Op moedverloor se vlakte

De Wet laat skep nuwe moed
January 22, 2015
Die val van Pretoria
January 22, 2015

Intussen het die bedruktheid in Engeland plek gemaak vir blydskap en optimisme. Die hoogbejaarde koningin Victoria het twee dae agtermekaar rytoere deur Londen gemaak sodat haar onderdane haar kon toejuig. Die Engelse kerke, ook in Suid-Afrika, het die Britse regering onvoorwaardelik gesteun. Ná die verowering van Bloemfontein het Roberts ’n paar weke daar vertoef sodat die Britse magte kon uitrus. Met ’n oorweldigende mag het hy op 3 Mei na Pretoria begin opruk. Op 12 Mei was die Britse magte in Kroonstad; die Vrystaatse regering het reeds na Heilbron uitgewyk. Op 31 Mei kon Roberts Johannesburg binnetrek.

Teen die einde van Mei 1900 het president Kruger en generaal Botha dit sterk oorweeg om vrede te vra. Op 31 Mei het Kruger aan Steyn getelegrafeer dat die Transvaalse offisiere eenparig van oordeel was dat dit hopeloos was om die stryd voort te sit. Steyn het dié voorstel om wapens neer te lê verwerp. Meer as die helfte van die Vrystaatse burgers is in die veld en het by Senekal en Lindley mooi oorwinnings behaal – en nou moes hy verneem dat die Transvaalse offisiere voorgestel het om op lafhartige wyse die stryd te staak “die wij in den naam des Heeren” begin het. Steyn het in belang “van gansch het Afrikaansche volk” by Kruger daarop aangedring om die stryd voort te sit, en om te protesteer teen die neerlegging van wapens omdat dit ’n verbreking van die verbond tussen die republieke sou wees. Daarmee sal die “Afrikaansche zaak den nekslag worden toegebracht”. Op 1 Junie het Transvaalse offisiere in Pretoria krygsraad gehou. Steyn se boodskap het Botha bemoedig, sodat hy besluit het om met die stryd voort te gaan. Ook die dapper kommandant Danie Theron het ’n prominente rol in die besprekings gespeel en die krygsraad het besluit om met die oorlog te volhard.

GD Scholtz skryf dat die onversetlike Steyn deur sy telegramme die eer en die toekoms van die Afrikaanse volk gered het. ’n Lafhartige staking van die stryd in daardie stadium sou vir die toekoms van die Afrikaanse volk noodlottig gewees het. Al moes die Afrikaners verloor, kon hulle en hul nageslag steeds met trots terugkyk na die oorlog. Dit sou vir hulle ’n bron van inspirasie en bemoediging bly. Min het Steyn kon reken, “toe hy sy twee telegramme opgestel het, hoe hy daardeur die toekoms van sy volk ten diepste en ten goede sou beïnvloed”.

Dat Steyn deur sy onversetlikheid die eer van die volk gered het, is ook besef deur generaal JC Smuts. Hy skryf dat Steyn se besluit nog twee jaar oorlog ingehou het, die algehele verwoesting van die republieke en geweldige verliese in lewe en eiendom. “Aye, but it meant also that every Boer that was to survive that death struggle, every child to be born in South Africa, was to have a proud self-respect and a more erect carriage before the nations of the world. To the Boer people, easy-loving, easy-going, the supreme choice presented itself between peace or death. The man, who now rises among the Boers as their most heroic figure, chose for them death. And they shall live.”