Optredes teen Afrikaners

Oorgawe en ’n selfmoord
February 15, 2015
Republiekdag en doktor Hendrik Frensch Verwoerd
February 16, 2015

Europa was nog in oorlog gewikkel, en aangesien die Kaap met behulp van die Britse leër en vloot verower is, was die gesag vir eers in die hande van admiraal GK Elphinstone en genls-maj A Clarke en JH Craig. Ná ’n paar maande het Craig die gesag gevoer oor die bevolking. Volgens die sensus van 1798 was daar 21 746 wit mense: in die Kaapse distrik 6 261, in Stellenbosch 7 256, in Swellendam 3 967 en Graaff-Reinet 4 262. Daar was meer as 25 000 slawe, tagtig persent van hulle in die Kaap en Stellenbosch. Die aantal Khoin is op 15 000 geskat, van wie 14 000 in Graaff-Reinet en Swellendam.

Craig se eerste indruk, wat hy in ’n brief aan ’n vriend meegedeel het, was dat byna almal in die kolonie vyandiggesind was teenoor die nuwe heersers. Hy het egter alles in sy vermoë gedoen om die bewoners met die nuwe gesag te versoen. Volgens die vredesvoorwaardes sou die Engelse geen veranderings aan die wette en gewoontes van die Kaap aanbring nie. Die binnelandse handel sou vry wees.

Die eerste goewerneur was die sestigjarige Ierse edelman, lord Macartney, wat in 1797 diens aanvaar het. Hy was ’n alleenheerser wat deur middel van proklamasies, instruksies en kennisgewings geregeer het. Hy het sy eie privaat sekretarisse saamgebring om te help: John Barrow en Acheson Maxwell. Onder die ander hoë amptenare wat saamgekom het, was die koloniale sekretaris, Andrew Barnard en sy vrou, lady Anne Barnard.

Macartney was streng en ietwat prikkelbaar as gevolg van sy jig, maar hy het gesorg dat sy amptenare eerlik en nougeset hul werk doen. Verder was hy ’n vyand van alles wat maar enigsins na die Franse Revolusie gelyk het. Mense wat van simpatie met die Franse verdink is, is “Jakobyne” genoem en gestraf. Toe ene Hendrik Eksteen, ’n boer van die mooi plaas Bergvliet by Wynberg, sy vriende na sy dogter se bruilof nooi, het hy hulle na die Franse voorbeeld as “burger” aangespreek. Dit het Macartney so ontstig dat hy op die troudag dragonders na Eksteen se huis gestuur het. Hulle is by hom ingekwartier tot hy die goewerneur ekskuus gevra en as waarborg £1 000 betaal het dat hy nie weer so ’n oortreding sou pleeg nie. By ’n ander geleentheid wou Britse matrose muit oor allerhande griewe. Hy het kanonne van die kusbattery op die skip laat rig totdat die orde herstel is.

John Barrow word onthou deur die werke wat hy oor die Afrikaners geskryf het. Barrow, hoewel getroud met ’n Afrikanervrou, Anna Truter, het min Afrikaans geken en was onder invloed van Maynier uitgesproke antagonisties teenoor die Afrikaners. Sy Travels into the interior of South Africa, wat in 1801 en 1804 in twee dele verskyn het, is vertaal en het ’n groot invloed uitgeoefen. Vir hom was die Afrikaners almal lui, dom, onsedelik, wreed, oneerlik en lafhartig; die enigste positiewe eienskap was hul gasvryheid. Sy negatiewe bewerings is weerlê deur twee ander Europese reisigers, MHK Lichtenstein en WBE Paravicini di Capelli.

Baie Afrikaners het in die 20ste eeu van die vorige eeu gepraat as die “eeu van onreg” van die Britte teen die Afrikaners. Met Barrow begin die groot Britse lasterkampanje teen die Afrikaner wat tot in die 20ste eeu voortgesit is.