Oprigting van Naspers

’n Nuwe koerant word beplan
January 22, 2015
Herlewing van Afrikanernasionalisme
January 22, 2015

Op die vergadering in Heemstede is ’n deputasie benoem wat meneer Jannie Marais in die Strand besoek het; hy het op 18 Desember onderneem om 5000 aandele te neem. Die volgende dag het sy ryk broer, meneer Christiaan Marais, beloof om 1000 aandele te neem. Hofmeyr het die 25-jarige advokaat Henry Fagan gewerf om by die maatskappy in diens te tree; JJ Smith was sy oom. Fagan was op die tweede vergadering op 30 Desember. Die naam De Burger is vir die nuwe blad gekies. Ondanks die teenkanting van De Waal is op ’n latere vergadering besluit ten gunste van ’n dagblad. De Waal het uitgeroep: “Dit is ikabod, ek sê vir julle, ’n dagblad is ikabod!” ’n Maatskappy is gestig met die naam “De Nationale Koerant- en Drukpersmaatschappij Beperkt”, wat op voorstel van Fagan verkort is tot “De Nationale Pers Beperkt”. Doktor DF Malan van die NG gemeente Graaff-Reinet is as redakteur aangestel.

Die Remington-maatskappy sou vir die drukwerk sorg. Sir David Graaff (gewese Afrikanerbond-politikus en vader van die latere opposisieleier sir De Villiers Graaff) en sy broer, senator Jacobus Graaff, het soveel druk op Remington uitgeoefen dat dié van die kontrak moes afsien. Maar gelukkig kon die besturende direkteur van Remington, James Waterhouse, aan Hofmeyr en die bestuurder, Fred Dormehl, meedeel dat die Transvaal Leader publikasie gaan staak en dat die goed toegeruste pers op die mark kom. Die koopprys was so hoog dat dit al die kapitaal sou opslurp. Meneer Jan Marais se hulp is maar weer ingeroep om die pers vir £6500 aan te skaf. Die Pers moes ook ’n gebou hê. Kort tevore het die ou pro-Boereblad, die South African News, publikasie gestaak, en die oprigters van Naspers het die opsie gekry om ’n deel van dié blad se gebou in Keeromstraat 30 te huur (en later te koop).

De Burger het op 26 Julie 1915 verskyn, ná die dood van twee oprigters, naamlik Jannie Marais op 30 Mei en HJ Bergh op 15 Julie. Die hoofartikel van die eerste nommer, in Nederlands, het verwys na die posisie van die Afrikaner. “De Burger is ’n kind van smart en hoop. Hy is gebore uit die wee van ons volk. Indien swaar rampe ons volksbestaan nie getref het nie, sou hy seker nie daar gewees het nie. En daarom, al sê ons ook dat hy vandag vir die eerste keer die lig aanskou, tog is hy gebore in die nag. Dit is donker in die wêreld. Die volkere het gekom in die dal van doodskaduwee. Ook vir ons eie volk is dit die donkerste uur. Daar was ’n tyd toe ons één was, één van hart, ook al was ons geskei deur die grense van vier state, ook al het die storms om ons heen gewoed. Dieselfde staat sluit ons vandag almal in. Unie is sy naam. Maar ons harte is verskeurd en ons volkslewe is verbitterd. Ons drink die waters van Mara.” Meer hoopvol is die woorde: “Daar ruis deur die ganse land ’n nuwe stroom. Dis die vaste wil om ’n volk te wees.”

Die volkslewe was verbitterd. Talle rebelle was in die gevangenis. Spesiale howe het die leiers verhoor en gevonnis. Generaal De Wet is op 22 Junie 1915 veroordeel tot ses jaar tronkstraf en ’n boete van £2000. Jammer dis nie 12 of 13 jaar nie, het hy aan sy vrou gesê, “want dit sou nog meer gehelp het om my volk aanmekaar te ruk.”