In die twintiger- en dertigerjare het Afrikaners begin om hulself op kulturele gebied in ’n verskeidenheid van instellings te organiseer. Ten spyte van erge politieke verdeeldheid was daar by Afrikaners van die vroegste tye af ’n behoefte aan ’n vorm van kulturele eenheid. Alhoewel die eenheidsideaal op politieke gebied buite bereik gebly het, kon Afrikaners op kulturele terrein grootliks eenheid bewerkstellig. Die erfenisjoernalis, Marthinus van Bart, skryf dat dit nie taal is wat mense saambind nie, maar gemeenskaplike kultuur. Onderliggend aan die kulturele eenheid, is die beginsel dat daar op kulturele terrein geen plek vir partypolitiek is nie. Dit skep die voorwaarde en ruimte waar Afrikaners oor grense heen hande kan vat en saamwerk.

NJ van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK, skryf: “Kultuur is die hoogste intellektuele bate van ’n volk. Kultuur is die bewys en draer van beskawing.” NP van Wyk Louw noem dit die aristokratiese ideaal – ’n strewe na die hoogste, die mooiste, die skoonste, die uitnemendste.

Die behoefte aan ’n hoopgewende en saakmakende kultuurorganisasie is gebore uit die nood van Afrikaners. Enersyds was kulturele nood te wyte aan die naoorlogse Milnerisme wat Afrikaners geëtiketteer het as hardkoppig, onbeduidend en onbekwaam, maar andersyds ook veranderende kerklike, kulturele en maatskaplike omstandighede wat Afrikaners gekonfronteer het. ’n Ernstige ekonomiese depressie wat die Unie van Suid-Afrika en die res van die wêreld verlam het, het in 1929 begin. Die ekonomiese nood het tot gevolg gehad dat arm Afrikaners na die stede verhuis het. Verstedelike Afrikaners was ontwortel van familie-ondersteuningstelsels en hulle taal en kultuurbande het onder ernstige druk gekom. Afrikaners moes sonder opleiding in die stad meeding, hulle het finansieel verarm, was polities onseker en kultureel vereensaam. Dit was jare van swaarkry en teleurstelling. Die ou minderwaardigheidsgevoel het weer in die stede opgevlam.

Op 24 Augustus het ’n klompie Afrikaners onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns vergader om oor die beskerming van hulle kultuureie te besin. Dit het later daardie jaar gelei tot die stigting van die FAK. Die doel was om persone en organisasies bymekaar te bring wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort om aksies van stapel te stuur vir die handhawing van die Afrikaanse taal en die positiewe uitbou van Afrikanerkultuur. Vandaar die FAK-leuse: “Handaaf en bou.”

Die impak van die FAK en sy vennote se kultuuraksies word gesien dat Afrikaners nie in die stede hulle taal, kultuur en identiteit verloor het nie. Die stede het trouens die sentrums van Afrikanerkultuur geword waar verskeie kultuurorganisasies in die depressiejare gestig is.

Sedert sy ontstaan het die FAK sinoniem met Afrikanerkultuur en die Afrikaanse taal geword. ’n Landswye organisatoriese struktuur is in plek geplaas, jeug- en onderwyssake is bevorder, ekonomiese opbou-projekte is van stapel gestuur, Afrikaanse musiek is bevorder, kuns is bevorder en talle individue is gehelp om verder te studeer. Die groot bydrae wat die FAK tot die ontwikkeling en die handhawing van die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur gelewer het, is raak opgesom deur dr DF Malan toe hy in 1954 gesê het: “As die volledige geskiedenis van die opkoms van die Afrikaanse taal en kultuur eenmaal geskrywe word, sal die FAK daarin een van die hoogste ereplekke kry.”

