Die nuwe politieke bedeling na 1994 het verreikende implikasies vir kultuurorganisasies gehad. Benewens die nuwe Afrikaanse taalstryd was een van die grootste uitdagings vir Afrikaners om op georganiseerde kultuurterreine te oorleef. Feitlik alle organisasies het ’n platval in ledegetalle beleef. Afrikanerkultuurorganisasies moes herposisioneer in die werklikhede van ’n nuwe bedeling.

Ten spyte van die aanvanklike belowende versoening het Afrikaners spoedig onder groot druk gekom. Die nuwe Suid-Afrika het Afrikaners met twee kernvrae gekonfronteer. Eerstens moes Afrikaners aan hulself vra of daar nog plek is vir Afrikaners in Afrika? Dit was ’n moeilike vraag vir Afrikaners om te beantwoord. Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede het bereken dat meer as ’n miljoen Afrikaners in een dekade (1995‒2005) die land permanent verlaat het. Dit is ongeveer 20% van wit Suid-Afrikaners. Afrikaners se getalle het demografies afgeneem en vir die eerste keer in dekades het die Afrikaners beleef wat dit werklik beteken om ’n minderheidsgemeenskap te wees. Ondanks die besluit van die onderhandelaars in 1993 om 11 tale landswyd as amptelike tale te erken en gerustellings deur die ANC oor die plek van Afrikaans, het die taal onder toenemende druk gekom. Die ANC wou van die begin af slegs een amptelike taal gehad het, naamlik Engels. Ten spyte van die grondwet en die ANC se ondernemings het Engels na hul bewindsaanvaarding die de facto-amptelike landstaal geword. Afrikaans is doelbewus op baie lewensterreine uitgeskuif soos in die staatsdiens, die regstelsel en selfs in ’n toenemende mate op universiteitsvlak. Waar ’n Afrikanerjongmens in 1990 kon kies tussen vyf uitnemende Afrikaanse universiteite met Afrikaanse koshuise, is daar vandag maar net een of twee Afrikaanse universiteite oor. Afrikaanse skole het in so mate verengels dat Afrikaanse enkelmediumskole se getalle gekrimp het van meer as ’n 1200 Afrikaanse skole voor 1994 na minder as 600 Afrikaanse enkelmediumskole landswyd.

Die snelle verryking van die swart elite, die ontplooiing van die kaderbeleid, regstellende aksie, ideologies gedrewe transformasie, kaderontplooiing, die soustrein van die nuwe bewind, die brutaliteit en omvang van die plaasmoorde saam met die misdaadgolf wat die land teen 2000 getref het, het baie Afrikaners onseker oor die land se toekoms gelaat. Tweedens moes Afrikaners vir hulself beantwoord: Wil ons nog Afrikaners wees? Binne die konteks van hul eie ideologiese en politieke raamwerk het die ANC-regering Afrikaners probeer definieer as “kolonialiste van ’n spesiale soort” (Mbeki-era) of “die enigste wit stam van Afrika” (die Zuma-era). Baie Afrikaners het hul selfvertroue verloor om as Afrikaners op te staan en standpunt te stel. Uit vrees vir etikettering, beskuldigings oor apartheid en etnosentriese verwyte het sommige Afrikaners gewillig, gedienstig en gedwee na allerhande maniere gesoek om polities korrek voor die regering te buig. Ander Afrikaners het die nuwe werklikhede ontken en hulle van die openbare lewe onttrek. In Maart 1999 skryf die FAK-voorsitter PJ Badenhorst: “Die verlies van politieke mag het ’n verlamming meegebring wat feitlik by al die Afrikaanse kultuurorganisasies sigbaar is. Die Afrikaner sal hom uit hierdie verlamming moet los woel.” Die risiko het bestaan dat Afrikaners ’n volk van wegbrekers, weglopers of protesteerders kon word, of in so mate intern verlam is dat Afrikaners nie meer in staat sou wees om hulle kultuur, waardes en tradisies in die nuwe werklikhede  te handhaaf nie.

Soos in 1929 het Afrikaners vanuit ’n interne locus standi eie verantwoordelikheid begin neem om eie waardegedrewe en identiteitsantwoorde op die bestaansvrae te ontwikkel. Anders as in 1929 het Afrikaners nou kulturele bates gehad in kundigheid, eie instellings en hoëfunksieprestasies waarmee hulle hulself aan die spreekwoordelike skoenrieme kon optrek.

