Die Nasionale Party was vir Afrikaners in die vorige eeu veel meer as net ’n politieke party. Die party was die beskermer en die draer van Afrikaners se Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing. Reeds in 1941 het DF Malan verklaar dat die NP geen gewone partypolitieke organisasie is nie. “Ons beklee ’n sentrale posisie in ons Afrikanervolkslewe. Skeur ons dan skeur ons hele volk in alle rigtings. Op ons, meer dan op enige ander, rus daarom in hierdie krisisuur die verantwoordelikheid om ’n eenheidsfront op te bou. Ons kan ons volk maak of ons kan hom breek.”

Na sy politieke sukses in 1948 was die Afrikaner hoofsaaklik ’n stadsbewoner en het toenemend as professionele persone hulself in die staatsdiens en akademie laat geld. Die kulturele suksesse van die dertigerjare is opgevolg met politieke suksesse soos die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961.

Tydens die hoogbloei van Afrikanernasionalisme het Afrikaanse kultuurorganisasies geblom. Die verbondenheid tussen kerk, kultuur en politiek het aan die georganiseerde kultuurlewe ’n veilige ruimte gebied waarin hulle op talle lewensterreine ’n impak kon maak. Tog het kritiese stemme teen die kerk, staat en kulturele verbondenheid veral uit kultuur- en litêrere kringe stadig maar seker opgeklink. Die eerste teken van ’n ongemak met nabye verhouding was die botsing tussen doktor Verwoerd en NP van Wyk Louw. Doktor Verwoerd se vertrekpunt was dat Afrikaners vanuit ’n gekonsolideerde en kragdadige posisie standpunt moet stel, terwyl Louw ’n voorstander was van lojale kritiek. Die debat was die begin van die groterwordende breuklyn onder Afrikaners wat in die tagtigerjare voltrek sou word.

Teen die tyd wat die FAK sy “vyftigjaar van volksdiens” in 1979 vier, het die politieke winde van verandering onder leiding van die nuwe premier, PW Botha, stormwind begin waai. Die kulturele wêreld sou nie hierdeur onaangeraak bly nie. Die voorsitter van die FAK-geskiedeniskomitee, professor Marius Swart skryf aan die einde van die sewentigs: “Die FAK weet hoe sterker die Afrikaner en Afrikaans staan as waarlik produkte van die kontinent, hoe groter is ons mede-betrokkenheid in enige moontlike bedeling in die toekoms. Ons is nie bloot deel van ’n tydelike koloniale, breë gemeenskaplike samelewing nie. Ons is ’n eie volk van hierdie Suidpunt en het geen ander vaderland of moedertaal nie.” Die toekomstaak van die FAK beskryf Swart as om eie kultuur te verinheems, so op te tree dat ander Suid-Afrikaners die Afrikanerkultuur “beter sal leer ken, meer waardeer en deegliker sal benut” en die kortsluitings tussen Afrikaners “aandui, uitpluis en uitskakel” omdat dit kulturele ontwikkeling kan strem. Hy lewer ’n pleidooi dat die FAK op ideële gebied sterker leiding sal moet gee, “want ons mense is soms nog onhandig om bedreiginge en misleiding betyds te sien, dit te systap, die eie te verduidelik en om die nuwe geleenthede wat in elke daeraad vir elke groep en individu skuil in te span”.

1955: Instelling van die FAK-Erepenning

Die Erepenning vir Volksdiens, wat die FAK se hoogste eretoekenning was, is op 6 Oktober 1955 ingestel op grond van ’n besluit van die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad. Met die Erepenning het die FAK op waardige wyse waardering en erkentlikheid teenoor mense of liggame wat “verdienstelike werk op die gebied van kultuurorganisasie en praktiese volksdiens gelewer het” betoon. Die heel eerste Erepennning is toegeken aan doktor DF Malan (1957). In 2013 het die FAK-direksie die toekenning verander na die FAK-toekenning vir uitnemende leierskap.

1956: Musiekbeurs word ingestel

Die FAK se eerste musiektoekenning van R100 word aan Dawid Engela en Mimi Coertse toegeken. Dit was aanleiding tot die besluit van die FAK in 1956 om ’n musiekbeurs in te stel.

