Oorweldigende steun vir Afrikaans

“Laat ’t ons toch ernst wezen!”
Januarie 23, 2015
Eerste liriese Afrikaanse gedig
Januarie 23, 2015

Nadat Preller sy reeks gepubliseer het, in De Volksstem (De Volksstem het op 1 Januarie 1905 een -s verloor maar eers op 1 Januarie 1927 Die Volksstem geword), het hy dit as geheel in pamfletvorm uitgegee. Ander koerante het dit oorgeneem. Die reaksie was oorweldigend.

Gerespekteerde leiers soos president Steyn, generaal De Wet en generaal Louis Botha, asook joernaliste, predikante en regsgeleerdes het aan De Volksstem laat weet dat hulle saamstem met die strekking van Preller se artikels. Groot indruk het dit veral gemaak dat president Steyn, “die grote man van ons volk”, die beweging gesteun het, skryf ’n leser op 31 Desember 1908 in Ons Land. Ander wat instemming met Preller betuig het, was professor Lion Cachet en dominee JD du Toit van Potchefstroom, Nico Hofmeyr van die Normaalkollege, Pretoria, advokaat Eugène Marais van Pretoria, advokaat JHH de Waal van Kaapstad, advokaat NJ de Wet van Pretoria, die redaksies van De Vriend des Volks (Bloemfontein), De Afrikaner (Pietermaritzburg), Land en Volk (Pretoria), De Transvaler (Johannesburg), De Goede Hoop (Kaapstad) en De Volksstem (Pretoria), asook die dosente en studente van die Potchefstroomse teologiese skool. Toe Preller se betoog in 1905 as brosjure verskyn (Laat ’t ons toch ernst wezen! Gedachten over Afrikaanse schrijftaal), het Engelenburg die voorwoord geskryf. Hy het gesê dat Frederik die Grote nooit ’n geheim gemaak het van sy oortuiging dat die taal van die volk nie vir beskaafde doeleindes deug nie en tuis hoort in kaserne en bediendekamer. En terwyl die geniale koning dit gedink het, was “Goethe mooi op pad om, door middel van ’t verachte Duits, zichzelf een onverganklike naam te maken!” Belangwekkend was dit dat die meeste Afrikaans-Hollandse koerante, op Ons Land na, simpatiek gestaan het teenoor Afrikaans, hoewel hulle aanvanklik hoofsaaklik Nederlands gebruik het. Ons Land het gemeen dat Engels sal seëvier indien die Afrikaner in ’n Afrikaanse en pro-Nederlandse faksie sou verdeel en onder mekaar veg.

Preller het besef dat betoë net ’n deel van die stryd vorm. Noodsaaklik is taal- en spelreëls maar veral ’n literatuur, geskiedskrywing en wetenskap. ’n Nasionale letterkunde kan die enigste bolwerk wees teen die veldwinnende mag van Engels, het ook die Nederlandse taalkundige DC Hesseling gesê. Hy het Afrikaans in vaktydskrifte verdedig en besef dat nie alleen rasionale argumente nie, maar ook die gevoel ’n invloed het op die keuse van ’n kultuurtaal, en dat die “macht van het dichterlike woord […] uit het hart komt”.

Preller plaas enkele van sy eie gedigte, onder meer ’n vrye vertaling van “The searchlight” wat Joubert Reitz (tweede seun van oudpresident FW Reitz) op Bermuda geskryf het: “As die soeklig van die wagskip/ op mij tent skijn in die nag/ peins ek droef o’er huis en makkers, / en die speeltijd van weleer–/ skyn daar op die tentdoek beelde/ wat my denke t’rugvoer ver na/ ruiend veld in sonneweelde,/ waar eenmal/ so mooi gestaan het/ die ou haardstee, die ou tuiste…/ en dan breek daar, of ’t ’n hart is,/ snikkend deur my sielepyn–/ as die soeklig van die wagskip/ in die naguur op my tentdoek skyn!”