1929: Stigting van die FAK

Op 24 Augustus 1929 word daar onder die beskerming van die SA Akademie vir Taal, Lettere en Kuns eenparig besluit “om ’n Uniale konferensie op te roep onder die naam: Afrikaanse Taal- en Kultuurkonferensie”. Hierdie kongres is gehou op 18 en 19 Desember in Bloemfontein. Bykans 300 afgevaardigdes van verskillende kultuurorganisasies oor die hele land het dit bygewoon. Spesiale vermelding moet gemaak word van die jong Duitse koerantredakteur, Ernst Schlengemann van Windhoek wat die Afrikaners in Suidwes-Afrika tydens die geleentheid verteenwoordig het.  Daar is besluit om kragte saam te snoer, en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge het hieruit voortgespruit. Doktor NJ van der Merwe is verkies as voorsitter en het die kongres met die volgende woorde geopen: “Ek heet u welkom tot ’n kongres wat ’n verdere skof op die trekpad van die Afrikaner beteken. Daar lê ’n lang en swaar skof tog agter die rug, en ons bring hulde aan die manne en vroue wat in die verlede gelei en gedryf en volhard het. Ons eer God, wat ons volk bewaar en gelouter het.” Die Minister van Binnelandse sake, DF Malan, het in sy toespraak gewys op die nuwe fase van die Afrikaanse taalstryd: “… vanaand moet ons kragte registreer in die opbloei van ons groot kultuursaak.” Doktor AJ van Rhijn het tydens die stigtingsvergadering verklaar: “Al die mooi praatjies oor die verkryging van ons taalregte en die amptelike gelykstelling van Afrikaans en Engels help ons geen bloue duit as die Afrikaner nie beslis en kragtig optree in verband met die algemene gebruik van sy taal nie.”

Tydens die kongres is werke van Pierneef, Maggie Laubser, Gerhard Moerdyk en Anton van Wouw uitgestal.

1930: FAK se Handhaaf-en-Boureeks aangekondig

Taalhandhawing was aan die begin die belangrikste taak van die FAK. Die noodsaaklikheid van woordelyste vir Afrikaanste terme is besef. Die eerste woordelyste wat verskyn, sluit in Engels-Afrikaanse woordelyste vir motorterme, kruideniersterme en slagtersterme. Professor PJ Nienaber het as eerste redakteur  van die Handhaaf-en-Boureeks ook lyste gepubliseer met skoenmakersterme, kookterme  en fotografiese terme.

Op sportgebied het Engels-Afrikaanse woordelyste vir rugby, sokker, krieket, skyfskiet, brugspel, atletiek, boks, swem, waterpolo, tennis, biljart, hokkie, korfbal en gholfterme verskyn.

Afrikaans is op landbougebied gevestig deur die pamfletreeks: “Die Boer en sy taal”. Boere is ook aangemoedig om Afrikaanse sakeondernemings te ondersteun.

Hierdeur het die FAK ’n saakmakende bydrae gelewer vir die vestiging van Afrikaans op alle lewensterreine.

1930: Nasionale Kultuurdag

Op 3 Mei 1930 het die FAK ’n eerste Nasionale Kultuurdag gereël, en die geesdrif was die volgende jaar nog groter. Dwarsdeur die land is groot byeenkomste gereël. Deur die kultuurdae is Afrikaners op nasionaal gemobiliseer om medeverantwoordelikheid te neem vir die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuur.

1931: Sentrale Volksmonumentekommissie gestig

Alhoewel Afrikaners reeds voorheen ’n monument ter ere van die Voortrekkers wou oprig, het die gedagte eers werklik beslag gekry toe ’n klein groepie Afrikaners onder leiding van die bekende skilder, Pierneef, in 1930 besluit het om die gedagte op ’n gekoördineerde wyse onder leiding van die FAK verder te voer. Op 4 April 1931 is die Sentrale Volksmonumentekommissie as die eerste komitee van die FAK in Bloemfontein gestig. Die doel van die kommissie was om hom vir die oprigting van ’n Voortrekkermonument te beywer met die oog op die Voortrekker-eeufees in 1938, asook  vir ander goedgekeurde monumente. Die resultaat was die Voortrekkermonument in Pretoria, Bloedriviermonument, Voortrekkermonument in Winburg en die Retief-standbeeld by die Geloftekerk in Pietermaritzburg.

1931: “Die Stem van Suid-Afrika”

CJ Langenhoven het in 1921 “Die Stem van Suid-Afrika” in sy bundel Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. Gedurende 1931 het die FAK ’n kompetisie geloods om ’n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind. Uit die ingestuurde gedigte het die keuringskomitee eenparig Langenhoven se gedig “Die Stem” aanbeveel.

