Oorgawe en ’n selfmoord

Opstand te midde van ’n buitelandse bedreiging
February 14, 2015
Optredes teen Afrikaners
February 16, 2015

’n Amerikaanse skip het op 28 Junie 1795 die nuus gebring dat die State-generaal alle Nederlanders, ook in die kolonies, van hul eed van trou aan die Prins onthef. Dit het geïmpliseer dat hulle die Kaap moes verdedig. Hoewel baie Kaapse amptenare Oranjegesind was, het daar vir hulle geen keuse oorgebly nie.

Deur middel van seine is bekend gemaak dat ’n vyand die land bedreig, en die naaste gewapende burgers van Kaapstad, Stellenbosch en Drakenstein het begin opdaag. Die Engelse, wat bewus daarvan was dat baie offisiere Oranjegesind was, het sogenaamde “briefjes” onder die soldate versprei waarin hulle baie geld aan oorlopers beloof het. ’n Dertigtal het inderdaad oorgeloop.

Die bewindhebbers het besluit om Simonstad te ontruim en by Muizenberg verdedigingswerke op te rig. Dit moes ’n Britse opmars na Kaapstad stuit. Die bevelvoerder was lt.-kol. CMW de Lille. Hy en sy offisiere is gehaat weens hul Engelsgesindheid. De Lille het die burgers telkens belet om op die Engelse te vuur, en hulle gevra hoe hulle so verbitterd teen die Engelse kon wees. Laasgenoemde het immers volgens hom nie as vyande gekom het nie, maar as bondgenote en vriende wat die Kaap teen die Franse moes verdedig.

Op 7 Augustus het Craig Simonstad onverwags met sy soldate verlaat en teen Muizenberg opgeruk. Elphinstone het op die swak stellings daar geskiet. De Lille en ’n aantal troepe het dadelik op die vlug geslaan, waarskynlik meer vanweë sy Engelsgesindheid as lafhartigheid. Sy gedrag het groot verbittering gewek. In die kamp by Wynberg het die burgers gesê dat die militêre offisiere hulle verraai het. Hy is van sy bevel onthef.

Sowat ’n maand lank het burgerkommando’s die Engelse se pad na die Kaap versper. Nadat meer versterkings vir die Engelse aangekom het, het hulle op 14 September weer aangeval. Weer het die troepe pateties opgetree en met die koms van die Britte teruggeval. Baie burgers wat nog wou veg, was hieroor so woedend en magteloos dat hulle uitgeroep het hulle is verraai, en maar huis toe gegaan het.

Op 16 September 1795 het die Nederlandse magte gekapituleer en die Kaap aan die Britte oorgegee. Dit was ’n roemlose einde van die Kompanjie se bestuur aan die Kaap. Eervoller was die optrede van die burgers, wat die band met Nederland wou behou. Ondanks hul teenkanting teen die Kompanjie het hulle Kaap toe gegaan om die land te verdedig. Die Swellendammers was bereid om “den laatsten druppel bloed voor hun vaderland en vrijheid op te offeren”. Hulle en die ander patriotiese burgers was bitter teenoor almal wat die Kaap moes verdedig, maar in die uur van gevaar met die vyand gesimpatiseer het.

De Lille het dadelik die eed van getrouheid aan Engeland afgelê en in Britse diens getree. Baie ander amptenare en soldate het sy voorbeeld gevolg. Kol. RJ Gordon is op 25 Oktober met ’n koeëlwond in die agterkop in sy tuin dood aangetref. Toe hy besef het dat die Engelse nie gekom het om die Kaap in naam van die Prins van Oranje te regeer nie, het verwyte oor die swak verdediging van die Kaap swaar op hom gedruk. By die oorgawe was daar onstuimige tonele en is hy en Sluysken van verraad beskuldig en in teenwoordigheid van sy troepe verneder.