Oorwinning verander in neerlaag

“Rooi Bul” vang Churchill
January 22, 2015
Magersfontein
January 22, 2015

Sir Redvers Buller, as nuwe opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, het op 31 Oktober 1899 op dieselfde skip as Churchill in die Kaap aangekom. Buller se oorspronklike plan om na Pretoria op te ruk, het hy laat vaar toe hy die nuus van “Mournful Monday” verneem. Hy het sy leër in drie dele verdeel, en met die grootste deel op 22 November na Natal vertrek. Lord Methuen is met ’n kleiner afdeling na Kimberley gestuur en generaals Gatacre en French moes teen die Vrystaters opruk.

Lord Methuen het die Boere aan die einde van November in die slae van Belmont en Graspan teruggedruk tot op die punt waar die Riet- en Modderrivier in mekaar vloei. Die man wat dié posisie gekies het om Methuen te stuit, was generaal JH (Koos) de la Rey. Hy het besef dat as die Boere die Engelse van dié twee riviere kon weghou, die dors Methuen sou dwing om terug te trek tot aan die Oranje.

Op 28 November het Methuen se aanslag begin. Die burgers het volgehou met ’n moordende vuur op die vyand. Terwyl die koeëls om hom fluit, het De la Rey op en af tussen sy linies gestap om die burgers aan te moedig. Sy seun Adriaan het hom gevolg, maar skielik was sy voetstappe stil. De la Rey draai om en vra: “Is jy gekwes?” “Ja, Vader.” “Dan is dit beter dat ons dadelik na die ambulans gaan.” Hy dra sy seun daarheen en lê hom neer. “Is dit seer, my kind?” “Ja, Vader!” “Dink jy dat jy daaraan sal sterf?” “Ja, Vader!” Daar was egter geen ambulans nie en De la Rey moes sy seun op ’n veilige plek laat totdat ’n ambulans gevind kon word.

Hoewel De la Rey graag by sy seun sou wou gebly het, was hy onmisbaar in die geveg en is hy vasbeslote daarheen. Daar het die Vrystaters uit hul stellings gevlug en was die Britte besig om De la Rey met sy 1600 Transvalers te omsingel. De la Rey het egter die situasie oorsien en, terwyl hy met die sambok die rigting aandui, die bondige bevel gegee: “Dáár moet ons ons losskiet!” Gekonsentreerde mauservuur bars op dié punt los, en die Britte vlug totaal oorbluf, nie net daar nie, maar elders. Die teenaanval was net op die regte punt. Daarop is De la Rey weer na sy gewonde seun wat vroeg die volgende oggend gesterf het.

Die hardste slag vir De la Rey was egter toe die adjunk-opperbevelhebber, generaal Piet Cronjé, die Boere beveel om terug te trek. Hy het nie besef dat die Engelse ’n verpletterende neerlaag gely het nie en het ’n nuwe aanval gevrees. “Kan julle dan nie sien dat ons die slagveld behou het nie!” het De la Rey verontwaardig en teleurgesteld uitgeroep, maar vergeefs. Die Modderrivier-posisies is aan die vyand present gegee. Die volgende dag moes hy aan sy vrou telegrafeer: “Heden ontsliep ons geliefde zoon Adriaan zoo zacht in myn armen aan een kogel wond hem gisteren in een hewigen gevecht is toegebracht. Het lyk zal morgen alhier te Jacobsdal ter aarde besteld worden. Hoe hard het ook al voor ons allen is, God heeft het alzoo besloten.” Die ontruiming van die stellings het De la Rey egter meer trane gekos as die dood van sy seun, het hy self verklaar.