Opstand te midde van ’n buitelandse bedreiging

Opstand in Graaff-Reinet
February 13, 2015
Oorgawe en ’n selfmoord
February 15, 2015

Twee dae nadat die Graaff-Reinetters die gesag van die Kompanjie verwerp het, het ook Swellendam op 18 Junie 1795 in opstand gekom. Heel waarskynlik was daar vooraf samesprekings, want die Graaff-Reinetters het geweet dat die Swellendammers, net soos die mense van die ander twee distrikte, naamlik Stellenbosch en Kaapstad, baie ontevrede was oor die bestuur van die Kompanjie.

Terwyl die landdros en heemrade van Swellendam op 17 Junie vergader het, het nege gewapende burgers te perd hulle verras. Een van hulle, Paul Fouché, het die lede van die vergadering gebied om in die drosdy te bly totdat die volksvergadering sy wense bekend maak. Aanvanklik was daar geen eenstemmigheid onder die versamelde burgers nie, maar dit het gou geblyk dat die meeste ten gunste was van aansluiting by die burgers van Graaff-Reinet.

Vroeg die oggend van 18 Junie het ’n groot aantal vergaderde burgers voor die drosdy saamgedrom. Vier van hulle is afgevaardig na die landdros met die eis dat hy, sy sekretaris en die bode van die geregshof hul ampte moet neerlê. Hulle moes die drosdy, die sekretaris se woning, die dokumente en fondse van die distrik aan die “nationaal landdrost”, Hermanus Steyn, oordra. Die Swellendammers het hul eise gestel op ’n “nationaal vergadering” (’n benaming wat aan die Franse Revolusie ontleen is). Steyn was ’n ietwat bedeesde man, nie begerig om veel gesag uit te oefen nie, beleefd in sy optrede teenoor die burgers en besonder begerig om die mense te behaag en die regte ding te doen.

Die opstand in Swellendam was ’n swaar slag vir die kommissaris, AJ Sluysken. Toe hy die nuus verneem, het daar reeds ’n Britse vlooteskader in Simonstad voor anker gelê. Die aankoms van dié skepe was vir die Kapenaars ’n verrassing, want hulle was maande lank in die duister oor wat presies in Europa gebeur het. Die Franse het Nederland binnegeval, en die Fransgesinde “Patriotte” het die bewind oorgeneem en die Bataafse Republiek uitgeroep. Prins Willem V van Oranje het na Engeland gevlug.

’n Sekretaris van genl.-maj. James Henry Craig het op 12 Junie 1795 onder vrygeleide na die Kasteel gegaan met briewe van admiraal sir George Keith Elphinstone aan Sluysken en die politieke raad. Dit was ’n uitnodiging aan die burgerlike en militêre hoof van die kolonie om ’n lasbrief van die Prins aan boord van die vlagskip te kom lees. Sluysken het laat weet dat sy eie werksaamhede en dié van sy militêre hoof, kol. Robert Jacob Gordon, hulle belet om ’n besoek aan die Britse vloot af te lê. Twee dae later is die brief wat die Prins op 7 Februarie 1795 geskryf het, in die kasteel aan hulle oorhandig. Daarin vra die Prins dat die Kaapse bewindhebbers dié kolonie aan die Engelse oorhandig as verteenwoordigers van ’n moondheid wat in vriendskap met Nederland verkeer en ’n bondgenoot is.

Die Kapenaars was verdeeld: die koloniste en gewone militêre was Patriotgesind, die offisiere en amptenare Oranjemanne. Gordon, beter bekend as die ontdekkingsreisiger, is volgens B Gericke beheers deur drie hartstogte: sy felle anti-Franse gevoel vanweë die eksesse van die Franse Revolusie, sy aangetrokkenheid tot alles wat Engels was en sy blinde trou aan die Huis en die Prins van Oranje. ’n Mens sou dus kon raai dat hy nie geneig sou wees om die Kaap teen die Engelse te verdedig nie.