 1931: Eerste komitee vir die FAK-Volksangbundel aangestel

Die gedagte aan ’n Afrikaanse liederebundel het by die Afrikaanse Studentebond ontstaan. Gedurende 1929 is begin met die versameling van liedjies, maar aangesien die vordering stadig was, versoek die ASB die FAK in 1930 om die onderneming op groot skaal van stapel te laat loop. Op ’n vergadering van 7 Maart 1931 het die Uitvoerende Komitee van die FAK besluit om aan hierdie versoek gehoor te gee. Die Uitvoerende Komitee het ’n FAK-kommissie aangestel om ’n FAK-liederebundel saam te stel. Die kommissie het bestaan uit doktor Hugo Gutsche (voorsitter), professor WJ du P Erlank (Eitemal) en meneer Stephen Eyssen.

1936: Eerste byeenkoms van die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad (ANK)

Dit het ’n dringende behoefte geword om alle Afrikaanse kultuurbedrywighede in een kragtige en oorkoepelende liggaam saam te snoer. Op hierdie wyse kon die Afrikaanse belang op ’n veel beter en geordende wyse gedien word. Met hierdie doel voor oë het verteenwoordigers van landswye Afrikaanse organisasies onder beskerming van die FAK in Bloemfontein vergader. Die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad word gestig onder beskerming van die FAK. Die ANK sou bestaan uit die voorsitters van taal- en kultuurorganisasies en die bestuur van die FAK bystaan met die koördinering van werksaamhede. Die ANK kan met reg as een van die belangrikste bakens op die pad van ontwikkeling en groei van die FAK beskou word.

1937: Eerste FAK-Volksangbundel oorhandig

Die verhaal van die FAK-Sangbundel is verweef met die historiese ontwikkeling van Afrikaanse musiek. Die eerste uitgawe van die FAK-Sangbundel wat in 1937 verskyn het, was die eie opvolger van Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederebundel (1907) en Van Niekerk se Groot Afrikaanse-Hollandse Liederebundel (1927). In die twee bundels was daar 78 Afrikaans-Hollandse liedere, waarvan slegs 28 opgeneem is in die 1937-FAK Sangbundel se 314 liedere. Van die 314 liedere in die Sangbundel was 275 liedere spesifiek vir saamsing geskryf. Die sprong van 78 liedere in 1927 tot 314 in 1937 dui op die geweldige ontwikkeling van Afrikaanse musiek in die kort tydjie van tien jaar. Die eerste eksemplaar van die eerste FAK-Volksangbundel is op7 Junie 1937 by geleentheid van die FAK se Algemene Vergadering in die Clarendonsaal in Bloemfontein aan die voorsitter, doktor NJ van der Merwe, oorhandig. Teen die tyd dat die hersiene Sangbundel in 1961 verskyn het, was reeds 60 000 eksemplare verkoop.

Pieter Malan skryf in Rapport met die verskyning van die 2012-Sangbundel: “Dis seker veilig om te sê dat geen versameling van ikoniese Afrikaanse boeke volledig sal wees sonder vier titels nie: Die 1933-vertaling van die Bybel, SJA de Villiers se Kook en geniet, Groot verseboek en die FAK-Sangbundel.” Al vier hierdie kultuurskatte het ’n groot bydrae gelewer om ons Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur te ontwikkel.

1937: Huldigingsfees vir Totius

Op 20 Februarie word die digter, Bybelvertaler en Psalmberyder, Totius, in die Bloemfonteinse stadsaal deur 2000 mense gehuldig.

1938: Huldigingsfees vir Vader Kestell

Aan die vooraand van sy vier-en-tagtigste verjaardag (hy is op 15 Desember 1854 gebore) het die FAK, in antwoord op versoeke van die volk, ’n huldigingsfees in die Bloemfonteinse stadsaal aan hom gewy, in dankbare erkenning aan sy onbaatsugtige dienslewering.

1938 Ossewatrek

Die FAK het Totius versoek om tydens die Eeufeesjaar ’n Groot Trek-gedigtesiklus te skryf. Na voltooiing is Arnold van Wyk gevra om dit te toonset. Die FAK het die grootse werk as die Eeufees-kantate in 1938 gepubliseer en opgevoer.

