Die belangrikste kultuurvraag in die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu is nie meer wie Afrikaners is en of hulle ’n plek in Afrika het nie. Ook nie of Afrikanerkultuur in die nuwe politieke bedeling gaan oorleef nie. Afrikanerkultuurorganisasies het hul aanpasbaarheid en lewenskragtigheid oor en oor aan hulself en ander bewys.

Die Afrikanerkultuurwêreld se fokus is lankal nie meer op oorleef nie, maar op herleef. Die belangrikste kultuurvraag is hoe kan Afrikanerkultuurorganisasies Afrikaners se kulturele erfenis bevestig, maar ook terselfdertyd nuwe spore trap?

Afrikaners soek in hul toekomsgerigtheid kontinuïteit met die verlede, maar terselfdertyd na praktiese maniere om aan Afrikaners se kulturele erfenis nuwe betekenis te gee met die doel om kulturele kapitaal te ontsluit. Daar is ’n dinamiese wisselwerking tussen bevestig en vestig as kulturele werkwoorde.

In 2012 het die FAK herstruktureer na aanleiding van die gesaghebbende en invloedryke Heritage Foundation in die VSA. Die Heritage Foundation se wortels lê in die bewaring van die Amerikaanse kultuurerfenis. Dit gee ’n historiese verwysingspunt vir nuwe toekomsperspektiewe. Die doel van die Heritage Foundation is ook nie om op die voorpunt van elke geveg te staan nie, maar eerder op die gebied van idee-ontwikkeling  noodsaaklike toerusting en begeleiding te gee.  Aan die hand van bogenoemde model en in lyn met sy doelwitte sedert stigtingsjare fokus die FAK vandag op:

•    die ontwikkeling van lewensbeskoulike idees deur middel van die NP van Wyk Louw-sentrum
•    Afrikaanse taal en kultuurprojekte wat insluit Afrikaanse musiek
•    Afrikanergeskiedenis met die doel om Afrikaners se historiese bewussyn in ’n nuwe konteks lewend te hou.

Oplossings vir die Afrikaner se toekoms moet in die Afrikanergeskiedenis veranker word.

Tydens ’n FAK leiersberaad in 2013 het die voorsitter van die FAK professor Danie Goosen verklaar dat kultuurgemeenskappe rondom idees, visioene en drome beslag kry. “Wanneer dié idees ’n aantrekkingskrag op kultuurgemeenskappe uitoefen én dit tegelyk op ’n effektiewe wyse in instellings beliggaam word, kan gemeenskappe selfs in die mees uitdagende omstandighede (ekonomiese agteruitgang, politieke miskenning, militêre nederlae, ens) ’n skeppende rol speel. As ons as gemeenskap ’n toekoms wil hê, sal ons ’n nuwe verbeeldingsruimte – ’n nuwe visie – moet opsoek wat op ’n effektiewe wyse in ons instellings beliggaam kan word. Afrikaans, in weerwil van die druk waaraan dit steeds onderwerp is, het van onder af begin blom: in die musiek, in die letterkunde, in elke skeur en breek wat op ’n afstand van enige voorskriftelike sentrum staan. Hierdie gebeure hang ten nouste met ’n omwenteling in die FAK saam. Vroeër het die FAK homself op die staatlike sentrum gerig en homself ook daarvan afhanklik gestel. Sy beskouing op wat ‘kultuur’ moontlik maak, is daardeur gestempel. Vandag ervaar die FAK homself eerder tuis binne die konteks van die diverse hoeveelheid energieë wat van onder af onkeerbaar blom en bloei. Sy eie voedingsbronne lê daarom ook nie meer by die staatlike sentrum nie, maar eerder by die talle groeperinge wat spontaan vanuit die nuwe ruimtes in die kultuurgemeenskap ontstaan.”

Die veranderende kulturele landskap na 1994 het ook vir die FAK nuwe moontlikhede geskep om sy federale grondslag nuwe inhoud te gee deur middel van netwerke en vennootskappe. Die FAK het weggedoen met die uitgediende hiëragiese struktuur van ’n oorkoepelende organisasie met lede-organisasies. Kultuurorganisasies het ’n behoefte aan ’n eie stem, eerder as om te buikspreek deur een organisasie. ’n Veelheid van stemme oor brandpunte dra ook in vandag se konteks meer gewig as die een stem. Die FAK se Federale Netwerk bestaan uit outonome kultuurorganisasies wat deur middel van netwerke en vennootskappe saamwerk en saamgesels oor gemeenskaplike sake en projekte. Op die wyse kan Afrikanerkultuurorganisasies elk binne sy eie nismark en vermoë Afrikaanse taal en kultuur bevorder.

