“Die geloof van ons leiers in Die Voortrekkers bly nog altyd sterk en die belydenis: ‘Eenmaal ’n Voortrekker, altyd ’n Voortrekker’ word nie verniet gehoor nie. Getrouheid aan ons Voortrekkerskap bly nog altyd ’n sprekende kenmerk van ons beweging.”

Japie Heese, Hoofleier (1959‒1966)

 

Vestig en bevestig as kulturele werkwoorde

Foto 1

Voortrekkers in Kemptonpark vier Groot Trek 175.

Die storie van Die Voortrekkers wat reeds vir langer as agt dekades geskryf word, is een van die Afrikaners se mooiste kultuurstories. Dit is ’n storie van deursettingsvermoë, van toewyding en opoffering. Die Voortrekkers se naam definieer die beweging. In die naam lê eeue oue geloofsdapperheid, kulturele deursettingsvermoë, Afrikaneridentiteit en trotse tradisies opgesluit. Diegene wat dink die naam is outyds, verstaan niks hiervan nie. Die grootste uitdaging is om kulturele diepte en impak van die Voortrekkernaam weer af te stof, die kulturele krag daarvan te herontdek en met selfvertroue daaruit te leef.

Die kultuurstorie van Die Voortrekkers is ’n verhaal van vrywilligers wat hul vrye tyd gebruik om graadwielboeke, handleidings en ander literatuur te skryf. Geboue, spankamers en kampterreine het deur harde werk en innoverende denke ontwikkel tot spogprodukte. Dit is ’n storie van sente omdraai, moue oprol, vasbyt en hard werk. Dit is ’n storie van historiese feeste, monumente bou en erfenisse bewaar. Dit is ’n storie van betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid in plaaslike gemeenskappe.

Die Voortrekkerstorie vertel ’n verhaal van planne, vars denke, aanpasbaarheid en hoëfunksieprestasies. Dit is ’n storie van liefde vir Afrikaans, Afrikanerkultuur, Afrikanerkinders, maar bo alles, vir die Here. Ook is dit ’n storie van pret, kameraadskap en avontuur. Dit is ’n storie wat vandag steeds geskryf word.

Dit is geen wonder dat Die Voortrekkers oor dekades heen gegroei het tot ’n lewenskragtige, en saakmakende kultuurorganisasie nie. Getrou aan die oorspronklike stigtingsideale van NJ van der Merwe, Vader Visser en Japie Heese is Die Voortrekkers vandag steeds ’n toekomsgerigte jeugorganisasie wat:

•    Afrikanerkinders se karakter deur Bybels-Christelike waardes vormFoto 4
•    Afrikanerkinders die geleentheid bied om hul kultuur in die natuur deur avontuur te geniet
•    Afrikaners begelei om as oortuigde Christene nie net Bybelse waardes in hul persoonlike lewens uit te leef nie, maar ook om gemeenskapswaardes deur middel van diens, deelname en standpunte te help vorm
•    Afrikanerkinders help om lewensvaardighede te ontwikkel om as uitnemende en diensbare leiers ’n betekenisvolle en positiewe bydrae te lewer tot die land en die kontinent
•    Afrikanerkinders ’n tuiste bied waarin hulle Afrikaners se geskiedenis, taal, kultuur en tradisies ten volle kan uitleef en geniet.

Hierdie ideale het oor dekades neerslag gevind in die wese, waardes en strategiese doelwitte van Die Voortrekkers om jong Afrikaners as uitnemende leiers te ontwikkel.

Die belangrikste kultuurvraag in die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu is nie meer wie Afrikaners is en of hulle ’n plek in Afrika het nie. Ook nie of Afrikanerkultuur in die nuwe politieke bedeling gaan oorleef nie. Afrikanerkultuurorganisasies het hul aanpasbaarheid en lewenskragtigheid oor en oor aan hulself en ander bewys.

Die Afrikanerkultuurwêreld se fokus is lankal nie meer op oorleef nie, maar op herleef. Die belangrikste kultuurvraag is hoe kan Afrikanerkultuurorganisasies in die tydsomstandighede van die huidige kaart Afrikaners se kulturele erfenis bevestig, maar ook terselfdertyd nuwe spore trap?

Om die vraag suksesvol te beantwoord, moet Voortrekkers die waarde en sterk punte van die Voortrekkerstorie bevestig, maar ook uit die Voortrekkerstorie koördinate vind om nuwe horisonne te ontsluit. Die bevestigers soek in hul toekomsgerigtheid kontinuïteit met die verlede, maar terselfdertyd na praktiese maniere om aan Afrikaners se kulturele erfenis nuwe betekenis te gee. Daar is ’n dinamiese wisselwerking tussen bevestig en vestig as kulturele werkwoorde.

Foto 7

Theo Vorster, aanbieder van Sakegesprek op kykNET beskryf die Voortrekkerleuse, “Hou Koers!”, “as die saamstel van die werklike prioriteite en ’n fokus daarop om hierdie prioriteitsdoelwitte te bereik”. Deur die regte prioriteite te bepaal en daarop te fokus, sal Die Voortrekkers nie net in invloed, prestasie en getalle bly groei nie, maar reguit koershou na die toekoms toe. Die immergewilde Voortrekkerlied som dit treffend op:

Soos kampvuurstompe deur die nag met helder vlamme brand,
so brand ons liefde vir die jeug, die jeug van hierdie land.
Die kinders van ons vaderland, o ja, vaderland bly steeds ons duurste pand.
En as ons met Trekkerseuns- en dogters werk,
dan maak geloof en liefde, ja ons hart en hande sterk.
En saam sal ons in hierdie land, o ja, hierdie land ’n helder toekoms bou.

Foto 8

Die Voortrekkers vier die Vrouemonument se 100e herdenking.