Reeds tydens die Algemene Jaarvergadering van die FAK in 1994 het professor Pieter Kapp ’n referaat met die tema: Gryp die kulturele toekoms gelewer. Hy het  byna profeties daarop gewys dat die Afrikaner se verwagting dat die regering altyd vir die behoeftes van alle gebiede sal sorg nie meer haalbaar was nie. “Afrikaners sal deur middel van stylvolle leierskap gesien en gehoor moet word en sy regmatige plek op alle gebiede opeis.” Aan Afrikaners word baie eise gestel, maar die belangrikste eis is om hulle onmisbaar te maak in die nuwe staatkundige bestel. Die FAK het by dieselfde geleentheid ’n nuwe definisie van Afrikanerskap aanvaar, naamlik: “’n Afrikaner is enige iemand wat homself as Afrikaner beskou en hom met die Afrikaner identifiseer.” Dit is ’n eenvoudige definisie  maar besonder bruikbaar omdat dit nie uitsluitend is nie, maar in wese die moontlikheid tot selfinsluiting laat.

Nie ’n enkele Afrikaanse kultuurorganisasie bestaan wat in al die behoeftes van Afrikaners kan voldoen nie. Aksies ter bevordering van groter Afrikaner-samehorigheid het in die laat negentigerjare momentum begin kry. Gesamentlike aksies tussen Afrikanerorganisasies wat tradisioneel buite die dampkring van die FAK geval het, het tot nuwe begrip en vetroue bygedra. Met sy uittrede as voorsitter in 2001 verklaar PJ Badenhost: “Die visie van die FAK sal wees om as ’n belange organisasie toe te sien dat die totale belange van die Afrikaner behartig word. Dit is onmoontlik om hierdie taak alleen te verrig  en daarom is dit dringend noodsaaklik dat daar groter samewerking tussen die verskillende organisasies sal wees. Dit is die enigste metode om positiewe resultate te bereik.”

Die verlies aan politieke mag met die ontbinding van die Nasionale Party het Afrikaners gedwing om buite die politiek nuwe toekomsstrategieë te bedink. Die verlies van mag wat deur baie Afrikaners as negatief ervaar is, het nuwe energie en dinamika ontsluit. Afrikaners het in die eerste dekade van die 21ste eeu op die historiese suksesresep hulself deur middel van sterk instellings hervestig en in die nuwe omstandighede herdefenieer.

Die FAK het met die verskyning van die Vrye Afrikaan veral ’n leidende rol gespeel met die nuwe herdefiniëring van Afrikaners. Bekende organisasies soos die Voortrekkermonument, Die Voortrekkers, FAK, SAOU, FEDSAS en Solidariteit het saam met vele ander organisasies hulself herorganiseer en nuut verpak. Nuwe Afrikaner- burgerlike organisasies soos die Erfenisstigting, AfriForum, Akademia, Maroela Media en Afrisake het op die toneel verskyn. Hierdie organisasies, wat elk ’n eie nismark bedien, het oor tyd met toenemende selfvertroue begin standpunt inneem oor taal-, kultuur-, onderwys- en burgerregtekwessies. In minder as ’n dekade het die Afrikanerorganisasies se gesamentlike ledetal dié van die NP op die hoogtepunt van sy mag verbygesteek.

Afrikaanse musiek en kultuur het in die nuwe Suid-Afrika ’n nuwe groeifase beleef. Kunstefeeste, soos die Woordfees, KKNK en Aardklop word in groot getalle bygewoon en jaarliks is daar splinternuwe Afrikaanse musiek- en toneelproduksies. Musiekfeeste soos Huisgenoot-Skouspel en Afrikaans is Groot word deur duisende mense ondersteun. Die Afrikaanse filmbedryf het ook ’n nuwe groeitydperk beleef met die vervaardiging van talle nuwe Afrikaanse films. Bok van Blerk se De la Rey-lied het oornag ’n treffer geword. Afrikaanse letterkundiges soos die Hertzogprys-wenner Deon Opperman het die geskiedenis afgestof. Sy, Ons vir Jou-produksie was die eerste Afrikaanse musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog. Die produksie het landswyd vol sale getrek. Afrikanerorganisasies soos die FAK het leiding geneem met die reël van kulturele herdenkingsgeleenthede soos die Afrikaanse Bybel se 80ste verjaarsdag en die Groot Trek se 175ste herdenking. Kulturele dae soos Geloftedag word in groter getalle as vantevore gevier.

