Die koms van die Britse Setlaars
Oktober 20, 2015
Danie Theron
Oktober 20, 2015

Geskryf deur JV Coetzee, Kurator van Potchefstroomse Museum, soos verskyn in Junior Historia

Aangesien dit alreeds 67 jaar gelede is dat Danie Theron geval het en daar nog net ’n paar oorlewendes is, wat ooggetuies was van sy dood en begrafnis, het ek dit raadsaam geag om ’n paar aantekeninge en bandopnames te maak, voor dit te laat is. Ek het nog drie persone opgespoor, wat net voor en net na sy dood, met hom in aanraking was. Hul bandopnames het ek aan die SAUK gestuur om aan die groter publiek uit te saai. Die aantekeninge oor hul vertellings het ek reeds twee jaar tevore gedoen.

Hulle vertel dat Danie goed ’n week voor sy dood met sy manskappe daar in die diep klowe van Gatsrand geskuil het om koring te maal, brood en beskuit te bak, en veral om hul perde te laat rus. Ook het Danie geweet dat daar ’n groot Engelse kommando van Johannesburg op pad was na Potchefstroom. Hy het alles haarfyn verken, sodat sy korps in samewerking met generaal Liebenberg hul op genoemde punt ’n gevoelige slag sou kon toedien.

Tant Maraai Malherbe (gebore Pienaar) en haar niggie, Tant Gerrie Smit (gebore Wolfaardt), al twee van Elandsfontein, naby Fochville, vertel dat verskeie van Kappie se manne (soos hul Danie genoem het) die nag by hulle op hul werwe oornag het en dat hul en hul moeders, nie net daardie aand nie, maar ook die anderdagmôre vir hulle kos gegee het, en hul saalsakke vol biltong, beskuit en droë vrugte gestop het.

Vroeg die môre van die 5de September 1900, het Kappie daar opgedaag, op sy mooi groot bruin perd, met sy wit linkervoorpoot. Danie het ’n rybroek aangehad en sy baardjie was puntig geknip.

Marietjie (tant Maraai) het dadelik vir hom ham en eiers gebak. Hy wou nie koffie drink nie, want hy was haastig om generaal Liebenberg se kommando die koers te wys na die Engelse magte.

Kort na hy weg is, kom generaal Liebenberg daar aan, vra haastig na Danie en gee aan Marietjie ’n brief wat sy baie veilig moes bewaar, om aan Danie te gee.

Sy steek dit toe voor in haar bloes. Nie lank daarna nie daag Kappie op, drink sy koffie, lees die brief en skeur dit in fyn stukkies, terwyl Marietjie se suster vir hom ’n roset (kokardetjie) van vierkleurlint aansteek.

Hy en sy adjudant Nel ry toe om die koppie, waar sy dood feitlik vir hom sit en wag het. Nel hou hul perde skuil. agter ’n bos aan die noordoostekant, terwyl Danie die koppie vinnig uitklim, om die koms van die Engelse leër vandaar waar te neem.

Generaal Liebenberg was blykbaar te laat om die Engelse te keer, soos afgespreek, voor hulle die Gatsrante bereik. Hulle was toe al waar Kraalkop Hotel nou is, en hulle kanonne waar Königs Garage nou aan die teerpad (die ou koetspad) is.

Toe Danie op die koppie kom, gewaar hy dat daar aI ’n half dosyn of meer wagte en skerpskutters tussen die rotse en bosse is. Danie was ’n uithaler skut, en sonder om te aarsel, het hy hom skuil gehou en blitsvinnig begin skiet. Tant Gerrie beweer dat hy onder ’n boompie agter ’n rots gestaan of gelê en skiet het. Sy het ’n foto van die boompie aan Monument Hoërskool, Krugersdorp, gegee.

Daar was ook ’n bloedkol en 48 doppies waar hy gelê het.

Die Wolfaardts kon hom die koppie sien uitklouter vanuit hul huise wat nou nog daar is. Dit is aan die noordelike voet van die koppie, naby die teerpad. Haar broer Bastiaan bly nou nog op die plaas. Sy was toe 15 jaar oud.

Uit die gegewe getuienis, ook van ander mense, wil dit voorkom of hy drie van die spioene daar en dan doodgeskiet het en nog vier so gewond het dat hulle nie verder kon skiet nie. Een hoë offisier is deur Danie ’n kopskoot gegee. Die soldate het hom later afgebring en op ’n bed in die vrykamer van die Wolfaardts neergelê, waar hy later gesterf het.

Paul Wolfaardt, toe ’n seun van tien jaar, nou woonagtig naby Kemptonpark, sê hul het gesien hoe Danie later haastig die koppie afgekom, twee bandeliere vol patrone by Nel gekry het, en vinnig weer die koppie uitgehardloop het. Dadelik het sy Koeka-mauser skote weer helder weerklink. Dit was so opmekaar dat die Engelse gemeen het daar is ’n hele klompie burgers op die koppie. Dadelik het hulle dan ook die koeëls laat reën op die koppie. Dis verder opgevolg, eers met skrapnel en later met liddietbomme, wat sulke geel, kopseer gasse en roke versprei het. Meteens is Danie se tipiese koekaklanke doodstil. Na ’n rukkie het die Wolfaardts vir Nel gewink hy moet vlug, want die Engelse kom toe van alkante nader. Na ook hy waarskynlik oortuig geraak het dat Danie geskiet of gevang was, het hy met sy wit en Danie se witvoet perd so vinnig weggejaag as hy kon. Die Engelse het hom gedra met kleiner geweerkoeëls, en selfs bomme, maar hy het sonder ’n skrapie ontsnap.

