Oorsake van die Groot Trek

Taaltoestand aan die Oosgrens voor die trek
March 11, 2015
Swart migrasies in Suider-Afrika
March 13, 2015

Daar is drie keuses vir die grensboer: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het.” Dit was in 1825 die woorde van Andries Stockenström in die drosdy van Graaff-Reinet aan twee sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (John Philip en William Wright) en ’n liberale Britse setlaar (Thomas Pringle).

Stockenström (1792-1864) was landdros en sou in 1828 in Grahamstad as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie word. Hermann Giliomee beskou hom as die grootste Afrikaner van die 19de eeu. Anders as die ander goed opgevoede amptenare het hy homself “Afrikaner” en “Boer” genoem. Hy was volgens Giliomee in Die Afrikaners ’n eerlike man met ’n vurige, onafhanklike gees en kon geen skynheiligheid verdra nie.

Vir hom was weghardloop onaanvaarbaar, en hy het tien jaar later die Groot Trek veroordeel. Hy het egter die opvatting verwerp dat die burgers nie die reg het om hulleself te verdedig nie. Vir hom was daar twee kernwaardes, naamlik waarheid en strenge en gelyke geregtigheid.

Sy gespreksgenote het Stockenström probeer stilmaak deur te sê dat die Afrikaners geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Stockenström het geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie verontagsaam het.

Tog was die Groot Trek nie ’n geval van weghardloop nie, sê Giliomee. Dit was ’n goed beplande massa-opstand teen ’n ondraaglike gebrek aan sekuriteit. Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as ’n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid.

Die grensboere het al hoe minder geweet hoe om op te tree teen rondlopers en veediewe. Baie het swaar verliese weens veediefstal gely en het toenemend vir hul lewens gevrees. In sekere dele was daar feitlik geen regeringsgesag nie. Die sesde grensoorlog (1834-1835) was vir die burgers ’n geweldige skok. Hulle kon nie glo dat ’n Xhosa-inval op so ’n groot skaal moontlik was nie. Die hele grensgebied was in ’n toestand van onrus.

Die dryfveer vir die trek word opgesom in ’n opskrif van AJ Böeseken en DW Krüger in Drie eeue: “Daar was geen geloof in ’n beter toekoms in die Kolonie nie.” Rudolf Dreyer, die hoofkarakter in FA Venter se roman Geknelde land (1960) was eers kwaai teen die trek gekant, maar verklaar later: “Hier sal ons altyd slawe bly. Hier sal ons altyd vir die swarte werk. Ons sal ons lewens hier nooit seker wees nie.” (Hy gebruik die destyds neutrale k-woord vir swarte.)

Grensboere het kommissies aangestel wat die moontlikhede van ’n rustiger lewe elders moes ondersoek. ’n Verkenningstrek onder Hendrik Scholtz het die Soutpansbergstreek besoek, ’n tweede onder Jan Andries Pretorius het ongunstig gerapporteer oor Damaraland, en die derde onder Pieter Lafras Uys het einde 1834 teruggekom met ’n besonder gunstige verslag oor Natal.

Binne twee jaar daarna het die uittog van die Voortrekkers begin. Destyds is hulle Emigrante-Boere genoem. Die naam Voortrekkers is van later en is in 1840 die eerste keer gebruik. Die naam Afrikaner was darem ingeburger; Louis Tregardt skryf in sy dagboek van Africaander en Affrikaanders. Andries Pretorius noem ds. GWA van der Lingen van die Paarl in 1838 in ’n brief een waare Afrikaan, terwyl ’n leidende Afrikaner, CJ. Brand, aan Pretorius skryf dat hy Afrikaander is.