“Laat ons in die nuwe jaar ons voorneem om hard te werk en getrou te wees, ook daar waar niemand dit sien nie. Die pragtige bloeisels aan die boom en die heerlike vrugte wat daarop volg, is veral te danke aan die getroue dienste wat diep onder die grond deur die wortels van die boom verrig word. Dit is Voortrekkerwerk.”

NJ van der Merwe

Die behoefte aan ’n eie jeugbeweging

Kort na die Anglo-Boereoorlog het lord Baden Powell in 1907 die Boy’s Scouts en ’n rukkie later die Girls Guides as jeugbewegings gestig. Alhoewel daar raakpunte was met die latere Voortrekkerbeweging het hierdie verenigings nie ’n tuiste vir Afrikaanse kinders gebied nie. Hulle was suiwer Engels en het ten doel gehad om Britse kultuur en tradisies te bevorder.

Die Voortrekkerstorie begin toe Afrikaners gekonfronteer was met die bestaansvraag van eie identiteit. In 1913 het die behoefte by CF Visser ontstaan aan ’n eg Suid-Afrikaanse vereniging waarin die Afrikanerjeug tuis sou voel. In hul stryd om ’n eie Afrikaanse identiteit is die ou Voortrekkers se hoëfunksieprestasies as kompas gebruik. Gedagtig aan die historiese name van die Europese jeugverenigings het Visser in 1913 geskryf: “In ons geskiedenis is daar seker geen mooier naam as Voortrekkers nie, en daar is seker geen ander naam waarvan daar vir ons soveel besieling kan uitgaan nie.” Die verbondenheid aan die Groot Trek-geskiedenis het die Voortrekkerbeweging van die begin af gedefinieer.

As simbool van die band met die Voortrekkers van ouds is daar reeds in 1919 voorgestel dat die vlag van Die Voortrekkerrepubliek Natalia die amptelike vlag van Die Voortrekkers moes wees. In die eerste Handleiding vir Leiers (1934) verduidelik Visser die betekenis van die Voortrekkervlag as volg: “In die dae van die Groot Trek was hierdie vlag ’n sinnebeeld van die Voortrekkers se selfstandigheid en eie volksbestaan in ’n eie vaderland waarvoor baie van hulle hul bloed opgeoffer het. Vandag dien dieselfde vlag as die sinnebeeld van Die Voortrekkers se bestaan as ’n onafhanklike organisasie. Deur die vlag te aanvaar bring ons nie alleen hulde aan die dappere vryheidsliewende Voortrekkers wat die binneland van Suid-Afrika beskaaf en bewoonbaar gemaak het nie, maar ons gee daarmee te kenne dat ons wil stry en opruk teen alles wat sleg en onedel is. Ons wil alles wat goed en mooi is uit die lewe van die ou Voortrekkers aanneem, navolg en ons eie maak. Onder hierdie vlag wil ons so lewe dat ons werd is om kinders genoem te word van die heldhaftige baanbrekers …” Met die formele stigting van Die Voortrekkers het Mabel Jansen eiehandig die Voortrekkervlag vir die stigtingsgeleentheid gemaak. Generaal Hertzog het op 30 September 1931 hierdie vlag aan Die Voortrekkers oorhandig. Die vlag hang vandag steeds in die hoofkantoor van Die Voortrekkers.

Visser het in 1919 die eerste Voortrekkerwet geskryf wat hy die “moraal” van Die Voortrekkers genoem het. Dit was:

•    Die Voortrekker se woord is sy eer.
•    Die Voortrekker eerbiedig sy meerdere.
•    Die Voortrekker is hulpvaardig; hy beskerm die swak mens en die swak dier.
•    Die Voortrekker is vir reg en geregtigheid.
•    Die Voortrekker beheers homself.
•    Die Voortrekker is rein en net en deeglik.

Foto 2

Uitbeelding van die Voortrekkerwet tydens ‘n seremonie.

Die wet was egter in ’n groot mate ’n Afrikaanse verwerking van die Scouts se erekode. Dit is later uitgebrei tot tien wette, maar sonder die Bybelse grondslag van die latere Voortrekkerkode.

Gedurende Desember 1920 het Visser ’n eerste poging aangewend om Die Voortrekkers te stig tydens ’n konferensie in Bloemfontein. Slegs 12 persone het vir die stigtingskongres opgedaag. Dit was duidelik dat die tyd nog nie ryp was vir ’n eie Afrikanerjeugbeweging nie. Nogtans het dit nie die aanwesiges gekeer om Voortrekkerkommando’s in Bloemfontein en naburige dorpe te vestig nie.

Op inisiatief van Japie Heese het Die Voortrekkers in 1923 na Graaff-Reinet uitgebrei. De Wet Laubscher het ook ’n Voortrekkerkommando op Nieuwoudtville gestig. Die paar Voortrekkerkommando’s het in die eerste jare slegs gepoog om ’n naam en grondslag te vestig, sonder ’n nasionale organisasie of infrastruktuur. Alhoewel hulle bewus was van mekaar, het Bloemfontein en Graaff-Reinet in die praktyk losstaande van mekaar funksioneer.

Dit is met goeie rede dat CF Visser die titel Vader van die Voortrekkers gekry het toe hy in 1958 aangedui het dat hy as Hoofleier sou uittree.

Die eerste Voortrekkerkamp

Japie Heese het die heel eerste Voortrekkerkamp vir ’n honderd kinders in Jeffreysbaai gereël. Maande voor die tyd het die jeuglede begin om fondse in te samel vir die trein en kampgeld deur ’n konsert aan te bied en verkopings te hou. Ouers het beskuit, droë ribbetjies, biltong en allerhande soorte kos geskenk wat in kiste verpak was, om saam te neem. Op Port Elizabeth het die Voortrekkers oorgeklim op ’n klein “pop-treintjie” wat hulle oor Humansdorp na Jeffreysbaai moes vervoer. Die treintjie het dikwels teen die berghange gaan staan. Die treinrit tussen Port Elizabeth en Jeffreysbaai het destyds ses ure geneem. Tydens die kamp was Die Voortrekkers ingedeel in kookspanne wat vir die hele kamp moes kos voorberei. Die kampprogram het bestaan uit swem, konsert vir die vakansiegangers en baie pret en speletjies.

Die grondslag van spanwerk

Japie Heese het as volg sy spanbeplanning vir 1928 en 1929 verduidelik:

“Ons kom eenmaal per week bymekaar. Ons wil graag hê ons kinders moet liggaamlik gesond wees. Daarom moedig ons soveel as moontlik aan om aan ’n skoolsport deel te neem. Waar daar Voortrekkertjies is wat nie aan sport deelneem nie, moet ons vir hulle die geleentheid skep om aan sport deel te neem. Ons moedig sport aan want ons wil sterk en gesonde Voortrekkertjies hê. Ons probeer by ons kinders liefde vir God en godsdiens opwek. Ons eerbiedig dit. Dit speel ’n groot rol in ons beweging. Ons kinders moet ook moreel sterk en gesond opgroei. Elke voortrekkertjie moet aan ’n Sondagskool of een of ander godsdienstige vereniging behoort. Ons wil hê ons kinders moet hul plig teenoor hulle medemens besef. Daarom leer ons hulle om hul naaste te dien. Ons leer hulle ook basiese burgerkunde. Ons wil dit aan hulle meedeel deur praatjies, maar meer nog deur die praktiese toepassing daarvan. Ons volg die speelmetode bv. skynverkiesings, skynverhoor, skynparlement. Ons wil hê hulle moet elkeen ’n stokperdjie hê van opvoedkundige aard. Die kind moet die aardrykskunde en geskiedenis van sy onmiddellike omgewing ken. Ons wil sy sintuie ontwikkel. Die Voortrekkers wil die kind ontwikkel op sosiale en intellektuele, sowel as op godsdienstige en sportgebied.

Wanneer u dan ons program van werksaamhede nagaan, vind u daar:

Gesellige samekomste. Die kinders het hiervoor hulle eie bestuur gekies. Die stel dan ’n program op. Sterk nadruk word op sang en musiek gelê. Liedjies wat om die kampvuur gesing kan word, word hier geleer en geoefen.

Dan vind daar lesse in knoopmaak, burgerleer, eerstehulp, gesondheidsleer plaas. Ons besoek fabrieke, plekke van historiese belang, nywerhede en ander besienswaardighede.

Dan het ons uitstappies na die veld. Dan leer ons van die plantegroei, klippe en rigting. Ons maak groot kampvure, sing liedjies en leer ons self help met koskook en sterrekunde.

Ten minste een maal ’n jaar trek ons weg en gaan slaan êrens ’n Voortrekkerkamp op.

Die laaste wat oorbly is voorlesings. Ons vra persone soos tandartse, dokters en ander om praatjies met ons te kom hou. In die somermaande nooi ons die sprekers uit om om die kampvuur met ons te kom gesels.”

Die Voortrekkers het deur dekades op die eerste spanprogram voortgebou. Vandag vorm Japie Heese se spanprogram steeds die grondslag van Voortrekkeraktiwiteite in spanverband.

Voortrekkers drink koffie saam Ds J.H. Venter, Kommendant van Bloemfontein-Noord Kommando - 31 Aug 1959

Voortrekkers drink koffie saam ds JH Venter, Kommandant van Bloemfontein-Noord Kommando – 31 Augustus 1959

’n Eie jeugbeweging

Gedurende 1928 en 1929 het die Scout-raad in Transvaal ’n verbete poging aangewend om Afrikaanse kinders vir die Scouts te werf. Die Voortrekkers het onder leiding van CF Visser maande lank met die Scouts onderhandel en in subkomitees saamgewerk om te kyk of daar nie ’n manier gevind kon word om een gesamentlike jeugvereniging te stig nie. Generaal Hertzog het aanvanklik vanuit politieke oogmerke daarop aangedring dat daar nie twee jeugbewegings mag wees nie, maar dat Afrikanerkinders by die Scouts moes inskakel. Die onderhandeling om ’n gemeenskaplike basis te vind, het telkens gestruikel oor identiteitskwessies soos die erkenning van Afrikaans as amptelike taal, die aandrang dat die Union Jack-vlag die enigste vlag van die beweging moet wees en die belofte van trou aan die Britse koning. Die kernstruikelblok was gelyke erkenning van Afrikanerkultuur en Suid-Afrikaanse simbole teenoor blindelingse lojaliteit aan Brittanje met uitsluitlike erkenning van die Britse kultuur en simbole.

In die eerste drie dekades van die twintigste eeu het groot getalle Afrikaners na die stede getrek. In die stede is Afrikanerkinders gekonfronteer met vreemde waardes, ontwortel van familie en ander ondersteuningstelsels en het hulle vervreem geraak van taal, kultuur en tradisies. As gevolg van die snelle verstedeliking het Afrikaners nie net finansieel nie, maar ook kultureel verarm. Samewerking met die Scouts, waarin daar geen ruimte was vir ’n eie kulturele identiteit nie, sou Afrikanerkinders se kulturele hongersnood verdiep.

Nadat die onderhandelings met die Scouts finaal misluk het, is ’n stigtingskomitee onder voorsitterskap van NJ van der Merwe in die lewe geroep om op nasionale vlak Die Voortrekkers formeel te stig. Hertzog het die stigting goedgekeur en onderneem om die Stigtingskongres by te woon en die eerste Voortrekkers in te lyf.

Die Scout-raad het wel besluit om met ’n “hand van kameraadskap en broederskap” na die beoogde Voortrekkerbeweging uit te reik en hul bereidheid verklaar om Die Voortrekkers te help in belang van die kinders van Suid-Afrika. Die Voortrekkers se stigtingskomitee het met dank die hand van vriendskap aanvaar.

“Leiers, leiers en nogmaals leiers”

Foto 3

Dr NJ van der Merwe

In 1929 was NJ van der Merwe betrokke by die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vanweë Afrikaners se behoefte aan ’n koördinerende kultuurorganisasie. Hy dien ook tot sy dood as die voorsitter van die FAK. Van der Merwe het die behoefte geïdentifiseer aan ’n landswye Afrikanerjeugbeweging wat jong Afrikaners as toekomstige leiers kan ontwikkel vir alle samelewingsterreine. In 1934 skryf hy: “Die belangrikste prioriteit vir Die Voortrekkers is leiers, leiers en nogmaals leiers. Ons moet onthou dat die doel van die Voortrekkerbeweging nie in die eerste plek is om plesier te verskaf nie, maar opvoeding, veral die karaktervorming van ons seuns en ons dogters.”

Hy beskryf die volwasse Voortrekkerleier as volg: “Die leier moet onthou dat hy nie ’n skoolmeester is nie. Hy is ook nie ’n bevelvoerende offisier nie. Hy is ’n vriend van die kinders. Hy inspireer hulle. Hy lei hulle deur die krag van sy persoonlikheid, sy simpatie, sy belangstelling wat hy aan elkeen van hulle afsonderlik betoon.”

Van der Merwe het gesien hoe die verstedeliking en die armoedevraagstuk van die dertigerjare Afrikanerkinders van hul taal en kultuur vervreem. Die arm stadskind het ook nie meer geleenthede gehad om in die natuur te kom nie. Van der Merwe se uitgangspunt was dat ’n Afrikanerjeugbeweging voorsiening moet maak vir kultuurgoedere, maar terselfdertyd jong Afrikaners aan die natuur blootstel deur middel van avontuurlike aktiwiteite. Die balans tussen kultuur, avontuur en natuur sou as basis dien vir Die Voortrekkers se leierskap- en karakterontwikkeling.

Hou Koers!

Op 1 Augustus 1931 het die stigtingskomitee in Pretoria vergader om onder andere te besluit oor ’n geskikte leuse. Die eerste leuse wat op Graaff-Reinet gebruik is, was “Waak en Werk”. Later het dit “Vorentoe” geword en nog later “Padlangs”. Nie een van die leuses was vir die stigtingskomitee geskik nie. Skielik het NJ van der Merwe uitgeroep: “Wat van: Hou Koers!?” Die voorstel is dadelik met groot geesdrif aanvaar. Vandag is die “Hou Koers”-leuse seker een van die bekendste organisasieleuses in Suid-Afrika.