1957:  Buitengewonde kongres oor Volksmusiek en Volksang

Om die taal en kultuurbande met die Lae lande te versterk, het Jan Bouws in 1957 op 55-jarige leeftyd deur die toedoen van die FAK na Suid-Afrika geëmigereer. Hy het by die 1957-FAK-kongres ’n lesing oor Volksmusiek gelewer. Meer as 2000 kopieë is van sy referaat, Die Afrikaanse Volkslied, versprei. Die Universiteit van Stellenbosch het in samewerking met die FAK ’n Instituut vir Volksmusiek gestig en Jan Bouws is as lektor aangestel.

Die FAK het gemeenskappe aangemoedig om eie verantwoordelikheid te neem vir sang- en kultuurfeeste. Op die 1957-FAK kongres oor Volksmusiek het die Kaapse Maleierkoor opgetree. In 1975 het die FAK ’n musiekbeurs aan die begaafde bruin sanger, PD Abels, toegeken.

Afrikaanse universiteite is gevra om massakore op die been te bring waaruit later kleiner sterk kore kon ontwikkel.

Die instelling van musiek en sang as skoolvakke is op die kongres bepleit. Dit is opgevolg met spesiale kongresse oor skoolmusiek en skoolsang in die sestigerjare.

In 1957 het die FAK tydens die kongres ’n Afrikaanse plateskema goedgekeur. Die plaat as medium is gebruik om Afrikaans, die Afrikaanse vertolker en die Afrikaanse publiek te steun.

In 1979 het die FAK ’n dubbelalbum, Op my ou ramkietjie, van Mimi Coertse uitgegee waarop sy liedere sing wat van die Eerste Taalbeweging tot by getoonsette gedigte van NP van Wyk Louw strek.

Tot 1980 het verskeie topgehalte Afrikaanse plate verskyn, onder andere  Studentestemme, Serenades vir ’n Boerenooi, Mimi Coertse en die Afrikaanse lied, Jos Clebér en sy orkes, Erika, Sewe lawwe liedjies en Vrolike studente.

1957: Outeursreg van “Die Stem van Suid-Afrika”

In 1957 het “Die Stem” die amptelike en enigste Volkslied van Suid-Afrika geword. Op 11 Junie het die FAK die kopiereg van “Die Stem” aan die regering oorhandig.

1958: Kerkkoorboek

Die Kerkkoorboek Volume 1 word herdruk en ’n tweede Volume saamgestel. Duisende van die publikasies is verkoop.

1959: Die wonder van Afrikaans-feeste

Op 24 Januarie het die FAK besluit om landswyd ’n Afrikaanse Taalfees te vier. Meneer CD (Douglas) Fuchs se voorstel vir ’n feestema – die Wonder van Afrikaans – is aanvaar. Die aanvangsfees was op 6 April in Kaapstad. Feesvieringe het hiervandaan noord- en suidwaarts feitlik van dorp tot dorp plaasgevind tot by die hoogtepunt op 30 Mei in die Amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria. Die geleentheid is deur 60 000 mense bygewoon waar ’n indrukwekkende geleentheidstuk opgevoer is en die eerste minister, doktor HF Verwoerd, na Afrikaans verwys het as “die taal van ons wonderlike toekoms”. Aan die einde van die verrigtinge het 60 000 mense hulle taalvuurhoutjies getrek.

1960: Republiek Dankfees

Die FAK het sedert sy stigting hom openlik beywer vir Republiekwording sonder om op enige wyse partypolities betrokke te raak. Tien dae nadat die kiesers in ’n referendum, op 5 Oktober 1960, besluit het dat Suid-Afrika ’n republiek moet word, het die FAK ’n dankfees in die amfiteater van die Voortrekkermonument gehou.

Sedert 1961 het die Staatspresidente van die Republiek van Suid-Afrika die inhuldigingsdokumente geteken met ’n FAK-pen van 22 karaat goud.

1961: Hersiene Sangbundel en Lida en die Liedjieskrywer

Sakuitgawes van die 1937-FAK Sangbundel met slegs die woorde is uitgegee en kleiner eksemplare met minder liedere is gepubliseer.  In 1957 het die FAK besluit om die Sangbundel volledig te hersien. In Junie 1961 het die hersiene Sangbundel verskyn. Spesiale Sangfeeste is gehou om die verskyning van die Sangbundel te gedenk. Eksemplare is aan Staatspresident CR Swart en voorsitter HB Thom oorhandig.

