Op pad na Vereeniging

Die begin van die einde
January 22, 2015
Onderhandelinge oor taal
January 22, 2015

Kitchener het die republikeinse verteenwoordigers aangeraai om hulle aan die Britse vlag te onderwerp en selfbestuur te probeer verkry. Hulle het hom daarop gewys dat hulle nie oor die mag beskik om van onafhanklikheid afstand te doen nie. Hy was bereid om hul voorstelle aan die Britse regering te telegrafeer, maar die Britse regering het dit verwerp. Daarop het die republikeinse leiers geleentheid gevra om die volk te raadpleeg. Dit het Kitchener toegestaan. Elke staat sou vyftien afgevaardigdes stuur na ’n byeenkoms wat op 15 Mei 1902 op Vereeniging sou begin.

Die spanning het meegehelp dat Steyn se gesondheid verder verswak het. Ook bedorwe voedsel wat hy ingekry het, het tot sy slegte toestand bygedra. Die dokter het hom gesê dat as hy nie dadelik rus nie, hy binne drie weke sou sterf. Steyn het ’n aanbod geweier om in Pretoria te bly vir doktersbehandeling omdat hy bang was dat dit die burgers sou ontmoedig en vir vrede sonder onafhanklikheid laat stem. Hy het naby Wolmaransstad by sy manskappe deurgebring. Sy slaapplek was in ’n verwoeste woning, op ’n hoop gras en strooi op ’n sinkplaat. Een nag moes hy meer as ‘n uur in die koue staan omdat hy te swak was om weer die huis in te gaan.

Op Vrydagaand 18 April 1902 het die hoofoffisiere Pretoria verlaat om na alle dele van die twee republieke te gaan om die volkswil te verneem. Alles het voorspoedig gegaan. Die offisiere, wat die vergaderings moes hou, is volgens Kestell oral deur die Engelse goed behandel en gehelp. Toe 15 Mei nader, was die afgevaardigdes gekies.

Saam het Steyn en Kestell na Vereeniging vertrek. Op weg daarheen het Steyn verswak, en toe hy op 14 Mei in Klerksdorp kom, kon hy nie meer sonder hulp van sy rytuig afstap, en selfs nie loop sonder om op iemand te leun nie. Die aand het die treinreis van Klerksdorp begin en die oggend het hulle in Vereeniging aangekom. Daar was ’n dik mis en dit was koud. Die tente van die Vrystaatse afgevaardigdes was in die suidweste van die kamp en dié van Transvaal in die noordweste. In die middel, tussen die twee “state”, was daar ’n groot tent, waar die vergaderings gehou sou word.

Alles was ingerig om dit vir die afgevaardigdes so aangenaam moontlik te maak; die vriendelikheid van die Engelse het niks te wense oorgelaat nie, skryf Kestell. Maar volgens Steyn was die kamp vol Engelse spioene. ’n Paar vroue is toegelaat om ’n soort winkel te hou, maar toe hy dit hoor, het hy gesorg dat hulle verwyder word.

Wat in Mei 1902 gebeur het, betoog GD Scholtz, is ’n voortsetting van die verskil tussen die twee regerings wat in Mei-Junie 1900 en Mei-Junie 1901 ontstaan het. Party Afrikaners was bereid om ’n streep deur die verlede van hul volk te trek en om hul land te onderwerp aan die harde maar onafwendbare lot dat hul land voortaan deel van die Britse Ryk sou vorm. Oor die behoud van hul taal en kultuur sou hulle hul so min moontlik uitlaat. Teenoor hulle het die groep gestaan wat nie ’n streep deur die verlede van hul volk wou trek nie, maar daarop wou voortbou en hul taal en kultuur wou handhaaf en eer.