Stigtingsdag

Voortrekkers oorhandig die landsvlag aan generaal Hertzog op 30 September 1931.

Voortrekkers oorhandig die landsvlag aan generaal Hertzog op 30 September 1931.

Op 30 September 1931 word Die Voortrekkers amptelik gestig. Tibbie Visser, die eggenote van NJ van der Merwe wat na sy dood met CF Visser getroud is, onthou die gebeure as volg:

Die vrolike stemming was aansteeklik, hartlik en spontaan in ’n atmosfeer van blye verwagting. Vriende van ver ontmoet, familielede loop mekaar raak, ou kennisse omarm, almal skynbaar innerlik verheug dat dieselfde drang en doel so ’n ontmoeting bewerkstellig het. Voortrekkers is op almal se lippe en die groepie seuns en dogters in Voortrekkeruniform lok gunstige kommentaar uit. Algaande groei ’n emosionele opwelling en kom tot uiting in ’n luide en aanhoudende applous met die aankoms van die twee eregaste, Generaal Hertzog en Mevrou Pres. Steyn – die uur het aangebreek. Hulle het hul plekke ingeneem agter ’n beskeie tafeltjie sonder kleedjie en met niks anders daarop behalwe ’n kort vlagstok met ’n opgerolde vlag daaraan en die voorsitter se hoed nie! Die twee gerieflike, met leer opgestopte leuningstoele vir die twee eregaste was die enigste tikkie weelde. Die rykdom van versierings vir so ’n geskiedkundige geleentheid was geleë in die wonderblou van ons hemel, die glinsterende sonstrale, die historiese bome in ’n historiese omgewing en as agtergrond die argitektoniese Raadsaal. Regs en links van die tafeltjie was Verkenners en Drawwertjies opgestel en daaromheen het die skare gekring in doodse stilte want niemand wou ’n woord mis nie – luidsprekers was toe nog nie in gebruik nie. Die voorsitter, doktor NJ van der Merwe, spreek ’n openingswoord waarin hy ’n kort oorsig van Die Voortrekkers gee en dan stel hy die vraag: ‘Wat is die grondslag van die Beweging?’ Twee dinge sal onverhoord uitgesluit word naamlik partypolitiek en rassehaat.” Daar is nasionale belange wat die volk hegter aanmekaar bind as wat verskeur word deur die verskille van die partypolitiek.

Die naam van Die Voortrekkers skiet wortel in die verlede. Dit staan vir vryheid en godsdienssin, vir reinheid en stoere krag, soos die ware Voortrekkers was. In die nuwe beweging moet die besieling en verheffende invloed van Die Voortrekkers werk en dit maak tot ’n krag en sukses deur die lengte en breedte van die land. Generaal Hertzog het die inlywing van die eerste Voortrekkers waargeneem. Onder die Verkennerdogters was daar ’n dogter van NJ Van der Merwe en van CF Visser. Marie Visser, het later uit die hand van Genl. Hertzog ’n Unievlag, wat op die tafeltjies was, vir die Beweging in ontvangs geneem. In die Drawwertjiesspan was daar ook ’n dogtertjie van NJ van der Merwe. Gedurende die inlywingseremonie was die skare merkbaar aangedaan, trane en nie woorde nie moes die innige blydskap vertolk. Die Generaal se kort boodskap tot die ingelyfde Voortrekkers het diep beïndruk veral toe hy sê: ‘Hierdie Vereniging mag nie ’n mislukking wees nie. As dit ’n mislukking moet wees, dan is ons nou besig om die grootste klap aan die volk van Suid-Afrika te gee wat hom nog ooit toegedien is, want daar sal nooit weer ’n begin van die aard gemaak kan word nie.’

Na die inlywing het die Generaal ’n ronde lapwapen op elke Voortrekker se hoed vasgespeld met ’n haakspeld wat aan die wapen vasgewerk was. ’n Drawwertjie vertel dat sy nog onthou hoe trots hulle op hul hoedwapens was. Nog iets wat sy goed onthou, was dat dit ’n warm voormiddag was en met die lang stanery, wat geduur het van die begin tot die end van die verrigtinge, het twee van die seuns flou geword en die dogters was so bly dat nie een van hulle flou geword het nie. CF Visser het formeel die stigting van ’n Voortrekkerbeweging voorgestel wat deur mevrou EG Jansen gesekondeer is en daarna is oorgegaan tot die verkiesing van die vernaamste leiers vir die Beweging. Doktor NJ van der Merwe is tot hoofleier benoem en mevrou Jansen tot onderleidster, terwyl vier provinsieleiers ook gekies was. Daarmee was die dag se verrigtinge afgesluit.

Inhuldiging van die eerste hoofdagbestuur

Foto 5 Op Saterdag 2 Julie 1933 is die hoofdagbestuur van Die Voortrekkers by die historiese woning van President Steyn, Onze Rust, ingehuldig. Die inhuldiging het plaasgevind onder die olienhoutboom, bekend as die Boom van Sameswering, wat vandag steeds besigtig kan word. Onder die boom is ’n groen bankie waarop die ou President vir baie ure gebid en gedink het. Regs van die boom het die Verkennerdogter van die Hoofleier gestaan met die landsvlag in haar hande. Haar jongste suster, ’n drawwertjie het die Voortrekkervlag vasgehou. Tussen hulle wapperende vlae het die bejaarde JD Kestell gestaan en bewoë gesê: “As Voortrekkers staan ons op ons eie, is ons vry van vreemde invloede en kan ons derhalwe onsself wees.” By dieselfde Boom van Sameswering het Die Voortrekkers in September 1940 die Ere-orde van die Vriend van Die Voortrekkers aan Kestell oorhandig.

Foto 5

Die eerste hoofdagbestuur word by die historiese woning van president Steyn, Onze Rust, ingehuldig.

Die Hou Koers-blad

Foto 6Die gedagte van ’n blad vir Voortrekkeroffisiere het by Japie Heese ontstaan. In 1936 het die eerste Hou Koers as ’n kwartaalblad verskyn met 98 intekenare. Die blad is op wasvelle getik en op Die Nasionale Pers se nuwe Gestetner-masjien afgerol. Vanaf 1939 is die Hou Koers op nasionale vlak versprei. Die gewilde blad het teen 1942 meer as 2000 intekenare gehad.

In 1942 het Die Trektou as ’n jaarblad van Die Voortrekkers verskyn. As gevolg van die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n papierskaarste en het die jaarblad net een keer verskyn.

