“Van die belangrikste lesse wat ek by Die Voortrekkers geleer het, is dissipline en respek.
Leierskap is baie belangrik. Organisasies soos Die Voortrekkers speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die land.”

Francois Pienaar, Springbokrugbykaptein

 

Foto 1

JPL (Johan) van der Walt

Demilitarisering van Die Voortrekkers

Tydens die 1989-kongres word JPL van der Walt  as Hoofleier verkies. Omstandighede in Suid-Afrika het na die beëindiging van die Grensoorlog en die vrylating van Nelson Mandela vinnig verander. Ook Die Voortrekkers sou nie onaangeraak bly deur die gebeure nie. Soos wat Afrikaners die land verlaat het en Afrikaanse skole verengels, het Die Voortrekkers se getalle dramaties gedaal.

In sy termyn het Hoofleier Johan van der Walt baie gefokus op die demilitarisering van Die Voortrekkers. Die uniform het verander na ’n ligter bruin baadjie. Kort daarna is die Voortrekkerdrag verander na die donkerblou-drag wat vandag nog gedra word. Barette en dasse het plek gemaak vir denims en tekkies om aan te pas by die eise van die moderne Afrikanerjeug.

Hou Koers-lied

Kort nadat Johan van der Walt die Hoofleier van Die Voortrekkers geword het, het die Hoofbestuur ’n ope uitnodiging gerig vir ’n nuwe oorspronklike lied vir Die Voortrekkers. Verskeie persone het woorde en/of musiek ingestuur, maar die een wat dadelik die oog gevang het, was die liriek van Ansie du Plessis. Christa Steyn is genader om spesiaal ’n melodie vir hierdie woorde te skep. Toe die Hoofbestuur die resultaat hoor, het hulle besef dat Die Voortrekkers ’n treffer gekry het. Hierdie lied is tydens die openingsaand van die 1993-kongres in Bloemfontein bekend gestel en het onmiddellik algemene byval gevind.

As die lente oor die velde in ’n asem groen ontwaak,
leer en speel ons in ons eie, word die toekoms oopgemaak.
Om die kampvuur, in die stiltes, weef ons drome in die wind,
strek ons uit na horisonne sal die hoop ons saam verbind.

Hou koers! Hou koers!
Deel die liefde vir ons land.
Hou koers! Hou Koers!

Pluk die toekoms vat my hand.
As die son se môreklanke saggies in my oor kom lê,
kies my voete wandelpaaie, weet ek wat my siel wil hê.
Oor die vlaktes, deur die ruimtes, lê my spore ankervas,
volg ek bly my volk se roetes met geloof se klein kompas.

Hou koers! Hou koers!
Deel die liefde vir ons land.
Hou koers! Hou Koers!
Pluk die toekoms vat my hand.

As die somer in sy glorie my op tenger halms rig,
reik my hand in diepe ootmoed na die sekel van my plig.
Erf my kennis, leef my vreugde, volg die sterre in hul baan,
voel die polsslag van die lewe, loof die Bron van ons Bestaan.

Hou koers! Hou koers!
Deel die liefde vir ons land.
Hou koers! Hou Koers!
Pluk die toekoms vat my hand.

Die Hou Koers-lied was vir Die Voortrekkers meer as net ’n mooi lied. Dit was ’n definiëring van Voortrekkers. ’n Koerswyser wat kern van verskillende fasette van Voortrekkeridentiteit beskryf het soos nooit vantevore nie. In 2012 is die lied ook in die FAK-Sangbundel opgeneem.

Ou waardes nuut vertolk

Reeds in 1936 het die Hoofbestuur die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing as grondslag vir Die Voortrekkers aanvaar. As Afrikanerkultuurorganisasie het Die Voortrekkers nie los van die lewensbeskoulike idee-krisis sedert die laat sewentigerjare ontstaan nie. In 1978 het die kongres aan die Hoofbestuur opdrag gegee om die Voortrekkerwet in die lig van die grondslag, wese en doelstellings opnuut te ondersoek.

As Afrikanerkultuurorganisasie het Die Voortrekkers na 1994 nie op die kantlyn van die breë waarde- en identiteitsgesprekke gestaan nie. Die uitdaging wat Die Voortrekkers in die gesig gestaar het, was om die grondslag, wese en doelstellings op so wyse te vertolk dat dit Bybels-begrond was, maar ook ruimte skep vir ’n veelvoud van identiteite. Met die realiteite van ’n nuwe bedeling wou die meerderheid Voortrekkers hul verbintenis aan Afrika, nasionale burgerskap en die Afrikaanse taalgemeenskap bevestig sonder dat dit in spanning met Afrikanerskap staan.

