Boodskappe en briewe
April 15, 2017
Florence Nightingale
April 15, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1971)

In die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 is meer as tien miljoen siele die ewigheid ingeslinger en in die Tweede Wêreldoorlog is veel meer mensemateriaal vernietig.

Na die oorloë het duisende gewondes, verminktes en liggaamlike sukkelaars na hulle huise en gesinne teruggekeer. Die meeste van die lewende getuies aan die afgryslike dae het nou reeds van die toneel verdwyn. Die enigste skakels met die knellende jare behalwe die beskrywings in baie boekdele en amptelike verslae, is die gedenktekens wat op baie dorpe en in stede op sigbare openbare plekke soos voor stadsale opgerig is. Die mense wat die koeëls in die bloed nie gevoel en die kruitdampe in die neus nie geruik het nie, het hulle gewetens op die manier gestil om tjeks en muntstukke vir gedenktekens af te staan.

Die grootste en aangrypendste van hierdie gedenktekens staan by die halfdosyn standbeelde voor die Durbanse stadsaal.

Dit bestaan uit ’n poort waar aan beide kante van die breë ingang twee leeus staan; die monument self is 62 voet hoog en toon twee engele wat die siel van ’n gestorwe soldaat na die hemel dra soos gesimboliseer deur ’n son en ’n duif. Aan die voetstuk van die monument lê die bronsbeeld van die lyk van ’n gestorwe soldaat. Hier naby hom is ’n bronskruik wat die lig van Herinnering toon; daar is drie grafte in brons waarop die name van die afgestorwenes van die Eerste Wêreldoorlog gegraveer is; teen die mure rondom die grasperk is die name van die gesneuweldes in die Tweede Wêreldoorlog geskrywe.

Die ontwerp van die oorlogsmonument is in meer as een opsig opvallend, veral die blou en geel Della Robbia-porseleinwerk is baie kleurvol.

Op die monument staan geskrywe: “Tell it to the generation following”. Op die voetstuk van die beeld van die gestorwe soldaat staan die teks Johannes 12 vers 24 wat na die graankorrel in die grond verwys. Op die poort links staan: “Gate of Memory to those who fell in service of their county 1914-1918, 1939-1945; opened by HM King George VI, March 1947”; op die poort regs staan: “I said to the man who stood at the gate of the year: Give me a light that I may tread safely into the unknown and he replied: Go out into the darkness and put your hand into the hand of God. That shall be to your better than light and safer than a known way.”

Alhoewel daar soveel herinneringe en gedenktekens aan die smarte, lyding en afskuwelikhede van twee Wêreldoorloë vandag nog bestaan en gesien kan word, is daar oorlog op baie plekke in die wêreld op hierdie oomblik weer aan die gang. Naby die grense van ons land word terroriste en hulle broeineste opgespoor en uitgewis. Aan die bopunt van Afrika dreun kanongebulder en saai vliegtuie verwoesting. In Jordanië maai die Arabiere mekaar af. Israel en sy bure is tot die tande toe gewapen en daar word elke dag op mekaar geskiet.  in Suid-Oos-Asië sterf daar nog elke dag soldate. Onlangs het Protestante en Rooms-Katolieke, almal kerkmense, mekaar in Ierland geskiet. In die grootste deel van Europa heers daar ’n sogenaamde koue oorlog. Die mense van Suid- en Noord-Amerika brand kort-kort met gewere op mekaar los.

Ons lees van die eerste klein oorloggie in die eerste boek van die Groot Boek waar die satan op die eerste mensepaar in die Paradys toegesak het sodat daar geskrywe staan: “So het Hy dan die mens weggedrywe en gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker …” Kort daarna lees ons van die eerste broedermoord:” … en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan …”

Daar was baie oorloë in die Bybel se dae, en in die begin van ons huidige jaartelling het ’n koning aan die noordelike punt van die kontinent oorlog teen klein kindertjies gemaak sodat daar geskrywe staan: “’n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.”

Selfs voor ons huidige jaartelling is daar ook oor groot oorloë geskrywe en die afgelope 2000 jaar het oorlogsugtige konings en veglustige veldhere met hulle gedissiplineerde soldate dood en verwoesting in baie dele van Europa en Asië gesaai.

Hierdie oorloë het nie altyd om die magsewewig tussen nasies of landhonger of ekonomiese sake gegaan nie, maar van die grootste veldslae het die godsdiens as doelwit gehad, self in so ’n mate dat die Tagtigjarige Oorlog oor die Protestantse en Rooms-Katolieke geloof uitgewoed het.

Die kiem van oorlog en die dood is in die skepping vasgeanker. Dit is selfs duidelik by beduiwelde duiwe wat met harde vlerkgeklap mekaar se vere laat waai; of by ’n klein kuikentjie wat die bloeierige toontjie van ’n maatjie aanhou pik totdat dit ’n groot wond word; of by miere wat ’n verwonde of dooie mier na die ondergrondse gange wegdra.

Aan die einde van die laaste boek van die Bybel is daar egter ligpunte soos dit daar o.a. geskrywe staan: “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan … En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan …”