Op die trekpad

Voorbereidings vir die Trek
March 14, 2015
By die uitspanplek
March 16, 2015

Die trekkers was heeltemal afhanklik van die trekosse en het hulle goed opgepas. Snags is soms groot vure gemaak om wilde diere weg te hou. ’n Span het gewoonlik uit twaalf tot sestien osse bestaan, en elke os het sy eie naam gehad. In Tregardt se trek was daar ’n Ribbok, Somer, Friesland, Rooiland, Wiegeland, Robbert, Duiker, Joeman, Vryman, Liefhebber, Witbol, Fluit, Witsenberg, Tiegerberg, Blouberg, Regter en Roman. Elke os het ’n vaste plek in die span gehad. Links van die wadrywer op die wakis was die hotkant en regs die haarkant. In ’n span van 12 was daar dus ’n hotvoor, haarvoor, hotnaasvoor en haarnaasvoor, hot-op-ses, haar-op-ses, die hot- en die haarnaasagter, en die hotagter en haaragter.

Die snelheid van die ossewa was gemiddeld ongeveer 5 km per uur. As die reis voorspoedig was, kon ’n trekker tot 32 km per dag aflê. Die osse moes gewoonlik rus nadat hulle so drie uur lank getrek het. ’n “Skof” is dan afgelê. Teen dagbreek het die sweep reeds vir die oggendskof geklap. Op ’n baie warm dag is daar nie in die hitte getrek nie, en is die osse uitgespan. Teen laatmiddag is daar weer ’n skof getrek. As die maan helder is, en daar nie te veel leeus was nie, is soms ’n nagskof afgelê.

Elke wadrywer het ’n sweep gehad. Die bamboesstok was meer as vier meter lank en die sweep self minstens vyf. Voor aan die punt van die sweep was die voorslag (’n dun wildsbokvelriempie) van minder as ’n meter lank.

Die trekpad het baie gevare en ontberings opgelewer: donderstorms, haelbuie, ysige winternagte, versengende hitte; roofdiere, slange en giftige insekte. Waens wat omval, byvoorbeeld teen ’n steilte of in ’n drif, of selfs wanneer die osse op loop sit daarmee, het groot skade veroorsaak. Die veld was soms so ruig dat die mans met byle ’n pad vir die wa moes oopkap. Verskriklik was dit as sulke ruigtes of die laer aan die brand raak. Op 2 Junie 1839 het daar ’n brand in die laer van Jacobus Potgieter uitgebreek en is die ganse laer in as gelê. Die trekkers het net die klere aan hul lyf oorgehou, sommige nie eers ’n hoed nie. Die groot hoeveelheid kruit op die waens het veroorsaak dat die laer heeltemal uitgebrand het. Vier mans en ’n paar kinders het omgekom.

Twee van die grootste hindernisse op pad was die Oranjerivier en die Drakensberge. Party het die Oranje oorgesteek by Buffelsvlei naby die huidige Aliwal-Noord en ander trekke by Zanddrif. JH Hatting vertel dat hulle eers die waens met vlotte oorgeneem het, daarna die vrag en die kleinvee. Die beeste moes maar self deurswem. Uiteindelik is die vroue en kinders oorgeneem. Onder die sing van “Komt! treên wij dan gemoedigd voort” (Gesang 20 vers 9) het hulle die oorkant bereik.

Voordat die waens in 1837 na Natal is, het die mans die Drakensberge goed verken. Wildspaadjies was soms ’n aanduiding van waar waens kon ry. Sterk rieme van buffelvel is aan die waens vasgemaak en die mans het met alle mag aan die bergkant van die waens gehang om te voorkom dat hulle afstort. Om te keer dat die waens op loop raak, is remskoene gebruik, en om die vaart verder te stuit, is soms takke aan die agterstel vasgemaak.