Die Voortrekkers het hul Christelike geloofsbasis met die herskryf van die wese, grondslag en doelstellings baie sterk beklemtoon. Die ontwikkeling staan nie los van die onsekerheid wat baie Afrikaners tydens die politieke oorgang in die negentigerjare beleef het nie. In onseker krisistye gryp Afrikaners altyd terug na hul geloofsankers.

Die Voortrekkers het aanvaar dat die grense van die Afrikaners ook nie skerp afgebaken kan word nie. Die basiese uitgangspunt om ’n Afrikaner te wees, was dat ’n persoon minstens tuis moet voel by die kultuurgemeenskap en andersyds deur die groep as Afrikaner aanvaar word. Afrikanerskap was oper gedefinieer om enersyds Die Voortrekkers se verbondenheid aan die Afrikaanse taal- en kultuur te beklemtoon, maar andersyds ook klem te plaas op goeie burgerskap en ’n  lotsverbondenheid met Afrika en al sy mense. Die 1995-Verkennerlewe beskryf Afrikaners as ’n groep mense met:

•    ’n eie taal, Afrikaans
•    ’n gemeenskaplike geskiedenis en tradisies
•    ’n Christelik-protestantse godsdienssin
•    ’n eie kultuur geskoei op die Europese (Westerse) volkskultuur
•    ’n betrokkenheid by die mense van Afrika.

Die ou Voortrekkerwet, wat in vele opsigte ’n direkte vertaling van die Scouts-kode was, het plek gemaak vir ’n nuwe Voortrekkerkode. Die Voortrekkerkode as ’n eenvoudige aksiegedrewe formule was belyn met die nuwe grondslag, wese en doelstellings. Anders as die ou Voortrekkerwet het die sterk geloofsbasis ook hier neerslag gevind.

Die stryd om nasionale simbole

TP (Tom) Dreyer

TP (Tom) Dreyer

Na 1994 was daar weerstand by sommige Voortrekkers teenoor die nuwe nasionale simbole. By een van die gebiedskampe, kort voor die 1994-verkiesing, het meer as die helfte van die vlagparade afgestap toe die nuwe landsvlag ontplooi is. Die voortslepende konflik om die erkenning van die nuwe nasionale simbole het sy hoogtepunt bereik met die hoofleiersverkiesing van 1997. Theuns de Wet, die Transvaalse gebiedsleier, wat nie die nasionale simbole binne Die Voortrekkers wou erken nie, het te staan gekom teen Tom Dreyer van Stellenbosch. Dreyer het met ’n groot meerderheid gewen teen De Wet. Hierdie stryd staan in die teken van die lewensbeskoulike veranderings wat sedert die negentigerjare in Die Voortrekkers en onder Afrikaners plaasgevind het. Deur die erkenning van die nuwe nasionale simbole, het Die Voortrekkers uitdrukking gegee aan die balans wat hulle wou skep tussen positiewe burgerskap en Afrikanerskap. As positiewe landsburgers het Die Voortrekkers die nasionale simbole erken en op gepaste wyse daaraan respek betoon. As Afrikaners het Die Voortrekkers erkenning gegee aan kultuursimbole en kultuurliedere.

Die simbolestryd het ongelukkig ook twee nagevolge gehad. Eerstens het Theuns de Wet met ’n klein groepie Voortrekkers kort na die kongres weggebreek en ’n eie organisasie, die Afrikaner Kultuurbond gestig. Die Voortrekkers het egter sterker uit die wegbreekaksie gekom en kon sonder interne spanning aandag gee aan die heropbou van die beweging.

vlaeDie tweede nagevolg het oor tyd eers sigbaar geword. Afrikaners het, soos vroeër aangedui, hulle gemaklik aangepas by ’n veelvoud van identiteite wat sonder spanning langs mekaar kan staan as nasionale burgers, wêreldburgers, burgers van ’n kultuurgemeenskap en selfs as burgers van Afrika. Binne Die Voortrekkers het die simbole-stryd tot gevolg gehad dat positiewe burgerskap aanvanklik verskraal was tot slegs een soort burgerskap, naamlik nasionale burgerskap. Soos die stof van die simbole-stryd gaan lê het, het Voortrekkers ook gemakliker uitdrukking begin gee aan die veelvoud van burgerskapidentiteite.

Die onafhanklikheid van Namibië, gepaardgaande met die afgelope dekade se ontwikkeling van ’n eie kulturele identiteit onder Namibiese Afrikaners, het meegehelp om die vertrekpunt van veelvoudige burgerskap wat uitdrukking vind in veelvoudige simbole en liedere te vestig. Die Voortrekkers se Hoofbestuur het in 2014 erkenning gegee aan veelvoudige burgerskap deur die Afrika-unie se vlag en lied-simbole as teken van Afrikaners se verbondenheid aan Afrika te aanvaar. Dit is nou deel van Die Voortrekkers se vlae- en liederesimbole.