Die FAK het in 2010 ’n formele vennootskap met die Solidariteitbeweging gesluit. Deur die venootskap het die Solidariteitbeweging die FAK in staat gestel om suksesvol te herstruktureer met die doel om volhoubaar sy historiese kultuuropdrag tot voordeel van Afrikaners uit te voer. Professor Danie Goosen wys ook uit dat die vennootskapsidee het ook implikasies vir die FAK se visie op die breër Suid-Afrika: “Onder leiding van nuwe plaaslike leiers kan Afrikaners ook sinvolle vennootskappe met ander gemeenskappe aanknoop. Plaaslike leiers is meer soepel, beweeglik en kreatief met onderlinge skakeling en verstandhoudinge tussen die verskillende gemeenskappe as waartoe sentralistiese strukture in staat is. In en deur klem te plaas op gemeenskap en goeie verstandhoudings tussen gemeenskappe, kan iets waar word waartoe die staatsentrum nie in staat is nie, naamlik ’n Suid-Afrika as ’n volwaardige gemeenskap van gemeenskappe.”

Deur betrokkenheid by gemeenskapstrukture soos skole, universiteite, vakbonde, teaters en kultuurorganisasies word leiers geïdentifiseer. Professor Koos Malan verduidelik tydens die FAK Prestige-aand in 2013: “In ’n gemeenskap van baie miljoene kan die meeste individue geen impak hê op die welstand van die groter geheel nie. Trouens, die individue se rol in die groot gemeenskap raak niksseggend. In kleiner kultuurgemeenskappe soos dié van Afrikaners, kan enkele individue wel ’n positiewe uitwerking op sy gemeenskap hê. Elke individu wat by sy gemeenskap betrokke is om geskiedenis te maak. Ons situasie nooi ons uit – verplig ons – om geskiedenis te maak. Dit is daarom dat ons elke Afrikaner wat hom nog nie by die saak van die Afrikanergemeenskap ingewerp het nie, kan uitnooi om dit wel te doen – om so te kom deel aan ons gemeenskaplike geluk: om nie passief toe te kyk nie maar saam oor ons gemeenskap se wel en weë te beskik – om te deel aan die geluk om geskiedenis te maak. ’n Gemeenskap wat antwoord op ’n oproep om geskiedenis te maak, is ’n gelukkige gemeenskap en die lede van so ’n gemeenskap wat deur hulle ywer aan die maak van geskiedenis kan meedoen, is gelukkige mense.”

2012: NP van Wyk Louw-sentrum

’n Belangrike uitvloeisel  van die venootskap tussen die FAK en die Solidariteitbeweging is die totstandkoming van die NP van Wyk-Louw-sentrum. Doktor Danie Langner word in 2012 aangestel as die hoof van die FAK en die NP van Wyk Louw-sentrum.  In die persoon van Van Wyk Louw kom die verskillende fasette van Afrikaans, Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap dinamies bymekaar. Louw het ’n intellektuele ruimte geskep wat vandag steeds ontgin kan word. Die doel van die sentrum is die ontwikkeling van lewensbeskoulike idees en taalnavorsing met die gemeenskapsidioom as fokuspunt. Die sentrum hou op gereelde grondslag konferensies oor ’n verskeidenheid aktuele lewensbeskoulike kwessies en publiseer werke ter ondersteuning van die gemeenskapsideeraamwerk en die Afrikaner se kultuurhistoriese erfenis. In 2014 het die NP van Wyk Louw-sentrum in samewerking met professor Deon Geldenhuys en Dan Kriek ’n verslag oor Kulturele outonomie gepubliseer. As deel van die Hoekom Afrikaans-projek het die NP van Wyk Louw-sentrum in samewerking met professor Marinus Wiechers ’n verslag gepubliseer oor die grondwetlike posisie van Afrikaans op universiteite. Meer as vyftig meningsvormers van regoor die Afrikaanse ekonomiese, vemaaklikheids- en kultuurwêreld het ook hulle standpunt oor Afrikaans gestel.