1938-Fakkellope

Ter viering van die Groot Trek se Eeufeesherdenking reël Die Voortrekkers oor 16 Desember ’n nasionale kamp vir 3000 Voortrekkers op die terrein waar die Voortrekkermonument opgerig gaan word. Die Voortrekkers sou ook deelneem aan die verrigtinge vir die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. In aanloop tot die gebeure is ’n landswye fakkelloop beplan. Uiteindelik word besluit op twee roetes, een uit Kaapstad op 30 November 1938 en die ander uit Dingaanstat op 7 Desember 1938. Op 14 Desember sluit hierdie twee roetes by mekaar aan op Vereeniging vanwaar die twee fakkels saam gedra word om op 14 Desember 1938 by Monumentkoppie in Pretoria aan te kom. Die volgende reëls is neergelê vir die Fakkellope:

• Die fakkel mag nie langer as vyf minute op een plek vertraag word nie.
• Slegs diensdoenende Voortrekkers in uniform mag die fakkel dra.
• Die fakkel word gedra vir een myl per draer. Sou daar meer deelnemers wees, kan korter afstande gedra word.
• Elke fakkeldraer kry 13 tot 15 minute om ’n myl te voltooi.
• Met elke oorgee sal die wagwoord Hou Koers! van een fakkeldraer na ’n volgende oorgedra word.
• Voorkeur moet verleen word aan Voortrekkers wat nie die nasionale laerkamp meemaak nie.
• Die fakkel word dag en nag in mooi en stormweer gedra, maar nie op Sondae nie. Dan moet dit brandend gehou word tot dit weer verder gedra word op die dorp waar die fakkel dan is.

Fakkelloop 2

Vader Visser met die fakkel

Die fakkel is gemaak van koper en kiaathout. Dit het 8 pond geweeg as die fakkel vol is en was 25 duim hoog. Die fakkel kon 4 uur lank brand. Wind sou nie die fakkel blus nie, inteendeel dit het die fakkel helderder laat brand. Teen reën was die fakkel egter nie bestand nie. Fakkeldraers is aanbeveel om 40 treë met die fakkel in die regterhand te hardloop en dan 40 treë met die fakkel in die linkerhand te stap. Die fakkel moes ongeveer skouerhoogte gehou word en nie naby die lyf nie.

Tydens die wegspring in Kaapstad het AJ van der Merwe, leraar van die Groote Kerk gebid: “Here, onse God, ons wil U eer by hierdie geleentheid as die God van wie die Evangelie getuig: God is die lig en geen duisternis is in Hom nie. Mag daardie brandende fakkel vir ons nie alleen die simbool wees van grootse verlede nie, maar mag dit vir oud en jonk ’n aansporing wees tot ’n nuwe toewyding aan die ideale van die voorgeslagte en ’n kragtige spoorslag om te glo en te wandel in die lig wat oor ons opgegaan het”.

NJ van der Merwe het tydens die openingsrede gesê: “Die fakkel vertolk die geestelike doel van die Groot Trek. Hier in Kaapstad, aan die suidelike drempel van donker Afrika, het ons voorvaders met die lig van die Christelike beskouing aan wal gestap. Die Voortrekkers het met hierdie lig die binneland diep ingedring en die roeping op ons gelê om die fakkel brandende te hou en dit van geslag tot geslag te oorhandig.” “Hou hoog die fakkel en Hou Koers!” het die leier van Die Voortrekkers onder luide toejuiging uitgeroep.

Elizma Smit wat uitstekende navorsing oor die Fakkellope in Kaapland gedoen het, vertel die volgende staaltjies:

Foto 8

30 November 1938: 09:00 nm. Die Fakkelloop begin by die Van Riebeeck-standbeeld.

Kaapstad
By die vertrek van die eerste draers het die skare gedreig om handuit te ruk van entoesiasme om die draers agterna te sit en het die polisie ’n kordon om die voorpunt van Die Voortrekkers gevorm om die situasie te beheer.

Woltemade
Hier het die fakkel begin kwyn omdat die brandstof uitgeput geraak het. Skertsend is deur ’n toeskouer verwys na die vyf dwase maagde van die Bybel. Binne enkele minute is egter brandstof
bekom. Die “ingooier” is deur omstanders gewaarsku vir sy baard en het geantwoord. “’n Voortrekker se baard is brandvry en sal nooit vlamvat nie”. Die fakkel was weer op pad.

Goodwood
Hier het die stroom van motors agter die fakkeldraer reeds albei kante van Voortrekkerweg in beslag geneem en kon geen voertuig deurgaan van Bellville na Kaapstad toe nie. Geen botsings is egter gerapporteer nie.

Paarl
Paarl-kommando het die fakkel in vroeë ure by Klapmuts oorgeneem van Stellenbosch-kommando. Die aansteek van ’n groot vuur op Paarlberg het die oorgee aangekondig.

Worcester
Blinde Voortrekkers neem ook deel as draers. Aangrypende tonele speel af van maats wat help om die fakkel te dra.

De Doorns
’n Lint is oor die straat gespan wat met aankoms deur die fakkelvlam middeldeur gebrand is. Die straat is Voortrekkerstraat gedoop.

Ceres
Ongeveer 155 myl van Ceres af, by Kruidfontein, het hulle die fakkel oorgeneem en dit 55 myl ver gedra tot in Beaufort-Wes. Dit is die verste dra-afstand van enige kommando in Kaapland. Tydens hierdie kommando se diensure op Saterdag 3 Desember, het Voortrekkerleiers, PJA de Vos en Ben Taute ook elkeen ’n myl met die fakkel gedraf. ’n Monument is op Kruidfontein deur Ceres Voortrekkers opgerig. PJA Vos en professor B Taute het die onthulling van hierdie monumentjie op Vrydag, 2 Desember, bygewoon.

Beaufort-Wes
Hier is die Saterdag ’n groot fees gehou. Mevrou Anna Steyn, onderleidster van Kaapland, was hier
teenwoordig. Die fakkel het die Sondag hier oorgestaan. Op die roete na Aberdeen het mevrou Steyn ook die fakkel gedra. ’n Gesamentlike monument is opgerig deur die kommando’s van Beaufort-Wes en Willowmore.

Die oorgee aan die Vrystaat
Om middernag van 7/8 Desember 1938 word die fakkel by die Oranjerivierbrug aan Vrystaat Voortrekkers oorgegee deur die laaste Kaapland-kommando, Upington. Kommandant DM Pretorius het die fakkel gedra en sy seuntjie Keet, die dagboek. Teenwoordig by hierdie oorhandiging was die provinsieleier en onderleidster van die Vrystaat doktor CF Visser, mevrou JE van der Merwe, meneer SH Pellisier, advokaat CR Swart en meneer JJ Serfontein (LV vir Boshof). Verskeie seremoniefakkels is aangesteek wat die toneel verlig het. Meneer Serfontein wens Kaapland geluk met hul prestasie en doktor Visser ontvang die fakkel met die volgende woorde: “Die fakkel is ’n kultuurskat. Dit sal die Afrikaner wat deur God geroepe is om ’n rol in hierdie land te speel, steeds daaraan herinner dat daar volkswerk is om voort te sit. Op my beurt, Kaapland, wens ek julle geluk met die pad wat agter lê.” Doktor Visser met die fakkel en mevrou Van der Merwe met die dagboek steek die brug oor na die Vrystaat. Die seremoniefakkels is oor die brug in die Oranjerivier gegooi. In die skielike duister het die lig van die fakkel op pad in die Vrystaat helder geskyn.

Die Eeufeesvlam bereik Pretoria na sy laaste skof.

Die Eeufeesvlam bereik Pretoria na sy laaste skof.