1939: CNO-kongres

Op 6 en 7 Julie 1939 het die FAK ’n CNO-kongres gehou om ’n grondslag en beleid van Christelik-nasionale onderwys neer te lê. Hierdie kongres het besluit “dat die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing die grondslag van die opvoeding en onderwys van die Afrikanervolk moet wees, en dat dit ten doel moet hê die voortplanting, beskerming en ontwikkeling van die Christelike en nasionale wese en aard van ons volkslewe.” Die besluite van die kongres het vir dekades die wese van Afrikaanse skole bepaal.

In 1943 is die kongres opgevolg met ’n kongres oor moedertaalonderrig. Ten spyte van die kort voorbereidingstyd, petrolrantsoene as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog en die skoolvakansie, is die kongres deur 900 afgevaardigdes bygewoon. Die FAK het moedertaalonderwys as uitgangspunt aanvaar en ’n leidende rol gespeel om Afrikaanse onderwys in Natal te vestig. Deur middel van die FAK se Instituut vir Christelik-nasionale Onderwys en Opvoeding is  projekte van stapel gestuur om Afrikaanse taal en kultuur in skole te vestig. ’n Moedertaal-strydfonds is gestig om ouers van die belang van moedertaalonderrig te oortuig.

1939: Ekonomiese Volkskongres

Sedert sy ontstaansjare was die FAK gekonfronteer met die gevolge van verstedeliking. Die vinnige verstedeliking het aanleiding gegee tot maatskaplike en morele verval onder Afrikaners. Aanvanklik was die gedagte om ’n omvattende liefdadigheidsplan te ontwikkel, maar onder leiding van die FAK is besluit op ’n selfhelpplan met ekonomiese bemagtiging as uitgangspunt. Van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein word die Eerste Ekonomiese Volkskongres gehou. Na aanleiding van hierdie kongres kom die Ekonomiese Instituut van die FAK tot stand. Die FAK se Ekonomiese Instituut het die Reddingdaadsbond oorgeneem. Dr Nico Diederichs, latere Staatspresident, is deur die FAK as sekretaris van die Reddingsdaadbond aangestel. In 1956 het die Reddingsdaadbond ontbind en het sy bates na die FAK oorgegaan. Die Ekonomiese Instituut het ook die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) gestig. Die stigtingsdoelwit van die AHI was om Afrikaners se  kleingeld te mobiliseer ten einde verarmde Afrikaners finansieel op hulle bene te help, kennis op ekonomiese gebied te voorsien en spaarsin aan te moedig.

1939–1945: FAK tydens die Tweede Wêreldoorlog

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die Boere-Noodhulpfonds gestig as hulp vir die gesinne wat geïnterneer was of onder huisarres geplaas is.

Na die oorlog is fondse en voorrade ingesamel vir die hulpbehoewendes in Duitsland, Nederland en België.

Die tehuis vir oorlogsweeskinders, Wees-en-Zegen, in Nederland, het R14 000 deur die toedoen van die FAK ontvang uit dankbaarheid vir die Nederlandse steun tydens die Anglo-Boereoorlog.

1940: Afrikanereenheidskomitee gestig

Op 9 Junie 1940 het die Afrikanereenheidskomitee (AEK), saamgestel uit leiers van die Herenigde Nasionale Party, die Ossewa-Brandwag, Die FAK en die Reddingsdaadbond, tot stand gekom met die tweeledige taak om die breuke in Afrikanergeledere te heel en ’n grondwet vir ’n toekomstige republiek op te stel. Die FAK het as sameroeper vir die geleentheid opgetree.

1940: NJ van der Merwe

Tot en met sy onverwagse dood op 11 Augustus 1940 was NJ van der Merwe ononderbroke die voorsitter van die FAK. In die vestigingsjare van Afrikanerkultuur het Van der Merwe ’n onskatbare bydrae gelewer om kultuur te definieer en ’n regmatige plek te laat inneem. Hy was bekend vir sy sterk persoonlikheid en onvermoeide werksywer.

1941: Inspan verskyn

Inspan het verskyn as amptelike spreekbuis van die FAK en die Reddingsdaadbond (RDB) “op ’n tydstip in die volkslewe wat uiters bewoë is en groot moontlikhede, maar ook gevare, in sy skoot hou” volgens die hoofartikel in die eerste uitgawe.

1945: Volkskongres oor maatskaplike beleid

Die kongres het op 5 Julie 1945 plaasgevind en is deur 250 afgevaardigdes bygewoon. Die sake wat bespreek is, het onder meer ingesluit die Afrikaanse gesinslewe, ’n arbeidsbeleid en opvoeding, en jeugontwikkeling.