2012: Eerste NP van Wyk Louw-kultuuraand

Ter herdenking van NP van Wyk Louw se geboorte- en sterfdag op 11 Junie 1906 en 18 Junie 1970 bied die FAK jaarliks ’n NP van Wyk Louw-kultuuraand aan. Die eerste NP van Wyk Louw-kultuuraand het saamgeval met die Groot Trek se 175ste herdenking en die 75ste herdenking van Van Wyk Louw se drama, Die dieper reg, wat opgevoer is met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument.  Die aktuersegpaar Carel Trigardt en Petru Wessels het fragmente uit Die dieper reg opgevoer met meneer Ton Vosloo van Naspers as die gasspreker. Meer as 300 nasate van die 1838-Voortrekkers het die aand ’n Groot Trek 175-sertifikaat ontvang.

2012: Sangbundel Volume II

In 2009 het die gedagte ontstaan dat die FAK met die oog op die Sangbundel se 75ste herdenking in 2012 ’n nuwe Sangbundel moet ontwikkel wat erkenning gee aan die ontwikkeling van Afrikaanse musiek sedert 1979. Dit sou die eerste keer in 33 jaar wees dat daar weer ’n sangbundel sou verskyn. Unieke kenmerke van die 2012-sangbundel is:

•    Dat liedere wat in die vorige sangbundels verskyn het, nie weer in die nuwe Sangbundel opgeneem sou word nie. Aangesien die 2012-Sangbundel nie ’n herhaling van die vorige Sangbundel is nie, kan die nuwe Sangbundel met reg beskou word as ’n tweede volume in die Afrikaanse liedereskat.
•    Vanweë die ontploffing in die Afrikaanse musiek sedert 1979 het die FAK besluit om die aantal liedere in die Sangbundel te vermeerder. Ondank die groter volume liedjies is die rugkant so ontwerp dat dit beter op ’n klavier kan staan as die vorige bundels.
•    Liedjies in die immergroen- en kleinkuns-rubrieke is net met ’n melodielyn en akkoorde geskryf en so uitgelê dat enige persoon met ’n basiese musiekkennis die liedjies kan speel.
•    Sedert 1979 het Afrikaans as taal verder ontwikkel. ’n Taalverskuiwing het plaasgevind van standaard Afrikaans na ’n sktyf-soos-jy-praat-beweging. Met die 1979-Sangbundel is baie klem gelê op die korrekte Standaardafrikaans, terwyl die FAK met die 2012-Sangbundel ruimte geskep het vir beide benaderings. Waar ’n komponis of ’n liriekskrywer verkies het om eerder innie te gebruik as in die of witboskraai in plaas van witborskraai het die FAK dit gerespekteer.

Die FAK het met die Sangbundel gepoog om ’n gebruikersvriendelike bundel daar te stel wat in elke huis en gemeenskap kan bydra tot die bewaring en benutting van die Afrikaanse musiekskat. Die nuwe Sangbundel is versprei aan talle skole regoor Suid-Afrika en Namibië. Die Sangbundel is bekendgestel met musiekfeeste by Aardklop (Potchefstroom), Woordfees (Stellenbosch), KKNK (Oudsthoorn) en Vryfees (Bloemfontein).

2013: Afrikaanse Bybel 80

Die Afrikaanse Bybel se 80ste jaar is luisterryk in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument gevier. By die historiese geleentheid is ’n spesiale herdenkingspublikasie bekendgestel oor die Afrikaanse Bybel en die Afrikaanse kultuur. Toekennings vir besondere kultuurprestasie is oorhandig aan Vaders Zacharias van Wyk en Jacobus van der Riet vir hulle vertaling van Griekse tekste in Afrikaans. ’n Spesiale gedenkuitgawe, De Bijbel in het Afrikaans,  is oorhandig aan hoofde van verskeie kultuurorganisasies. Die digter en teoloog, Cas Vos, het tydens die geleentheid as prediker opgetree.

2013: Die Afrikaanse liedjietuin

Tydens die samestelling van die FAK Sangbundel Volume II is verskeie Afrikaanse kunstenaars oorlede soos Christa Steyn (wat aanvanklik verantwoordelik was vir die Kleinkuns-rubriek), Lucas Maree en Louis van Rensburg. Die gedagte is geopper dat daar nêrens ’n plek is waar Afrikaanse kunstenaars onthou word vir die reusebydrae wat hulle lewer ten opsigte van die uitbou en ontwikkeling van Afrikaans nie. Die behoefte om aan Afrikaanse musieklegendes erkenning te , het daartoe gelei dat die FAK by hulle kantore op die Voortrekkermonumentterrein ’n Afrikaanse liedjietuin uitgelê het. Immergroen Afrikaanse liedere is op granietplate verewig. Gedenkplate is opgerig vir Afrikaanse sangers wat ’n reuserol gespeel het. Tweehonderd naamrose wat vernoem is na Afrikaanse kunstenaars, sangers, dorpe en liedjies is aangeplant.

