“Die bitter einde”
January 22, 2015
Langenhoven veg teen Nederlands
January 22, 2015

31 Mei 1910 was nie net die geboortedatum van die Unie van Suid-Afrika nie, maar ook die verskyningsdatum van ’n nuwe gesinstydskrif Die Brandwag. Onder die yweraars vir dié blad was Preller, Jan Celliers en Engelenburg. Preller was skrywer van ’n vervolgreeks, ’n Buitengewone krijgsgerig, wat op sy krygsgevangenskap gebaseer was, en vertaler van die gewilde Jock of the Bushveld van sir Percy Fitzpatrick. Soos alle taalliefhebbers moes Preller steeds sy taal teen aanvalle in die Engelse pers verdedig – ook teen doktor Carel Scharten in De Gids. Scharten het Afrikaans beskou as “leelik, dermate leelik dat, stond er in Transvaal een dichter van betekenis op, ik hem zou willen bezweren ons zijn schoonheid te geven in het schone Engels, en die niet te laten verloren gaan in deze verminkte en verarmde tongval, die klinkt als het spreken van iemand met een spraakgebrek.”

’n Nuwe Afrikaanse werk het bo enige twyfel die waarde van Afrikaans as literatuurtaal bewys. Dit was Oom Gert vertel en ander gedigte van C Louis Leipoldt (1911). Die Nederlandse taalkundige CGN de Vooys het verklaar dat Leipoldt hom meer as enigiemand anders vas oortuig het van “die lewensvatbaarheid van ’n Afrikaanse letterkunde”. Die digter en letterkundige Albert Verwey noem Leipoldt se poësie “de onmiddellijke weergave van de dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika”.

Leipoldt, gebore 1880, het al van jongs af skryfwerk gedoen en in 1898 in diens getree van De Kolonist. Die pro-Rhodesbeleid van die blad het hom nie aangestaan nie en hy het Hollandse verslaggewer van die South African News geword. Dié het hom in die oorlog na die noordoostelike front gestuur. As oorlogskorrespondent het hy in 1900 en 1901 verhore van Kaapse rebelle bygewoon. In dié tyd het hy begin werk aan gedigte wat later in sy eerste digbundel verskyn. ’n Skets, “De rebel”, in Nederlands maar met Afrikaanse dialoog, was voorloper van “Oom Gert vertel” en het in 1900 in die Nederlandse kunstydskrif Elsevier’s Geïllustreerd Maandschrift verskyn. Vroeg in 1902 is hy in Londen en het daar sy mediese opleiding ondergaan en as medikus gewerk. Op 11 Mei 1911 was hy saam met onder andere die latere dramaturg en joernalis H.A. Fagan, die veearts Guillaume Marais en die taalkundige JJ Smith oprigters van ’n Afrikaanse vereniging. Leipoldt het Smith eendag ’n pak los papiere gewys met die woorde: “Dé, Smith, jy hou mos van sulke ou rympies. Lees die goed op jou gemak maar deur en sê my dan wat jy daarvan dink.” Smith het die pak papiere, wat Leipoldt se Afrikaanse verse oor baie jare bevat het, met verrassing en stygende bewondering gelees. Hy het by Leipoldt daarop aangedring om die gedigte uit te gee. Leipoldt het Smith gevra om die bestes uit te soek en ’n inleiding daarvoor te skryf. Leipoldt het die drukkoste van £27 10s. vir die oplaag van 1000 betaal.

MER het Monseigneur FG Kolbe raakgeloop – ’n Afrikaner wat Rooms-Katoliek geword het, en pro-Boer was in die oorlog. Hy sê oor Oom Gert: “And Afrikaans has broken out into poetry!” Sy vra: “Maar Jan Celliers? Totius?” “Well, yes. Beautiful versification. But this is poetry!”