Afrikaners het stelselmatig hul verlede herontdek en daarmee saam met ’n nuwe kulturele selfvertroue hul stem laat hoor. Izak De Villiers se profetiese woorde het waar geword. Die eerste tree uit genesing van depressie, is om te sê: “Ek wil lewe!”, of soos Totius in Die besembos uitroep: “my dood kry is min!”

1999: Nasionale Afrikaanse Boekeprojek

In 1999 het die FAK in samewerking met die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Radio Sonder Grense (RSG) aktief betrokke geraak by die Nasionale Afrikaanse Boekeprojek. Die FAK-kantoor was een van die versamelpunte vir die boeke. In 2001 is ongeveer 180 000 tweedehandse Afrikaanse boeke by die KKNK ingesamel en deur die FAK onder behoeftige Afrikaanse skole versprei. Afrikaanse literatuur is ook aan Afrikaanse studente in Noorweë, Rusland en België versprei.

1999: FAK 70

Op 18 Desember 1999 het die FAK die sewentigjaarmerk bereik. Die geleentheid is op verskeie wyses herdenk. Tydens die gespreksgeleentheid is oorkondes van waardering aan oudvoorsitters oorhandig.

1999-2000: Erfenisoudit

’n Onafhanklike erfenisoudit is in 1999–2000 geloods. ’n Deurtastende literatuurstudie na die stand van erfenisse en erfenisbewaring is onderneem. Die FAK was dan ook een van die stigterslede van die Erfenisstigting. Die doel van die maatskappy is die behoud, bewaring en volhoubare benutting van die fisiese erfenis en kultuurskatte van die Afrikaanse kultuurgemeenskap.

1996: Grondwetlike bydrae

Met die oog op die afhandeling van die nuwe grondwet van die RSA het die Grondwetlike vergadering kommentaar van die algemene publiek gevra. Met die oog op die voorbereiding van konsepwetgewing oor die regte van kultuurgroepe het die FAK ’n koördinerende rol gespeel om konsepwetgewing voor te berei oor die regte van kultuurgroepe. Die FAK is ook deur die Nasionale Menseregtekommissie gevra om alle Afrikaanse organisasies uit te nooi na ’n nasionale konferensie oor die Kommissie van Regte vir kultuurgroepe.

1997: ’n Nuwe Handhaaf

April 1997 het die FAK Handhaaf laat herleef as ’n kwartaalblad. Anders as in die verlede is dit slegs gestuur aan donateurslede. Sedert 2001 is die formaat van Handhaaf aangepas om vir die elektroniese verspreiding daarvan te sorg. In 2014 word die elektroniese nuusbrief van die FAK aan 48 000 persone versprei.

1997: Tussentydse Afrikanerberaad

In Mei 1997 het die FAK ’n verteenwoordigende vergadering aangebied oor Afrikaans in die spervuur. Dit het die grondslag gelê vir ’n Tussentydse Afrikanerberaad  (TAB). Die doel van die beraad was om formele gesprekke te voer oor die vorming van ’n verteenwoordigende Afrikanerraad. Die FAK is versoek om die sekretariaat te behartig. Die Tussentydse Afrikanerberaad kon op die lang termyn nie volledig in die behoefte aan samewerking voorsien nie en het sedert die begin van 1999 momentum begin verloor weens verskillende uitgangspunte, onwilligheid van organisasies tot samewerking, ontrekking van organisasies wat selfbeskikking nastreef en oorvleueling in werksterreine. Die Tussentydse Afrikanerberaad het teen 1999 tot sy einde gekom.

1999: Herdenking van die Anglo-Boereoorlog

Die wat, waar, wanneer en wie van die Boere se stryd van Cecilia Kruger het in 1999 in sagteband verskyn. Die boek bestaan uit inligting oor die Anglo-Boereoorlog, alfabetiese registers en ’n geselekteerde literatuurlys. Dit is ’n belangrike oriënteringspublikasie wat die basiese feite van die oorlog netjies uiteensit.

Die FAK het ook leiding geneem om ’n volledige naamlys saam te stel van slagoffers van die konsetrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog. ’n Finansiële bydrae van Dagbreek Trust het die voltooiing van die projek moontlik gemaak. In 2003 het die naamlys op 29 300 gestaan. Tydens die Vrouemonument se 100ste herdenking in 2013 het die FAK die navorsing van Celeste Reynolds gepubliseer in ’n gedenkpublikasie.