’n Eie rolprentburo

Na afloop van die 1938-Eeufeesvieringe het Die Voortrekkers ’n rolprent oor die gebeure vervaardig, naamlik: ’n Nasie Hou Koers. ’n Bedrag van R1500 is aan Hans Rompel geleen om die film te vervaardig. ’n Chevrolet-bus met die naam, “Oubaas” het die filmspan oral in die land rondkarwei om ’n Nasie Hou Koers te vertoon. Die vertoning van ’n Nasie Hou Koers het aan die einde van 1941 tot ’n einde gekom en die oorspronklike film is aan die Nasionale Filmraad oorhandig vir veilige bewaring. Die rolprent was so ’n sukses dat Die Voortrekkers ook die volgende films vervaardig het (sommige daarvan as voorprente van ander films):

•    Die Ruimtes Roep – ’n NaweekkampFoto 7
    Die Begrafnis van Dr. N.J. van der Merwe
•    Oorhandiging van Ere-Ordes op Onze Rust
•    Op Reis deur Ons Land; Natuurtonele
•    Hul Goeie Daad; Grappig
•    Uniale Kongres 1941, Skukuza
•    Tant Bella; Grappig, en speel af op ’n plaas en by die see
•    Fratse op Fietse
•    Inlywing van Staatmakers; verfilm op Stellenbosch
•    Die Hugenotemuseum
•    Die Geskiedenis van ons blad Hou Koers
•    Die Voortrekkers van Vandag en More

Vestig ’n voetspoor in Suider-Afrika

Eerste Handboekie van Die Voortrekkers

Voortrekkerleiers moes vinnig  literatuur ontwikkel  om te voldoen aan die behoeftes van die vinnig groeiende organisasie. Die entoesiasme was so oorweldigend dat NJ van der Merwe gewaarsku het: “Ons is eintlik bang vir ’n te grote geesdrif, want op sommige plekke wil kinders sommer ’n massabeweging op tou sit en in hulle honderde aansluit. ’n Beweging soos hierdie wat in die lengte van dae in Suid-Afrika moet bestaan, moenie in haas gestig word nie.” Teen 1940 het Die Voortrekkers volhoubare gemeenskapstrukture tot stand gebring.

Vrystaat

Op die stigtingskongres is CF Visser as die eerste provinsieleier gekies. Die eerste registrasie van ’n veldkornetskap was Hoërskool Sentraal, die eerste kommando was Lindley en die eerste offisier was JM Buys (wat langs NJ van der Merwe op Doornkloof Voortrekkerplaas begrawe is). Buys was provinsiesekretaris, totdat hy CF Visser as provinsieleier opgevolg het.
Van die eerste projekte was die stig van ’n leiersklas vir studente. Die leiersklas het bestaan uit tien lesings. Die klas was ’n sukses, maar nie veel studente wou dit bywoon nie. Dit is opgevolg met ’n suksesvolle leierskamp by Glen. Teen 1936 was die getal Vrystaatse Voortrekkers oor die 3000 lede. Verskeie groot kampe is gehou, asook ’n strandkamp in Natal.

Kaapland

B Taute is as die eerste provinsieleier van Kaapland verkies. In 1933 is PJA Vos (oom Vossie) as die provinsiesekretaris verkies. Waar Die Voortrekkers aanvanklik mekaar aangespreek het as meneer en mevrou, het Kaapland met die tradisie begin om mekaar as neef en nig aan te spreek. Dit is ’n tradisie wat vandag nog voortbestaan en teruggevoer kan word na die stigtingsjare.
Tydens die eeufeesjaar het Kaapland leiding geneem met die landswye fakkellope. Die beroemde fakkel is deur oom Vossie ontwerp en deur TO Honiball gemaak. Teen 1935 was daar 49 kommando’s met 4000 lede. Teen 1940 het die getal gestyg tot 118 Voortrekkerkommando’s.

Transvaal

“Met die stigting van Die Voortrekkers het ons gedink: Ons sal probeer om koers te hou.! Na ’n paar jaar kon ons sê ons dink ons Hou Koers en nou na tien jaar sê ons met groot sekerheid: Ons weet ons Hou Koers.” Dit was die woorde van die eerste Transvaalse gebiedsleier, JH Greijbe, tydens die tienjarige herdenking van Die Voortrekkers se bestaan. Die latere hoofleier, Badie Badenhorst, was die eerste provinsiesekretaris.

Transvaal het in die eerste tien jaar talle prestasies behaal, soos die verkoop van die 1938-Huisgenoot-gedenkuitgawe, die reëlings van die hoogtepunt van die Fakkelloop by die Voortrekkermonument en die reël van die Nasionale kongres in Skukuza. Die eerste Transvaalse gebiedskamp het in 1935 plaasgevind in Lourenço Marques, Mosambiek. Teen 1941 kon Transvaal spog met 767 offisiere en 9000 lede.

Natal

Mabel Jansen, wat ook die Adjunkhoofleier van Die Voortrekkers was, is in 1931 verkies as die provinsieleidster en Hansie Hugo as provinsiesekretaris. Natal het in 1933 ’n eerste leierskamp in Amanzimtoti aangebied. Teen 1941 het Natal 15 kommando’s gehad met net oor ’n 1000 geregistreerde lede.

Suidwes-Afrika (Namibië)

Teen die einde van 1931 het die Afrikanerkring, ’n kultuurorganisasie, vir die eerste keer die moontlikheid bespreek om Voortrekkers in Suidwes te stig. Die stigtingsvergadering het in Februarie 1934 in Windhoek plaasgevind.

Op Stamprietfontein het Die Voortrekkers versoek of hulle eerder velbroeke en velhoede mag dra weens die groot armoede in die distrik. Die Hoofbestuur het die versoek toegestaan. Die Voortrekkers is in Suidwes gevestig deur volwasse opleiding, groepspele en die aanbied van leiersklasse. Teen 1938 was daar 13 Voortrekkerkommando’s met 28 veldkornetskappe, 90 offisiere en 870 Voortrekkers.

Rhodesië

In 1938 het die Afrikaanse Hulp- en Vriendskapsverbond vir seuns en die Rhodesiese Christelike Vrouevereniging ’n gesamentlike kommissie aangestel om ’n vereniging vir Afrikanerjeug te stig. Die kommissie het aanbeveel dat Die Voortrekkers in Rhodesië gestig moet word. Die Ring van Bulawayo het besluit dat Die Voortrekkers onder beskerming van die NG Kerk in Noord- en Suid-Rhodesië sou funksioneer. Die kerk sou ook leiding neem om Voortrekkerkommando’s te stig en geskikte Voortrekkeroffisiere te vind.

In 1939 het JM Buys, die provinsiesekretaris van die Vrystaat, die eerste jeug- en volwasse lede ingelyf. Die Britse goewerneur-generaal het geweier om as beskermheer van Die Voortrekkers in Rhodesië op te tree. Die Voortrekkers moes ook doeanebelasting op Voortrekkerdrag betaal. Ten spyte van die terugslae het die Voortrekkers stadig maar seker gegroei.