Op 10 Oktober 2013 het die FAK die Afrikaanse liedjietuin aan die publiek bekendgestel. Liewe Heksie het seremonieel namens Verna Vels ’n toekenning vir Besondere Kultuurdiens aan die Afrikaanse kind ontvang. Van die gaste wat by die opening was, is onder andere Mimi Coertse, Rina Hugo, Johan van Rensburg, Anneli van Rooyen, Lance James en Karla du Plessis.

In 2014 is die Afrikaanse liedjietuin met behulp van SANLAM uitgebrei deur voorsiening te maak vir ’n Afrikaanse Kinderliedjietuin met ’n speelpark. Bekende kinderliedjies soos “Trompie” en “Liewe Heksie” is op granietplate aangebring.

2013: Kulturele venootskap met Netwerk (Namibië)

Die FAK en die Namibiese organisasie Netwerk het op 25 Julie 2013 in Windhoek ’n formele Internasionale Kulturele Vennootskap gesluit. Netwerk is ’n Namibiese kultuurorganisasie, soortgelyk as die FAK, wat hulle vir die behoud van die Afrikaanse taal en bevordering Afrikanerkultuur beywer. Die vennootskap is die voorsetting van ’n besondere kultuurverhouding wat reeds vanaf 1929 tussen die FAK en Namibiese Afrikaners ontwikkel het.

Sedertdien het verskeie studiebesoeke van Suid-Afrikaanse kultuurorganisasies na Namibië plaasgevind. Deel van die vennootskap is om Afrikaanse kultuurorganisasies blootstelling te gee aan verskeie kultuurorganisasies deur studiebesoeke.

2013: Nasionale Vrouemonument 100

Die FAK was betrokke by die viering van die herdenking van die inwyding van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein ’n eeu tevore. ’n Spesiale gedenkpublikasie is uitgegee.  Tydens die verfilming van die Viertrek Groot Trek-dokumentêr is die verbondenheid tussen die twee feesgebeure bevestig deur ’n Viertrek-bandspoor in sement te lê op die Vrouemonumentterrein. Professor Danie Goosen het ook namens die FAK op 16 Desember ’n krans gelê.

2013: Groot Trek 175

In 2012 het die FAK besluit om die Groot Trek se 175ste herdenking te vier deur die spore van Retief te volg vanaf die Kaap tot Natal. Dit is sedert 1838 die vierde Groot Trek-herdenkingsrit. Die doel van die rit was nie ’n volksfees nie, maar om die Groot Trek-verhaal deur middel van ’n vier uurlange dokumentêre reeks onder leiding van regisseur Carl Theunissen vir kykNET te verbeeld.

Met die skeuring van 1988 nog vars in die geheue, is daar tydens ’n gesamentlike vergadering van kultuurorganisasies ooreengekom om mekaar ruimte te bied om binne eie fokus en nismark aandag aan die Groot Trek-gebeure te gee. Verskil van mening sou nie deur sosiale netwerke of die media hanteer nie, maar deur persoonlike gesprek. Simboliese vlae sou beperk word tot die gebruik van die 1838-Potgieter- en Natalia-vlae. Die FAK het ’n gesamentlike webwerf ontwikkel waar organisasies deurlopend hulle Groot Trek-nuus kon publiseer. In samewerking met Maroela Media is ’n neutrale Groot Trek-embleem ontwerp.

Een van die merkwaardigste prestasie van die Viertrek Groot Trek was die hoeveelheid organisasies wat meegewerk aan die dokumentêr – die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, Oraniabeweging, Regslui vir Afrikaans, AfriForum, Wapadrand Boeredansgroep, Dagbreek Trust, Rapportryers, Radio Pretoria, Dameskring, Volksang-en-Volkspelebeweging, Solidariteit, Erfenisstigting, Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg, Voortrekkermonument, Die Voortrekkers, RSG, Die Volksblad tot kykNET. Dit sluit nie die groot hoeveelheid individue, korporatiewe maatskappye en ander media in nie. Die Groot Trek 175 is dalk stiller gevier sonder voorblad-koerantopskrifte, amfiteaters vol Afrikaners, vlae en toesprake deur volksleiers, maar die keer sonder verdelende konflik. Een van die merkwaardigste mylpale van die herdenkingsjaar was dat kultuurorganisasies vir die eerste keer in 25 jaar anderkant die links en regs verdelingslyne, kulturele wonde en bitter twiste van die tagtigerjare getree het.