2000: Geskiedenisdagboek

In opdrag van die Geskiedeniskomitee het JC Steyn ’n Geskiedenisdagboek van 365 dagstukkies oor die geskiedenis van die Afrikaner en Afrikaans  saamgestel. Vanaf 2000 word dit daagliks op die FAK se webwerf geplaas.

2000: Nasionale Leiersforum

Die FAK het in 2000 ’n Nasionale Leiersforum in die lewe geroep bestaande uit die voorsitters van kultuurorganisasies. ’n Nasionale beraad is in Bloemfontein gereël en ooreengekom dat die FAK die knooppunt sal wees vir aksies wat die Afrikanergemeenskap raak en die begin van die groeipunt na ’n verteenwoordigende Afrikanerraad ingevolge Artikel 185 van die Grondwet. Die Leiersforum was die voortsetting van ’n proses waar die FAK geleidelik wegbeweeg het van ’n formele hiërargiese model na ’n netwerkmodel bestaande uit nasionale Afrikanerorganisasies en Afrikanerbelangegroepe. Die Leiersforum het aan die FAK ’n noodsaaklike platform gebied om met verskillende Afrikanerorganisasies in gesprek te bly.

2000: Webwerf

Met die aanbreek van die nuwe eeu het die FAK ook ’n eerste tegnologiese tree gegee deur ’n eie webwerf daar te stel. Op die FAK se webwerf is onder meer die oorsig oor die organisasie se ontstaan en geskiedenis, ’n historiese dagboek, kulturele nuusgebeure en ’n gespreksforum. Teen die eeuwisseling het die FAK ook die sekretariaat van die Rapportryers, die Junior Rapportryers, Jong Dames Dinamiek, die Instituut vir Landboukultuur, Dames Aktueel, Transvaalse Helpmekaar studiefonds, Bloedriviertrustfonds Die Hugenote Trustfonds en die Stigting Bloedriviergelofteterrein behartig.

2000: Hereniging met die Afrikanervolkswag

Sedert 1996 was daar samesprekings tussen die FAK en verteenwoordigers van die Afrikanervolkswag. Gesamentlike samewerking aan projekte soos die Stigting van die Bloedriviergelofteterrein het die grondslag gelê vir hereniging. Op uitnodiging van die FAK het die Afrikanervolkswag in 2000 weer geaffileer by die FAK. Die heling van die ongelukkige breuk in Afrikanergeledere is te danke aan die onvermoeide ywer en positiewe gesindheid van die Uitvoerende Hoof, meneer Hennie de Wet.

2000: Minderheidsregte

In hierdie jaar is ’n oop gespreksgeleentheid oor “Afrikaans en minderheidsregte” aangebied, asook ’n veeltalige konferensie oor “Taal in die howe”. Laasgenoemde konferensie het dan ook op Menseregtedag plaasgevind.

2001: ABO Kaapse rebellemonument

Die FAK het in 2001 aandag gegee aan die oprigting van ’n monument vir die Kaapse Rebelle wat tydens die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boererepublieke geveg het. Doktor Carel Stander het ’n leidende rol daarin gespeel. Die monument is geregistreer in die naam van die FAK.

2001: VISIE 2012-projek

In 2001 was die FAK betrokke by die loodsing van die VISIE 2012-projek wat onder bestuur van doktor Barry Tolmay was. Dit was ’n internasionale entrepreneursprojek wat in Londen aangebied is om die behoeftes van jongmense in dié stad te bepaal. Die doel was om vas te stel op wattter wyse hulle ondersteun kan word om weer na Suid-Afrika terug te keer.

2001: Ondersoek na ’n gelykheidsakkoord

Tydens die ledevergadering in 2001 is besluit dat die FAK in samewerking met belanghebbendes ’n ondersoek moet loods na die wenslikheid van ’n gelykheidsakkoord met die regering om langtermynwerkskepping te verseker. Die totale spektrum van arbeid, die gehalte van onderrig en die rol wat Afrikaners moet speel, moes aandag geniet. Die FAK-ledeveregadering het besluit dat die FAK die aksie moet inisieer, maar indien daar ’n organisasie is wat die verantwoordelikheid wil aanvaar, word verdere hantering aan die organisasie oorgedra. Dirk Hermann van die pasgestigte Solidaiteit het onderneem dat Solidariteit die saak verder sal voer omdat die gevolge van regstellende aksie in hulle nis val.

