“Al sou ek al my kosbare tyd opoffer, al sou ek onderskeidingstekens en dienstekens en ere-ordes en goue jukke dra en ek het nie die Afrikaanse seun en meisie lief nie en ek my Voortrekkerwerk nie met liefde verrig nie, het ek nog nie die taak van die Voortrekkerleier tot sy reg laat kom nie.”

Piet Geyer

 

Voorspoed

Opmars in Bloemfontein - Des 1963 Vlnr mnr Japie Heese, SP CR Swart en GL Piet Geyer

Meneer Japie Heese, Staatspresident CR Swart en Gebiedsleier Piet Geyer in Bloemfontein, Desember 1963.

Met die Republiekwording in 1961 was Die Voortrekkers betrokke by die inhuldiging van Suid-Afrika se eerste staatspresident, advokaat CR Swart. Die Voortrekkers het in Kerkstraat ’n erewag vir hom gevorm. CR Swart, ’n Voortrekker in murg en been, word ook benoem as Hoofbeskermheer. In 1966 neem Die Voortrekkers ook deel aan die landswye vyfjarige Republiekfees.

Foto 1

JFP Badenhorst

Na Republiekwording het Die Voortrekkers baie voorspoedige jare beleef, wat gekenmerk was deur uitbreiding op talle vlakke. JFP (Badie) Badenhorst word in 1966 Hoofleier en is die langsdienende Hoofleier tot op hede.

Die Voortrekkers het deurentyd baie goeie verhoudings met ander Afrikanerorganisasies gehandhaaf. Die FAK skenk in 1966 ’n groot bedrag aan Die Voortrekkers vir die aanstel van ’n rondreisende sekretaris wat as ’n Fakkeldraer bekend sou staan.

Die Hoofbestuur het ook ’n dringende behoefte geïdentifiseer vir die daarstel van ’n halfmiljoen-Rand kapitaalfonds. Die fonds word in 1969 geloods deur BJ Vorster.

Die Voortrekkers het in dié tyd ’n magdom kentekens en Voortrekkerliteratuur ontwikkel. Die Voortrekkerdrag het verander van die groen uniform na die bruin uniform. Daar was ’n leemte in Die Voortrekkers vir waterwerk en as sodanig is die Waterverkenners gestig met blou Voortrekkerdrag.

CQ-Hou Koers

Op 14 Oktober 1967 word CQ-Hou Koers die eerste keer aangebied. Radio-amateurs regoor Suid-Afrika en Namibië maak jaarliks met die geleentheid kontak deur middel van groeteboodskappe. Die heel eerste boodskap wat uitgesaai is, was dié van Bennie Badenhorst, destyds provinsieleier van Transvaal.

Voortrekkers besig met radiowerk. Hulle bou 'n opvangstoestel, 1963.

Voortrekkers besig met radiowerk. Hulle bou ‘n opvangstoestel, 1963.

Voortrekkers leer gebruik 'n veldtelefoon tydens 'n spanleierskamp in 1966.

Voortrekkers leer gebruik ‘n veldtelefoon tydens ‘n spanleierskamp in 1966.

Eerste Presidentsverkenners

Die idee van die Presidentsverkenner-toekenning word die eerste keer in 1964 genoem. In 1965 het die Hoofbestuur die toekenning goedgekeur. In 1966 word die balkies van die eerste Presidentsverkenners deur Staatspresident CR Swart aan hulle oorhandig. Die geskiedenis toon ook dat die Presidentsverkenner-toekenning van die begin af gekoppel was aan die amp van Staatspresident wat in die Westminster-stelsel as staatshoof bokant partypolitiek verhewe was.

In die Hou Koers van 1969 noem mejuffrou MM Verster dat daar ’n leemte bestaan. Al die Verkenners werk vir die kenteken Presidentsverkenner en as hulle dit nie haal nie, is daar geen erkenning vir hul harde werk nie. Kort hierna is die eerste Hoofleierswag-toekennings gemaak.

Die eerste veldwerkkamp in Transvaal

Die oudste veldwerkkamp in Transvaal is Lunsklip wat in 1962 deur Werner Louw gestig is. Tans is dit ook die oudste gebiedskamp. Die eerste kamp is deur 76 Verkenners bygewoon wat die spesiale onderskeidingsteken van Veldwerk voltooi het. Die kenteken is later aangevul deur veldkennis, veldvernuf en selfbehoud. Die kamp het in ’n dekade gegroei tot meer as 700 Verkenners. In 1971 het Josias Swanepoel van die Vrystaat saam met en agt lede van sy gr 11 span die Lunsklipkamp bygewoon. Dit was die motivering toe hy en Hans van der Watt in 1978 die eerste Veldwerkkamp op Doornkloof aangebied het.

