Op weg na apartheid

Erkenning vir NP van Wyk Louw
January 25, 2015
Die eerste apartheidsmaatreëls
January 25, 2015

Voor die einde van die oorlog het die vernaamste Geallieerde nasies besluit om ’n wêreldorganisasie te stig wat internasionale geskille uit die weg moes ruim en die vrede moes help bewaar. Generaal Smuts het die inleidende paragraaf van die grondwet van die nuwe organisasie, die Verenigde Nasies, opgestel.

Dit was ietwat ironies dat sy land in die eerste VN-sitting in 1946 kwaai gekritiseer is. Die Indiese regering het beweer dat die land teen Indiërs diskrimineer hoewel die regering beperkte verteenwoordiging van Indiërs in die Parlement en Natalse provinsiale raad toegestaan het. Vergeefs het Smuts betoog dat die VN-grondwet die liggaam belet om in die binnelandse sake van lidlande in te meng.

Die verhoudinge tussen wit en swart mense het al hoe meer agteruitgegaan. Veral swart mense en Indiërs het gelyke regte met blankes geëis. Swartes het na die stadsgebiede gestroom en die plakkerskampe het ’n bron van onrus geword. Smuts het segregasie verwerp omdat die stroom swartes na die nywerhede nie gestuit kon word nie. Hy het ’n kommissie onder HA Fagan aangestel wat eweneens bevind het dat totale segregasie onuitvoerbaar is.

Ook die HNP het ’n kleurvraagstukke-kommissie aangestel onder voorsitterskap van die Kaapse politikus PO Sauer en met lede soos doktor EG Jansen en meneer MCD de Wet Nel. Die siening van die Sauer-kommissie was dat daar net twee rigtings in Suid-Afrika is – dié van apartheid en gelykstelling. Laasgenoemde moet lei tot die vernietiging van die wit mense as selfstandige en selfregerende nasie. Die keuse lê tussen apartheid en gelykstelling, wat op die duur vir die blanke ras nasionale selfmoord en vir die ander groepe vernietiging van hul eie identiteit sal meebring. Apartheid beskerm en beveilig elke ras se karakter en toekoms binne sy eie gebied en gun aan elke ras in sy eie tuiste volle geleentheid om te ontwikkel; apartheid verseker aan almal “die onvervreembare reg van selfhandhawing en selfbeskikking” sonder dat die belange van die een in botsing kom met die belange van die ander en “sonder dat die een die bestaan en ontwikkeling van die ander as ’n ondermyning of bedreiging vir homself aanvoel.”

Baie min mense het verwag dat die HNP met sy apartheidsbeleid op 26 Mei 1948 aan bewind sou kom, maar talle sake het dit moontlik gemaak. Die HNP het ’n verkiesingsooreenkoms met die Afrikanerparty onder NC Havenga gesluit; in 1950 het die twee partye geamalgameer onder die ou naam Nasionale Party. Baie kiesers was om ekonomiese redes teen Smuts. Oud-soldate was ontevrede met nuwe werkkringe en lewensomstandighede. Daar was ontevredenheid oor woningtekorte, en huisvroue het gekla oor die lewensduurte. Die Natallers was ongelukkig oor die indringing van Indiërs. Die HNP en Afrikanerparty het 79 setels behaal en die ander partye saam 71. Smuts is in sy kiesafdeling Standerton verslaan deur WC du Plessis, een van die amptenare wat uit die staatsdiens moes bedank nadat Smuts teen die Broederbond opgetree het.