Die bekende S Le Roux Marais se operette Lida en die Liedjieskrywer word in 1961 deur die FAK bekendgestel.

1961: Doodkry is min bekendgestel

Ná die FAK se reeks Wonder van Afrikaans-feestelikhede in 1959 het hy sy rolprent oor Afrikaans, Doodkry is min, bekend gestel by ’n première op 29 April 1961 by die Amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria, waar 40 000 mense – die grootste rolprentgehoor nog ooit in Suid-Afrika – saamgetrek was. Doodkry is min gee ’n historiese uitbeelding van die ontstaan, die ontwikkeling en stryd om voortbestaan van die Afrikaanse taal sedert die volksplanting in 1652.

1962: Jeugraad van die FAK gestig

As regstreekse uitvloeisel van die Jeugkongres van die FAK wat op 16 en 17 April 1962 in Pretoria gehou is, is die Nasionale Jeugraad gestig. Later het die Hoofbestuur van die FAK besluit dat die Nasionale Jeugraad voortaan slegs as die Jeugraad van die FAK bekend sal staan.

1962: Kongres in Durban

1963: Eerste uitgawe van Handhaaf verskyn

Sedert 1929 het die FAK deur omsendbriewe, inligtingstukke, referate, gedenklesings, geleentheidstoesprake, konferensies, jaarverslae en gedenklesings met sy lede gekommunikeer. Naas die inhoudelike het die publikasie daarvan ook gehelp om Afrikaans as taal te slyp. Teen 1963 is ’n spesiale komitee aangewys om die daarstel van ’n eie blad te ondersoek. Handhaaf, die amptelike tydskrif van die FAK, kan beskou word as ’n kultuurblad, enig in sy soort, wat vir hom ’n onmiskenbare plek in die Afrikaanse kultuurlewe verower het. Die blad het begin met ’n geringe 7500 eksemplare tot in 1979 met ’n oplaag van 25 000. Hoë gehalte artikels oor ’n wye verskeidenheid van onderwepe soos jeugsake, onderwys, geskiedenis, aktuele politieke kwessies, lewensbeskoulike standpunte, ekonomiese sake, perswese en taalontwikkeling is daarin gepubliseer.

In September 1988 was Handhaaf 25 jaar oud. Tot op daardie stadium het 242 uitgawes die kultuurboodskap van die FAK deur die geskrewe woord uitgedra. Teen 1990 is bereken dat die tydskrif ’n oplaag van 30 000 en ’n leserstal van 100 000 gehad het. Gedurende 1993 is die druk van Handhaaf gestaak weens die verhoogde drukkostes en die onsekerheid wat die politieke omwentelinge teweeg gebring het. Dit is vandag ’n belangrike navorsingsbron oor die sieninge van Afrikaners van 1963–1993.

1963: Jeugontwikkeling

Die FAK het deurlopend ’n besondere verbintenis met die Arikanerjeug. In 1963 is die Nasionale jeugraad van die FAK in die lewe geroep wat jaarliks jeugkonferensies gehou het. Talle jeugleierskursusse is ontwikkel. Kursuspakette vir jeugbyeenkomste is saamgestel wat weer die publikasie Fokus tot gevolg gehad het.

In 1964 het die FAK die sekretariaat van die junior Rapportryerbeweging oorgeneem en in 1968 die sekretariaat van die Afrikaanse Studentebond.

Daar het tussen die FAK en Die Voortrekkerbeweging ’n hartlike samewerkingsverhouding bestaan. In 1966 skenk die FAK ’n groot bedrag geld aan Die Voortrekkers vir die aanstel van ’n rondreisende sekretaris wat as ’n Fakkeldraer bekend sou staan. Dr NJ van der Merwe was die eerste voorsitter van die FAK en die eerste Hoofleier van Die Voortrekkers. Verskeie Hoofleiers van Die Voortrekkers, onder andere CF Visser, BH Badenhorst, CHW Boshoff, Hoofdagbestuurslede en Gebiedsleiers het op die Hoofbestuur en latere direksie van die FAK gedien. Die Besturende direkteur van die FAK, doktor Danie Langner, word in 2013 as die tiende Hoofleier van Die Voortrekkers verkies.

1965 Ekonomiese projekte

In 1965 is die Ekonomiese Instituut en al sy bates en die kapitaal van die Reddingsdaadbond aan die FAK oorgedra.