Die ABC van Die Voortrekkers

Die nuwe lewensbeskoulike raamwerk was egter effe swaar geformuleer vir ’n jeugbeweging. Spanoffisiere wat die grondslag, wese en doelstellings aan die kinders moes verduidelik, het na praktiese maniere gesoek om die identiteitsraamwerk bevatlik te verduidelik. ’n Kaapse Penkop- en Drawwertjie-spanoffisier, Nell Smit, het met die blink plan vorendag gekom om die Voortrekkerkode deur middel van die ABC vir kinders te leer. Sy beskryf dit as volg:

“Ek was ’n laerskool onderwyseres en wanneer jy aanbiedings vir die kinders moes voorberei, is altyd van prentjies, stories of sleutelwoorde gebruik gemaak om dit vir die kinders maklik te maak om te onthou. Wanneer jy van daardie tegniek vir jare gebruik gemaak het, bly dit deel van jou. Daarom toe ek by ’n geleentheid besig was met voorbereiding vir die aanbied van ’n kursus vir offisiere, het ek weer teruggeval op een van die 3 metodes. Prentjies en stories sou nie werk vir die aanbied van begronding van die Voortrekker se doelstellings nie. Ek het die 10 stellings uitmekaar gehaal en op ’n ander wyse gegroepeer. Deeglik gekyk waaroor elkeen gaan en toe bymekaar gesit wat saam hoort ‒ een groepie oor Godsdiens, een oor die Afrikaner en een oor ons optrede teenoor ander wat saam met ons die land deel. Godsdiens het ek verander na Christen, Afrikaner het ek so behou. Ek was altyd lief om sleutelwoorde te gebruik om dinge te onthou. Ek het ’n woord probeer maak met die C en die A. Skielik tref dit my dat as ek die A voorsit en die derde groep Burgerskap noem en dan die Christenskap laaste plaas, dan het ek die ABC van die Voortrekkers, maklik om te onthou. Was eers huiwerig omdat Christenskap laaste is, maar laaste beteken hier nie die minste nie, maar die belangrikste.

Deur verder te stoei met die gedagte bring dit my by die sêding in Afrikaans ‘om die abc van iets te ken’ wat beteken om alles van iets te weet. Ek was tevrede, want deur elkeen van die drie groepies te ken en jou eie te maak, raak jy die kern van Voortrekkerwees. Ek het dit op die kursus so verduidelik. Dit is goed ontvang. Tom Dreyer was op daardie stadium nog ons Gebiedsleier. Ook hy was beïndruk met die ABC van die Voortrekkers. Toe hy later hoofleier word, het hy die begrip heel dikwels gebruik in toesprake en by kommandobesoeke en in vergaderings.” Die ABC het vinnig onder Die Voortrekkers vlam gevat, soveel so dat dit later algemene spreektaal geword het.

Foto 4

Tom Dreyer saam met Nell Smith. Die oorgang van die bruin na blou Voortrekkerdrag is duidelik sigbaar.

Foto 1

PJ (Piet) Strauss

 Nuwe selfvertroue as Afrikaners

In 2001 word PJ Strauss die negende Hoofleier van Die Voortrekkers. Hoofleier Piet Strauss het in die konteks van die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu baie moeite gedoen om Die Voortrekkers hul selfvertroue as Afrikaners te laat herwin. Sy boodskap was duidelik: “Julle kan die wêreld in die oë kyk omdat julle alles het om op trots te wees.”

 

Een van die uitvloeisels hiervan was die De La Rey-toer, nadat Bok van Blerk se gewilde lied soos ’n veldbrand onder Afrikanerjeug versprei het.

Foto 2

Voortrekkers by die De la Rey-standbeeld in Lichtenburg

Waardes bevestig op grondvlak

Piet Strauss het die ABC-identiteitsraamwerk deelgemaak van die alledaagse Voortrekkerspreektaal- en denkwêreld. Hy het byvoeglike naamwoorde soos konsekwente Christenskap, positiewe burgerskap en moderne Afrikanerskap by die bestaande ABC gevoeg. Kort na 2001 is die ABC in die Sarel Cillierssaal op Doornkloof op die verhoog aangebring en ook in die Voortrekkersaal op die Voortrekkermonumentterrein. Veral die beeld van moderne Afrikanerskap het die outydse militêre beeld ’n gevoelige hou gegee.

Die identiteit- en waardegedrewe benadering het nuwe diepte binne Die Voortrekkers gebring. Tydens die 2009-kongres is die grondslag vereenvoudig tot “God Drie-enig se openbaring aan ons deur die Bybel en die skepping”. Die wese van Die Voortrekkers is aan die hand van die ABC nuut geformuleer tot “Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat die moderne Afrikaner, in besonder sy jeug, bemagtig om as positiewe Burgers en konsekwente Christene suksesvol te wees.”