Foto 2Op die eerste kamp het dit baie gereën en aangesien dit turfgrond is, was dit ’n groot modderspul. Oom Percy op wie se plaas die kampterrein was, het met sy trekker en sleepwa sand aangery wat binne in die tente (sonder grondseile) gegooi is om dit leefbaar te maak.  Die kampterrein was eers op ’n pampoenland, aangesien dit  die enigste gelyk stuk grond was om tente op te slaan. Vandag nog is die paradegrond en die dele van die kamp waar daar nie sand en gruis ingery is nie ’n groot modderspul as dit baie reën. So onlangs as 2011 het die bus op die paradegrond in die modder vasgeval. Daar was al ’n hele paar kampe wat as modderkampe bekend staan.

Lunsklip

Hoofleier Carel Boshoff tydens sy besoek aan Lunsklip in 1986 saam met kampleier Werner Louw en kampsekretaresse Edelweiss du Plessis.

Foto 5

Hoofleier Danie Langner tydens die 2014-kamp saam met kampleier Jan van Heerden en kampsekretaresse Janie van Heerden op presies dieselfde plek. Die klein boom op die vorige foto het intussen gegroei tot ‘n reuseboom in die middel van die kampterrein wat koelte bied vir die kursusgangers.

Monumente en feeste

Foto 6 Die Voortrekkers bou voort op hul tradisie van erfenisbewaring deur fondse in te samel vir die Bloedrivier-walaer en ’n opname te maak van historiese geboue en plekke vir die Stigting Simon van der Stel.
Gedurende 1968 neem Die Voortrekkers deel aan die onthulling van die Louis Trichardt-gedenktuin in Lourenço Marques (Maputo, Mosambiek).

23_1

Voortrekkers by die Danie Theron-monument

Op 16 Desember 1971 is Die Voortrekkers teenwoordig met die inwyding van die Bloedrivier-walaer. In 1975 speel Die Voortrekkers ook ’n groot rol in die landswye taalfeeste en inwyding van die Taalmonument te Paarl.

Kaapland se oskop

Foto 7 ’n Interessante staaltjie word deur Marietjie Kritzinger van Stellenbosch vertel. “Die provinsiekenteken van Kaapland het soos ’n oskop gelyk. Dit was wyd bo waar die lekker weglê Afrikaner-oshorings ingepas het, en nouer onder waar die gedeelte was met die twee skeie en die wit tou van die touleier, met ’n K in die middel van die twee skeie. Die simboliek van die oskop, die skeie en die touleier se tou, het almal baie na aan die hart gelê, omdat dit aangetoon het dat die Groot Trek eintlik in Kaapland begin het. Al die ander provinsies het ronde wapens gehad en ter wille van eenvormigheid moes Kaapland se gebiedswapen ook rond word. Met dié dat die horings in die sirkel moes inpas, het hulle korter horings in die ontwerp ingewerk. Gou het dit duidelik geword dat almal nie van die kort horinkies gehou het nie. Hannes Niewoudt het by ’n Kaapse provinsieraadsvergadering opgestaan en vurig genoem dat dit nie ’n Afrikaneros se horings is nie, maar eerder lyk soos ‘tollie-horings’! Mens kan nie trots wees op sulke kort horinkies nie! Daar word besluit om ’n versoek uit te stuur na alle kommando’s dat Kaapland ’n nuwe wapen moet kry, want die oshorings lyk nie goed op die wapen nie. Allerhande ontwerpe van proteas, aalwyne en Tafelberg is ingedien en ons moes toe op ’n provinsieraadsvergadering in die sewentigerjare stem oor watter ontwerp die beste lyk. Tydens teepouse voor die stemming, vra ek of mens nie ’n plan kan maak met die oshorings nie. Ek teken met potlood die ontwerp en verskuif toe die K bokant die horings en maak die tou ’n strop wat die twee skeie verbind. Die ontwerp is eenparig aanvaar en so het Kaapland dan sy Oskop behou totdat die besluit geneem is om die nasionale monumente van Suid-Afrika ’n ereplek op ons Voortrekkerdrag te gee as die nuwe gebiedswapens.”

