Oor ’n paar van ons ouer volksliedere

Die merkwaardige ds. CF Mijnhardt
June 27, 2018
Die Barry-kerkie, Port Beaufort
June 27, 2018

Daar bestaan verskillende soorte volksliedere in die wêreld. Daar is dié wat in die ver verlede ontstaan het, waarvan die digter en die komponis dikwels onbekend is, liedere wat die gevoelens van ’n volk vertolk en in daardie volk bly voortleef het. Dan is daar die volkslied in die betekenis soos ons dit ook in ons eie land ken, daardie lied of liedere wat die nasionale gedagtes van ’n volk vertolk en wat by amptelike geleenthede of by plegtige byeenkomste deur die vergaderdes gesing of op ’n ander wyse ten gehore gebring word.

Ons volkslied, Die Stem van Suid-Afrika, is ’n resente voorbeeld van so ’n lied, ’n lied wat die nasionale gedagtes weergee wat in ons volk leef, wat dit besiel en tot groot dade en opofferings aanspoor.

Wanneer daar op die staatkundige geskiedenis van ons land gelet word, is dit feitlik vanselfsprekend dat, gesien die negentiende eeuse samestelling van ons staatkundige landkaart, daar ook in die verlede digters en komponiste verrys het om passende volksliedere aan ons voorouers te gee.

Sommige van hierdie liedere het die tand van die tyd trotseer, omdat hulle ingang in die harte van die voorgeslagte gevind het, ander het in die spreekwoordelike vergeetboek tereggekom.

Met betrekking tot die Zuid-Afrikaansche Republiek het die bekende historikus prof. dr. S.P. Engelbrecht reeds in 1930 in Die Nuwe Brandwag op ’n aantal volksliedere gewys wat in die loop van die jare in die Transvaalse gemeenskap ontstaan of deur Transvalers gesing is. Ds. Dirk van der Hoff se Vlaggelied dateer van 1857, in 1866 het ’n sekere J.L. … (volgens dieselfde skrywer was dit vermoedelik die sendeling J. Ludorf) ’n volkslied gedig wat meer as ’n persoonlike verheerliking van Staatspresident M.W. Pretorius beskou kan word.

Staatspresident T.F. Burgers het hom sterk vir ’n Transvaalse volkslied beywer tydens sy reis na Europa. Die gevolg van sy bemoeiings was ’n drietal liedere waarvan twee vandag onbekend is en een tot vandag toe voortleef in ons volk. Die eersgenoemde twee was liedere wat deur die bekende Nederlandse digter-predikant J.J.L ten Kate en Adelheid Horch geskryf en albei deur die Utrechtse komponis Richard (Rijk) Hol van musiek voorsien is.

Catharina van Rees, skepper van die alombekende “Transvaalsch Volkslied”. Minder bekend is dit dat sy ook vir die lied “Transvaalsch Feestlied” verantwoordelik was. Foto: SP Engelbrecht-museum

Bly voortleef het die Transvaalsch Volkslied van Catharina van Rees, ’n begaafde Utrechtse dame wat ook verantwoordelik was vir die toonsetting van haar digterlik-romantiese skepping.

Prof. Engelbrecht maak ten slotte melding van die Vlaggelied van die Amsterdammer W.P. van Hengel wat ook tydens die presidentskap van Staatspresident Burgers tot stand gekom het.

Wat ons veral tref, is die invloed van ’n paar Utrechtse kunstenaars in verband met die totstandkoming van die Transvaalsch Volkslied, te wete Catharina van Rees en Richard Hol.

Dit was veral die komponis Richard (Rijk) Hol (1825-1904) wat daarin geslaag het om van hierdie ou Nederlandse stad ’n belangrike middelpunt van die toenmalige musieklewe in Nederland te maak. Hy was o.m. direkteur van die plaaslike Toonkunstmuziekschool, ’n inrigting waaraan o.m. die klavierspeler M.W. of W. Petri een van die dosente was.

Volgens die Nederlandse musiekkenner Wouter Paap was die grootste verdienste van Richard Hol dat hy ’n gevoel van selfvertroue in die harte van Nederlandse komponiste soos W.F.G. Nicolai (Den Haag) en Johannes J. Verhulst (Amsterdam) opgewek het om tot skeppende arbeid oor te gaan.

In die Burgers-biografie van prof. dr. S.P. Engelbrecht kan o.m. gelees word dat die latere Staatspresident T.F. Burgers hom tydens sy Utrechtse studentejare ook in die musiekminnende kringe in Utrecht beweeg en ’n werksame aandeel in die Utrechtse kultuurlewe van daardie dae geneem het. Van daardie tyd dateer ook sy kennismaking met mej. Catharina van Rees.