Die ABC-waardes het ook in Die Voortrekkers se toekomsvisie-2020 neerslag gevind, naamlik “Om ’n beduidende rol te speel in die bemagtiging van jong Afrikaners, om as moderne Afrikaners, positiewe Burgers en konsekwente Christene suksesvol te wees.” Die 2013-kongres het besluit om die toekomsvisie te verwesenlik deur jong moderne Afrikaners as uitnemende leiers te ontwikkel.

Die Hoofbestuur het in die lig van die Kongres se besluit in 2014 die ABC met die toevoeging van ’n D uitgebrei om voorsiening te maak vir diensbare leierskap. Hierdeur bevestig Die Voortrekkers diensbaarheid as waarde wat vanaf die eerste tree in 1913 deel was van Die Voortrekkers se doen en late. Die D bevestig ook die doelstellings se oogmerk om jong Afrikaners se karakter deur middel van diensgerigtheid en diensvaardigheid te ontwikkel. Op dié wyse kan jong Afrikaners op elke lewensterrein deur middel van diensbare leierskap ’n verskil maak. Met die toevoeging is die identiteits- en waarderaamwerk van Die Voortrekkers bevestig en verdiep.

Heropbou van getalle

Afrikanerkultuurorganisasies regoor die spektrum het na 1994 ’n groot insinking in ledegetalle gehad. Die Voortrekkergetalle het byvoorbeeld van 60 000 tot minder as 10 000 in ’n kwessie van ’n paar jaar gedaal. Dit is deels te wyte aan die beëindiging van die Grensoorlog, maar ook feit dat meer as ’n miljoen Afrikaners in dié tyd die land verlaat het. Die Voortrekkers het herposisioneer as ’n moderne jeugbeweging wat kon aanpas by die behoeftes van Afrikanerjeug in die een-en-twintigste eeu. Kultuur, avontuur en natuur was steeds die basis van leierskap- en karakterontwikkeling, maar Voortrekkers kon hul toerus met nuwe eietydse vaardighede. Die Verkennerlewe het in 2006 in ’n koffietafelformaat verskyn met ’n groter klem op entrepreneurskap, lewensvaardighede en praktiese leierskap. Die ABC-puntestelsel is geïmplementeer om aan jeuglede meer erkenning te gee vir die uitleef van Voortrekkerwaardes.

Die Voortrekkergetalle het stelselmatig gegroei, totdat dit teen einde 2010 gestabiliseer het. Tans is Die Voortrekkers een van die vyf grootste Afrikaanse kultuurbewegings in Suider-Afrika. Die kleiner getalle het die voordeel gehad dat Die Voortrekkers ’n baie persoonlike organisasie geword het. Voortrekkers het soos ’n familie begin funksioneer waar die meeste persone mekaar goed geken het. Die fokus het verskuif van strukture en reglemente tot verhoudings. Piet Strauss beskryf sy hoogtepunte as Hoofleier die gesprekke met jeuglede in groepe dwarsdeur Suidelike Afrika “wat vir ’n uur of drie langs ’n rivier, op die Namibiese Waterberge, in ’n holkrans op Lunsklip, in die ou tuin op Doornkloof ens saam met my gelê het en besin het oor moderne Voortrekkerwees”.

75 jaar-Feeskamp

Foto 4 en foto 5 Gedurende 2006 het Die Voortrekkers hulle 75e bestaansjaar gevier. Om hierdie spesiale geleentheid te vier, het Die Voortrekkers ’n verjaarsdag-feeskamp gereël. Van regoor die land en Namibië het alle lede, oudlede, sowel as ondersteuners van Die Voortrekkers by die Voortrekkermonument saamgetrek. Meer as 6000 Voortrekkers het op Monumentkoppie gekamp. Dit was die grootste Voortrekkerkamp in die geskiedenis van die beweging.

Foto 5

Lugfoto van Voortrekkers by die ingang van die Voortrekkermonument

Op die voorpunt van nuwe tegnologie

Soos enige dinamiese organisasie het Die Voortrekkers by die veranderde kommunikasiemiddele aangepas. Sosiale media en internet het ’n groter rol in Voortrekkeraktiwiteite begin speel. Onder leiding van Hoofsekretaris Lukas de Kock en Guss Davey is die Hou Koers-webblad ontwikkel as een van die vernaamste hulpbronne in Die Voortrekkers. Met die moderne webblad neem Die Voortrekkers nie net die voortou in die kultuuromgewing nie, maar vergelyk Die Voortrekkers uitstekend met die beste praktyke van internasionale kultuurorganisasies.