Groot Trek 175 getuig van ’n kulturele herlewing onder Afrikaners. Die Viertrek Groot Trek het kontinuïteit met die verlede gevind, maar ook eietyds betekenis geskep. Die veelvoud van praktiese gemeenskapsprojekte verteenwoordig ’n kulturele skuif in Afrikanerdenke. Weg van die sestiger- en sewentigerjare se skuiling in bronslaers, weg van die broedertwiste en agendas van die tagtigerjare na ’n dinamiese kultuurgemeenskap wat sonder staatshulp eie verantwoordelikheid neem vir historiese herdenkings. Die sterk gemeenskapsfokus gerugsteun met ’n veelheid van projekte het in die stilte soos suurdeeg gewerk met die resultaat van ’n nuwe kulturele selfvertroue onder Afrikaners.

2012–2014: Internasionale skakeling

Die FAK in Suid-Afrika en ’n aantal meewerkende kultuurorganisasies in Nederland en België, bied jaarliks die Jongerenprojek aan. Die Jongerenprojek is ’n uitruilprojek waartydens ’n groep studente van Nederland een jaar Suid-Afrika besoek, en die volgende jaar ’n groep Suid-Afrikaanse studente Nederland en België besoek. Die studente besoek onder meer universiteite, staatsinstellings, kultuurorganisasies en museums. Hulle ontvang ook akademiese lesings omtrent die kultuur, politiek en brandpuntkwessies in Suid-Afrika.

2013: Kulturele vennootskap met die Marnixring, België

In 2013 het die FAK ook ’n kulturele vennootskap met die Marnixring, ’n Belgiese kultuurorganisasie  gesluit. Die doel van die vennootskap is wedersydse bewusmaking en die ontwikkeling van beste praktyke vir kultuurorganisasies gemeet aan internasionale standaarde.

2014: Afrikaanse Skole-Ekspo

Die FAK het vanjaar die Afrikaanse Skole-Ekspo vir Hoërskoolleerders oorgeneem. Die Afrikaanse Skole-Ekspo fokus veral op leerders se kreatiewe hantering van Afrikaans. Leerders kan onder andere aan die volgende kategorieë deelneem: historiese/beredeneerde opstelle, dagboekinskrywings, kortverhale, poësie, musiek en liriek, kuns en fotografie. Daar is ook geleentheid om hul staal met nuwe tegnologie te wys in die maak van Afrikaanse kortfilms en advertensies. Die kategorieë is so gekies dat dit die ideale voertuig is om Afrikaans in die klaskamer opwindend aan te bied en aan die onderwyser die geleentheid te gee om potensiële kategorie-inskrywings by klaswerk te inkorporeer. Riëtte Grobler van JIP het ingestem om as beskermvrou vir die projek op te tree. Jan-Willem Olewagen wat die Kaaskrul-strokiesprente vir JIP teken, het ook toestemming verleen dat die FAK die prente kan gebruik om die Afrikaanse Skole-Ekspo onder jongmense te bemark. Die Afrikaanse Skole-Ekspo word landswyd en in Namibië vir hoërskole aangebied. Vanjaar neem  ongeveer 60 skole en 1000 leerders deel. Bekende persone wat in die verlede wenners by die Afrikaans-Ekspo vir Hoërskoolleerders was, is byvoorbeeld Piet Matipa (joernalis by Beeld), Riëtte Grobler (leefstyljoernalis by Media24) en Leti Kleyn (skrywer, digter en dosent).

2014: Vrystaat 160

Op die walle van die Sandrivier het daar op 23 Februarie 1854 ’n republiek in die hartland van Suid-Afrika tot stand gekom. Die klein republiek wat maar ’n kortstondige ses dekades bestaan het, het tog ’n wesenlike en blywende invloed op die sosiopolitieke ontwikkeling in Suid-Afrika. Die FAK het die Republiek van die Oranje-Vrystaat se 160ste herdenking met ’n publikasie en ’n konferensie gevier.

15 September 2014: De La Rey 100

Presies 100 jaar gelede op 15 September 1914 om 21:15 is generaal Koos de la Rey by ’n padblokkade doodgeskiet. Dit het die begin van die Afrikanerrebellie van 1914–1915 ingelui. Ter herdenking van hierdie gebeurtenis het die FAK ’n vertoning deur Bok van Blerk aangebied waar die gaste saam met Bok van Blerk die aand met die bekende liedjie “De la Rey” afgesluit het. Kraal Uitgewers het ook die boek Die Afrikanerrebellie 1914–1915 bekendgestel.