1948: Huldiging aan Koningin Wilhelmina

In 1948 is die werk van die twee groot verteenwoordigers van die Afrikaanse skilder en digkuns, naamlik Pierneef en Totius, gekies om as geskenk aan Koiningin Wilhelmina van Nederland te stuur. Dit was by die geleentheid van haar vyftigste regeringsjubileum en uit erkenning vir die Nederlandse koningshuis se ondersteuning vir President Kruger tydens die Anglo-Boereoorlog. Saam met ’n pragtige landskapskildery van Pierneef is ’n gedig van Totius in kalligrafiese skrif deur Pierneef aan die koningin gestuur:

Verborge – een
Die sprokie is aan my vertel:
Wanneer die druiwetros weer swel
Onder die donker wingerdblad,
Sal dan die fyne wyn ook roer
In die vêr verborge keldervat.

’n Fyn mistieke eenheidsband
Verbind Oranje, Nederland
En Afrika, deur alles heen.
Hoever die golwe ons al omspoel,
Die diepe hart sal altyd voel
Ons is verborge-een.

1948: Mev Rachel Isabella (Tibbie) Steyn gehuldig

Op 8 Oktober 1948 bring die FAK hulde aan Rachel Isabella Steyn, weduwee van president MT Steyn, by ’n byeenkoms in die Bloemfonteinse stadsaal.

1949: Inwyding van die Voortrekkermonument

Die inwyding van die Voortrekkermonument was vir die FAK die volvoering van ’n ideaal wat in 1931 beslag gekry het. Die FAK het ’n aantal koorstukke en komposisies uitgegee, waaronder Mÿn Vanderland Zuid-Afrika (JH Pienaar en SH Eyssen); Psalm 42 en Noordwaarts (CF Visser en AM de V Esterhuysen), en Gesang 12 en Psalms 40, 78 en 90 (MC Roode).

’n Kort musiekblyspel, Hollander en Hugenoot, is deur die FAK gedruk en opgevoer. ’n Sangbeeld, Ons Boerewoning, is ook deur die FAK uitgegee en die eerste keer met die inwyding van die Voortrekkermonument opgevoer.

1951: Kruger-sterfhuis oorgedra aan FAK

Die Krugerhuis is in 1873 opgerig en is geleë by Clarens, langs die meer van Geneve in Switserland. Dit is hier waar president Kruger die laaste paar maande van sy lewe geslyt het. Die sterfhuis van president Kruger is reeds sedert 1910 as ’n museum bedryf. Op 10 Oktober 1949 kondig die Eerste Minister dr DF Malan aan dat die sterfhuis in Switserland aan die regering te koop aangebied is. Die FAK word versoek om die 10 000 POND in te samel.  Landswye insamelings is onder leiding van die FAK geloods en die fondse in ’n rekordtyd ingesamel. Die huis is op 27 Februarie 1950 gekoop.

Gedurende 1954 het die FAK ’n besoekersboek aan die Krugerhuis voorsien en GD Scholtz versoek om ’n brosjure oor Kruger se laaste lewensjare te skryf. In 1957 is goedgekeur dat Kruger se laaste boodskap in Afrikaans vertaal en as muurteks beskikbaar gestel word.

Die Krugerhuis is deur die Suid-Afrikaanse Ambassade in Bern namens die Suid-Afrikaanse regering in stand gehou. Hulle het ook die personeel en opsigters aangestel. Die sterfkamerbed is in 1932, toe generaal JBM Hertzog Eerste Minister was, aangekoop en na Suid-Afrika gebring – dit is tans nog in die Krugerhuis in Pretoria. Kort voor die 1994-verkiesing het die kabinet die oordrag van die Krugerhuis aan die FAK goedgekeur. Meneer Johann Roode, Uitvoerende Voorsitter van Genfood, wat self die belange van Suid-Afrika en sy geskiedenis op die hart gedra het, het persoonlik betrokke geraak en Genfood het ingewillig om die gebou oor te neem, te restoureer en as gastehuis te benut – Villa Kruger. ’n Servituut oor die sterftekamer is ten gunste van die FAK geregistreer, sodat die sterftekamer as gedenkwaardigheid behou word.

