ’n taalbeleid uitgereik waarin die amptelike behoud van Afrikaans op streeks- en nasionale grondslag beklemtoon is. Hierdie standpunt is aan KODESA voorgelê.

1992: Konferensie oor interkulturele skakeling

In 1992 is ’n daglange konferensie oor interkulturele skakeling gehou. Die klem is op binnelandse skakeling gelê en konsensus is berei dat geen kultuurgroep dit kan bekostig om ’n glashuiskultuur te beoefen nie; kultuur daagliks as brugbouer dien en toekomsgerig is; daar wedersydse respek vir mekaar se kultuurgoedere moet wees; kulturele wisselwerking op ’n demokratiese wyse moet geskied en met outoritêre en paternalistiese houdings weggedoen moet word en kulturele bruê na ander kultuurgroepe in die binneland sowel as die buiteland uitgebou moes word.

1993: Stigting vir Bloedriviergelofteterrein

In 1993 is ’n Artikel 21-maatskappy gestig om die besitreg van die Bloedrivier-terrein oor te neem omdat die NG Kerk van Natal nie meer die terrein wou hanteer nie. Die plaas waarop die Bloedriviermonument opgerig is, is aan die FAK oorgedra. Verskeie verbeteringe is op die terrein aangebring soos die bou van ’n ontvangslokaal, ’n ouditorium, terwyl twee bronsplate in Afrikaans en Zulu tydens die Geloftefeesviering van 1995 gereël is. ’n Woonwapark vir 60 woonwaens en ablusieblokke is gebou. ’n Inligtingsentrum met ’n temawinkel, ’n restaurant, ’n museum en interpretasie van die terrein by verskeie sleutelpunte is aangebring. In 2002 is besluit om die Bloedrivierterrein as deel van ’n langtermynstrategie aan die Voortrekkermonument oor te dra.

1993: Grondwetlike onderhandelinge

Die FAK het die verdeeldheid in Afrikanerkultuurgeledere probeer oorbrug deur middel van die Afrikanerkultuurforum (AKF). As gevolg van die politieke verdeeldheid tussen die KP en die NP het die FAK gemaan dat partypolitiek nie in kultuur tuishoort nie en dat Afrikaners hulle op kulturele gebied moet beywer vir eenheid. In die onderhandelingsproses het die AKF ’n bydrae probeer lewer tot kultuurregte, kulturele mobilisasie en Afrikanereensgesindheid. Die FAK het deurlopend met ’n wye verskeidenheid politieke leiers vergader oor sake soos Afrikaanse taal, moedertaalonderwys, die voortbestaan van enkelmedium- Afrikaanse skole en die bewaring van kultuurhistoriese erfenisse.

1993: Volkskongres oor Armoede en Werkloosheid

Teen 1992 het die FAK se Ekonomiese komitee bevind dat Afrikaners in die nuwe bedeling slegs ekonomies deur middel van entrepreneurskap sou oorleef. Die FAK het die AHI se werkverskaffingsprojekte ondersteun. Die FAK het die aksies opgevolg met ’n Kongres oor Armoede en Werkloosheid.  By dié geleentheid is die FAK versoek om ’n helpmekaaraksie van stapel te stuur, net soos in die dertigerjare. Die Komitee vir Maatskaplike Ondersteuning en Ontwikkeling is in die lewe geroep. Namate die Helpmekaar 2000-projekte geregistreer en op koers geplaas is, het die naam verander na die Nasionale Komitee: FAK-Helpmekaar 2000.

Die FAK het die Udolpho-terrein naby Parys as ’n armoede-opheffingsprojek bestuur.  Groentetonnels is opgerig waar behoeftige gesinne medeverantwoordelikheid geneem het om ’n verskeidenheid groente te verbou.

In Johannesburg is die ou Trap der Jeugd-skool gerestoureer en aan MES (Middestad Evangeliese Sorg) oorhandig.