Doornkloof Voortrekkerplaas, Vrystaat

Een van die hoogtepunte van die vestigingsjare is die aankoop van die kerkvader van Die Voortrekkers, Sarel Cilliers, se plaas Doornkloof. Sarel Cilliers sterf op 4 Oktober 1871 en word op die plaas, Doornkloof, begrawe. Na die dood van Cilliers se seun Pieter Cilliers, erf Cornelius Cilliers in 1927 die ou opstal en 236,5 hektaar van Doornkloof. Hy kon egter nie ekonomies op die plaas boer nie en sit die plaas in 1939 in die mark.

Foto 10

Doornkloof se opstal teen 1939. Die landerye tussen die ou huis en die skaapkraal waar die huidige vlagsaal en kamers gebou is, is duidelik sigbaar.

Advokaat CR Swart rapporteer op 11 Mei 1939 by ’n Provinsiebestuursvergadering dat Doornkloof te koop is. Op 1 September 1939 koop die Vrystaatse Voortrekkers die plaas Doornkloof vir R3 312.00. Op 18 Mei 1940 word die eerste Provinsiebestuursvergadering op Doornkloof gehou.

Die Sarel Cilliers-kakebeenwa wat tydens die 1938-Eeufeesviering gebruik was, word op 14 Augustus 1945 vir veilige bewaring aan Doornkloof geskenk. Die wa kan vandag nog besigtig word in Doornkloof se Voortrekkermuseum.

Foto 10A

Die eerste provinsiekampe vind in September 1948 op Doornkloof plaas. Met die formele inbesitname van die plaas het Hoofleier CF Visser gesê: “In die naam van Die Voortrekkerbeweging so wyd as wat ons land wyd is en wyer, en in die versekering dat ons daarby die seën van die Allerhoogste geniet, verklaar ek dat ons die inbesitname van hierdie gewyde grond waar die oorskot van die groot Voortrekkerleier Sarel Cilliers rus, aanvaar, dit in stand gaan hou en dit ’n plek van samekoms vir Die Voortrekkers en die volk gaan word, waar ons saam gaan beraadslaag en saam besieling sal vind uit die groot geskiedenis van die Afrikanervolk. Ons hoop dat God ons die krag sal gee om die verpligting wat ons aanvaar na te kom.” Die waarde van ’n eie plek kan nooit oorskat word nie. Geslagte Vrystaatse Voortrekkers het op Doornkloof gekamp en het ’n hegte band met die besondere plaas ontwikkel.

Dr. NJ van der Merwe-studiefonds

Saterdagaand 10 Augustus 1940 het Die Voortrekkers na slegs een jaar die 285ste vertoning van ’n Nasie Hou Koers feestelik op Steynsrus in die Vrystaat gevier. Die rolprent was finansieel en andersins ’n reusesukses wat landswyd groot skares getrek het. In ’n jaar is die vertoning van die rolprent deur meer as 50 000 mense bygewoon. NJ van der Merwe sou as feesredenaar optree, maar is die middag in die Bloemfonteinse hospitaal opgeneem. Die volgende dag sou Die Voortrekkers die verpletterende nuus verneem dat hy oorlede is.

Op Taaldag, 14 Augustus 1940, het Die Voortrekkers hul eerste Hoofleier begrawe. Dit was een van die grootste begrafnisse nog in Bloemfontein. Op 10 Desember 1942 word NJ van der Merwe in die leiersbegraafplaas op Doornkloof herbegrawe.

NJ vd Merwe begrafnis_Foto 2NJ vd Merwe begrafnis_Foto 1NJ vd Merwe begrafnis_Foto 3

DF Malan het hom beskryf as ’n “volksman en volksleier”. In die parlement het die Eerste Minister, Generaal Smuts, hulde betoon deur sy Voortrekkernalatenskap te beskryf as: “hy het talle en talle van ons Afrikanerjeug wat andersins verstoke gebly het van die voordele van Die Voortrekkerbeweging, in staat gestel om daarin te deel.” JD Kestell skryf: “Buitengewoon veelsydig was hy en daarby het hy gevoeg sy gedurige strewe na wat hoog en edel en goed was. Geen bybedoelinge was daar in sy optrede nie. Hy het reg deur die see gegaan, reëlreg op sy doel af.”

Die Voortrekkers wou Van der Merwe se nagedagtenis eer deur die stig van die “Dr. NJ van der Merwe-studiefonds.” Die motivering was dat “NJ graag sou wou gesien het dat ons sal dink aan die kinders deur iets te doen vir kinders. Deur die instelling van die fonds huldig ons sy nagedagtenis en hoop ons om baie kinders met hulle opvoeding te kan help.” Die Hoofbestuur het jaarliks ’n studiebeurs van £50 aan Voortrekkers toegeken. Die eerste ontvanger van die beurs was Elsa van der Merwe, dogter van wyle NJ van der Merwe.

Die Hoofbestuur het in 2014 op die nalatenskap voortgebou deur ’n NJ van der Merwe-boekfonds in die lewe te roep as ’n fonds van hoop. Met die fonds wil Die Voortrekkers steeds in die goeie opleiding van Afrikanerkinders belê.

Waarde van kultuurfeeste

Vader VisserIn 1940 word CF Visser as die tweede Hoofleier verkies. Hy moes leiding neem in die moeilike jare van die Ossewabrandwag se verset teen Suid-Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Die goewerneur-generaal het Die Voortrekkers se dril- en paradewerk verbied uit vrees vir ’n jeugopstand in die oorlogsjare.

Voortrekkers was onder Visser se leiding aktief betrokke by die inhuldiging van vele monumente en ander kulturele bakens. Die Hoofbestuur versoek elke Voortrekkerkommando om vir elke 100 Voortrekkers 5 sjielings by te dra om die Kruger-standbeeld vanaf Pretoria-stasie na Kerkplein te skuif. Die standbeeld is in 1954 geskuif.

Kruger

Paul Kruger-standbeeld word per vragmotor vanaf Pretoria-stasie na Kerkplein vervoer.

In 1949 word die Voortrekkermonument in Pretoria voltooi en feestelik ingewy. Meer as 3000 Voortrekkers het op Monumentkoppie gekamp. Die Voortrekkers was verantwoordelik vir die vlagseremonies, kampvuuraansteek-seremonies, die oorbring van die fakkelvlam vanaf die Universiteit van Pretoria na die Monument waar die vlam vandag nog in die senotaafsaal brand, erewagte, die aansteek van vreugdevure en die fakkeloptog. Ses Voortrekkerseuns en -dogters het die deure van die Monument oopgestoot. Piet Geyer, wat as tienjarige seun heel voor staan, was een van die ses.

Foto 15

Foto 16Foto 17Foto 18

Meer as 2700 Voortrekkers het tydens die Van Riebeeck-fees in Kaapstad gekamp. Die Voortrekkers is wyd en syd geloof vir hul diensbaarheid tydens die fees.

Foto 19

Voortrekkers het met 2000 fakkels ‘n optog in Kaapstad gehou tydens die Van Riebeeckfees in 1952.

In 1952 het Die Voortrekkers hulle mondigwording as beweging luisterryk gevier. Eerste Minister, DF Malan was die gasspreker tydens die geleentheid.

Foto 20A

DF Malan les die Hou Koers-blad tydens Die Voortrekkers se mondigwording. Langs hom sit CF en Tibbie Visser.