1951: Bevordering van Afrikaans in die staatsdiens

In 1951 het die FAK by die Departement van Poswese beswaar aangeteken dat die telefoongidse slegs in Engels beskikbaar is en dat die telefoonafdeling Afrikaans verwaarloos of swak gebruik.

Die eentaligheid van staats- en provinsiale hospitale is in 1952 aangespreek. Die Suid-Afrikaanse Verpleegstersvereniging is in 1953 daarop gewys dat hulle Afrikaans afskeep.

Sedert 1951 het die FAK Afrikaanse spyskaarte aan hotelle beskikbaar gestel. In 1956 het die Spoorweë  in samwerking met die FAK Afrikaanse spyskaarte op al hulle treine beskikbaar gestel.

Gedurende 1958 is gevra dat taaleksaminatore van die departement van onderwys tweetalig moet wees.

In 1971 het die FAK by die Suid-Afrikaanse Lugdiens gekla oor hulle verwaarlosing van Afrikaans en in 1972 is die Hotelraad daarop gewys dat daar meestal slegs Engelse koerante in hotelle beskikbaar is.

In 1972 het die FAK die Aptekersvereniging daarop gewys dat die etikette en gebruiksaanwysings van medisyne tweetalig behoort te wees.

1952: Van Riebeeckdag

In 1931, 1933 en 1934 het die FAK die owerheid versoek om 6 April as openbare vakansiedag te erken. Die versoeke was nie geslaagd nie, maar deur die FAK se toedoen is Van Riebeeckdag teen 1940 landswyd gevier. In 1952, met die herdenking van die landing van Jan van Riebeeck driehonderd jaar vantevore, het die FAK die aanvoorwerk gedoen vir ’n nasionale feesviering en ook daarin geslaag om die dag as openbare vakansiedag verklaar te kry.

1952: Kom dans Klaradyn

Die FAK se Afrikaanse operette, Kom dans Klaradyn, van Lida Latsky word bekendgestel. Die voorwoord word deur doktor CF Visser, Hoofleier van Die Voortrekkers en Hoofbestuurslid van die FAK geskryf. Binne ’n paar maande word 1 500 eksemplare van die operette verkoop.

1953: Afrikaanse Boeremusiek

Die bekende Stellenbosche se Boere-orkes van Pietie le Roux is in 1953 deur die FAK gevra om op hulle landswye konsertreis meer tyd vir gesamentlike sang in te ruim. Die FAK gee erkenning aan die besondere deel van Afrikaanse kultuur deur ’n keur van ’n versameling van outydse boeremusiek van JE Fourie uit te gee. ’n Stel is aan die SAUK geskenk om die Afrikaanse musiekskat onder die breë publiek se aandag te bring.

1953: Die begin van internasionale skakeling

’n Spesiale komitee van die FAK is in die lewe geroep om meer doeltreffend met die buiteland, veral die stamlande, te skakel.

FAK-publikasies is aan immigrante beskikbaar gestel en volkspeletoere na Europa gesubsidieer.

Die FAK het sedert 1956 Afrikaanse boeke en tydskrifte na universiteite en biblioteke in Spanje, Duitsland en Nederland en ambassades gestuur.

In samewerking met die Universiteit van Saval in Kanada is Afrikaanse boeke en tydskrifte in die universiteitsbiblioteek opgeneem en in Kanada versprei.

Van Riebeeck-dag is benut as ’n geleentheid om veral met die Nederlande te skakel.

In 1963 het die FAK die Nederlandse digter, Andre Demedts, ontvang. ’n Baie goeie samewerking is ook met die Afrikaanse-Duitse Kultuurunie gevestig. Die Nederlandse en Belgiese radiowese het spesiale uitgawes van die FAK-Sangbundel ontvang. Die Vlaamse Volkskunsbeweging is finansieel ondersteun. In 1967 het die FAK leiding geneem om die Van Riebeeck-huis in Culemborg, Nederland, te herstel.

Die FAK het ook ’n projek geloods om Paul Kruger se geskrifte in Nederland op te spoor.

In 1960 is ’n kunsuitstalling van Afrikaanse kunstenaars in Gent, België, gereël.

1954: 25 jaar – Silwerjubileumkongres

Van 29 September tot 3 Oktober vier die FAK sy 25ste bestaansjaar tydens die Silwerjubileumkongres in Bloemfontein.