2002: Nuwe hoofkantoor

Die FAK was vir 25 jaar in Die Eike in Aucklandpark, Johannesburg, gehuisves. Na Die Eike in die mark geplaas is, het die FAK na Pretoria verhuis. In April 2002 het die skuif van die FAK se hoofkantoor na die Voortrekkermonument-erfenisterrein plaasgevind in die Gerhard Moerdijk-huis wat oorspronklik vir die opsigter gebou is.

2002: Nasionale Jeugkongres

Onder leiding van die FAK is die sentrale afsluitingsgeleentheid van die Anglo-Boereoorlog gereël. In samewerking met die  Voortrekkerbeweging is ’n nasionale Jeugkongres op 31 Mei 2002 by die Vrouemonument en Oorlogsmuseum in Bloemfontein gereël met die tema: “Uitdagings vir die toekoms”. Jeugleiers van oor die hele land het na afloop van die kongres ’n jeugmanifes beskikbaar gestel. Tydens die kongres het die Afrikanergemeenskap ’n duidelike aanduiding gegee dat die Afrikaner met ’n eie identiteit wil voortbestaan en Afrikaans aktief wil bevorder.

2002: Nasionale erfenisbewaring

Gedurende 1999 is ’n onafhanklike erfenisoudit as prioriteit geloods. Leidinggewende optrede oor erfenisbewaring is teen die eeuwisseling as een van die fokusares van die FAK geïdentifiseer. In 2000 het die FAK ’n pos vir ’n erfeniskoördineer geskep. ’n Ondersoek na en die samestelling van ’n nasionale erfeniskomitee is in Augustus 2000 deur die FAK onderneem. Verder is die skepping van ’n Afrikaner-erfenistrust ondersoek.

Saam met ander kultuurorganisasies was die FAK betrokke by die stigting van ’n maatskappy vir die inbesitneming van die Voortrekkermonument in Pretoria. Die FAK was ook ’n stigterslid van die Erfenisstigting. Die FAK het deur die inisiatief verseker dat Afrikanererfenisse op gekoördineerde wyse met behulp van huidige bestuursleiding bewaar word.

In 2003 het die FAK ’n bedrag van R300 000 aan die Voortrekkermonument beskikbaar gestel vir die oprigting van ’n Afrikaner-erfenissentrum.

Die FAK ondersteun ook deurlopend gemeenskappe in die bewaring van plaaslike erfenisterreinne. Om die rede is die FAK betrokke op die direksie van die Vegkop-terrein, Heilbron.

2003: Kom Huistoe-veldtog

Tussen 1995–2002 het ongeveer ’n miljoen Afrikaners die land verlaat. In Maart 2003 het die FAK ’n byeenkoms gereël om ’n Kom Huistoe-veldtog van stapel te stuur. By die geleentheid is die verdere hantering van die saak aan die Maatskappy van Immigrasie en Solidariteit opgedra. AfriForum voer vandag die proses verder.

2003: Taalkonferensie

In 2003 is ’n konferensie onder leiding van die FAK gehou waartydens die Afrikaanse taalgemeenskap standpunte bespreek en geformuleer is. Kommentaar is op die konsepwetgewing gelewer en aan die Minister van Kuns en Kultuur voorgelê. By die amptelike inwerkstelling van die Nasionale Taalbeleid op 19 Maart 2003 is die FAK genooi om die Afrikaanse gemeenskap te verteenwoordig.

Die ideaal om ’n anasionale strategie te formuleer, het momentum gekry tydens ’n FA- taalkonferensie in September 2003. Daar is besluit om die proses onder die vaandel van die Afrikaanse taalkomitee van PANSAT te bestuur. Die FAK word in 2014 op PANSAT verteenwoordig deur een van sy direksielede, professor Koos Malan.

2004: Die Vrye Afrikaan

Tydens die stigtingsvergadering van die Groep van 63 het Johann Rossouw vir ’n nuwe Afrikaanse intellektuele tydskrif gepleit. Die tydskrif sou bekend staan as Die Vrye Afrikaan en  onder die vaandel van die FAK en die redakteurskap van Johann Rossouw op 3 September 2004 die lig sien. Die blad is in 2006 gestaak. Die sirkulasie was nie groot nie, maar die Vrye Afrikaan het gesaghebbende artikels gepubliseer oor ’n wye verskeidenheid van onderwerpe soos die druk op Afrikaans as universiteitstaal, die noodsaaklikheid van ’n Afrikaanse virtuele universiteit en die gevolge van transformasie.