Op reis met oom Paul

Afrikaners in vakbonde
January 23, 2015
’n Epidemie maai onder alle bevolkingsgroepe
January 24, 2015

Van die negentiende eeu af het toneelopvoerings in die stede vermaak aan Afrikaners gebied. In die twintigste eeu het toneelgroepe die land deurkruis. Die toneel-geselskap van Hendrik en Mathilda Hanekom en ’n groep van Paul de Groot was die eerste Afrikaanse beroepsgeselskappe en het in 1926 verenig as die Paul de Grootgeselskap. In Maart 1928 het die geselskap weer verdeel en het die Hanekoms as die Afrikaanse Toneelgeselskap gereis. Weens die Depressie het die geselskap ontbind en in Bloemfontein ’n toneelskool begin. Een aand in 1933 het die skool ’n DF Malherbe-aand gehou, en het Hendrik Hanekom die hoofkarakter in Hans-die-Skipper vertolk. Daar het ’n jong man, Calmal Postma, die idee gekry om ’n toneelstuk oor president Kruger te skryf, waarin Hendrik Hanekom die rol moes vertolk.

Hanekom was aanvanklik maar lou oor die voorstel, maar het mettertyd geesdriftig geraak. Hy het ’n hele studie van Paul Kruger gemaak voordat hy die rol begin speel het. Die eerste opvoerings van Oom Paul was ’n oorweldigende sukses. Daarop het die Hanekoms besluit om met die stuk te gaan toer. Tot aan die einde van 1936 het dit meer as 400 opvoerings beleef en het ’n kwartmiljoen mense dit gesien.

Wat bygedra het tot die sukses van die stuk is die spel en regie van Hendrik Hanekom. Om die grimering realisties te kry, moes hy elke aand van 2½ tot 3 uur daaraan werk. Hy het mense wat die President geken het, uitgevra oor sy gebare, gewoontes en selfs sy manier van stap. Mense wat Kruger self geken het, was geroerd wanneer hy op die verhoog verskyn. Op een plek het twee ooms wat vooraf baie krities was, ná die opvoering verklaar: “Ons het weer ons ou President in lewe gesien.”

Ná ’n middagvertoning in Johannesburg klop iemand aan Hanekom se kleed-kamerdeur. Dit was twaalf fris kêrels wat sy hand kom druk. Hul woordvoerder verklaar toe dat hulle Iere is, en vra ook hoe lank die stuk al speel? Hanekom antwoord: “Sowat agtien maande.” Die leier antwoord: “And you mean to tell me there has been no revolution yet? Then I’m sorry, but I think you Afrikaners have no back-bone. If this play had been performed in Ireland, there would have been a hell of a revolution within eighteen days!”

Een van die merkwaardigste opvoerings was voor ’n groep Angola-boere in Suidwes. Party van hulle het president Kruger nog self geken. Toe Hendrik Hanekom in die rol van Oom Paul op die verhoog kom, het een ou oom opgestaan en, terwyl die trane oor sy wange rol, “Kent gij dat volk…” ingesit. Al die ander in die gehoor het ook opgestaan en saamgesing. Ná afloop van die stuk het almal die president en sy vrou Gezina ’n handdruk gaan gee. Almal het ook iets van hul skamele besittings gegee: karosse, springbokvelle, volstruisvere en -eiers, sakkies biltong, ’n klompie hoendereiers.

Anna Minnaar-De Vos skryf in Die spel gaan voort dat die opvoerings bygedra het tot die toenemende geesdrif vir en belangstelling in die volksverlede, en trots aangewakker het in ’n volk wat ’n Kruger kon voortbring.