Wemmershoek, Kaapland

Anton Erwee vertel dat Wemmershoek as gevolg van ’n ruiltransaksie eiendom van Kaapland Voortrekkers geword het. Die Suiderkruis-kampterrein in die Hawekwaberge is verruil vir 90 ha in die Wemmershoekberge. Voordat die ruiltransaksie in 1978 gedoen is, het Bosbou sowat 70 ha van die 90 ha ontbos en die oorblywende 20 ha se Pinus Pinaster-bome gelos. Kaapland Voortrekkers het in 1978 onder leiding van neef Stoffie ’n “proefkamp” op Wemmershoek aangebied om sodoende ’n “gevoel” vir die terrein te kry vir die latere ontwikkeling. Daar is besluit om twee kampterreine te ontwikkel, naamlik Wawiel en Fakkel (name ontleen aan die ere-ordes van die tyd) en bouwerk het in 1979 begin. Aanvanklik is net ablusieblokke en ’n kombuis beplan. Met die eerste provinsiekampe in September 1979 vir die graad 7 tot 9 verkenners op Wawiel, was die ablusieblokke gedeeltelik voltooi en die kombuis was ’n dubbele weermag-markiestent. Een herinnering van daardie kamp was die nagmars wat vanaf ’n kaart uitgewerk is en die werklike veldtoestande was sodanig dat die kinders nie deur die fynbos kon loop nie – nagmars het dus nooit begin nie, want die offisiere kon nie almal by hul punte uitkom nie. Die Standerd 8- (graad 10)-kamp in 1979 was op Fakkel aangebied met dieselfde gebrekkige infrastruktuur. Die toegangspad was gruis en die offisiere met karavane moes onder by die hek stop en wag dat 4×4’s die karavane opsleep kamp toe. Menige busse het ook onder gestop en kinders moes met al hul bagasie bergop stap tot by die kamp.

Die teerpad is eers in 1984 gebou. Wawiel se saal, museum en komiteekamer is ook later (1984‒1985) aangebou, asook die slaaplokale met fondse wat bekom is met die verkoop van die Sandbaai-erwe. (Kaapland het die stuk grond by Sandbaai ontwikkel in erwe, vandaar die Voortrekkername van die strate in Sandbaai.) Die slaaplokale het die bynaam van die “Trein” gekry, aangesien die aanvanklike beddens in die kamers daardie ou groen treinbeddens was.

Foto 8

Elizma Smith en Andre van Wyk in Wemmershoek se Voortrekkermuseum

Die kampterrein Wildschutsbrand is eers in 1996 en 1997 gebou, met geld wat verkry is met die verkoop van die stuk grond by Wildschutsbrand naby Scarborough aan die Atlantiese seefront. Rede vir die verkoop was die ontstaan van ’n informele nedersetting daar naby en die feit dat die grond nie meer deur die Voortrekkers as kampterrein gebruik is nie. Die grond is destyds deur die Malherbe-gesin aan die Voortrekkers geskenk. Die besluit was om die terrein se naam te behou en om ’n gedenkplaat vir die Malherbe-gesin op te sit.

 

Hartbeesfontein Voortrekkerjeugkampterrein

Cicero Rautenbach vertel dat die Transvaalse Dagbestuur sonder veel sukses gesoek het na geskikte grond om as ’n kampterrein in te rig. In Maart 1974 het die Dagbestuur besluit om Gedeelte 24 (119,9 hektaar groot) van die plaas Hartbeesfotein naby Wagenaarsdrift, vir die Transvaalse Voortrekkers te koop. Argitek Hannes Pieterse en ingenieur Danie Lombard het in Mei 1974 aangebied om te help met die beplanning van die terrein.

In November 1974 is besluit dat die geriewe voorsiening moes maak om ’n 1000 Voortrekkers te huisves met voldoende water en krag, wasblokke, toiletgeriewe vir beide geslagte, slaaplokale, ’n vergadersaal met ’n kombuis en koelkamer, sowel as ’n paradegrond. Twee stoorkamers wat as kantore gebruik kon word tydens kampe en ’n opgaartenk wat 113 500 liter water kan stoor, moes ook gebou word. Hulpsekretaris Jan Oelofse word getaak om toesig te hou oor die ontwikkeling van die terrein. In Maart 1976 is begin met die oprigting van geboue wat uit staalstrukture met invulbaksteenmure gebou is.