Dit verwek dan ook geen verbasing nie dat daar soms veronderstel is, hoewel ten onregte, dat die wysie van die Transvaalsch Volkslied afkomstig sou wees van Richard Hol. Deur prof. Engelbrecht word hierdie veronderstelling ten sterkste ontken.

Titelblad van die eerste druk van “Transvaalsch Volkslied” waarin ook die “Feeslied” verskyn het. Foto: SP Engelbrecht-museum

Catharina van Rees het deur haar Transvaalsch Volkslied bekend gebly in ons land, veral waar dit Transvaal betref. Minder bekend is dat van haar, ofskoon dit nie ’n volkslied is nie, ook die Transvaalsch Feestlied afkomstig is, soos op meegaande afbeeldings gesien kan word. Die afbeeldings en die musiek is ontleen aan die sesde, ongedateerde uitgawe van die bewerking van W. Petri soos dit deur die Utrechtse musiekhandelaar H. Rahr uitgegee en versprei is.

In verband met die Volkslied van den Oranje Vrijstaat kan verwys word na dr. Hendrik P.N. Muller se bekende werk Oude Tijden in den Oranje Vrijstaat (Leiden, 1907) waarin nie alleen die woorde afgedruk is nie, maar ook die teks in Engels onder die titel Orange-Freestate National Anthem.

Die Nederlandse woorde van die Volkslied van den Oranje Vrijstaat was van die bekende Nederlandse immigrant adv. H.A.L. Hamelberg wat ook daarvoor gesorg het dat die toondigter W.F.G. Nicolai die musiek geskryf het. Op 23 Februarie 1866 is hierdie lied vir die eerste keer deur ’n gemengde koor onder leiding van die Duitse geneesheer dr. Kellner in die Vrystaatse Volksraadsaal ten gehore gebring.

Sowel die Volkslied van den Oranje Vrijstaat as die jonger Transvaalsch Volkslied wat vir die eerste keer op 7 Januarie 1876 in die openbaar uitgevoer is (Arnhem, Nederland), het geliefde volksliedere gebly en die staatkundige veranderings in die geskiedenis van ons land en volk glansryk oorleef!

Die invloede van sommige van hierdie Nederlandse toonkunstenaars op ons musieklewe het ook later tot uiting gekom. In dié verband kan na Dirk Balfoort verwys word wat ook van Utrecht afkomstig was en hom vermoedelik ook in hierdie kringe beweeg het. Op die oomblik beskik die skrywer-samesteller van hierdie bydrae oor onvoldoende gegewens in dié verband. Wel kan vermeld word dat op ou programme aangaande uitvoerings wat in die jare negentig onder leiding van Balfoort op Pretoria gereël is, ook werke van Verhulst voorkom.

Ook na die Eerste Anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek, in sommige opsigte ’n doelbewus gekose skeidslyn, het die strewe om volksliedere vir die verskillende staatkundige eenhede van ons land tot stand te bring, nie stilgestaan nie. Die skeidslyn is getrek met verwysing na ’n volkslied De Vierkleur, waaroor meer besonderhede sal volg. Die woorde van hierdie lied is geïnspireer deur die afloop van die Eerste Vryheidsoorlog.

Van hierdie strewe getuig ook die bundeltjie Volksliederen van Zuid-Afrika. Opgesteld of gearrangeerd door F. Reginal Statham (Londen en N. York, s.j.). Hierdie digter en komponis het hom veral in dié rigting beywer deur sy Volkslied van de Kaapkolonie waarvan die Nederlandse woorde van Staatspresident F.W. Reitz afkomstig is, en deur sy Komt, broeders, komt. Ook in laasgenoemde geval het die begaafde Vrystaatse staatshoof die oorspronklik Engelse teks in Nederlands vertaal. Die Komt, broeders, komt is veral van belang omdat die ondertitel daarvan lui: Zuid-Afrikaansch Volkslied. Dit kom aan die einde van die bundeltjie voor, nadat ook plek ingeruim was vir die reeds genoemde volksliedere van die O.V.S. en die Z.A.R. In die standaardwerk Suid-Afrikaanse Musiekbibliografie van dr. F.Z. van der Merwe kan ’n groot aantal komponis van die hand van Statham aangetref word.

Van Statham is o.m. bekend dat hy in 1844 in Liverpool gebore is, in 1877 na ons land oorgekom het en agtereenvolgens tot vestiging in Natal en Kimberley oorgegaan het. Hy was ook ’n bekende joernalis wat hom beywer het om die belange van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die Engelse pers te bepleit. Tewens, aldus dr. Van der Merwe, was hy ’n vriend van Staatspresident F.W. Reitz; vandaar ongetwyfeld die samewerking op die gebied van die vertalings van die Engelse tekste van die liedere wat deur Statham gekomponeer is.

