Op pad na magsprysgawe

Namibië word onafhanklik
January 26, 2015
Elf amptelike tale
January 26, 2015

Professor Pieter de Lange, voorsitter van die Broederbond, het op 5 Oktober 1992 voor ’n gehoor gesê dat “magsprysgawe” ’n “gesuiwerde” staanplek aan blankes sal gee. “Al sê die politici ook wat, blankes moet aanvaar dat hul magsprysgawe permanent sal wees.” Die taalimplikasies van “magsprysgawe” is nie bespreek nie, nog minder dié van “regstellende aksie”, (soos die Amerikaanse beleid van affirmative action gedoop is) wat deur die staatsapparaat en semi-staatsinstellings aanvaar is.  Veral Afrikaners het hul werk verloor deur die eerste regstellende aksie by Transnet, Krygkor, die WNNR en RGN.

’n Sleutelgebeurtenis in die proses van magsoorgawe was die moorde in ’n ANC-plakkerskamp Boipatong op 17 Julie 1992. Minstens 43 mense is in faksiegevegte dood. Die ANC het op 23 Junie 1992 sy onttrekking aan Kodesa aangekondig en massa-aksies begin.  In die noodlottige twee maande daarna was De Klerk onwillig om sterk op te tree. Hy het geen voorwaardes vir die hervatting van onderhandelings gestel nie en tot byna al die eise van die ANC ingewillig.  Mandela het met groeiende selfvertroue De Klerk se aandrang op formele magsdeling verwerp. Bowendien was die NP-onderhandelaars nie opgewasse teen mense soos Cyril Ramaphosa van die ANC nie. Ons het “kinders” gestuur om met ervare mense te onderhandel, het oudminister Hernus Kriel later gesê. Roelf Meyer van die NP het in elk geval meerderheidsregering gou aanvaar.

Die ooreenkoms wat die NP met die ANC bereik het, was so ver van die oorspronklike plan dat ’n woedende minister op ’n kabinetsvergadering aan De Klerk geskree het: “Wat het jy gemaak? Jy het Suid-Afrika weggegee!” Joe Slovo, leier van die Kommunistiese Party, het gekraai: “Hulle het oor alles ingegee!” De Klerk het in 1997 bevestig dat die “reg tot nasionale soewereiniteit” prysgegee is. “Die reg tot die handhawing van nasionale soewereiniteit, van mense om hulleself te regeer, word in baie lande as ononderhandelbaar beskou. Die meeste nasies sal bereid wees om die risiko van ’n algehele oorlog en katastrofe te loop eerder as om dié reg prys te gee.” In 1993 kon die meerderheid wit kiesers nog nie glo dat De Klerk dié reg sou prysgee nie. Verset het wel onder ’n minderheid toegeneem, ook weens opruiende slagspreuke soos “Kill the Boer, kill the farmer!” en “One settler, one bullet”, wat straffeloos deur ANC- en PAC-ondersteuners op vergaderings uitgeroep is.

Die moontlikheid van geweld deur regses is sedert 1992 verminder deur IDASA se Conservative Dialogue Programme om regse politici by onderhandelinge te betrek. In Mei 1993 is ’n regse organisasie, die Afrikaner-Volksfront, gestig. Dié het op 25 Junie 1993 ’n beplande veldtog van massa-aksie vir selfbeskikking begin met ’n pro-volkstaatmars by die Wêreldhandelsentrum. ’n Deel van die groep het met ’n pantserkar deur die iangang gebars en die onderhandelingslokaal beset. Generaal Constand Viljoen, oudhoof van die Weermag en ’n hooffiguur in die AVF, het gesê dat die rede vir die chaos die feit is dat die Afrikaner weens die onnatuurlik haastige onderhandelings “soos beeste in ‘n drukgang” geplaas is.