Later ondersoek die volgende dag deur die Wolfaardts, Pienaars en andere mense het die vermoede laat ontstaan dat Danie óf deur ’n stuk bom óf ’n stuk rots getref is. Die rots waaragter hy gelê of gestaan het, was baie duidelik deur ’n liddietbom getref en stukke rots en bomskerwe het oral rond gelê. Paul sê een driekantige stuk klip was heeltemal volbloed. Tant Gerrie sê sy het nog een van die bomskerwe opgetel en ’n tyd lank bewaar. Van die Wolfaardts is later ’n stuk verkry wat op die voornoemde rots vasgesit is, toe die Danie Theron-monument daar opgerig is, maar ’n skurk het dit daar afgesteel. Paul het aan die Potchefstroomse Museum die punt van ’n skrapnel gegee, wat hulle daar opgetel het. Sy vader het ook ’n liddietdop daar opgetel waarin hulle altyd sout gestamp het. Dit het met hul trek van die plaas af ongelukkig verlore geraak. Hoe jammer tog!

Om weg te kom voor die Engelse en om hulle vinnige voortgang te stuit, het dr. Wessels en Van Loggerenberg, wat in ’n rant daar naby geskuil het, die hoë gras aan die brand gesteek. Van Loggerenberg se skietvinger is egter afgeskiet. Die soldate en die kanonne moes toe vlug vir al wat hulle werd was.

Die vegtery het bedaar en die Engelse het begin om hulle gewondes en dooies aan te ry. Later die middag het hul laat vra dat die Wolfaardts moet kom probeer identifiseer watter Boere-offisier daar geskiet is. Hy moes ’n hoë rang beklee het, want hy het baie geld by hom gehad. Die Wolfaardts wou toe nie dat die kinders gaan nie. Toe het die Engelse hom saam met drie ander gesneuweldes in vlak graftes begrawe op die plaas van dr. Jan Schutte se ouers, Buffeldoorns. Later het van sy manskappe, die Wolfaardts en die bure hom gaan opgrawe, geïdentifiseer en in tant Maraai-hulle se kerkhof op Elandsfontein begrawe.

Hy was toegewerk in ’n kakiekombers. Die het hulle oopgesny, en toe gesien dat die eenkant van sy voorkop oopgekloof was, asof dit deur ’n sabel, bom- of klipskerf getref was. Hul het verder af gevoel of daar nie meer wonde was nie, maar kon niks meer kry nie as stukkende en kneusplekke aan sy gesig, skouer en bors. Hy is deur almal herken aan sy spitsbaardjie, hoed, klere en veral die vierkleurroset wat nog aan sy baadjie was, maar vol bloed.

Die Engelse het alle geld en goed uit sy sakke gehaal.

Mev. Davidtsz het ’n vierkleurvlag gemaak en daarin het sy Korps (T.V.K.) en ander vriende hom op 15 September 1900 begrawe.

Die bloedbevlekte vierkleurroset is op sy bors gesit en ook ’n gedig, moontlik die gedig gemaak deur Jack Hindon, wat die dapperheid van die T.V.K. (Theron Verkenningskorps) besing.

Oom Thys (Tant Maraai, sê oom Piet Davidtsz) het die lyksrede gehou en ’n Rus het in sy eie taal met ’n bewoë stem gepraat, terwyl trane oor sy wange loop. Agt van sy manskappe, vier aan elke kant, het oorkruis oor die graf geskiet en so ’n laaste eer aan hul onvergeetlike leier betoon.

Hy is toe voorlopig in die familiekerkhof van die Pienaars op Elandsfontein naby Fochville begrawe. Die gevange soldate was nie toegelaat om die plegtigheid by te woon nie.

Voor sy dood het hy egter sy manskappe laat belowe dat, as hy voor hul sterf, hulle hom langs sy verloofde, Hannie Neethling, op hul plaas Eikenhof sou begrawe. Sy was ’n besonder opgewekte, musikaal begaafde, bruin-oog dame van 15-16 jaar. Ongelukkig het sy en haar ouer suster gelyktydig aan dubbel longontsteking beswyk en is hulle toe in een kis op 31 Augustus 1898 begrawe, op hulle vader se plaas.

Hierdie belofte van die T.V.K. is getrou nagekom. Op 10 Maart 1903, nog nie ’n jaar na die vrede nie, is sy kis naas die van sy beminde Hannie begrawe. Die opnuut aangewakkerde verering van hul ontslape leier het die doodverarmde baasverkenner daar en dan laat besluit om die verenigde graffies te versier met ’n waardige gedenkteken.

Op 28 Desember 1907 het generaals Botha en Smuts en nog 500-800 bewonderaars waaronder sy oorlewende Korpslede en selfs baie Engelse was, ’n 15 vt. hoë granietmonument as ’n verdere huldeblyk van sy vererende strydmakkers en ’n verenigde Suid-Afrikaanse volk onthul.