Statham het ook bekendheid verwerf as een van die oudste biograwe van Staatspresident S.J.P. Kruger wat onder die titel Paul Kruger and his Times in 1898 in Londen verskyn het. Ook was hy die skrywer van ander werke oor Suid-Afrika soos Blacks, Boers and British en South Africa as it is.

Vermeldenswaardig is hoeveel moeite Statham hom moes getroos om sy gegewens oor die Kruger-biografie te vind, aangesien, soos hy in sy voorwoord meegedeel het, die Staatspresident hom nie oor homself of oor sy loopbaan wou inlig nie, ’n vermelding wat in ’n skrywe van die sekretaris van S.H.Ed. aan Sr. N. Mansvelt (O.R.17529/97, 29.12.1897. Transvaalse Argief, Pretoria) bevestig is. Spytig het Statham dan ook aangeteken: “The reluctance cannot but be respected though it may well be wished that it could be overcomed.”

Teruggaande na Statham se werksaamhede ten behoewe van die skep van volksliedere vir ons land en volk, kan in elk geval nog melding gemaak word van sy komposisie Natal Anthem (woorde van mej. Strad) en van die belangrike feit dat Statham nie alleen vir volksliedere vir die vier staatkundige eenhede van ons land gesorg het nie, maar ook in sy Komt, broeders, komt (Come, brothers, come) wat volgens dr. Van der Merwe vir die eerste keer in 1889 gesing is, ’n groter eenheid, ’n verenigde Suid-Afrika, in gedagte gehad het.

Met betrekking tot Statham se reeds genoemde bundeltjie ten slotte nog ’n paar woorde in verband met De Vierkleur. Een Transvaalsch Volkslied, woorde deur Neef Jan en musiek deur die bekende komponis en orrelis Jan Stephanus de Villiers (Paarl, 1827-1902). Hierdie volkslied wat met die woorde “Op, op met de Vierkleur, de vlag van Transvaal” begin, het, soos dr. Van der Merwe vermeld, ’n tydlank ’n groot mate van populariteit in Transvaal geniet.

Vandag is dit feitlik onbekend. Onlangs, by geleentheid van die herdenkingsbyeenkoms wat ter geleentheid van die 65-jarige bestaan van die “Oost-Eind”-skool op Pretoria gehou is, het ’n oud-leerling van hierdie skool nog getuig dat daeliks, na Skriflesing en gebed, die dagtaak van die leerlinge na die sing van “Op, op met de Vierkleur, de vlag van Transvaal” begin het. Hierdie oud-leerling het na die jare 1897-99 verwys.

Met hierdie kort beskouing is, histories beskou, die outydse volksliedereskat ongetwyfeld nie uitgeput nie. Die Volksliederen van Zuid-Afrika het aanleiding tot hierdie bydrae gegee. Ook het die vraag ontstaan waaraan dit toegeskryf moet word dat sommige van hulle verdwyn het, vergeet is of nooit meer gehoor word nie. In die Vrystaatse en die Transvaalse volksliedere is ’n gedeelte van ’n antwoord op hierdie vraag, nl. dat staatkundige veranderings geliefde outydse volksliedere wel van hul amptelike status kan beroof, maar andersyds het hulle in die harte van opeenvolgende geslagte bly voortleef. Dan kan die vraag gestel word wat die faktore was wat verantwoordelik was vir die in onbruik raak van “Op, op met de Vierkleur …”

Hier moet ons die antwoord skuldig bly. Tog wil ons aan die slot van hierdie kort en onvolledige bydrae ’n pleidooi lewer vir ons oorgelewerde liedereskat, allereers waar dit die negentiende eeuse Suid-Afrikaanse volksliedere, die amptelik of nie-amptelik erkende onder hulle betref. Hulle mag o.i. nie vergeet word nie. Kan hulle nie van tyd tot tyd ten gehore gebring word nie? Kan hulle nie onderdele van ’n reeks vorm wat aan ons oorgelewerde liedereskat gewy kan word? O.i. kan die Uitsaaikorporasie gerus in dié rigting begin beplan. Om na klanke en woorde te luister waarin ons vadere hul liefde tot ons land en volk in die verlede tot uiting gebring het, kan slegs die liefde tot ons land en volk versterk, aantoon dat gesonde patriotisme ’n kenmerk van alle tye is!

 

Bron: Ploeger, Jan. 1963. Lantern, Maart, pp. 44-49.