Deur betrokkenheid by kultuurfeeste, die oprigting van monumente en bewaring van Afrikaners se historiese erfenis, het Die Voortrekkers nie net ’n historiese bewussyn by hul lede geskep nie, maar ook in sigbaarheid en getalle gegroei.

Voortrekkersang

Foto 21 In die voorwoord van die 1981-Sangbundel staan: “Sang is net so deel van Voortrekkerwees as wat sonlig deel is van Suid-Afrika.” Die heel eerste Voortrekkersangbundel het in Junie 1948 verskyn. Die sangbundel is saamgestel deur eie liedere wat deur Voortrekkers geskryf was, maar ook uit liedere wat in die FAK-Sangbundel verskyn het. Die gewildheid van die eerste sangbundel word gesien in die 25 000 sangbundels wat met verskillende herdrukke verkoop is. Die Voortrekkers het eers met die hersiening van die Sangbundel in 1965 toestemming gekry om van die Psalms en Gesange te publiseer wat hulle graag wou gebruik. Verskeie Afrikaner- en Voortrekkerliedere het uit die pen van CF Visser verskyn, byvoorbeeld: “Die Trekkers” (wat in die FAK-sangbundel opgeneem is); “Liefdesliedjie”; “Kom maats kom”; “Voortrekkereer”; “Ken jy die land waar die boerevolk woon?”; “Land van die Vaders” (ook bekend as “Dierbaar Suid-Afrika”).

Bennie Badenhorst het ook ’n belangrike bydrae gelewer met die ontwikkeling van ’n eie liedereskat. Hy het talle liedere geskryf wat vandag nog steeds deur Voortrekkers gesing word. Van sy bekendste werke is: “Voortrekkers stoere voorgeslag”; “Nimmer gaan ’n nasie onder” (die tweede en derde verse); asook “Sawens om die vuurtjie”.

Vader Visser het ’n lied geskryf wat die gees en dryfkrag van die era die beste beskryf:

Ons bou vir die toekoms. Ons bou volgens plan.
Ons bou met ons dade so al wat ons kan.
Daarom die juigtoon, daarom die lag.
Daarom die hoop op ons trekkergeslag.

Ontwikkeling van ’n Voortrekkerdepot

Die daarstel van ’n eenvormige Voortrekkerdrag was een van die grootste prioriteite na die stigting. Die Uniform-Taakgroep (tans Voortrekkerdrag-taakgroep) wat in 1933 gestig is, is tot op datum die oudste taakgroep in Die Voortrekkers.

Die eerste Voortrekkeruniforms is deur die firmas Fletcher en Cartwright in Kaapstad, Rautenbachs in Kroonstad en Uniewinkels in Pretoria verskaf. Tydens die materiaalskaarste as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog, het die Voortrekkers die patroon van die uniforms verskaf, terwyl Voortrekkerkommando’s self die uniforms moes maak.

Gedurende 1948 is aan die Hoofbestuur gerapporteer hoe uiteenlopend die selfgemaakte Voortrekkeruniforms was en hoe min Voortrekkers wel Voortrekkerdrag besit het. Die Hoofbestuur het besluit dat die Voortrekkers eie verantwoordelikheid moet neem om drag aan sy lede te verskaf. Teen 1951 het Die Voortrekkers hul eie depot begin. Transvaal moes verantwoordelikheid neem vir die verskaffing van die uniforms en Kaapland vir die drukwerk. Die latere Hoofleier JFP (Badie) Badenhorst het uit sy huis en buitegeboue die eerste Voortrekkerdepot begin. In die eerste jaar het hy £6 994 se Voortrekkerdrag verkoop. Met tyd het die verskaffing van Voortrekkerdrag gegroei tot ’n voltydse onderneming.

Volwasse opleiding

Foto 22Na die uittrede van Visser in 1959 word Japie Heese, wat sedert die stigting van Die Voortrekkers die hoofsekretaris was, die nuwe Hoofleier. Oom Japie soos hy bekend was, het veral ’n passie gehad vir die opleiding van volwasse lede.

Kort na die stigting van Die Voortrekkers het NJ van der Merwe die noodsaaklikheid van volwasse opleiding beklemtoon: “Ons kan nie sommer enige persoon wat hom aanmeld as offisier aanstel nie. Die persoon moet opleiding kry deur self te lees en uit ondervinding te leer. Veral moet dit ’n persoon wees in wie die kinders se ouers genoeg vertroue het. Die kinders moet by hom leer en saam met hom uitgaan.”

Die eerste leierskamp vir volwassenes is reeds in 1933 by Heidelberg-kloof aangebied. In 1961 word die eerste Meesterleierkursus vir Voortrekkeroffisiere onder leiding van Japie Heese by Hartbeespoortdam aangebied om die standaard van volwasse opleiding te verhoog. Voortvloeiend uit die kursus is die Rooi Handleiding vir Voortrekkeroffisiere saamgestel en opleidingskursusse gestandaardiseer.

Kort na die aanvaarding van die nuwe grondwet in 1974 het die Hoofbestuur ’n vierfase-opleidingsplan vir Voortrekkeroffisiere goedgekeur. Kursus 1 (Intree) en Kursus 2 (Spanhantering) het in 1980 in aanvang geneem. Die twee basiese opleidingskursusse is oor tyd aangevul deur talle verrykingskursusse.

Johan van der Walt wat in 1979 Piet Geyer as die Vrystaatse gebiedsleier opgevolg het, het ’n reusebydrae gelewer in die ontwikkeling en afronding van Kursus 3 (Voortrekkerbestuur) en Kursus 4 (Leierskursus). Hy het ook leiding geneem om die wyse van die aanbieding van Kursus 4 te ontwikkel in die werkswinkel-/seminaarmetode.

Die betekenis van Voortrekkerwees

Die betekenis van Voortrekkers kan nie anders gemeet word as die waarde wat dit tot jongmense se lewens toevoeg nie. Twee penkoppe, oudpresident FW de Klerk en regisseur Carl Theunissen, van KykNET, beskryf wat Voortrekkers in die tydperk vir hulle beteken het.

President FW de Klerk

“Ek was regdeur my laerskoolloopbaan ’n lid van Die Voortrekkers. In my hoërskool was daar nie ’n Voortrekkerkommando nie, en ek het leiding geneem om een te stig. My Voortrekkeroffisier was Hans Kruger, wat ook ’n onderwyser was by die plaaslike skool. Van my mooiste Voortrekkerherinneringe was die opening van Die Voortrekkermonument in 1949 toe ek as jong penkop in my Voortrekkerdrag die geleentheid saam met my ouers bygewoon het. Ek het net die hoogste waardering vir Die Voortrekkers se vormende invloed op my lewe. In Die Voortrekkers het ek as jong seun baie vaardighede geleer. Die een waarde wat ek baie spesifiek van kleins af by Die Voortrekkers geleer het, is die waarde van ’n span. Spanwerk is een van die belangrikste grondslae van suksesvolle leierskap. Om deel van ’n span te wees en deur middel van spanwerk en spanleierskap gemeenskaplike doelwitte te bereik, is een van die belangrikste waardes wat Die Voortrekkers jongmense leer. Die grondslag en beginsels van spanwerk het ek by Die Voortrekkers geleer en kon ek in my latere loopbaan die goeie vrugte daarvan pluk.”

Carl Theunissen, ’n Penkop van Brakpan: 1955–1960

“Ek was vanaf 1955 tot 1960 op Kommando Laerskool in Brakpan. Ons skool se leuse was: “Kennis bring lig”. Die lig-motief groei steeds in my. Die skool was die eerste skool op Brakpan en geleë na aan die middel van die dorp. Die mense wat in daardie omgewing gebly het, was ’n deursnit van al die lae van ons gemeenskap: Myners, vakmanne, winkeliers, dokters, polisiemanne, onderwysers, prokureurs, … almal, ketelmakers, … Almal se kinders was almal se maats.

Daar het ek vroeg geleer dat daar nie iets soos klasseverskil is nie, eerder wie bring sy kant of nie.

In my penkopdae het ons program min of meer so gelyk:

Ken jou dorp
Ons het letterlik die middedorp waar ons gebly het van hoek tot kant deurgeloop om al die plekke en straatname te ken. Sodat jy nie sal verdwaal nie en paraat sal wees.

Vandag verstaan ek hoe belangrik dit is om rigting te gee.

Spoorsny
Elke lid van die span het ’n beurt gekry om ’n spoor te lê en die ander moes dit dan sny. Die spoorlêer het met pyltjies – wat vorentoe, links, regs, agtertoe, op en af gewys het – ’n rigting na ’n doelwit uitgelê. Ons moes dit vind. Die spore is op sekere afstande gemaak. Die teken is gewoonlik op ’n plek of iets besonders aangebring. Wanneer ons dan die einddoel bereik het, het ons die roete bespreek. ’n Roete sou by ’n kragpaal, ’n transformator, ’n elektriese draad verby gaan tot by die kliniek.

So het ons bv. die waarde van elektriese krag vir ’n kliniek bespreek.

Samesang
Ons het altyd in stemme gesing; liedere soos “Ek groet vir laas my gryse berge”, “Waarom nie vrolik”, “Die Vlaglied”, “Die Stem”, “My tuisland se woude”, “Kampvuur brand nou”, “Troue kameraad” en talle gewone ander Afrikaanse liedjies uit die FAK Sangbundel.

Vandag weet ek dit het oor die harmonie van saamwerk gegaan.

Bybelvasvra
Ons het baie keer op ’n busrit, langs die kampvuur, selfs wanneer ons groente geskil het Bybelvasvra gehou, want dit was ook die boek wat die meeste van ons geken het.

Die waarde van wie, wat, wanneer, waar, hoe.

Voortrekkerkampe
Ons het o.a. by Badplaas, Warmbad, Carolina en Suikerbosrant ons kampe gehou. Dit was ’n vrolike affêre. Ons het met ’n oopbak-vragmotor gery. Die bak-ryery was deel van die pret. By die kampplekke moes ons die tente opslaan, vuurmaak- en kosmaakplekke maak en soms ook ablusie-geriewe inrig. Ons kampe het uit talle speletjies bestaan. Elk met sy eie taak en doel. Die belangrikste was om die tentpale en tentpenne reg in te slaan. As die tent na ’n paar dae skeef gehang het, was daardie tentopslaners in ’n slegte lig.

Kampvuurkonserte
Hier is daar voordragte gelewer, klein storie-opvoerings en lakenkonserte. Vir ’n lakenkonsert het ons ’n groot vuur gemaak en dan ’n ent voor die vuur ’n laken gespan. Dan het die toneelspelers tussen die vuur en die laken opgetree. Ons het aan die duskant van die laken gesit en dan ’n skaduspel gesien. Jy moes ook raai wie se skaduwee is wie s’n. Dit het my aan kunswedstryde laat deelneem. Dalk selfs ’n voorloper vir my loopbaankeuse.

Ken jou instellings
Ons het besoek afgelê by die biblioteek, polisiekantoor, kliniek, mark, verkeersafdeling se padteken-park, ens. Hier het ’n beampte ons dan die betekenis van elke diens geleer. Die biblioteek was my hoogtepunt.

Hoe hou dit verband met wat jy in die boek gelees het met ’n ander een?

Roei
Dit was ’n uitdaging om al die damme van Germiston tot by Springs te roei (Germiston, Boksburg, Benoni, Springs). Die penkoppe wat dit reggekry het, was getel onder “die Manne van die Panne”.

Fietsry
Ons het baie fiets gery. Soms voorop ’n ander een se fiets. Dit het vir my altyd die gevoel van vryheid gegee.

Toutrek
Ons het dit as span teen ander spanne gedoen. Die kompetisiegevoel, wen of verloor, was die groot ding. En dit was goedkoop en maklik om te reël.

Ken jou mynhope
Myne was die slagaar van ons gemeenskap. Treine, trokke, paaie, duikweë en staalfabrieke was ons wêreld. Dit het werksgeleenthede beteken. Ons was baie bewus van die wêreld van myne. Dat dit die hartklop van ons land se ekonomie was. En dit is waar ons gebly het! (Staatsmyne, Sallies, die Bul van Boksburg ens.) Daarom dat Koos du Plessis se “Molberge” vir my so ’n groot betekenis het.
Ook dat jy jou wêreld op baie maniere kan vertolk.

Maak jou eie eetgerei
Ons het dikwels in die veld ’n stukkie wors gaan braai. Dan moes jy uit hout of takkies vir jou ’n mes, vurk en braaivurk maak. Die braaivurk moes altyd van groenhout wees sodat dit nie in die vlamme aan die brand slaan nie.

Foto 24Ons het dikwels rou aartappels in die grond begrawe waarop ons die vuur gemaak het.

Teen die tyd dat die vuur/kole reg was, was die aartappels halfgaar. Net reg om saam met botter en sout te eet.

Selfsorg was die ding wat ons so geleer het.

Lewensvaardighede en tegnieke
Ons het klas gekry in noodhulp, padgebruik/-tekens, dieremishandeling en fietsherstel. Ons is selfs aangemoedig om tuinwerk teen ’n klein vergoeding te doen om ons te leer beloning kom slegs deur harde werk. Ons Voortrekkeroffisier het altyd gesê: “Dit is net vergoeding. Prestasie is as jy jouself kan vergoed”.

Uitstappies
Ons het soms per trein na ’n buurdorp toe gery om sommer net die dorp te verken.

Dit was soos om oor verre grense te gaan.

Ken die Voortrekkers
Ons offisiere het ons vertel van Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter. Veral kinderhelde.

Ons het so die eienskappe van helde en heldedae geleer.

Dit is in kort hoe ons penkopdae was. Ek kan met eerlikheid sê my penkopdae het groot betekenis vir my lewe vandag. Elke dag.”

Die vaders van Die Voortrekkers

NJ van der Merwe, CF Visser en J de V Heese was die drie Voortrekkerleiers wat die fondamente van die beweging stewig gelê het. Hulle kan met reg beskou word as die stigtingsvaders van Die Voortrekkers. Sonder hul vastrap en deursettingsvermoë sou Die Voortrekkers nie oor agt dekades kon ontwikkel tot die trotse Afrikanerjeugbeweging van vandag nie.

3

Begrafnis van Vader Visser