’n Dieselmasjien vir die pomp van water en die dryf van ’n kragopwekker is op die boorgat geïnstalleer en ’n brandpad van 5 kilometer is om die hele terrein gemaak. As gevolg van die klipperige aard van die grond was die maak van die brandpad ’n baie moeilike oefening gewees, net soos wat kampeerders binnekort sou uitvind as hulle hul tente opslaan.

Die Kompetisiekamp van 1976 was die eerste Gebiedskamp wat op die terrein aangebied is. Op daardie stadium was slegs die saal wat die kombuis ingesluit het, en helfte elk van die bestaande seunsen dogtersablusieblokke voltooi.

Die Gebiedsraad van 3 September 1976 en ’n Meesterskursus vir Offisiere is op die terrein gehou waar die slaaplokale en ablusieblokke nou voltooi was. Oom Bennie Badenhorst, Hoofsekretaris van Die Voortrekkers, het die terrein amptelik geopen. ’n Bronsplaat om die geleentheid te herdenk, is in die saal aangebring. Die Gebiedsdagbestuurlede en ’n aantal senior Voortrekkeroffisiere het elk ’n inheemse boom aan die noordekant van die saal geplant.

In Maart 1977 is die ingangshek met kwartiere vir ’n werker voltooi en die rondawel wat hy tot dusver gebruik het, is as ’n spankamp ingerig. In 1979 het die boorgat gees gegee en ’n tweede gat moes gesink word. Die ys- en vrieskamers is voltooi om die baie doeltreffende outydse waterverkoelingskamer te vervang wat tot dusver in gebruik was.

Foto 9

Vlagparade tydens Jakaranda PD-kamp se eerste kamp in April 1984.

Gedurende 1980 is gras op die paradegrond geplant en die lapa geplavei. ’n Ossewa word in 1982 aangekoop. Gedurende 1983 is stoorkamers vir die Waterwerkkamp en elk van die Gebiedskampe wat op die terrein aangebied word, sowel as drie lesingsale, gebou. In 1984 is ’n gasverwarmer by die Offisiere-ablusieblok geïnstalleer met die nadeel dat elke keer as die warm water aan die dameskant oopgedraai is, is al die warmwater na die manskant afgesny. Na ’n paar jaar het die mansoffisiere besluit wat te erg is, is te erg en het hulle ’n kollekte gehou en die geld geskenk om ’n aparte verwarmingstelsel vir die damesoffisiere te installeer. Huiwerig het die Dagbestuur toestemming gegee dat ’n tweede verwarmingstelsel geïnstalleer kon word.

Die putlatrinestelsel is in 1991 verander na ’n spoelstelsel met verrottingstenks en is by die Eskom Kragnetwerk ingeskakel. Hierna is daar deurlopend kleiner opgraderings gedoen soos dat van die geboue name gekry het. Die saal en lesingsale is vernoem na persone wat betrokke was by die oprigting daarvan. Sommige ander lesingsale het elkeen ’n boknaam gekry. Die swembad is gebou en die Willie Wilson Woonwapark is voltooi. Die Woonwapark is opgerig met gelde wat die Pretoria Oordleiers Forum verdien het deur teen ’n honorarium van die Noord-Transvaal Rugby-unie tydens die rugbyseisoen by Loftus Versfeld Rugbystadion plekke aan te wys. Talle kleinere veranderings is oor die volgende jare gemaak; slaapsale het plafonne gekry en mure is in die saal tot bo gebou; en die ablusieblokke is opgegradeer en geteël.

In 2013 is die aantal slaapplekke vermeerder deur van die stoor- en komiteekamers in slaaplokale om te skakel en die eerste van die projekkamers is gebou.

Tydens die Kommandokampe van twee groot Voortrekkerkommando’s het brande uitgebreek wat die veld, sowel as die spankampterrein, heeltemal in die een brand vernietig het. Tydens die Kompetisiekamp in 1977 het ’n aantal tente afgebrand as gevolg van ’n brand, en by ’n ander ’n groot gedeelte van die veld aan die suidekant. In 1987 het die Kompetisiekamp uit 1200 Verkenners saam met die Offisiere bestaan, ’n kamp van net onder die 1500 Voortrekkers.

paradegrond

Die aankoop en ontwikkeling van ankerterreine aan Die Voortrekkers’n vaste staanplek gegee. Geslagte Voortrekkers het op die terreine gekamp en ’n besondere verbondenheid met die plekke ontwikkel.