Ekstase en somberheid
January 22, 2015
SJ du Toit en sy seun verskil
January 22, 2015

Pretoria was stil op 10 Oktober, aangesien president Kruger in ’n openbare kennisgewing gevra het dat sy verjaarsdag nie gevier word nie. Frederik Rompel, wat verbonde was aan De Volksstem, skryf dat daar op dié dag ’n bedrukte stemming in president Kruger se voorkamer geheers het. Maar naderhand het ’n paar besoekers begin grootpraat oor Engelse in die see jaag. “Plotseling hoor ek die sware stem van die President – ’n stem soos van ’n leeu, en hy vermaan die mense om te bedink dat ’n oorlog hierdie slag nie een sou wees soos in die jare tagtig nie: ‘As Engeland nou met ons in oorlog kom, sal hy ons nie los voordat hy ons gewurg het nie. Alleen God sal ons dan kan red’.”

Op Woensdag 11 Oktober het die Britse diplomatieke agent, sir W Conyngham Greene, hom die middag by die kantoor van die Uitvoerende Raad aangemeld om die Britse antwoord op die ultimatum oor te dra. Toe die agent die saal verlaat, het die President stilgebly, in ernstige gebed, en aan die einde het hy Psalm 108 vers 8 opgesê:

O God! die’s lands benaauwdheid ziet,
Red toch uw volk uit zijn verdriet;
Want ’s menschen heil is ijdelheid;
Maar als Gods almacht ons geleidt,
Dan doen w’ in Hem de kloekste daan, [dade]
Zoodat wij duizenden verslaan …

Daarna het die president die oorlogsproklamasie met vaste hand onderteken. Om vyfuur het al die landdroste in Transvaal  n telegram gekry met net een woord daarop: “OORLOG!” ’n Paar minute oor vyf het die president met sy rytuig huis toe gery. Die gordyntjies was toegetrek. Die mense moes nie die droefheid op sy gesig sien nie. De Volksstem het dié dag ’n hoofartikel bevat waarin herinner is aan die woorde waarmee Godfried de Bouillon die kruisvaarders aangemoedig het: “En dan onder biddend opzien tot de Heer: ‘Voorwaarts! God wil het’.” Generaal Ben Viljoen het die stemming opgesom: “God en die Mauser!”

Die Engelse moes die land verlaat, tensy hulle ’n eed sou aflê dat hulle geen verraad sou pleeg nie en trou en gehoorsaam sou wees aan die wette van die owerheid. Hulle moes binne agt dae uit die land wees. Daarna kon diegene sonder ’n vergunning aangehou word.

Rompel vertel: “In Pretoria was daar geen opwinding nie; daar was eerder ’n ernstige stemming; beklemming het daar ewenwel nie geheers nie. Daar was rustige vertroue – maar oor die algemeen baie min grootspraak.” Hy het die eerste burgers vroeg in Oktober na die grens sien vertrek, en vergelyk mens dit met die begin van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 in Europa, val die onderskeid sterk op. “In Transvaal was die vertrek van die burgers van ’n eenvoud en ’n amper gewyde plegtigheid. Geen luidrugtige musiek, geen geswaai van vlae en vaandels, geen hoera-geroep, geen geskitter van uniforms en geblink van wapens nie: alleen n gebed eers, en dan by die uitry van die trein, gewuif van hoede en sakdoeke, en miskien swak pogings om die volkslied te sing. By die vrouens geen trane en geen weeklagte nie: ’n soen, ’n handdruk, en die eenvoudige vermaning: ‘Doen jou plig!’”