Die FAK het in die sestigerjare op groot skaal sakeondernemings aangepak. Die FAK het belê in Afrikaanse rolprente soos Lord oom Piet en met die openingsaand R3000 wins gemaak. Die Magoebaskloof-ruskamp is aangeskaf. ’n Platebedryf is begin en drukmasjinerie is aangekoop om publikasies te behartig. Die Sonheuwel-Hotel en vakansieplaas is bekom en baie kapitaal is op die aandelebeurs belê.Teen 1970 is al hierdie belange verkoop en op kapitaalgroei met renteverdienste gefokus.

1965: Geskiedeniskomitee van die FAK

Die FAK was sedert sy ontstaan besig om die historiese bewussyn onder Afrikaners aan te wakker. In 1953 het die FAK leiding geneem met die daarstelling van die Louis Tregardt-gedenktuin in Mosambiek en in 1954 die skuif van die Kruger-standbeeld na Kerkplein. In 1955 het die FAK in samewerking met die Voortrekkerbeweging die verwaarloosde Majuba-terrein opgeknap. Die FAK het leiding geneem met die oprigting van die Vryheidsmonument by Vereeniging.

Die Hoofbestuur van die FAK het sy Geskiedeniskomitee tot stand gebring om hom te adviseer oor die bevordering van vaderlandse geskiedenis. Sedert 1944 het die FAK die taak van die Algemene Geloftefeeskommissie oorgeneem. Die Geskiedeniskomitee het jaarliks verskillende tema’s vir Volksfeeste voorgestel. Die FAK het ook ’n lys van sprekers aan die plaaslike feeskomitees voorgestel. In 1968 is 8000 eksemplare van die bundel Ons Nasionale feesdae versprei en in 1977 byna ’n 1000 eksemplare van die boek oor Geloftedag, Hier staan ons. In 1968 is ’n reeks radiopraatjies oor volksfeeste deur die FAK gepubliseer. In 1971 het die FAK leiding geneem in die ontwikkeling van die Bloedrivierterrein.

Die komitee het hulle daarvoor beywer om Geskiedenis as skoolvak te bevorder en skoolmuseums daar te stel. Die Geskiedeniskomitee het landswye opstelwedstryde uitgeskryf.

31 Mei 1966: Vyfjarige Republiekfees

Met die vyfjarige Republiekfees het die FAK ’n R1200 beskikbaar gestel vir ’n sierwa oor die Afrikaanse taal. Die wa is deur studente van die Universiteit van Pretoria versier en voor die skare van duisende mense getrek.

1967: Wysies en Deuntjies

’n Bundel met Twaalf metafisiese voorspele deur Rosa Nepgen is in die jaar deur die FAK die lig laat sien. In dieselfde jaar word die sangboekie Wysies en deuntjies vir meisies en seuntjies herdruk.

1969: Die Messias van Händel in Afrikaans, Kerkkoor-boek in Braille en ander musiekprestasies

’n Besondere prestasie was die verskyning van die Messias van Händel in Afrikaans onder leiding van die FAK. Die Musiekboekie Trap-vir-Trap se vyfde uitgawe is in die jaar uitverkoop en nog 10 000 eksemplare is herdruk.

Die FAK het ook die bekende siklus Sewe Boerneef liedjies bekendgestel as bladmusiek. Die woorde is gedig deur Boerneef (IW van der Merwe) en die musiek gekomponeer deur Pieter de Villiers.

De Villiers se Kleuterland-komposisies is ook deur die FAK uitgegee, sowel as Jannasch se Te Deum.

Een van die grootste prestasies was die verskyning van die Kerkkoorboek in Braille.

Chris Lampbrecht se jeugkanatate, Verbly jul in die Heer, is deur die FAK gedruk en versprei.

Hierdie enkele voorbeelde van musiekpublikasies gee ’n aanduiding van die verskeidenheid en omvang van die FAK se kultuurdiens. Die FAK het ’n liefde vir Afrikaanse musiek by die breë publiek gekweek en boonop Afrikaanse digters en wêreldgehalte komponiste se musiek gepubliseer. Deur die aksies is die grond voorberei vir die latere ontploffing van die Afrikaanse musiekmark.

1973: CJ Langenhoven-gedenkjaar

In 1973 het die FAK die omvangryke Langenhoven-gedenkjaar suksesvol aangebied. Die onderwysdepartement is deur die FAK gevra om op 10 Augustus 1973 Langenhovendag by skole te vier. ’n Gedenkplaat is by die Langenhovenhuis Arbeidsgenot onthul.

1973: Suidwes-Afrika Kultuurraad

In 1973 stig die FAK in Suidwes-Afrika ’n Gebiedskultuurraad. Teen Junie 1973 was daar reeds vyftig kultuurliggame by die gebiedskultuurraad geaffilieer.

1974: Afrikaans ons pêrel van groot waarde bekendgestel

In 1970 het die Hoofbestuur van die FAK besluit om in die jare sewentig ’n boek uit te gee waarin die groei van Afrikaans beskryf word. Op 15 Junie 1974 is Afrikaans ons pêrel van groot waarde aan die publiek bekendgestel nadat geskenkeksemplare kort tevore aan die Staatspresident, meneer JJ Fouché, en die eerste minister, meneer BJ Vorster, oorhandig is.

1976: Lekkersingliedjies

Die FAK het in 1974 besluit om ’n versameling van lekker Afrikaanse saamsingliedjies saam te stel.  In 1976 het die bundel verskyn met klavier- en kitaarbegeleiding.

1979: Ars Poetica

In die feesjaar het die komponis, Hans Roosenschoon, ’n eietydse werk asn opdragwerk van die FAK gekomponeer na aanleiding van ’n gedig van NP van Wyk Louw met dieselfde naam. Die werk is deur die SAUK se nasionale simfonieorkes uitgevoer.

1979: FAK-Sangbundel

Die derde hersiene en verbeterde uitgawe van die FAK-Sangbundel, onder redaksie van meneer HP (Pieter) van der Westhuizen het in Maart 1979 met ’n oplaag van 15 000 verskyn. Die redaksie het die aantal liedere tot 400 beperk om te verseker dat die Sangbundel maklik hanteerbaar sou wees. ’n Besondere kenmerk van die 1979 Sangbundel is die aandag wat aan Afrikaanse woorde bestee is. Sedert die verskyning van die eerste Sangbundel in 1937 het Afrikaans as taal merkwaardig gegroei. Soms is net ’n enkele woord of reël verander, in ander gevalle hele strofes. Die 1979-Sangbundel is nie net ’n mylpaal in die ontwikkeling van Afrikaanse musiek nie, maar ’n monument in die ontwikkeling van Afrikaanse musiektaal. Sedert 1937–1979 is ongeveer 200 000 Sangbundels versprei.

Die jaar 1979 was ook die begin van die musiek en liriek-beweging. Koos du Plessis se eerste langspeler, Skadu’s teen die muur, bevat treffers soos “Kinders van die wind”, “As jy my kon volg” en “Sprokie vir ’n stadskind”. Musiek en liriek word ook die eerste keer op Afrikaanse televisie aangebied en Afrikaanse luisterliedjies is bo-aan die gewildheidsleer. Baanbrekers soos Jannie du Toit, Laurika Rauch, Koos du Plessis, David Kramer, Anton Goosen en vele ander lê die fondament vir die ontploffing van Afrikaanse musiek.

1979: FAK-halfeeufees

Op 21 Februarie 1979 is die FAK se halfeeufeesjaar geloods met ’n sakeleiersdinee waar die FAK hulde en dank betuig het aan die Afrikaanse sakegemeenskap se volgehou steun en dank aan die FAK. Tussen 10 en 12 Julie hierdie jaar het die FAK sy vyftigjarige bestaan luisterryk in Bloemfontein herdenk. ’n Gedenkuitgawe van Handhaaf, ’n nuwe FAK-Sangbundel en ’n geskiedeniswerk met die titel Vyftig Jaar Volksdiens, is gepuliseer. Gedenkpennings is geslaan, ’n gedenkseël gedruk, ’n gedenkplaat by die NALN onthul en ’n dubbel-langspeelplaat waarop die ontwikkeling van die Afrikaanse liedereskat aangedui word, is beskikbaar gestel.

1979: Afrikaanse Kultuuralmanak verskyn

In 1979 verskyn die Afrikaanse Kultuuralmanak onder die redaksie van professor MJ Swart. By elke datum is belangrike historiese gebeure vermeld. Saam vorm die publikasie Vyftig Jaar Volksdiens, die 1979-FAK Sangbundel en die Afrikaanse Kultuuralamanak die hoogtepunte van die FAK se halfeeufees.